Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Verpakkings in Qazaqstan:

In ons eerste woonstel hier in Kazakhstan was sulke oulike glashouers in die kaste. Daai soort wat met die draadaffêre oorvou om die deksel toe te hou. En ek wou sulkes hê. Maar het geen idee gehad waar mens dit koop nie.

Die tolk het ook nie mooi verstaan wat ek vra nie. En kon nie help nie. Hy weet baie van mynbou en vertaal, min van mooimaakgoedjies vir die huis. En toe ontdek ek dit self. Die konfyt en ingelegde vrugte word daarin verkoop.

En as dit gewas is, het ek nuwe houers vir my goedjies. En nuwe glase waarin ek tee maak.

Ek het dié water die naweek ontdek.

Was nogal duur, maar die glasbottel maak op daarvoor.

Die plastieksakkies waarin konfyt, ketsup en mayonaisse verkoop word, rol in klein balletjies op wat maklik weggegooi kan word. Dit is ‘n genade, rommel word nog nie hier ordentlik hanteer om die aarde te beskerm nie.

Bakpoeier word in piepklein sakkies verkoop. So twee teelepels bakpoeier per sakkie.

Gelukkig word vis en konfyt en baie ander goed in glasbottels verkoop. Ek koop so 10 pakkies bakpoeier op ‘n slag. En word baie snaaks aangekyk daaroor. En so word die pakkies maar in botteltjies oorgegooi. Om dit vars te hou as dit eers oopgemaak is!

Ek moet net kophou soos ‘n weeluis nadat ek dit oorgegooi het. Die een regs op die foto was ‘n koeldrankbotteltjie. Nou huisves dit tuisgemaakte vanilje! Nooit geweet dit word van Vodka gemaak nie!

Gis word egter in massiewe sakke verkoop, so ook meel. Hierdie lekkerny het die perfekte bottel vir gis gebied.

Ek weet nie of mens dit in die RSA kry nie. Ek koop hierdie geel pampoentjies altyd vars by Pick’nPay of Foodlovers. Hier word dit gepekel en dit is baie lekker. Alles word gepekel, sampioene, tamaties en uie ook.

Speserye word ook in klein sakkies verkoop. So drie eetlepels per sakkie.

Mens kan dit egter ook in baie groot bottels koop. Aangesien ek geen idee het wat dit is nie, koop ek maar klein.

Die melkbottels is van plastiek en bied oulike bottels vir olie nadat en vetkoek gebak het.

My kinders gaan my nie glo nie, maar ek bak vetkoek hier. Dit het so gekom. Ek het vir my in 2015 ‘n Thermomix gekoop.

Hierdie masjien knie deeg in drie minute, elke keer perfek. Sy kan ook kook, stoom en smoothies maak en vele meer. En het my ‘n allemintige R19 000 uit die sak gejaag. Toe! Sy kos darem steeds skaars meer as R20 000. Maar ek wil eintlik haar storie vertel.

Ek en manlief het besluit dat Thermie nie in Suid-Afrika kan staan en stof vergaar nie, sy kom saam. Ek het probeer wal gooi met haar fyn besnaring. Gevra dat skoondogter of dogter na haar kyk. Hulle was te bang sy kom iets oor.

Manlief het gesê sy kom saam. Sy het ‘n reistas en gaan in reismode in (sluit haarself tot sy weer aan ekektrisiteit gekoppel word), maar haar skaal is in haar voetjies. En ek was bang dit word beskadig. En ek wou haar nie deur vrag laat gaan nie.

Manlief het skaars twee maande voor ons reis na Kaz ‘n knievervanging gehad. Maar hy het gesê dat hy Thermie as sy handbagasie sou dra. En so het hy sy eie bagasietoelating beperk. Ek het twee groot tasse (32kg elk) en twee klein tassies (8kg elk) gehad. En ‘n rekenaarsakgrootte handsak. Hy het ook twee groot tasse gehad, maar kon net een klein tassie vat want Thermie was sy tweede tas.

Op OR Thambo sê die vrou dat ons te veel tasse het. Ons wys die prentjies wat vir ons wys hoe ons tasse moes lyk. En dit is reg volgens die prentjie.

Thermie is net kleiner. Hulle roep ‘n bestuurder en hy probeer verduidelik. Ons het met Lufthanza gevlieg. Die ene reëls…

Hy verduidelik die tweede klein tassie eintlik net ‘n rekenaarsak is. Ons zip oop en wys al drie die kleiner tasse het rekenaars in. Ons rekenaarsakke! Syne, my MacAir en my Dell.

Hy sê nee, hy bedoel regte rekenaarsakke. Ons wys prentjie en na tasse en sê dit lyk soos prentjie, is ons rekenaarsakke. Hulle kan nie ingeboek word nie. Hy wys na Thermie en sê sy moet ingeboek word.

En manlief se bekermingsdrang neem oor. Kan hy waarborg Thermie gaan ongedeerd hier kom? Hy sê nee. Manlief sê dan vat hy volle verantwoordelikheid, hy pas haar op. So is ons met die drie kleiner tasse en Thermie in die kajuit. Moet darem byvoeg dat daar baie plek was, die maatskappy het ons met besigheidsklaskaartjies bederf.

So gaan Thermie gemaklik deur die skandeerders. Manlief nie. Sy knie laat masjiene skree en hy word ondersoek. Op Frankfurt skree sy knie en hy word eenkant geneem. Weer ‘n keer. En Thermie gaan weer gemaklik deur. Maar ons tasse is blykbaar ‘n probleem.

En die polisie word geroep en staan met gewere by ons terwyl die tasse deursoek word. Kastig het die “swap” gesê daar is plofstof in ons tasse. Toe kry ek maar ‘n lesing, ek moenie soveel koorde in een tas sit nie. En ek verduidelik terug dat ek nie geweet het nie, maar dat daar versagtende omstandighede is. Ons verhuis vir drie jaar. En al daai drade moes saamkom.

Maar Thermie is veilig. Hulle ken haar seker, sy kom van Duitsland af. Vorwerk. En daar is seker baie eienaars soos ons. Sy is hondmak al het sy skerp lemme, as sy gesluit is kan sy nie op die vliegtuig oopgemaak word nie.

Op Almaty ken hulle haar nie, maar met handgebare kon ek wys dat sy toe is. Onskadelik. Manlief word egter weer eenkant geroep. Ons lot! Die kaartjie van die dokter help niks!

Die punt is dat manlief baie opgeoffer het om haar hier te kry. En dat ek haar hier meer as in die RSA gebruik om my dank te betuig. Sy maak nie net kos gaar nie, ek bak koeksisters, karringmelkbeskuit en vetkoek. En sy knie dankbaar saam.

Die vetkoek is ‘n moet. Die brood is al oud as ons dit koop en manlief eet nie ou brood nie. Dit rooster ook nie maklik nie. Dus bak ek elke derde dag vetkoek. Hy eet twee en die ander vier word twee-twee gevries. Ontvries die volgende dag net betyds om heerlik vir middagete te wees. Om dankie te sê dat hy Thermie so mooi opgepas het!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “Verpakkings in Qazaqstan:

  1. Dit klink asof jy ‘n vrou is wat ‘n plan kan maak wanneer nodig. En Thermie klink na ‘n handige assistent. Ons koop ook deesdae speserye, bakpoeier, ens. in klein sakkies, want hier vlak teen die see verslaan alles so vinnig. Ek is so jaloers op my my skoondogter wat al haar deeg by Deeghuis kan koop. Lus vir ‘n croissant? – haal die deeg uit die vrieskas en bak. Sulke luukshede bestaan nog nie hier by ons nie.

    Like

  2. Ma hou ook daarvan om allerande bottels te hou en as dit mooi is soos daai waterbottel, dan is sy ook bly. Sy het ook baie blikke, maar hier by die see is hul geneig om te roes. Daardie bottels wat so lekker seël is perfek vir koffie, poeiermelk en suiker ja. Dan kan daar soos hier by ons nie miere in die bottels klim nie. 🙂

    Daardie pekel sampioene, tamaties en uie klink baie lekker sê Ma. Ons sal eendag as hulle ‘n teleporters bou sommer dadelik kom kuier en by jou kom koffie of tee drink. 😀

    Daai masjien van jou lyk asof dit sommer baie handig is. Dit was nou omtrent ‘n storie gewees om dit daar te kry né? Ma sou beslis die horries gekry het. 😀

    Ons is ook mal oor vetkoek. Hier koop ons sommer die sakkies deeg wat klaargemaak is, wat ons het nou nie so oulike Thermie soos jy nie, dan bak pa vir ons vetkoek.

    Jou manlief wat baie oulik om so mooi na Thermie te kyk en dis goed dat jy hom bederf. 🙂

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.