Gepubliseer in Joernaal

Kersgety langs die Vaalrivier

Eendag was daar ‘n pappa, ‘n mamma en drie klein seuntjies. En ‘n ouma en oupa. En ‘n oom en ‘n tannie en ‘n nefie wat op pad is.

Ek moes die storie so begin, met eendag. Die storie oor kersgety waarin Vuurvliegie verwag dat ek ‘n aantal woorde, wat in vetgedruk aangedui word, gebruik om ‘n storie oor kersfees te vertel. Ek het die storie so begin en ver gevorder. Maar dit voel net nie reg om so in die derdepersoon te vertel nie. Nie oor my eie kersfees nie. Daarom gaan ek die storie oor kerstyd verder as die ouma van hierdie drie klein seuntjies vertel. Want hulle bestaan wel. En ek is vreeslik lief vir hulle.

***

Ons drie kleinseuntjies, die seuntjies waarvan ek aan die begin van hierdie vertelling gepraat het, is nog klein. Al dink hulle hulle is groot: Agt, vyf en drie jaar oud is nog klein. Pragtige seunskinders, mens kan maklik dink dat hulle uit die hemel geval het, met hulle engelgesiggies.

Ek noem hulle in my vertellings Oudste, Middelste en Jongste om hulle identiteit te bewaar. Diegene wat my ken, sal wel weet wat hulle name is. Stout kan hulle wees, volgens hulle mamma en pappa. As mens soos ek vir groot kinders skool gehou het, is hulle stout nie regtig stout nie.

Ek geniet dit om saam met hulle te kuier en ek hou nie van stout kinders nie. Dus is hulle nie stout-stout nie. Ek lag te lekker vir die drie kindertjies. En het al van my avonture saam met hulle vertel.

Oudste geniet dit om die twee jongeres te terg. Wonder of hy daardie streep by my gekry het? Want siestog, hy kry nogal raas daaroor. En dan lag hy so ‘n skaam laggie as hy uitgevang word. Daai ook by sy ouma geërf.

Middelste is op sy gelukkigste as hy drukkies kan uitdeel, selfs goggas kry drukkies en ek sweer hy sou ‘n slang aanhou as hy kon. Wou die ander dag ‘n by streel. En toe klits die lawwe ding hom op die handjie. Ek was sommer vies vir die by. Ek skat die by was ook vies vir homself, verniet sy lewe opgeoffer.

Jongste kry die oulikste, sagste gesigsuitdrukking wanneer hy iets ouliks sien. En dan haak hy af met: “Dit is cute, ouma.”

Die cute ding kan ‘n storie, speelding of selfs ek en die honde wees. As ek dan antwoord dat hy ook cute is, is hy baie verontwaardig. Cute is hy beslis nie.

My kleinkinders het twee pare oumas en oupas, een aan pappa se kant en een aan mamma se kant. Ek en manlief is die ouma en oupa aan mamma se kant.

Ander ouma en oupa bly ver weg, by die Kaapse see. Stilbaai om presies te wees. In twee aparte huise. Om daar te kom, moet hulle ten minste twaalf ure lank ry. En ai tog, dan is daar drama in die kar. Want watter besige seuntjie kan soveel ure lank stilsit? Veral as hulle in deur die Karoo ry?

Ons het aanvanklik naby hulle gebly, sommer in dieselfde groot stad. Roodepoort om presies te wees. Maar nou bly ons regtig baie ver. Ons het Maartmaand na Qazaqstan getrek, wat veroorsaak dat ons hulle baie min sien, want nou bly ons tien keer verder weg as ander ouma en oupa.

Toe ons verlede week gou vir ‘n heen-en-weertjie in SA was, het Middelste gevra of hy by ons kan kom kuier.

“Nie in Qazaqstan nie, ouma. By julle gewone huis”, het dit so uit ‘n pruilbekkie gekom.

Ek dog ek vreet hom op. Ons gewone huis is die een naby hulle waar hulle almal gereeld kon oorslaap. Die een waar ek en oupa en hulle vir elkeen ‘n roosboompie geplant het. En hy wil by hierdie gewone huis van ons gaan kuier.

Daardie kuier is so effens van ‘n probleem, want daardie gewone huis van ons staan leeg. Ons hoop hy verkoop tog voor ons terugkeer sodat ons kleiner kan koop.

En dalk ook so tussen seun en dogter se huise, eerder as naby die een en ver van die ander een. Nou wonder ons of ons die gewone huis weer moet meubileer. Dat Middelste by ons kan kuier as ons in die land is?

Maar ek het weer ver afgedwaal. Dié storie gaan oor kersgety.

Dit is Desember, amper kersfees.

Elke Kersgety maak ons kinders beurte om by ouerpare te wees. Soms gebeur iets dat hulle twee keer na mekaar na die een ouerpaar gaan. Dan is ons, soos vanjaar, bevoorreg om al ons kinders aan ons kerstafel te sien.

Vanjaar sou anders wees. Seun en sy vroulief sou by ons ‘n White Christmas kom vier het. Toe besluit ‘n kleinseuntjie aan hulle kant hy kom volgende jaar April vir ons groet. Nou gaan ons huis toe. Om ‘n kersgety soos al die vorige kersgetye te vier. Tradisioneel. Met al my kinders en kleinkinders en my honde onder ons dak. Hemels.

Vanjaar kuier ons almal, soos soveel vorige kersgetye, by ons rivierhuis by ons plasietjie langs die Vaalrivier. Daardie -tjie is baie belangrik, want ons plasie is iets soos 5 hektaar groot genoeg om nie ‘n plot te wees nie. Hierdie plasie is op die grens van die Vrystaat en Noordwes. Ons gaan soontoe, want die wag moet kersfees saam met sy familie deurbring. Dit is so drie ure in ‘n kar.

Ons kleinkinders het rede om blinkoog na elke kersfees uit te sien, die een by die see die een jaar en die een langs Vaal die volgende jaar. Hier is die huis wat oupa self ontwerp en laat bou het.

Hierdie foto is ‘n hele rukkie gelede geneem. Ag siestog, kyk hoe klein was ons kersboompie toe nog! Nou moet oupa op sy tone staan om ‘n ster bo-aan die kersboom vas te maak. Toe was die verste gedeelte nog ‘n dunnelmotorhuis. Nou is dit ‘n vierslaapkamerwoonstelgedeelte. Daardie deel is verander omdat die hoofhuis ‘n grasdak het. Een waarvan vlermuise baie hou. Nou kan die kleinkinders en die kinders in vrede slaap.

Die rivier is baie diep, daarom kan die kleinkinders nie net sommer instap en speel nie. As hulle groter is, kan hulle. Die grootmense trek hulle baadjies onderstebo aan. Dan speel en gesels en dryf hulle so in die rivier. Die kinders kry Desember warm as gevolg van die hitte langs die Vaal, maar oupa het ‘n groot opslaanswembad gekoop. Om swemplek vir seuntjies te bied.

Daar word gelag en gespeel en mamma ook verpes. Ag jitte, lag ek nou lekker vir Dollatjie se gesiggie hier. Oudste was besig om haar nat te spat, nadat sy hom natgespat het. Dit is soveel pret om haar en die seuns dop te hou. En ek gryp gereeld na die kamera. Kyk net die golwe voor haar gesiggie!

Die kleinkinders hou van oupa se skiboot waarop hulle ry om die rivier te verken. Hulle was nogal verbaas om te sien wat alles in die rivier swem.

Groot visse wat groot plasse maak as hulle uit die water spring. Likkewane wat verontwaardig van rigting verander en dan onder water verder swem as die boot hulle pla. Ander mense wat van hulle bote afspring om bietjie in die groot rivier te swem. Almal waai as bote verby kom, want almal is in ‘n goeie bui as hulle op die water is. Kersgety is familiefees langs die Vaal.

Die kleinkinders kyk hoe die wat kan in die water afsak om ski’s aan te trek om te ski. Pappa, mamma, oupa, Seun en sy vroulief doen die ski-ding. Ouma nie.

Ek kom op, kyk die spoed waarteen ek oor die water trek so en laat los. Groot sissie, maar iemand moet seker maar bangjan wees? Hulle is nie bang nie, net nog te klein om self te ski, al het elkeen sy eie piepklein veiligheidsbaadjie. My BB het ook een. Oupa laat niemand sonder so ‘n baadjie op sy boot toe nie.

Die kleinkinders geniet dit om saam met mamma of pappa op die opblaasspeelgoed wat oupa gekoop het agter die boot aan getrek te word.

Dollatjie is die waaghals van ons twee vrouens. Mens kan sommer sien dat Middelste dit saam met sy mamma geniet. Al is hierdie ouma so effens senuweeagtig as die kindertjies op die water is.

My vrees is nie klakkeloos nie, die Vaalrivier is baie diep by ons. So breed dat mens ‘n 8 met die boot oor die breedte van die rivier kan maak. En te vaal na my sin, ek kan nie eens my eie onderlyf sien as ek in die water dryf nie. Wat my ook vinnig op die boot laat klim as ek iets naby my voel of aanvoel. Ek weet mos daar is groot visse en likkewane in die rivier. Al weet ek dat hulle vir my banger is as ek vir hulle. Sien. Bangjan!

Die kleinkinders spring al te lekker op die groot trampolien met ‘n net wat spesiaal vir hulle gekoop is. Waarop al drie saam kan spring. As hulle wil. Mens moet net onthou dat daar ‘n groot ouderdomsverskil tussen Oudste en die twee jongeres is. Ek kry hom soms jammer as hy net so bietjie alleen wil spring. Ek was ook Oudste, ek verstaan sy pyn.

Ek kyk altyd in verstomming hoe die seunskinders spring, geen bang haar op hulle koppies nie. As al drie saamspring, word een dikwels gelanseer en dan is daar perde. Veral as Oudste, die terggees, dit doelbewus gedoen het om alleen te kan spring. En dan moet mens vure doodblaas as humeure opvlam. En soms so bietjie troos.

Die kleinkinders is lief vir oupa en ouma se vierwiele, wat hulle quads noem. Hulle mag nog nie alleen ry nie, die perde onder die kappe is nog te sterk vir seuntjies wat net wil oopmaak. Hulle maak dus op ouma, oupa, mamma, pappa of enige ander grootmens staat om wel op oupa of ouma se vierwiele te ry. En dan moet hulle nog met ouma se Schnauzers kompeteer. Want hulle staan ook reg om beurte te maak.

Regtig. Hier sit my BB voor en Shilo agter haar. Dit lyk soos op Johannesburgstasie wanneer ek my vierwiel aanskakel. Almal staan op die stoep en wag, my Schnauzers ook. Dan ry ek met een-een en somes met twee saam met my al om die huis en stop by die trappies vir die volgende een se beurt.

Ek het my Suzi nog nie te groot oopgedraai ni, ek is mos bangjan. Of sal mens my bangsan noem? Oupa het. Teen ‘n helling op. Toe tiep die vierwiel om. Ek het groot geskrik.

Manlief was soos ‘n omgekeerde gogga onder die omgekeerde vierwiel vasgepen. Toe ek eers sien dat hy veilig is, slegs die ego gekrenk met ‘n paar dorings om die storie te vertel, het ek onbedaarlik gelag.

Julle weet dit is lelik om te lag as iemand seergekry het. En ek is regtig jammer. Maar ek kan nie help nie. Ek lag as ek sien dat ek verniet so groot geskrik het. Anders as Simba in die Lion King se woorde: “I laugh in the face of danger“, lag ek as ek sien dat die persoon veilig is.

Die kleinkinders mag hulle honde saambring. Katryn en Coco, ook twee Schnauzers. Seun en sy vroulief bring hulle Seth ook saam. Dan is daar ses Schnauzers om op te pas. Daar was altyd sewe, maar Sankie, heel regs op foto, het ‘n aanneemmamma gekry toe ons Qazaqstan toe gekom het.

Ons het ongelooflik baie pret met die honde by die rivier. Ons is almal hondeliefhebbers, maar daar is ook ‘n kat wat saam met Seun kom. En jy sal my nie glo nie, maar Seun en sy vroulief het my drie Schnazers en hulle eie een geleer om van die kat te hou. Om maats te wees met ‘n kat!

Die kleinkinders se pappa lanseer hulle dikwels in die lug. Dit maak die seunskinders lekker opgewonde en hulle gaan terug vir meer en meer. My hart bokspring egter elke keer, ek kan nie wegkyk voor ek weet ek weet dat die vangskote raakskote is nie.

Vir die kleinkinders is die hoogtepunt van die kersgety die aand voor kersdag, want dan mag hulle geskenke oopmaak. Anders as in my eie kinderdae, toe het ons die geskenke die oggend voor kerk oopgemaak. Ons kon nie wag om wakker te word en almal wakker te maak nie. Op kersdag. Die geskenke moes dan tuis bly, dus het ons verander dat mens die aand voor die tyd geskenke oopmaak. Kersvader kry van almal ‘n drukkie, van ouma ook.

Dollatjie en die seuns het ons almal die een kersfees in trane gehad toe hulle die kersverhaal vir ons ander opgevoer het. Moes drie jaar gelede gewees het, want Jongste was toe die baba. En hy is nou drie.

Anders as in my grootwordjare sing ons nie kersliedere saam nie. My gesin was maar klein, maar ek dink ons is nou mooi groot om dit weer ‘n instelling te maak. Sal bietjie hoor watter kersliedere die seunskinders ken. Want hulle is nie bang vir sing nie. Ek verluister my aan hulle.

By die rivier is twee kersbome.

‘n Nagemaakte een in die huis en ‘n regte kersfeesboom wat buite geplant is.

Dollatjie en die seunskinders versier die boom. Sy hou baie van liggies, dus is daar altyd liggies.

Die aand voor kersdag dra hulle die persente uit. En sit dit onder die buitenste kersboom. Met komberse. Dat ons kersfees onder die sterre kan vier. Die sterrehemel is besonder mooi op die plasie want daar is geen stadsliggies om dit te verdof nie.

Ek en oupa het kersfees die keer te lank uitgerek. Ons het, toe ons nou daar was, rugsakkies van Qazaqstan af saamgevat.

Vir kersfees.

Wat daarin is, weet ons nie. Vermoed dit kan lekkers en ‘n speelding wees. Lekkers gaan dalk probleem wees, maar ai tog, ons is ouma en oupa. En die rugsakkies was so cute, soos Jongste sou beweer.

Sowaar in die drie se kleure: Groen, blou en rooi. Die rugsakkies brand op die oomblik. Staan onder die kersboom in hulle huis.

Arme Middelste het vir hom ‘n almanak gekry. Met blokkies om die dae af te tel tot hy die rugsak mag oopmaak. Hy wys nou die dag die eerste blokkie (en nie die laaste blokkie of kersfeesblokkie nie) vir my en haak af met: “Ouma, kersfees is oneindig ver!”

Wel, ek stem saam, dit is baie ver. Maar ek gaan beslis nie toestemming gee dat die sakkies voor die aand voor kersdag oopgemaak word nie. Ek het verlede jaar daardie fout gemaak en chaos veroorsaak. Nee kyk, oumas leer vinnig. Vanjaar moet hulle maar wag, want sien, ouma en oupa is ook nuuskierig oor wat in die sakkies is.

Kersdag het elke paartjie ‘n werk, die kleinkinders nie. Oupa maak kalkoen en gammon, Dollatjie en haar manlief maak die nagereg, Seun en sy vroulief maak die voorgereg,

En ekke? Ek dink ek crook so klein bietjie. Ek maak bykosse, maar dit voel so vervelig. Rys. Groente. Slaai. Goed waarmee die twee dogters help. Want ek verdwyn so elke nou en dan. Om die seuntjies op die vierwiel rond te ry, te kyk hoe hulle swem of trampolien spring. Oumas kan maklik stokkiesdraai met die verskoning dat hulle na die kleinkinders kyk …

Saans is almal pootuit na ‘n dag se speel. Bid ek dat die Here sy engele stuur om ons en die kinders en die kleinkinders en die honde te beskerm. Kyk ek na die slapende engelgesiggies op die kussings van donsvere.

Ek wens soms dat ek ‘n towerstaf kan swaai. Dat hulle langer kuier. Want daar is altyd ‘n skaterlag as ons en die kinders en kleinkinders saam kuier. My gesin veg nie met mekaar nie, hulle verstaan dat saamwees baie beter as alleenwees is. Daarom sien ek elke jaar heelhartig na kersfees uit. Dit is hemels om saam met my skatte te kuier: manlief, my kinders en hulle geliefdes (my kinders by ‘n ander ma) en my kleinkinders. En natuurlik BB, Shilo en Sobek.

*** nagedagte ***

Ek het nou die dag geskryf dat my kersversierings in die vervolg anders gaan lyk. Soos die Here dit hier in Qazaqstan doen. Wit bome, rooi bessies. Intussen het die koue my vingers gebyt. En het ek van mening verander.

‘n Wit boom gaan met ‘n ysige land gepaard, een waarin alles buite vries. Selfs bome se takke.

Ons gaan in sonnige Suid-Afrika wees. En die kersboom voor oupa en ouma se rivierhuis is groen. Grasgroen. Ek gaan geen wit daaroor strooi nie. My boom moet die jaar groen wees. Grasgroen. Lewendig groen. Suid-Afrika groen. Suidelike halfrond groen. Die soort boom waarmee ek grootgeword het.

Oor twee weke is dit amper kersfees. Sien jy so baie soos ek uit om ‘n familiefees en ‘n Christusfees te vier?

*** nagedagte ***

Vuurvliegie, ek weet nie of hierdie storie vir jou gaan werk nie. Dit is nie ‘n storie vir kleinkinders nie, eerder ‘n storie oor ons kersfees. Ek gaan dit tog by jou woordsnoer aanhaak.

Dalkies probeer ek om binne die volgende sewe dae ‘n kinderstorie te skryf. Met die woorde daarin. Dit is, dink ek, so bietjie bo my vuurmaakplek.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

19 gedagtes oor “Kersgety langs die Vaalrivier

  1. Wat ń heerlike kerstyd is hierdie nie! Julle is voorwaar ń wonderlike gesin en die kleinstes lyk en klink pragtig. Wanneer vlieg julle weer hiernatoe, Christa?

    Like

  2. My kop draai bietjie. Het julle nie teruggevlieg Qazaqstan toe net ‘n week of wat terug nie? Hoekom nie hier gebly nie. Sorry… ek probeer sin maak hier. I.e.g klink asof julle ‘n heerlike Kersfees gaan hê.

    Like

  3. Lekker bly maar lekker. My hart trek sommer in n punt na daardie brakkekinders van jou. Ek kan nog nie regtig houvas kry dat hul sterte nie gesny is nie. Dis vreemd. Trompie het mos nog n stomp stertjie wat heeltemaal te kort afgesny is. Hy sukkel om sy foefie te kan toeknyp as hy nie wil hê ek moet hom skoonmaak nie. KLein stouter, en hy is so gesteld op skoon boude!

    Like

          1. Ja, karperde! Kannie glo dat hy al so oud is nie. Ek was nog altyd lief vir my honde maar hierdie Trompie is werklik my liefling en hy gee my dubbeld liefde terug. Hy praat selfs met my, so goed ken ek hom.

            Like

  4. Ek het nou heerlik kersfees gevier saam met jou en jou kinders. Die seuntjies is pragtig. Dis duidelik dat hulle die ouma in die sak het. Ek hoop jy gaan vir ons wys hoe lyk dit daar Q wanneer die Qasaqs kersfees vier.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.