‘n Ode aan spesiale vriendskappe tydens my verblyf in Kazakhstan

Ons gaan oor bietjie meer of minder as drie weke huis toe. En ek voel vandag lus om hulde aan ‘n paar vriendskappe te bring. Vriende wat ek hier in die vreemde ontmoet het, mense wat altyd ‘n plekkie in my hart sal hou.

Ons het in hierdie land baie spesiale vriendskappe gesmee. Ek is ‘n stil mens, hou my besig met my eie navorsing en skryfwerk en met my blog. En natuurlik my blogvriendskappe. Ek lees elke aand my blogvriende se inskrywings. Wat ‘n lekker manier om rustig te raak voordat ek gaan slaap. Ek sal waarskynlik nooit “cabin fever” kry nie. Ek het nie uitgegaan om vriende te ontmoet nie. Tog het ek hele paar vriendinne in hierdie land gemaak.

Mia: Ek en hierdie jong Suid-Afrikaanse vrou het op ‘n baie onverwagse manier vriende geraak. Sekondes het ‘n rol gespeel. Die Here se tydsberekening was perfek. Haar man het ons in Komfort in Ust hoor Afrikaans praat. Die mans het nommers uitgeruil en toe ek weer sien, gee manlief vir my haar nommer. Sy wil graag saam met my tee drink. Ons het weekliks gekuier, Ust’-Kamenogorsk se tee opgedrink en saam gebak en gebrou in my piepklein woonstelletjie. Hulle vlieg hierdie naweek al die pad hierheen om ons te kom groet. Ons gaan tyd kry om op te vang. Saam te kuier voor ons uit die land uit gaan. En ons gaan mekaar in Suid-Afrika raak kuier. Sy gaan gewoonlik lank huis toe om die kinders uit hierdie koue te kry. Ons twee het dieselfde waardes. Sy kon my dogter gewees het. Tog oorspan ons die ouderdomsverskil weens ‘n liefde vir die onderwys, ons Christenskap en ons gemeenskaplike doel om nie onmin te saai nie. Ek sou werklik arm gewees het as ek nie die besluit geneem het om haar wel te ontmoet toe sy vir my die boodskap deur haar man gestuur het nie. Dankie, Mia, jy het die tyd hier baie spesiaal gemaak. Ek gaan baie na jou verlang.

Ons Kazakh-gids in Almaty. Wat ‘n dierbare jong vroutjie is sy nie? Klein en fyn en altyd reg om my te help as ek iets vra of nie weet nie. Self so jonk soos my dogter, maar ek gesels heerlik met haar. Sy is Kazakh, dus gaan die Engels nie altyd so lekker nie, maar dit help as mens ‘n juffrou is. Jy verstaan tussen die lyne wel reg. Sy het my en manlief na die Canyon geneem. Ek en sy het in Maartmaand ‘n hele 17 km in Almaty se strate gestap. En so het ek haar beter leer ken. Van 8 uur die oggend tot amper sesuur die aand. Ek sal nog daarvan vertel. Sy het my onlangs ook op ‘n toer deur die Metro se stasies geneem, goeie toergids. Ek het ‘n blog oor die Metro geskryf met haar vertelling wat my gelei het. En ek vat deur haar vertellinge ‘n pragtige boek vir my kleinkind huis toe. Ek gaan nog meer daarvan vertel.

Ons HR dame hier in Almaty. Ons het ‘n band gesmee toe sy ons die eerste keer na Ust geneem het, alles vir my gewys het. Waar die dokter is, hoe mens vleis op die mark koop, waar die groot winkels is. Sy het my ook gehelp om ‘n woonstel te kies. In Ust. Ek het nog nooit met so ‘n gawe HR te doen gehad nie. Sy is ‘n ligte briesie in Almaty, ons terugkeer se reëlings is veilig in haar hande.

Natatasha/Natalja, Ruslan, manlief se tolk se meisie in Ust. Ek weet nooit watter een is die formele naam en watter een die liefienaam nie. As jou naam Natasha is, is jou formele naam blykbaar Natalja. Of andersom. Mia se Natasha word gereeld deur dokters Natalja genoem. Hoe verwarrend. Interessante meisie, fotograaf. Sy verstaan baie min Engels, maar ons het al vele kere saamgekuier. Hulle twee het saam met ons na Almaty gekom toe ons kar gekoop het. En al die pad saam teruggery – 1 100 km oor drie dae. En dit was al die tyd aangenaam met hulle by ons. Twee Kazakhs wat baie naby aan my hart is. Ek vermoed hulle gaan nog vir ons in SA kom kuier. Sy wil Tafelberg en Kaapstad sien. Ons sal hulle neem, hulle moet net daar kom. Die twee is ons Kazakstankinders.

Elena, die vrou van ‘n kollega van manlief in Ust. Ek kon haar enige tyd raad vra. Oor medisynes, dokters, waar ek goed kan koop. Sy het onthou dat ek nie laktose mag inkry nie en eers seker gemaak dat medisyne my nie gaan siek maak nie. Hoe spesiaal is dit nie?

Die tannies by ons Ust woonstel se deure. Die virus het gemaak dat ons nie kon groet nie, hulle het nie naweke gewerk nie. En ek het so sleg gevoel om net te verdwyn. Hulle was so spesiaal met ons. Ons het met handgebare gesels. Vir ons van alles vertel wat ons moet weet, ons gehelp om ‘n garage vir Dusty te kry. Hierdie drie tannies het ‘n sagte plek in my hart.

Die streng inperkings in Almaty het gekeer dat ek vrouens hier kon ontmoet. Lank genoeg mee kon kuier om ‘n gemeenskaplike punt te ontdek waarop ‘n vriendskap gebou kan word. Dalkies was hier ook vrouens waarmee ek ‘n pad sou kon gestap het? Die tyd het ons egter ingehaal, ons gaan huis toe voor die inperkings gelig word. Dus sal ek nooit weet nie.

Ek het hier begin om ernstig te blog. Eintlik om die grapperigheid van ons lewe te vertel om later te onthou. In ‘n land waarin ons die taal nog nie kan praat nie. En in die proses ‘n hele aantal blogvriendinne en ‘n paar blogvriende gemaak. Hulle gaan nie agtergelaat word nie, inteendeel, die kans is baie groot dat ek hulle in SA gaan raakloop. Twee het nie keuses nie, ek het Russiese poppies om te gaan oorhandig. Die ander woon so soort van naby mekaar, ek glo wel dat ek kans gaan kry om hierdie virtuele bande in die lewende lywe te gaan smee. Buitendien, hierdie groep mense het my lewe hier kleur gegee, my in blogland ingetrek. Gehelp om donker dae om te kry as die son nie wil skyn in die winter nie.

Ek moet die Here bedank vir hierdie groepie spesiale vrouens wat hy oor my pad gebring het.

Hulle het kleur aan ons lewe hier gegee. Gehelp om aan te pas, altyd opwindende geselskap. As my foon piep en ek sien dit is een van hulle wat ‘n boodskappie stuur, moes die bril uit, waar ek ookal is, om te lees en saam te gesels.

Vriendskappe wat gehelp het dat ek en manlief nie stoksielalleen in Kazakhstan was nie. Hartsmense wat vir altyd ‘n plek in my hart gaan hê. Elkeen van hierdie vrienskappe is goue draadjies in my netwerk van vriendskappe. Goue vrouens.

41 gedagtes oor “‘n Ode aan spesiale vriendskappe tydens my verblyf in Kazakhstan

  1. Mense groei op mense – Ek het eers onlangs jou blog raakgelees en dadelik gesien jy is ‘n besonderse mens- geen wonder jy maak so maklik vriende met al hierdie ander in Kazakhstan nie. Sulke vriendskappe bly vir ewig. Ek het steeds sulkes sedert my (bitter)jong dae en daardie vriendskappe is baie spesiaal. Sterkte met al die dinge wat voorle en ek dink jy doen nou alles met ‘n bre-e glimlag!

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.