Gepubliseer in Reisjoernaal

Ocean Basket in Almaty

Ons het in Maart 2020, net voor die grendeltyd begin het, in Almaty kom toer. Vir ‘n lang naweek. En toe ontdek ons Ocean Basket naby Almaty hotel in ‘n wandellaan. En ja, ons was verras, want is Ocean Basket nie eg Suid-Afrikaans nie? En hier kry ons een in Qazaqstan se hoofstad. Natuurlik moes ons daar gaan eet.

Dit het soos Suid-Afrika s’n gevoel en gelyk. Behalwe vir die lemonade wat mens saam kan bestel. Sitrus of bessies, o my genade, die Qazaqs maak die lekkerste lemonades.

Vanoggend besluit manlief ons twee moet weer stap. Ek is nie lus nie, hy wil tot by sy werk se kantoor stap. Dat ons kan kyk of hy soontoe kan stap. Mens sien die kantoor van die huis af, dit is so 2 komma iets kilometer ver. Maar jy moet ompaadjies loop en ons het so 49 minute aan die 2 komma iets kilometer gestap. Dit sluit darem wag by elke robot in …

Dit lyk ver en ek besluit om nadat ons na dominee se diens oor hoe broos ons is, weer te kom slaap. Ons kry mos die diens Sondagoggende op Youtube, aangestuur deur Corrie, die kerk se baie behulpsame dame in die kantoor. Met nuusbrief en afkondigings en al. Asof ons by die kerk is. Nou gooi ons dit op die TV, dan kan ons lekker kerk luister in ons huis. Die een lekker van grendeltyd, ons kry videos van die dienste.

Iedergeval, so net voor een klim ek terug in die bed. ek is nie lus vir so ver stap nie. Toe ek weer sien, is manlief saam in die bed en slaap ons deur etenstyd. Om lekker honger te voel, maar manlief sê ons stap tot by sy werk en dan kan ons gaan eet.

Ek weet dus nie waarom Dusty hier moet wees nie. O ja … ek weet nou weer waarom ons vir eers moet stap. Ons lisensies is in die pos van Suid-Afrika af. En ek weet nie wanneer ons dit gaan kry nie. Myne het jaar gelede verval, ek kan nie waag sonder een wees nie. Ons beide se tydelike lisensies het so pas verval. Die Qazaqs gaan ons nie verstaan as ons sê ons wag vir die pos nie …

En so stap ons twee toe na sy kantoor se gebou toe. Waarom weet ek nie, want hulle werk vandat ons geland het van die huis. Weet nie eens wanneer kantoor weer gaan werk wees nie. Ons het lessenaar gekoop en lekker stoel, manlief moet lekker kan sit en werk. En die huis moet ook darem soos huis voel.

Op pad daarheen neem ek foto’s. Van die groen om ons. En die skoon parke en sypaadjies. Boonste twee foto’s – park langs die president se huis.

Middelste ry: liggies in die bome, darem nie spinnerakke nie. En monument in een van die parke. Onderste ry: Kanaal en wandellaan met restaurante waar mens buite kan sit.

En nog foto’s, ‘n kitaar, musieknote en ‘n duif vir my blogvriendinne. Die duif het net daar by ons voete in die straat kom water drink. Terwyl ons staan en wag vir die verkeerslig om groen te word. Toe loop hy bietjie regs en bietjie links om seker te maak ek en manlief trap hom nie raak nie. Hoe oulik is dit nie?

En oeps, ek is seker ‘n reisiger? Ek neem foto’s van geboue ook. Die oud so langs die nuwer geboue. Hier is ook geboue wat baie moderner is, wolkekrabbers van glas. Twee foto’s in linkerkantse kolom onder.

Die waaghalse wat die geboue verf. Hy sit of staan net op daardie planke wat soos bank gemak is. Ek soek meer beskutting as ek daarop sou moes klim om te verf! En natuurlik die ballet teater waar ek hoop om ‘n ballet te sien voor ons huis toe gaan …

Ek kan nie glo hier is soveel restaurante nie. Of nee, wag, ek kan. In die winter loop mens nie ver om te eet nie. Dit is mos koud, baie koud.

Elkeen hiervan het sy eie karakter as ek so na die naamborde kyk. Ek skat Swetlana op die 9 de vloer gaan ‘n arm en been kos.

Die Uglistuff ene het my aandag getrek. Toe moes ek nou eers kyk wat dit beteken. Stem saam, Uglistuff, ek gaan beslis nie daar ‘n draai maak nie. Dit is ‘n hookah plek. Ek verpes die goed. Hulle sit so om ‘n tafel, stuur die ding met die pyp rond en dan lyk hulle soos die vragmotors wat teen die bult uitsukkel – rook wat oral uitpeul. Ek kan nie glo dat dit gesond kan wees nie.

Ek en manlief skuif sommer weg, ons het nie lus vir hoofpyn en ‘n toeneus nie. Dankbaar ek het gekyk, die naambord gaan ek beslis onthou. ‘n Plek om te vermy.

Die ene is die mooi gebou waarin manlief gaan werk. As hulle ooit weer in ‘n kantoor gaan werk?

Ek het besluit as ons dan moet stap, doen ons die 5 km Parkrun enige plek en tyd virtuele uitdaging. My liewe Garmin het anders besluit. Laat my so wraggies op 3,8 km in die steek. En ons is nog nie eens by die restaurant nie.

Gaan net af, soos steeks donkie. Ek moet onthou om haar te laai. Haar skuld dat ek vergeet, het nooit vergeet om my Apple horlosie te laai nie, sy moes sommer twee keer in die dag gelaai word. Liewe Garmin hou ‘n week en baie langer as ek nie die GPS gebruik nie.

Iedergeval, dit was ‘n stewige entjie afdraende tot by Kaizer Plaza, dus sou ons al die pad opdraende huis toe moes kom. Baie naby aan ‘n 100 m daling soos wat ons afgestap het.

Ek is vies vir my horlosie en besluit om dollatjie se gunsteling toep, Strava op pad terug huis toe te gebruik. Om die hele pad te meet. My droom van 5 km stap vir Parkrun in sy kanon in. Dus stap ons tot by Ocean Basket om weer daar te eet.

Ek moes die laaste foto net neem want ons kry nêrens in Qazaqstan sweeties saam met die rekening nie. Dit is nou wel nie Suid-Afrika se suur sweeties by Ocean Basket waaroor ek gaande is nie, maar hierdie proe net so goed. So amper asof dit vir ons droë kele gemaak word. Het ek vertel? Die lug is baie droog, ek word snags met ‘n baie seer keel wakker.

Op pad terug maak ek droog en Strava stop op minder as 1 km. Ons het in die kort stukkie pad bykans 60 m geklim!

G’n wonder my kuite voel dit nie. O ja, wie sou dink dat ekke in ‘n stad so ses km sal stap om te gaan uiteet? As ons ‘n Dusty het?

Toe sit ons twee maar eerder rustig op ‘n bankie, so net voor die Eifeltoring in Almaty. En daar was nog meer as 2 km van klim oor …

Dit is nou die plek waar mens blykbaar Franse parfuum kan koop. Enige voorstelle?

Ek het toe sommer tuis kom oplees. Ja, Ocean Basket het in Suid-Afrika begin. In 1995 in Menlyn, Pretoria. Om seekos goedkoop na die arm man se sak te bring. Voorheen was seekos blykbaar baie duur. Nou is Ocean Basket in 18 lande beskikbaar, waarvan Qazaqstan een is!

En dit proe Suid-Afrikaans! Die menu is ook in Engels toe hulle hoor ons is nie Russies of Qazaq nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

25 gedagtes oor “Ocean Basket in Almaty

  1. In 1992 doen ek en Faf du Plessis se ma ‘n kookkursus by die Technikon. By die tafel langs ons is twee griekse gode. Ons maak vriende met hulle en het elke woensdagaand die grootste pret, behalwe dat ons leer kook ok. Ons doop hulle Cook en Cat, na aanleiding van hulle griekse vanne. Groot was my verbasing toe ons die 1e keer by Ocean Basket gaan eet en hulle twee daar aantref as die eienaars. Oupa seplan, maar hulle moes eers leer om ander kosse ook te maak. Goeie tye

    Liked by 1 person

  2. Ek sal ook nogal ver stap agter ‘n Ocean Basket aan. Ek’s mal oor goeie seekos en hier by ons moet jy nogal ‘n entjie ry om ‘n verskeidenheid te kry – skynbaar is al die afgetredenes op die Suidkus (meesal vanaf Gauteng) meer gaande oor ‘n bord tuisgekookte rys, vleis en aartappels!

    Liked by 1 person

      1. Dan moes jy ons babavet snoekie van gisteraand kon deel. Dien ou dingetjie het nooit van weight watchers gehoor nie en haar vleisies was murgsag met die lieglikste pensgedeeltetjie. Ek het my bloedsuiker tot ander Mars gehad daarmee. Jitte, en so ‘n soete kelkie ruby daarby.

        Like

          1. O nee, mense moenie sout op snoek sit nie, ons eet hom redelik vars. En vars uit die see, maar ek hou nie van soutvis nie en ook nie Houtbaai s’n nie. Daar eet ek die beste stokvis by Fish 4 Africa aka Glory Bay Fisheries. Dis tussen die groot kaai en die snuismarkies, aan die bergkant.

            Like

          2. Ons wonder juis oor toerisme, al ons inkomste is daarvan afhanklik en ons verdien al sedert begin Desember basies niks. Ek het egter nog my agentskappe vir die treine en sal graag eendag weer mense veral op Die Bloutrein en ook PremierClasse neem, dan toere in Kaapstad aanbied waar ek die plek ken.

            Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.