Gepubliseer in Joernaal

Ons ongeluk: God was by ons

Ek is besig met ‘n leesplan op my Bybeltoep wat van my verwag om vandat te skryf oor gebeure tydens my lewe wat ek geweet het dat God by ons is.

Daar is soveel. Elke keer as ek of manlief om een of ander rede draai en nie uit die huis kom nie, en ons ry verby ‘n ongeluk wat so pas gebeur het, weet ons dat ons in die ongeluk sou kon gewees het as ons 10 minute gelede wel in die pad geval het. Wie anders kon weet dat ons daar sou wees as die Here? Ons sot dan in verwondering oor die genade dat ons nie weer in ‘n ongeluk was nie.

Want, ons was al in ‘n erge ongeluk.

Maart/April 1987 kon my man lank voor die son op is, terug in die huis. Waar is sy Datsun bakkie. Dit is nou daardie kleintjies. Ons het dit altyd reg voor ons slaapkamervenster parkeer, binne ‘n toegeheiningde erf. Maar sonder om die hek te sluit. Ons bloedrooi Cressida was in die enkel garage geparkeer.

Die bakkie was weg. Ons het soos lawwe mense agter daan kyk. Al het ons geweet dit is onmoontlik, want mens kon net deur ‘n voetgangerhek tussen die garage en die huis agter kom. Jare later het die polisie ons gebel, hulle het die bakkie in Lesotho gekry, daar was net die bakwerk oor. Dit, terwyl ons van twee motors afhanklik was. Ek het die kar nodig gehad om dollatjie skool toe te vat. Ek het nie skool gehou nie, ek het elke keer as ek swanger was opgehou omdat ek nie swanger wou skool hou nie.

Ons was baie ontsteld en het daarna die hek met ‘n ketting en ‘n slot gesluit. Ons Cressida gaan nie gesteel word terwyl ons slaap nie.

In Julie van daardie selfde jaar (1987) ry ons toe na my ouers in Ermelo toe. My pa sou vir my skoonpa werk gee en ons het hom deurgevat. Ek, manlief, dollatjie (vier jaar oud), boeta in my maag en skoonpa.

Ons het gewoonlik die grondpad tussen Standerton en Perdekop gevat. Dit was vinniger om so om by die plaas tussen Ermelo en Amersfoort uit te kom.

Ek weet nie wat gebeur het nie, maar manlief het skielik beheer oor die kar verloor. Ons het nie vinnig gery nie, die motor het blykbaar ‘n vloedwaterwal getref en dit het ons motor laat rol. Gelukkig na die regterkant toe, links was daar ‘n afgrond.

Ek het my kop teen die voorruit gestamp en was uit soos ‘n kers tot ek in die hospitaal of pad daarheen wakker geword het. Ek het gelukkig nie my veiligheidgorrdek aangehad nie en uitgeval tydens een van die rolle. Ek het ‘n sny oor my linkerkantste sy gekry, iewers op my kop, en my hele lyf was pimpel en pers. Arms, bene, alles. Behalwe my gesig en my maag – daar waar boeta gegroei het. My maag was wit soos sneeu, geen enkele besering nie, al was ek al redelik ver swanger, boeta is middel-Desember 1987 gebore.

Toe was veiligheidsgordels nog nie verpligtend nie. As dit was, is die kans naie groot dat ek nie sou oorleef het nie. Die kar is plat gedruk waar ek gesit het.

Ek kon nie my gesin help nie!

Manlief was gou by sy positiewe, al het hy van die kant beentjies van sy rug gebreek. En al het sy boude deur sy broek stukkend geskuur op die glasstukke van die voorruit wat op sy sitplek beland het.

Dollatjie se bo-been is gebreek en skoonpa het nie veel oorgekom nie.

Ek verstaan dat die boer ons ongeluk gesien het of daarop afgekom het en die ambulans gekontak het.

Ek was bewusteloos, dus is ek met die eerste ambulans Standerton toe gestuur. Ek moes op die pad wakker geword het, want dit was een van die seerste ritte van my lewe. dokters wou nie x-strale van my neem nie omdat ek swanger was. Ek het sowaar vergeet, maar hulle het gewag tot manlief daar is. Want hulle is duidelik instruksie gegee. My vrou is swanger, julle mag nie x-strale neem nie.

Toe ons almal by die hospitaal was, het my ouers gereël dat ons na Ermelo oorgeplaas word.

Ek in die vroue saal, my man in die mansaal en my dollatjie alleen en sonder ons in die kindersaal.

My ouers en susters het seker gemaak dat ons almal besoek word.

Ek kon nie beweeg nie en hulle het aangeneem dat ek waarskynlik verlam gaan wees. Sonder enige x-strale. Ek was in ‘n toestand, ek is swanger, hoe gaan ek ‘n baba versorg? En my dollatjie?

My suster, wat toe ‘n verpleegster by HF Verwoerd opleiding hospitaal in Pretoria was, het kom kuier en gesê dat ek nie verlam is nie omdat ek my voete en tone kon beweeg.

Ons was so twee weke in die hospitaal. Lank voor selfone en kon nie by mekaar uitkom nie. Manlief se wond het septies geword en hulle was bang dat dit vir my gevaarlik sou wees. Sussa kon my besoek en ek het haar so jammer gekry. My lewendige rabedoe se een been was in die lug en gespalk, dit moes weer heg.

Die dokter het die been nie teen mekaar gelas nie, maar eerder die eerder so bietjie langs die ander een. Volgens hom sou haar een been langer as die ander een wees as hy punt teen punt las omdat die been in die las ook groei. Ek was so bekommerd, maar hy was reg. Haar beentjies is ewe lank.

Ek het na seun se geboorte x-strale laat neem en toe is daar ontdek dat ek ‘n ribbebeen of twee gebreek het. Daarom kon ek nie opstaan nie, dit was net nie moontlik nie. Soos wat dit geheg het, kon ek in die hospitaal begin beweeg.

Ek en manlief was platgeslaan.

Beide ons karre was nou weg, die een gesteel, die ander een verfrommel. Geld vir nuwes was daar nie.

Toe help die Here ons weer uit.

Sy bestuurder het hom daar in die hospitaal gebel en gesê dat hy tot mynkaptein bevorder is. Dit het beteken dat ons ‘n kar kry, met petrol. Ek vermoed dit het ons almal sommer gou gesond gemaak.

Seun is Desember gebore en manlief moes vroeg in die nuwe jaar Johannesburg toe vir ‘n kursus. Hy is met die nuwe mynkar stad toe en ek het aan die einde van die week per bus met die kinders na die groot stad gegaan. Kan jy glo? Toe daar geen selfone was nie? Tog is ons in geloof op die bus dat hy ons by die bushalte sou kry.

Ons het besluit om nie dadelik Ermelo toe te ry nie, maar eerder bietjie gholf te kyk. Dit was een of ander groot kompetisie. Ons het geen doeke of enige iets saamgevat nie, alles was in die kar. Manlief se tjekboek ook.

Terwyl ons met die stootwaentjie op die gholfbaan was, het iemand ons kar gesteel. Met al baba se klere in. Doeke, alles. Met ons klere vir ‘n week op die plaas, en dollatjie se mooiste rokkies.

Dus het ons in minder as ‘n jaar drie motors verloor, twee is gesteel en ons het lewendig uit die wrak van die derde een geklim om van God se wonderdade te kan vertel.

My ma het verlede week deur haar albums geblaai en drie foto’s van ons kar se wrak geneem. Dit is dus nie mooi nie, daar is glans op d9e foto’s. Ons het nie foto’s gehou nie …

Hoe kan mens twyfel dat God bestaan? Ek dink niemand wat die wrak gesien het, kan glo dat almal lewendig is nie, ‘n ongebore babatjie inkluis.

Ek vertel te min van Sy wonderdade.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “Ons ongeluk: God was by ons

  1. Sjoe Christa! Dit lyk nie mooi nie. Een ander geluk is dat die motors van daardie tyd nog met ordentlike metaal gebou is, anders was dit dalk baie anders. You live to tell the tale!

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.