Ek is nie ‘n oefen mens nie, maar as daar ‘n doel is, kan ek dit wel doen.
Soos toe ons tussen 2009 en 2011 bergfiets gery het. Nie speel-speel nie, ons het aan kompetisies deelgeneem en ek het verskeie medaljes om dit te bewys. Ek was ook gereeld onder die top vrouens van my ouderdom as ek klaarmaak, nie omdat ek wil wen nie, maar omdat ek drie keer per week gaan spin het by Virgin Active Little Falls.
Toe ry ons nie meer nie en toe ek weer sien laat ek my lidmaatskap verval. Om nie weer te hernu nie.
Ons het intussen weekliks ‘n parkrun gedoen. Maar dit ook laat vaar toe ons Kazakhstan toe is. Manlief het intussen ‘n knie-vervanging gedoen en ons oefen nie meer nie. Behalwe nou hy wat (soms) op die gholfbaan stap. Hy verkies om met sy gholfkarretjie (of die klub s’n) te ry.
Ek het intussen drie keer ‘n Apple iWatch verniet gekry omdat ek vir die twee jaar kon volhou om elke week my doelwitte te bereik. Of liewer, ek is besig met die derde een. Hierdie keer moes ek inbetaal. Ek het die eerste jaar weekliks my doelwitte bereik, maar die afgelope twee maande elke keer een week nie dit reggekry nie. En dus moet ek R177 inbetaal vir elke week wat ek nie hulle doelwit bereik het nie.
So week of ses gelede kry ek slegte nuus, en al hoe ek dit (dalk) kan beter maak, is om weer ‘n gim te besoek. Ek moet weerstandoefeninge doen.
Seun, wat nooit wou gim nie, oefen nou drie keer per week, en toe hy na Planet Fitness naby ons skuif, vra hy of ek en sy pa nie saam met hom wil oefen nie.
Nou kyk, voor die nuus het ek dit nie eens oorweeg om te gaan nie. Nie eens om my kind te sien oefen nie. Ek wil nie weer ingetrek word nie.
Dan is ek ook een van daardie vrouens waaroor baie skinder. Ek maak my lippies rooi, my hare mooi, maskara op (nou nie oordadig nie) en ek dra my oorbelle. Waarom moet dit alles af omdat party vrouens daaroor spot? Ek kyk nie vir hulle nie, gee nie om hoe hulle lyk nie en sal dit waardeer as hulle wegkyk. Hoe mens daar lyk bepaal nie hoe hard jy oefen nie.
Ek dra dit nie om man te vang nie. Buitendien, na al die jare wat ek geoefen het, weet ek nie van een man wat my beloer het nie. Dalk skrik die grimering hulle af? Dalk weet ek nie omdat ek nie vir hulle kyk nie.
Maar dan lag ek in die mou. Hulle swetende lywe is vir my beslis nie ‘n aantrekkingskrag nie.
Inteendeel, ek het op universiteit die hasepad gekies as ek muurblom was en ‘n swetende student kom na my aangewals vir ‘n dans. Dalk omdat ek nie sommer sweet nie, maar dit gee my die piep as ek aan ‘n warm geswete man moet vat. Verla as sy swet op my drup. En losdans wou ek nie, dit het dan gevoel of almal vir my kyk. Ek hou van langarm sokkie.
Iedergeval, ek gaan lyk my vanaand (dit was nou gisteraand) my eerste oefensessie inkry, saam met seun wat aanhou dat sy ma saam met hom moet oefen.
Ek het verlede week nog gesê ek is oud en vet, ek wil nie gaan nie. Maar, Vrydag het ek en manlief die pad na die gim gevat aangesluit. Een van ons twee kan saam met seun ingaan (hulle buddy sisteem) die ander een moet betaal. Maar, ons twee het sommer ons eie lidmaatskap gevat, dat ons verplig kan wees om te oefen, al is seun nie die dag by die gim nie. Met die buddy sisteem moet hy saam wees dat een van ons twee kan ingaan.
So, hier kom ‘n ding. Ek gaan waarskynlik volhou want ek het weereens nie ‘n keuse nie. Daar is een massiewe doel om aan te gaan en nie op te hou nie …
Laat hulle maar spot met die een met die rooi lippies, ek het nou ‘n doel waarom ek moet gaan. Dus twyfel ek of ek gaan ophou.
Ek hoop jy sal die gim geniet.
LikeLiked by 1 person
Anne, ek was so versigtig om te gaan. Met my rooi lippies en al. My seun het my afgerig en die uur oefeninge saam met my gedoen, syne net met meer gewigte of intensiteit as myne. Ek het heerlik geslaap! Dit was die moeite werd. Ek mag nie ophou nie, ek moet oefen.
LikeLike
O, ek’s sleg met so ‘n gim oefenry! In die laat negentigs (toe ons net in die Kaap gekom het), het ons by ‘n gim aangesluit, maar gou gesien ons is maar hopeloos met die affere 😉. Dis nou al vir jare dat ons soggens en saans gaan stap – partykeer net ‘n kilometer of twee, ander kere langer. Sterkte … jy het ‘n doel, so ek reken jy gaan voluit gaan (is reg, met jou rooi lippies en al)!
LikeLiked by 1 person
Ag dankie, ek het dit toe baie geniet. Sien nie eens as mense my aankyk of nie, dus moet mens seker net nie weet dat mense so skinder nie? Ek het groot doel, dit is noodsaaklik dat ek oefen en sterk word.
LikeLiked by 1 person
Geniet dit Christa!
LikeLiked by 1 person
Dankie, dit is so lekker saam met my seun.
LikeLike
Rooi lippe of nie! Jy doen dit vir jouself. Lees gisteraand dat mens se liggaam soos jou huis is.En mens maak jou huis en tuin mooi soos jy wil, daarom doen jy dieselfde vir jou liggaam. Daarom maak jy jou lippe rooi en doen wat dink is reg.
LikeLiked by 1 person
Dankie, dit laat my lus voel om te oefen as ek nie vaal lyk nie.
LikeLiked by 1 person