Gepubliseer in Joernaal

En toe kap ek om …

Ek gesels met blogvriendin Appeltjie, sy het ‘n seer elmboog ontwikkel. En ‘n inspuiting daarin moes kry. Dit het my herinner aan die kortisooninspuiting wat ek die einde van Januarie in my linkerhand gekry het.

Ek het ‘n seer knoppie in my hand gevoel, so tussen die ringvinger en my pinkie. Gevoelig. Toe besluit ek om maar die dokter te gaan sien wat beide fisioterapeut en dokter is. Hy het in Desember my nek reggetoor nadat ek dit op ‘n manier seergemaak het. Voordat ons see toe gaan, dat ek darem my vakansie kan geniet.

Hy het dit gemasseer en ek moet eerlik skryf dat ek dink dat ek ‘n sissie is. Dit was baie, baie seer. Ek het my romp en bloes sopnat gesweet op die leer van die tafelblad. Weens die pandemie gebruik hulle nie meer handdoeke nie. Toe ek dink dat ek glad nie meer gaan kan uithou nie en regtig sommer net gaan huil, vra hy of hy naalde kan indruk.

Wat antwoord mens dan?

Ek het maar geja en hy het gesê dit gaan so bietjie seer wees. Wel, dit was baie minder seer as wat die massering van my nek was. Gelukkig het dit, soos hy voorspel het, sommer baie lank gehou. My nek is steeds eksie-perfeksie.

Ek wou x-strale van die hand laat neem, maar my ma het gesê sy het dit ook. Dit kan net met sonar gesien word. En toe besluit ek in daardie geval is my fisioterapeut dokter die aangewese persoon. Hy kan my vir ‘n sonar verwys, maar ook kyk of daar fout is.

Die siekte in die hand laat mens se vingers blykbaar krom trek, maar myne is in ‘n beginfase. Net gevoelig in die palm van my hand. Hy het ‘n sonarmasjientjie in sy kantoor en kon sommer sien waarom myne seer is, daar is vog in die knoppie.

Toe vra die man weer die vraag. Daardie een wat my laat sweet. Gaan ek laat spuit? Die groei van die knop kan vertraag word met ‘n kortisooninspuiting.

Daardie woord gee my nou nog nagmerries. In 1987 het ons ‘n ernstige motorongeluk gehad. Ek het uit die kar geval toe dit gerol het. As ek nie uitgeval het nie, was ek dood. Die dak was aan my kant tot teen die sitplek ingedruk. Daarna moes ek vir maande lank kortisooninspuitings in my knieë kry. Dit was belaglik seer, ek het elke keer gevrees om terug te gaan.

En nou wil hy in hand inspuit.

Hy het gesê dit gaan seer wees, is van die seerste inspuitings wat mens kry. Ek het gewik en weeg en toe besluit dat ons maar kan aangaan. Hy het gesê dat hy bietjie verdowing kan insit en ek het gedink dit is goeie idee.

Hoe simpel kan mens nie wees nie? Wat gaan dit help as die naald klaar in is?

Toe sit hy langs my op die bed, hou my hand styf vas en vra of ek gaan kyk? Dalk moet ek liewe wegkyk.

Ek het nie geweet of ek moet kyk of nie. Ek weet nie waarom nie, maar ek is bang vir inspuitings. Ek het besluit kyk is beter, dan weet ek darem wanneer dit my tref. Dit was aanvanklik nie seer nie, toe wil hy onder die knoppie ook spuit. En dit was belaglik seer, het amper gevoel of iets meegee. Daar was bloed …

… en ek het op ‘n stadium flou geword as ek bloed sien. My seun se skuld. Hy het op stadium soveel gebloei en inspuitings nodig gehad vir steke, dat ek net omgekap het.

Ek het op die stoel gaan sit en toe voel ek sleg.

Hy vra of ek sleg voel en ek sê eers nee, want manlief sit in die kar en ek het rukkie vir die afspraak gewag.

Ek het egter slegter gevoel en toe vlieg hy op en sê ek moet net eers op die bed lê. Ek was so wit soos ‘n spook.

Naby die bed het ek gevoel hoe my bene lam raak, net betyds op die bed gekom. En gevoel hoe golwe oor my spoel.

Soos daardie dag toe ek ‘n baroum enema moes kry om te kyk of ek ‘n probleem in my derms het. Dit was verskriklik seer, ek moes met die pype staan, teen die bed wat regop getel word en toe word ek wakker met die vrou wat die ding moes doen se gesig oor my, dokters om my en ‘n suurstofpypie in my neus. Sy wou weet of ons maar moet stop en ek het vir haar gesê maak klaar, want anders kom ek nie terug nie.

En hier lê ek weer op my rug. Toe ek weer sien, hou my my bene reguit in die lug op. En ek weet hulle kan nie so reguit wees nie.

Ek keer want ek het romp aan en hy wys moenie bekommer nie, hy het die soom van my romp mooi vas, ek is kuis.

“Lê bietjie rustig, jy het nou die bloed in jou kop nodig.”

Ons het soveel gehad om te doen. Ons moes kos koop, dit na my dogter vat, maar ek het nie krag gehad nie. Manlief het my huis toe gevat dat ek kan beter word en alles self gaan koop.

My arm was lam, die verdowingsmiddel het nie met my saamgewerk nie. En ek het natuurlik die terugkom van lewe gevrees. Dit was ‘n hele week lank seer, maar is steeds so effens gevoelig as ek werk. Veral as ek op my rekenaar tik.

Ouderdom is nie vir sissies nie.

Volgens my ma is die siekte se oorsprong Frans, die dokter en Wilipedia sê dit is Noorweegs. Hy vra, nadat ek flou gevoel het, of ek van die Vikings afstam. Ek kon net lag, Wiekie die Viking sou darem vreeslik verontwaardig wees oor sy Viking vrou wat flou word as sy seerkry …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

33 gedagtes oor “En toe kap ek om …

  1. Terug pieng: Omkap – toortsie.com
  2. Ek haal asem en nog n maal asem en probeer ontspan en laat die trane loop en dink daaraan dat dit dae later beter sal wees. Maar gelukkig het ek nog nooit flou geword nie. Seer bly egter seer bly seer……

    Liked by 1 person

    1. Ek het so stupid gevoel. Hy het die naald in my hand gedraai en toe is daar bloed. Ek dink dit is die bloed se skuld. Ek word ook na aan omkap as ek bloed skenk en my bloed sien uitloop. Sterkte, dit is baie seer.

      Like

          1. Ek het my asem opgehou van die pyn. Dis hoekom as ek n inspuiting kry ek konsentreer om te bly asemhaal. Moet bysê die dr was nog jonk en onervare daardie tyd. Onthou jy Lets Pretorius, dit was hy in sy beginjare.

            Liked by 1 person

          2. Jong dis mos die dr wat tronk toe gestuur is omdat hy en sy twee seuns mos regse beweging gestig het om plekke op te blaas. Was ‘n hele storie want die een seun is ook gevang. Die seun se vroutjie was in ‘n toestand. Hul het twee klein kindertjies gehad. Dis eintlik dr se vrou wat die hele ding so georkestreer het.

            Liked by 1 person

  3. O! Die pyngedagte – ek is net so bang vir ‘pyn’- ek is ook eerder bangjan as dooie-jan en sal glad nie ‘n goeie Viking wees nie. Die toets dop ek sommer net aan die gedagte daaraan! Sterkte daar, jy moet definitief na ‘n handspesialis gaan. Wat is die geleerde naam vir so ‘n persoon? Weet iemand?

    Liked by 1 person

      1. Dit gaan goed dankie, my as afgewerk die afgelope week (wat ons ‘n ruskansie gehad het) om op datum te bly met skoolwerk vir die volgende 2 weke se aanlyn ‘teaching’ in Zoom en ons het Dinsdag heeldag Zoom ouerdag! Elke 10 min ‘n ander ouer. Moet nog daarvoor ook voorberei. Verder nie klagtes nie, dankie! Ek hoop dit gaan goed met jou ook?

        Liked by 1 person

          1. Ek sal jou terugvoer gee. 🙂 Boris gaan Maandag meer detail gee. Hy beplan om die skole oop te gooi vandaf 8 Maart, maar kan dalk sy plan verander. Hier is nog baie mense wat Covid kry/doodgaan.

            Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.