Daar is ‘n nuwe advertensie waarin die suggestie geskep word dat kinders wat deur hulle pa’s geboelie is, self boelies word as hulle grootmense is.
Ek dink almal weet dat ek ‘n kleintjie dood het aan boelies. Ek is self in graad 8 (standerd 6 toe) deur ‘n baie groot meisie geboelie. Ek was die kleinste in die standerd, dus baie klein as mens in ag neem dat ons so 250 leerders per standerd was.
En sy was een van die grootstes, en baie rondborstig. So groot dat die kinders haar Dairy gedoop het. Sy het besluit ek moet geboelie word.
Dus het sy elke dag voor die Engelse klaskamer, wat ook my registerklas was, vir my gewag. Ek kon maar vinnig maak of draai soos ek wil, sy was voor my by die deur. En dan het sy gespot omdat ek so klein is, gevra of my ma weet waar ek is en so aangehou om my verbaal te boelie.
My pa se raad was dat ek haar tromp op loop en vir haar sê dat ek nie vir haar bang is nie. Sy is groter as ek en gaan harder as ek val. Die klas se stoep was effens gelig, mens kon nie net afstap nie. En sy het altyd daar gestaan.
Ek het doodbenoud die raad gevolg en haar aangepraat. Anders as wat ek verwag het, het sy my nooit weer geboelie nie, maar, ek kon ook nie met haar vriende word nie. Al het sy hard probeer. Sy probeer selfs nou nog as ons mekaar by reünies raakloop, maar gits nee, ek kan haar nie as vriendin beskou nie. Ek bly lugtig vir haar.
Iedergeval, so gebeur dit dat ek Vrydagaand na kleinkind kyk terwyl ons by die klubhuis eet. En daar boelie ‘n seuntjie die ander wat in die speelplek vol balle sit.
Hy spring in om raak te spring, en dit kan hulle ernstig beseer.
Veral omdat kleinseun daarvan hou om homself onsigbaar onder die balle te maak terwyl hy onder die gekleurde balle lê.
Ek het twee keer gepraat en toe hy nie ophou nie het ek vir hom gesê hy moenie boelie nie.
Toe ek weer sien, kom hy met ‘n jong vrou aan die hand daar aan. Wys na my en sê ek is die lady.
Nou moet ek byvertel dat ek terwyl ek skool gehou het ‘n renons in ouers ontwikkel het wat die kind se part vat sonder om te vra wat gebeur het.
Dus loop ek na haar toe, wys na hom (hy hou mos van point) en sê dat hy nie saamspeel nie, hy boelie die seuntjies en dogtertjies.
Haar verweer?
Hy is net opgewonde omdat sy nefies daar is.
Ek het haar aangekyk met daardie waarom eht ek probeer kyke en gesê as die ander nie lag nie, is dit nie speel nie.
‘n Rukkie later het ‘n laventelhaan aangestap gekom, seuntjie (seker 3) se ewebeeld. Anders as die seuntjie het hy nie vir my kans gesien nie en in sy spore omgedraai.
Nog later speel kleinseun op so ‘n uitgesnyde halfmaan en maak twee groter seuns hom gevaarlik, dat hy op sy kop kan val.
Een het vir hom gesê dit is sy beurt, maar kleinseun het bly lê en geantwoord:
“My turn!”
Toe dit nie werk nie, probeer hulle hom omtiep.
Ek het hom gaan afhaal en gesê ons moet iewers anders gaan speel, hierdie seuntjies weet nie hoe om te speel nie.
Net om te hoor hoe ‘n 7- of 8-jarige klein snuiter vir die ander een sê dat die “auntie anxious” is.
O my jitte, seker by boelie-pappa gehoor? Dit is nou die een wat nie sy seun se geveg vir hom wou kom klaarmaak nie.
En nou wil ek weet: Is dit vir die pa en ma reg as die kind boelie? As hy ander kinders seermaak? Verstaan hulle nie wat aanvaarbare sosiale gedrag is en wat nie?
En ja, voor jy vra, ek is gereed om kleinseun se gevegte namens hom te veg as hy geboelie word. Hy hoef nie terug te veg om dan as die skuldenaar uit die stryd te tree nie.
Mooi Christa.
LikeLiked by 1 person
Weet jy, as ek so voor die snip staan en hy my respekloos aanpraat en vieslik uitkyuk, vergeet ek heeltemal dat hy net drie is. Dalk omdat kleinseun so intelligent met my kan gesels. En ek dink ook boompies moet vroeg geleer word wat aanvaarbaar is en wat nie.
LikeLiked by 1 person
Ek wonder of hulle gedrag ook so is by die huis.
LikeLiked by 1 person
Ek dink so Anne, maar ek dink ook dit word goedgepraat.
LikeLike
Ek het nooit boelie gedrag by ons skool ervaar nie (maar dan, ek was in ‘n klein skool en onderwysers het gou slegte gedrag hok geslaan). En alhoewel ek nooit daarmee te doen gehad het nie, het ek ‘n absolute renons in boelie gedrag … ek verstaan net nie hoekom ‘n mens iemand anders te na moet kom nie!
LikeLiked by 1 person
Ek stem so saam met jou. Dit is onnodig om te boelie. Ek was darem net in graad 8 verbaal geboelie. En natuurlik in 204/15 deur my jaloerse departementshoof. Dit was erg, maar ek kon wegstap. Dit is egter nog nie verwerk nie.
LikeLiked by 1 person
staan jou man teen ‘n boelie. dis wat ons die kinders leer. ‘n boelie is ‘n lafaard en ja, heel dikwels is die mamma en pappa vreeslik flashy en dink hulle hul liefiedief is onskuldig of “speel” net. Dis ook daai soort wat ‘n juffrou invlieg as jy hulle vertel dat hul kind van boeliegedrag beskuldig word. Dis goed jy het jou man gestaan.
LikeLiked by 1 person
Ek staan agter jou, Christa.
LikeLiked by 1 person
Dankie Toortsie dit vat mens se lus weg om te gaan.
LikeLike
My bloed wil sommer kook oor sulke kinders. Dit kan boeliegedrag tuis wees, maar dit kan ook ‘n gebrek aan dissipline en opvoeding wees, is my opinie, Christa. As jou kind respek vir sy sibs en ouers het, sal hy dit ook hê vir ander volwassenes en ander kinders. En as hy die boeliegedrag by ‘n ander maatjie na-aap, sal ‘n ouer hom mos berispe en aanspreek. Opgewonde …. se voet!
LikeLiked by 1 person
Ek stem saam met jou, dit word nie tuis afgekeur nie.
LikeLiked by 1 person