Gepubliseer in Skoolwerk

WOW, kleinseun kan spel!

Kleintyd het ek al geweet dat ons oudste kleinkind, ‘n seuntjie, ‘n talent vir taal het. ‘n Aanleg. ‘n Bewuswees van taalmonstruksie. Ver bo sy ouderdom.

Vandat hy baba was, het hy saans stilgesit vir ‘n storieboek. Nie paar sinne nie, die hele boek! En as ouma anders lees as wat daar staan omdat ek gedink het dat die woord bo sy vuurmaakplek was, het hy my reggehelp.

En kon hy verduidelik wat die woord beteken. Want hy vra as hy nie weet nie.

Toe hy vier jaar oud was, het my dogter hom vir leesklassies gestuur. En ek was dankbaar, dit is goed dat hy gestimuleer word.

Toe hy in Graad R land, kon hy lees. Moeilike woorde. In boeke. Want hy is ‘n boekwurm. Jy kan hom met ‘n slap riem vang as jy ‘n boek as beloning aanbied.

Engels of Afrikaans.

Ek het al vertel hoe hy al die boeke wat hy kon na hulle huis wou saamneem toe ek getrek het, begin Julie vanjaar.

En hoe ek moes keer vir skoolhandboeke. Leesboeke het ek gegee soos hy gevra het. Boeke wat vir my hoërskoolleerders voorgeskrewe werke was!

Daarom was ek nie verlede jaar verras toe hy een van die vyf graad 1’s was wat in sy laerskool vir die spelkompetisie gekies is nie.

Ook nie vanjaar toe hy een van die vyf Graad 2’s was wat gekies is nie.

En beslis nie gister toe ek hoor dat hy deur is na die provinsiale kompetisie nie! Ek is so trots dat ek kan bars.

Nie omdat ek trots is wanneer kinders presteer nie.

Maar eerder omdat ek van die min onderwysers is wat glo dat dit reg is om kinders te leer lees wanneer hulle gereed daarvoor is.

My tweede kleinseun is nou besig met leesklassies. En die mammas het behoorlik aangegaan omdat die kinders moet speel. Nie leer nie.

Reghelp gaan nie werk nie. As ‘n kind self wil lees, moet hy geleer word. Ouderdom is ‘n getal, mens is nie op ses amper sewe ewe skielik reg om te leer nie.

Hulle leer vandat hulle hulle oë oopmaak. En wat is nou lekkerder as een tot een leer by ‘n juffrou, sonder die druk van assessering?

Anders as sy ma, het ek my poplap skool toe gestuur op vyf. Omdat sy die koerant en die Bybel self wou lees.

Dit het so begin.

Hoe weet ma dit is wat daar geskryf is?

Mens lees dit my kind.

Maar hoe weet mens?

Dit is woorde, as jy die woord nie ken nie, spel jy dit?

Hoe ma?

So, dit is ‘n a en dit is ‘n b en dit is ‘n d. Wat staan daar as ek die drie langs mekaar sit? So: b a d?

Sy klank b a d, en kyk my skeef aan. Wat het ek gelees?

Ek lag.

Sê dit nou vinnig. Na twee probeerslae verstaan sy: bad. Ek wou nie te veel peuter nie, ek is ‘n hoërskooljuffrou. Ken nie van grondslagfase nie.

Toe wag ek maar tot die dag wat die laerskooltannie vreeslik besig met inskrywings is en skryf haar in in die hoop dat sy nie sal sien dat my poplap te jonk is nie.

Haar nie saamgevat nie. Sy was nog nooit op haar bekkie geval nie.

En dit werk, die tannie kyk nie deeglik nie en poplap is Graad 1. Daardie jare moes sy wag tot sy 7 word. Sy het April 6 geword.

Ek was verstom toe my lektore (begaafdekindonderwys) nie met my saamgestem het nie. Want hulle profeteer stimuleer! Maar dan moet die gestimuleerde kind saam met ongestimuleerdes in ‘n klas sit.

‘n Resep vir onderprestasie.

Dink hulle hoef nie op te let nie en kom nie agter wanneer die groep ingehaal het nie. En verbygaan. Soos mens so baie met professionele fietsjaers sien.

Spyt was ek nooit. Sy het goed presteer op skool, het met onderskeidings in vyf van haar ses vakke geslaag en ‘n honneurs in aktuariële wetenskappe aan Pukke behaal.

‘n Ma weet! ‘n Ouma ook. Veral as sy ‘n juffrou is …

Terug by kleinseun:

Baie geluk my liefste ou klein seuntjie. Ouma is vreeslik trots op jou. Mag tale altyd vir jou so lekker bly. Soos nou!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “WOW, kleinseun kan spel!

  1. Ek stem…my dogter kon vlot lees toe sy skool toe is, en sy het makliker geleer as al haar sibbe want sy is lief vir lees.

    Like

  2. Christa, sien jy kans om volgende aan ons verspotte Rebusstorie te skryf, asb. Jy neem dus by Toortsie oor, Tannie Frannie is nie nou beskikbaar nie.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.