Gepubliseer in Joernaal

Gaan La Nina weer amok maak?

Daar is twee weerverskynsels wat Suid-Afrika soms lig en soms swaar tref, naamlik La Nina en El Nino. Laasgenoemde sorg vir droogtes, La Nina vir kouer weer en baie reën, soos wat ons nou aantref.

Ons het in 2010/11 soortgelyke La Nina weerstoestande gehad. En daarom moet ek bieg. Ek geniet die reën wel baie, die plaaskind in my sal altyd vra vir reën. Wil in die water loop en sien hoe alles groen word.

Maar – in Suid-Afrika – word water nie opgegaar nie, al is dit ‘n droë land. Dit hol see toe.

En daarom hou ek die dam- en riviervlakke met ‘n knop op my maag dop.

Want sien, dit hang van die amptenare by die Vaaldam en die Barage af of ons rivierhuis weereens gaan oorstroom. Soos in Januarie 2010 en Januarie 2011.

My iMac herinner my juis nou daaraan dat die Vaalrivier vandag, 2010, 8 meter gestyg het en op die wal van ons plekkie langs die Vaal begin opklim het

Ek en manlief was in Singapore, op pad terug vanaf ‘n kuier by my suster in Australië. Ons het die vlak van die Vaal dopgehou, want ons kinders het ons laat weet dat dit baie gereën het.

Die Vaaldam het – net soos nou – vinnig voller geraak. En die amptenare het nie sluise oopgemaak nie, eers gewag tot die dam 112% vol was …

Wou seker die wonder sien wanneer die sluise groot oopgetrek word, sommer almal op een slag …

Dit was ‘n dekade gelede …

November 2020 was ek nog bekommerd oor die Vaaldam wat skaars meer as 30% vol was. Dit word somer, waar gaan die stad se water vandaan kom?

En kyk hoe vol is hy nou – die rooi lyn.

Bykans 80% vol, en dit het die afgelope twee dae meer gereën as op enige dag die vorige weke. Waar gaan hy teen die naweek staan?

Dit reën landwyd, Kathu het gister die meeste reën in die hele land gekry. ‘n Hele 171 mm reën in sy droogste maand.

Kathu se water gaan in ander rigtings, die mense hier staan verwonderde, hulle het jare laas reën gesien.

Ons is bekommerd oor twee riviere wat in vloed kan kom – die Vaal en die Vals.

Ons het die 26ste wakker geword elke keer as die reën weer harder val, so asof hy nie gaan uitreën nie. En dit reën steeds. Sag en hard, sag en hard.

En so graag soos wat ek al die water op die aarde wil sien neerval, weet ek dat ons heel waarskynlik weereens in ‘n stryd met die bestuur van die dam gaan wees.

Want sien, die uitvloei staan op bykans zero, terwyl hierdie magdom water die pad dam toe gaan vind. Dit is darem nou eers skaars 80% vol …

Die probleem word geskep omdat die barrage al klaar te vol is, kyk na die geel lyn wat aandui dat hulle besig is om die barage se sluise oop en toe te maak. Hulle kan nie te veel nie, dan oorstroom huise wat te na aan die rivier gebou is. En dit is waar ons krisis inkom.

Die eienaars onder die barage en na aan die rivier gooi wal dat die sluise oopgemaak word, want dan oorstroom hulle. Intussen raak die Vaaldam skielik voller. Kyk die spoed waarteen water die afgelope paar dae in die Vaaldam ingevloei het. Binne ‘n kort tydperkie het die Vaaldam bykans 80% vol geraak.

Die probleem met die barrage gaan waarskynlik weer veroorsaak dat die Vaaldam te vol raak. Want hulle kan nie die barrage oorlaai wat klaar vol is nie.

In 2010 het ons nie baie van die vlak van damme geweet nie. So laat ek eers die storie vertel.

Ons huis is bokant die 100 jaar vloedmerk gebou en 9 en ‘n half meter vertikaal bo die normale vlak van die rivier. Dit beteken dat die water 9 en ‘n half meter vertikaal moet styg om in ons huis in te gaan.

Buurman het seun in 2010 laat weet dat die Vaalrivier se vlak baie gestyg het, ons moet kom uittrek.

Ons twee was in Singapore.

Seun is huis toe, het foto’s geneem en ons was tevrede, die water was ver van die huis af en moes nog 2 meter in die lug opgaan om in die huis te kan ingaan.

Die kinders is terug stad toe en toe kry seun die oproep.

Die rivier het weereens gestyg omdat te veel sluise gelyk oopgemaak is.

Ons huis staan meter diep in die rivier.

Hy gaan kyk weer en stuur ontstellende foto’s wat ons in Singapore ontvang …

Ek en manlief kon niks doen nie. Ons was duisende kilometers van die huis af. En om die eerlike waarheid te skryf, ek was bly my kind was nie daar toe die water die huis omsingel het nie

Die boot en quads het teen die garage se dak gedryf.

Ons kon eers week later na die huis gaan, kon in elk geval niks daar doen nie.

Foto’s: Van die glas is uitgedruk, ons swem voor die huis … en manlief was sy braai, wat dan anders?

Alles in ons huis is verwoes. Of liewers, alles wat onder ‘n meter hoog was.

Foto’s: Slik in die huis, BB staan en vergaap haar aan die rivier wat so hoog gestyg het, vuil toilet, vuil gordyne, wys waar water was, rivier trek terug en verwoeste meubels.

Ook in die onderste foto’s, my houtmeubels is verwoes.

Die vloer was vol slik, dit is jare en jare se slik wat uit die Vaaldam gesuig is en stroomaf gevoer is. Die slik op die gras was seker 30 cm diep, en dit het gekraak oor ons mooi gras. Ek het die slik afgesukkel, elke blokkie was baie swaar. En weg laat ry.

Die versekering het uitbetaal, ons het alle hout blaaie met graniet vervang en duisende daarvoor inbetaal. Ons sou nie weer hout insit nie, dit het vrot gestink. Word droog, sit in huis en as ons weer daar kom, staan die muf op die hout. Ons moes weggooi.

Ons is verseker dat dit hulle fout was, dit sal nie weer gebeur nie …

Almal was op die oorlogspad, mense het hulle houthuise verloor, die houtvloere het gevrot. En die vloere het meer as twee meter in die lug gestaan, hulle huise is te naby aan die rivier gebou. Ons s’n was nie, soos soveel ander mense s’n.

Wel?

In 2011 het ons huis weereens oorstroom, weereens is die sluise te laat oopgemaak en moes hulle te veel op een slag oopmaak. Die keer was ons voorbereid. Ons het alles na die tweede verdieping getrek en daar het ek en manlief vir ‘n week lank gebly. Asof op ons eie rivierboot.

Ons het die deure en vensters oopgemaak, die vissies in die huis sien spring. Regtig! Nuuskierige agies.

Ek was te bang om in die vuil water te loop. As daar visse is, is daar seker goed wat visse eet? Ek weet daar is likkewane in die rivier.

Dit was buitendien aaklig om te weet dat ek die een oomblik nog vaste gras onder my voete sou voel en dan ‘n rivier van ongeveer 11 meter onder my sou hê as ek oor die steil wal tree.

Foto’s: Vlak van water voor en agter die huis, die kraan se koppie steek uit, ons kuier op stoep, water sak darem al en so het dit agter die huis gelyk … en natuurlik foto’s hoe die water sak …

Toe die water gesak het, het ek nie die slik van die gras afgehaal nie. Volgens buurvrou was die huise laer af in die rivier se gras in 2010 pragtig as gevolg van die slik wat hulle net natgespuit het dat die gras weer uitkom.

Ek moet byvoeg dat die laag slik beslis dunner was.

Toe bou ons ‘n stoor, waarheen die huisinhoud kan trek as dit weer gebeur.

Intussen het ons al verskeie vals alarms gekry en uitgetrek, terwyl die water net oor die wal kom, nie naby die huis nie.

En nou is dit ‘n dekade later …

La Nina is vinnig besig om die Vaaldam vol te maak.

En ek kan net bid dat die dam se bestuur die invloei dophou, maar veral die hoogte van die water in die riviere wat die dam volmaak. Om betyds sluise oop te maak.

Die Vaalrivier skep ‘n verdere probleem naby ons huis as dit die landvol reën.

So 7 km van ons huis af, stroomaf, is ‘n damwal wat water opgaar wat na Welkom gestuur word. Net voor die damwal sluit die Valsrivier by die Vaal aan. En as beide riviere in vloed is, hoop die water van die Vaal op waar die Valsrivier instorm.

En veroorsaak vloede aan ons kant van die damwal. Bokant die damwal.

***

Dit was eintlik die tweede en derde kere wat die Valsrivier ons lewens beïnvloed het.

In Januarie 1988 is ek vanaf Welkom na manlief in Johannesburg, waar hy by ‘n kursus was. Per bus. Ek, my vyfjarige dollatjie en ons baba, skaars ‘n maand oud.

Al sy kleertjies was in my tasse, haar mooiste rokkies ook. My beste klere, ons sou week op die plaas by my ouers gaan kuier en see toe gaan.

Toe is dit nog vroeg, ons besluit om eers gholf te gaan kyk, los tjekboek, alles in die kar en kyk gholf. En toe besluit ‘n dief hy het ons kar nodig.

Gesteel.

En ons sit met baba sonder genoeg doeke, dogtertjie, geen geld en geen manier om doeke te koop of by die huis te kom nie.

So stap ons bank toe, die bestuurder kry ons jammer en ons kan geld uit sy rekening trek. Beperkte bedrag. Genoeg vir doeke en aandete en treinkaartjie na Welkom.

So reën dit die nag saggies op die trein se dak, ons almal kry koud want ons was vir die somer aangetrek.

Toe ons op Kroonstadstasie kom, kom die kondukteur na ons. Die trein kan nie verder nie, die Valsrivier het oorstroom, selfs bo-oor die brug oor die pad na Welkom.

Ek weet nie of jy die pad na Welkom ken as jy van die N1 afdraai net na Kroonstad nie. Daardie brug was onder water, en die rivier is entjie daarvandaan. Die brug is oor die pad, nie oor die rivier nie.

Hy sal ons gratis terugvat Johannesburg toe. Anders moet ons op die stasie wag.

Toe eers huil ek, die res van die tyd het ek in outomatiese rat gefunksioneer. Gee vir baba kos, hou baba warm, voed, ruil doek en pas sussie op. Maar toe stroom die trane.

Manlief is af, naby die stasie is ‘n Pep. En toe koop hy vir my een van die lelikste truie wat ek al ooit gehad het, vir die kinders ook en vir hom. En tandepasta en -borsels. Ons het mos niks by ons gehad nie, ons alles was gesteel. Sy beste werksklere en pakke ook.

Ons kon eers laat die middag na Hennenman gaan en toe het die water van die rivier nog gerimpel as ons oor die brug ry. Baie, baie stadig. Van Hennenmenan af het busse ons na Welkomstasie gevat. Ons moes vriende bel om ons daar op te laai en by ons eie huis inbreek om in te kom.

Dit het lank gevat om dit oor my hart te kry om die trui weg te gee. Dit was ‘n herinnering aan ‘n dag in ons lewe wat ons nooit sal vergeet nie.

En nou bring La Nina herinneringe na 2010 en 2011 se oorstromings. En kommer. Is die bestuur steeds daar of vervang?

Selfde tyd van die jaar, selfde weerverskynsel en die dam word vinnig vol …

Gaan die dam se sluise betyds oopgemaak word?

In 2011 het ek kwaai e-pos na die bestuurder gestuur, vir hom vertel dat ek kon sien dat te veel water inkom. Hulle is mos die mense wat dit bestuur, hoe het hulle nie gesien nie?

Hy het beloof dit sal nie weer gebeur nie, die water sal beter bestuur word. Dit maak tog net logies sin dat mens die dam nie eers kan toelaat om 112% vol te raak voordat jy sluise oopmaak nie.

En ons?

Ons is maar net dankbaar dat die damwal nie gebreek het as gevolg van te veel water nie.

Want dan was ons huis weggevee.

Hooffoto: Dit is een van die foto’s wat ek geneem het om my aan die vloed te herinner. ‘n Stilfoto … wat alles vertel.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Gaan La Nina weer amok maak?

  1. Vanaf 1 Januarie het ons 17mm reën ontvang. Dit is interessant dat jy al hierdie foto’s vir ons wys anders sou ek dit moeilik gevind het om hierdie oorstromings van julle huis te verbeel.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.