Gepubliseer in Joernaal,Tegnologie

Om te like of nie

Ek kry vanoggend hierdie boodskappie (sien foto) van my sus wat altyd vir my die mooiste, oulikste sêgoed aanstuur. En daarom wil ek vandag spesifiek oor verhoudings op sosiale media gesels.

Lees dit egter eers self.

Ek stem nie met die raad saam nie. Al verstaan ek die seer agter die boodskap. Iemand wat graag opregte vriende wil hê. Daardie groepie is mos eintlik beperk. Mense wat jou bemoedig en ondersteun.

Ek skrik as ek sien dat baie mense van iets hou wat ek geplaas het, veral as dit gedeel word. Want ek sien gereeld hoe mense sosiale media gebruik om ander te na te kom. Dan lees ek oor en oor om te kyk wat kan teen my gehou word.

Dus wil ek nie eintlik oor hierdie skermskoot gesels nie, maar ek wil tog ‘n eier lê.

Ek plaas selde goed op my Facebook-muur waarvan ek wil hê ander moet hou. Dit is vir my ‘n private muur waar ek goed deel wat my op die oomblik fassineer of beïnvloed. Sodat ek, wanneer ek terugblaai, aan goed herinner kan word wat op sekere dae gebeur het.

Ek vergeet dan dat daar ander mense is wat dit lees, want dit voel soos deel met nyself. Behalwe wanneer ek ‘n skakel na ‘n nuwe bloginskrywing deel.

Dié skakels deel ek omdat baie spesiale Facebookvriende my blogs lees en op my Facebookplasings daaroor op FB kommentaar lewer. Hulle is nie my WordPress-volgelinge nie (nog nie) en as ek dit nie op FB deel nie, weet hulle nie dat ek ‘n nuwe inskrywing gemaak het nie.

Daarom plaas ek die skakel elke keer in die verwagting dat hulle daarop gaan reageer. En ek word selde teleurgestel. Dankie julle!

Ander sien die skakels en lees dit nooit. Want dan moet hulle uit FB gaan om dit te lees.

Sommige mense reageer in die openbaar op my plasings, soos sommige van my FB-vriende en die meeste van my WordPress-vriende.

En ek kan nie wag om te gaan lees wat hulle geskryf het as my foon of horlosie my inlig dat ek ‘n boodskap van FB of WordPress gekry het nie. As ek gaan stap het, kan ek nie wag om by die huis te kom dat ek my bril kan opsit om te lees nie.

En ek doen moeite om daarop te reageer omdat ek weet hoe belangrik wedersydse verhoudings op sosiale media is.

En ja, ek gebruik die woord sosiale media op hierdie oomblik presies net so, al steek daardie woord my al hoe meer dwars in die krop. Sosiale media.

Mense wat geen idee het hoe om sosiale media ten beste te gebruik nie, gebruik die woord in ‘n negatiewe sin.

Iets soos: Ek sien jy het dit op sosiale media gedeel of Ek deel nie privaatgoed op sosiale media nie met so ‘n meerderwaardigheid in die stem. Die antwoord op beide is mos eenvoudig. Op die eerste een: Ek het ja, wat is jou probleem daarmee? Op die tweede een: Ek weet ja, lewer ek miskien meerderwaardige kommentaar wanneer jy niksseggende goed deel?

Maar ek sê dit nie. Aanvaar die steek van wie dit kom.

Want sien, soveel keer lees mens die niksseggende goed, vind jy iets seggend daarin, deel jy dit ook. En stel jy jou bloot aan ‘n volgende groep meerderwaardige mense.

Daardie groep wat jou in die openbaar, of per privaatboodskap, inlig dat dit wat jy gedeel het fopnuus is.

Fopnuus wat vriende gedeel het. En omdat hulle vriende is, het ek aanvaar dat dit, wat hulle deel, die waarheid is.

Nou het ek geleer om alle skakels wat ander deel te ignoreer. Te lees wanneer ek tyd het. En slegs te deel wanneer ek kan gaan kyk of dit die waarheid is. En vir beide het ek nie baie tyd nie.

Want sien, daardie fopnuus is mos inskrywings op ander webblaaie. Wat eers gelees moet word om die kaf van die koring te skei. Dan moet ek gaan opsoek of die feite in die fopnuus feite is of nie. En dan eers kan ek dit verder deel.

As ek nou navorsing moet gaan doen oor iets wat my tot op die oomblik wat ek dit gelees het, nie in die minste geïnteresseer het nie, het ek nie tyd daarvoor nie.

Inteendeel, ek sou dit nooit gelees het as vriende dit nie op FB gedeel het nie.

Sosiale media word nie gebruik om die fopnuus te skep nie.

Sosiale media is tegnologiese hulpmiddels wat gebruik word om mense in staat te stel om met mekaar te kommunikeer. Selfs al word iets soos WordPress gebruik om die fopnuus te skep, is dit eers sosiale media wanneer die lesers in staat gestel word om daarop te reageer.

Soos Maroela Media, wat lesers in staat stel om kommentaar op hulle plasings te lewer. Hulle nuus kan maar gedeel word, hulle het navorsing gedoen. Mens kan maar glo wat daar staan. En ek kan hulle plasings met gemoedsrus verder stuur dat ander dit ook kan lees.

Dus is sosiale media nie die vark in die verhaal nie. Dit is nie iets waaroor mense hulle neuse in meerderwaardigheid kan optrek nie. Dit is een van die wonderlikste hulpmiddels wat ontdek is.

Ek sou nie hierheen getrek het as ek op pos moes staatmaak om van my kinders te hoor nie. Ek sou selde briewe per spoedpos kon stuur, want ons het aan die begin uitgevind dat ‘n brief na Telkom my R2 700 sou kos, meer as die verkeerde rekening wat hulle nou al sedert September 2017 nie kan regmaak nie.

Waarom groot maatskappye soos Telkom steeds onbevoegde mense aanstel, weet ek nie. Hulle verloor klante, tog bly die mense in hulle poste. Maar ek dwaal af, ek hou van sosiale media.

Nee, ek jok. Ek is lief vir sosiale media.

Dalk omdat ek ‘n loner is?

Ek het as kind elke boek waarop ek my hande kon lê verslind. Ons was vyf susters, ek die oudste. My sus jonger as ek was die hulpvaardigste. Sy het my ma met alles gehelp. Dus het ek altyd die kans waargeneem om te verdwyn.

En iewers ver van die huis te gaan sit om my boeke te lees. Trompie. Die Maasdorpers. En vele ander wat al in die vergetelheid weggeraak het.

Nie skoolboeke nie, daarom het ek toe ons getrek het my kleinseun wat ook baie van lees hou, verkeerdelik ontmoedig om Wiskunde en Wetenskap en ander boeke te wil saamvat na sy huis toe. Die juffrou in my weet dit is verkeerd, maar wat gaan hy daarmee maak?

Dit sou so lekker wees om met daardie skrywers te kommunikeer!

Tans lees ek, wanneer ek tyd kry, die inskrywings van my blogvriende en diegene wat nog nie vriende is nie. Op sosiale media.

Daardie media wat my toelaat om te lees en direk met die skrywer te kommunikeer. Wat ‘n voorreg om dan verder saam te gesels. Soms oor die inskrywing. Ander kere oor jou eie ervaringe oor die onderwerp onder bespreking. Elke keer ‘n heerlike ervaring.

Een wat mens nie altyd kry as jou akademiese artikels deur middel van sosiale media gepubliseer word nie.

LitNet het die kommentaar aangeskakel, maar dit is asof mense daar nie so maklik saamgesels nie. En dit is die een plek waar ek mense wel sou smeek om kommentaar te lewer.

Vertel vir die skrywer wat jy van die werk dink. Deel jou eie ervarings, help ons om perspektief te kry.

Anders as in die geval van ‘n bloginskrywing, kry ek dit tans reg om so twee tot drie artikels per jaar te publiseer. Omdat navorsing tyd verg, dan moet dit in woorde uitgedruk word en dan word dit gekeur.

Dan kom dit terug met kommentaar van die keurders wat aangespreek moet word en word dit heen en weer gestuur. Totdat dit finaal goedgekeur word. Dan word dit geproeflees en teruggestuur om aanvaar of verwerp te word en dan eers gaan dit deur vir bladuitleg en publikasie. ‘n Proses wat maklik maande duur.

Dus sal elke skrywer kommentaar waardeer. Al is die lekker van die proses die oomblik wanneer die skakel vir jou gestuur word. Om jou in te lig dat dit aanlyn beskikbaar is. Daarna is die lekker in die oomblik wanneer jy die skakel kry dat die artikel en die tydskrif in PDF-formaat beskikbaar is. Ek gaan lees dit nie sommer weer nie.

Teen daardie tyd ken ek die inhoud soos die palm van my hand. Al sal ek dit nie kan opsê nie. Daarvoor neem ek te veel woorde om my sê te sê.

Die punt wat ek eintlik wil maak, is dat ek nie met die skrywer van die stukkie gedeelde kennis saamstem nie.

Natuurlik is daar mense wat skynheilig is. En dit is moontlik dat hulle privaat kommentaar lewer omdat ander mense weet wat hulle agter my rug sê.

Dit is egter ook moontlik dat mense nie in die openbaar kommentaar lewer nie. Omdat hulle hulself nie vir kritiek wil oopstel nie.

En dit bring my by die frustrasie oor die manier waarop sommige mense sosiale media gebruik. En let wel, ek is gefrustreerd oor die manier waarop sommige mense sosiale media gebruik.

Want dit verskil nie van die manier waarop hulle hulle monde gebruik nie.

Sommige mense gebruik sosiale media om meerderwaardige kommentaar op ander se plasings te lewer. Daardie mense is nie vriende nie en behoort nie deel van jou FB vriendekring te wees nie.

Sommige mense gebruik sosiale media om dit, wat ander in groot moeilikheid kan laat kom, te deel. Daardie mense behoort nie deel van jou vriendekring te wees nie. Hulle misbruik die screen print funksie van sosiale media as hulle dit, weens jou privaatheidsinstellings nie verder kan deel nie. Hulle moet so gou as moontlik verwyder word, iewers het jy groot fout gemaak toe jy hulle as vriende gekies het.

Want, dit is ‘n feit soos ‘n koei, op FB het ek elkeen gekies, geja of genee vir die versoek.

Sommige mense gebruik wat hulle op sosiale media lees om jou naam met ‘n plank by jou naastes te slaan. Iets soos Het jy daardie foto gesien wat sy van jou gedeel het?

Ek deel nooit foto’s omdat ek iemand te na wil kom daardeur nie. Hoe gemeen sou dit van my wees om so iets te doen? Aan my naastes?

Om myself te beskerm, het ek my instellings verander dat slegs my vriende kan sien wat ek deel. Hulle vriende kan dit nie sien nie, net vir in geval hulle vriende van daardie soort is wat moeilikheid stook!

Ek wil egter by die punt uitkom. Die rede waarom ek nou kom sit het om hierdie inskrywing te maak.

Ek lief sosiale media, dit het seker tot nou toe goed deurgekom.

Ek het my eie webwerf, Arend ontwikkel om onderwysers en studente te leer om in ‘n veilige omgewing saam te leer. Ek is op die oomblik besig om navorsing te doen vir ‘n hoofstuk in ‘n internasionale handboek oor die impak van sosiale media op studente sukses.

My hoofstuk gaan oor die manier waarop ek studente geleer het om sosiale media te gebruik om by mekaar te leer. En dit is opwindend om te sien hoe die verhoudings wat die studente gebou het, hulle gehelp het om hulle take te voltooi en eportefeuljes te bou.

Ek kan nie nou meer daaroor vertel nie, maar ek het al verskeie artikels geskryf oor die manier waarop onderwysers en studente sosiale media gebruik om verhoudings te bou om te leer om hulle werk te doen. Of om te slaag.

Een van die belangrikste dinge wat ek vir my studente en die onderwysers leer is om van ander se plasings te hou wanneer jy iets nuuts bygeleer het. En om kommentaar te lewer om die ander persoon aan te moedig om weer te deel.

Want sien, sonder die likes en die kommentaar weet die skrywers nie dat hulle waardevolle inligting gedeel het nie. En kan dit opdroog. En dit wil ons mos nou nie hê nie?

My studente moes in die openbaar like en kommentaar lewer. Dat ek die verhoudings kon bestudeer.

Ek het die FB-groep RSA-onderwysers in 2012 begin nadat ek my PhD voltooi het. Wat juis op die gebruik van sosiale media tydens die deurlopende professionele ontwikkeling van ‘n groep onderwysers gefokus het.

Hierdie groep het tans 18 200 lede. En die meeste van die onderwysers deel en gesels saam.

Die rede? Ons waarsku mense wat swak kommentaar lewer een keer. Indien dit te erg is, waarsku ons nie. Ons verwyder diegene wat die bou van ‘n leergemeenskap rem om hulself te laat goed voel. Dan mis hulle uit op belangrike leergeleenthede.

Want sien, as mens weet wat sosiale media is (sjoe, wil ek nou dit op die ritme van die irriterende Leeuloopliedjie skryf) en hoe jy dit tot jou eie voordeel kan gebruik om by ander te leer, dan gebruik jy die like knoppie sommer baie as jy nie self oor die kennis beskik om kommentaar te lewer nie.

Dit is so goed soos kommentaar, vra maar vir enige iemand wat sosiale media ten goede gebruik.

As mens na die oorsprong van Facebook kyk, is dit geskep om vriende geleenthede te bied om hulle vriendskapsbande oor tyd en plekgrense heen te spei om kontak te hou.

Nie om mense te vernietig en beledig nie. Tans moet FB dit oorweeg om ‘n ander naam vir friends te kies.

Volgelinge? Ek dink nie daardie een gaan werk nie, ek het my Twitter gestaak omdat ek nie weet wie die mense is wat my volg nie. En dit laat my hare in die lug staan. Veral as ek sien hoe Twitter gebruik word om mense te vernietig.

Kennisse? Daardie een gaan maak dat ek minder deel. Amper soos volgelinge, maar ek kan darem na FB-vriende se profiel gaan kyk en ‘n oordeel fel.

En die keuse om te aanvaar lê in FB steeds by my.

BFFS’ dan? Beste vriende is dan die beste keuse, want mens moet leer om, soos in die fisiese omgewing, jou vriende versigtiger te kies. Net soos in die fisiese omgewing kan mens dan kommentaar en likes gebruik om jou BFF’s te kies.

Ek hou egter steeds die reg voor om my privaatheid so te hou, dat hulle dit nie met hulle vriende kan deel nie.

Net vir ingeval!

Foto: Deur my glas se lens …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

11 gedagtes oor “Om te like of nie

  1. Baie interessant en waar. Twee opmerkings: waarom o, waarom is daar mense wat ander altyd wil bykom? Siesa! Hulle moet gaan vir ‘n kursus in menslike verhoudinge! Hopelik sal hulle daar leer jy kan nie dink wat jy wil of sê wat jy wil nie. 2. Ek wil saam met jou sê: Die leer by ‘n ander is so lekker. Lewer positiewe kommentaar op skrywers se werk. Moenie net lees en verdwyn nie.

    Like

  2. Christa, ek het vir jou ‘n boodskap in jou FB inboks gelaat. Dis in verband met die Rebusfontein se inwoners😀 Ek gebruik sosiale media dikwels en graag. Ek doen bitter weinig plasings op my eie blad, maar lees graag die nuus of interessante artikels wat gedeel word.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.