So sal ek graag onthou wil word

Ek lees vanoggend iemand se kommentaar op ‘n medeblogger, Abrie, se inskrywing. Dat sy haar WhatsApp status gemaak het oor hoe sy onthou wil word.

Natuurlik kan ek dit nie lees nie, ons is vriende op WordPress en nie WhatsApp nie. Maar dit het ‘n vonkie veroorsaak wat vra dat ek so iets vandag skryf.

So, hoe sal ek graag onthou wil word?

Heel bo-aan die lys sal ek onthou wil word as ‘n Christen. Ek kom nie altyd gereeld in die kerk nie, hier kom ons glad nie daar nie. Hier is nie ‘n Engelse kerk nie en Russies verstaan ek nie. Ons kan gaan sit met ‘n tolk langs ons, maar dit gaan beslis meer pla as goed doen. Dominee Kobus stuur sy preke aan en ons voel Sondae of ons in die kerk is as ons daarna luister.

Maar ek dink nie mens hoef in die kerk te wees om jou Christenskap uit te leef nie. Daarom sal ek dankbaar wees as mense nie na my kyk en sê: As sy ‘n Christen is wil ek liewer nie een wees nie. Daardie een hoor mens soveel keer van ander mense, mag ek nie daardie mens wees wat ander van die Here af weg hou nie.

Om dit te kan wees, moet ek begin om my nie so maklik te wip as ek sukkel nie.

Ek sal onthou wil word as manlief se geliefde vrou. Weet nie of hy na my weer sal trou nie, ek is ‘n handvol en hy is ‘n rustige man. Ons het ons gister juis weer slap gelag omdat ek so haastig is. Ek het twee keer na mekaar in die hysbak ingeklim en ons vloer se knoppie gedruk. Met hom nog half pad in die hysbak in. Hy kan mos nie inhardloop nie? Elke keer het hy sy skouers probeer smal maak en die boudjies ingetrek om nie in die pad van die deur te wees nie. En gelag.

Ek sou die tweede keer kwaad gewees het, mens leer mos volgens my uit jou foute. Hy het uit sy maag gelag. Dalk sal hy die rustigheid van alleenwees geniet as ek nie meer daar is nie. Ek sal net wil weet dat ek sy lewe vol gemaak het. Vol liefde. Hier in Qazaqstan kry ons weer geleentheid om saam te lag!

Ek sal onthou wil word as die beste ma waarvoor my kinders kon vra. Ek is ‘n Leeu en leeus is kwaai met hulle kinders (was toe hulle grootgeword het, nou is ek ‘n lammetjie), maar niemand anders mag kwaai met ‘n leeu se kinders wees nie.

Dan eet ons hulle op! Ek was kwaaier met my dogter, het haar gereeld daaraan herinner dat ek nie sal toelaat dat sy so ongeskik soos die kinders in my klas word nie. Het gewiks as sy cheaky is. B

Boeta het minder raas gekry, sussa was vyf toe hy gebore is. En toe het mens al gesien dat jy ‘n kind lewendig groot kan kry. Hy is egter ook gewiks as hy, volgens ons, ongemanierd was. Vandag is ek so trots op die twee kinders van my.

Dus hoop ek dat hulle die liefde in die kwaai kon raaksien en my so sal onthou. As die beste ma vir hulle. Iemand wat hulle kon help om hulle volle potensiaal te ontwikkel.

Ek wil nie graag as ‘n goeie skoonma onthou word nie. Maar jy skrik verniet. My twee aangetroude kinders noem my ma, nie skoonma nie. En ek is vir hulle lief soos vir my kinders. Daarom tel hulle onder die vorige wens vir onthou. Ek wil hê hulle moet my ook as ‘n goeie ma onthou, daar is heeltemal te veel wol aan skoonma’s.

Ek wil beslis as die beste ouma waarvoor my kleinkinders kon vra onthou word. Vir my is die mooiste woord Ouma. Uit hulle mondjies uit! Ek geniet hulle, leef saam met hulle en mis hulle vreeslik baie.

Ek sal onthou wil word as ‘n goeie dogter vir my ma en pa. ‘n Goeie ousus gaan ek nooit kan wees nie. Ek het twee maande gelede moed opgegee. Daarom is dit nie op my lysie nie. Waarom gaan ek nie uitbrei nie. As een of meer van hulle my as ‘n goeie suster onthou, is dit op die oomblik genoeg.

Ek sal onthou wil word as iemand of baie iemande se vriendin. Van beste vriendin weet ek nie, ek is ‘n loner, kan soms verkies om nie te gesels nie. My agter my rekenaar sitmaak en vergeet van die wêreld om my.

In die werklike lewe het ek ‘n handvol vriendinne, bitter min mense met wie ek my diepste gevoelens sal deel.

Maar as vriendin wil ek beslis onthou word. Ek geniet die vriende en vriendinne in die bloggemeenskap en my Facebook vriende en vriendinne baie. Die towerinne ook. Hier deel ek my diepste geheime. Omdat dit so half en half voel of dit in die vergetelheid gaan verdwyn.

Sommiges lewer op daardie oomblikke kommentaar, ander sê in persoon dat hulle lees en geniet. Ander lees net, sonder om te laat weet. Behalwe vir die enkele een wat net lees om te kyk wat teen my gehou kan word, voel almal wat lees wat ek op my blog deel, soos my vriende en vriendinne. Hoop julle sal my as een onthou.

Ek sal onthou wil word as iemand wat nie vloek nie. Daai ene is ‘n doring in my vlees wat nog uitgetrek moet word. Ek het grootgeword met ‘n ma wat mens geraps het as jy vloek. En iewers as grootmens leer vloek. Toe het manlief gevloek as hy kwaad is. En dit het my so gepla dat ek geraas het. Iewers langs die pad het ons rolle omgeruil. Ek vloek as ek kwaad is. Hy nie. Maar dit sal vriende nie weet nie, ek vloek nie in geselskap nie. Ook nie as ek skryf nie. Veral nie as ek skryf nie.

Maar my gesin weet ek kan vloek. En dit is nie hoe ek onthou wil word nie. Let asseblief daarop dat ek niemand veroordeel wat vloek nie. Ek lees onlangs dat navorsing toon dat intelligente mense meer as ander vloek. As dit so is, wil ek eerder as dom onthou word as ‘n vloekende vrou. Hoop dit help om dit hier op my lysie neer te skryf. Iets vir my bucket list.

Ek dink ek sal onthou wil word as iemand wat goeie navorsing doen. Want ek verwyl ‘n groot deel van my lewe daaraan. Sal sleg wees om te weet dat dit alles niks werd was nie.

Ek wil as BB, Shilo en Sobek se mensmamma onthou word. Tans is hulle 10 000 km van my af weg. En treur my hart. As ek honde hoor blaf, mense met hulle honde sien, dan is dit veel erger. Die onthou.

Die Here het hulle onlangs veilig tydens ‘n inbraak helder oordag bewaar. Ons weet nie hoe nie, Shilo storm en byt as hy ongenooides sien. Dit lyk nie of hy seergekry het nie.

My kinders ken nie motorwiele nie, tog is hulle nie deur die diewe se wiele raakgery nie. Hulle ken nie oop hekke nie, tog het hulle nie uitgegaan toe die hek oopgelos is nie. En hoe kan ek die een vergeet? Hulle was skaars twee weke by my seun, tog het hulle nie by die hek uitgegaan om my te gaan soek, soos mens soveel keer oor honde lees nie!

Ek skat dit help dat hulle by Seth is. Seth is familie. En seun sê hulle het na al die jare sy huis as hulle huis aanvaar. Genade!

Ek skat dit is die lysie. Vir nou. Op die oomblik. Ek mag later aan beter redes vir onthou kan dink …

Dalk kan jy help?

Foto: manlief op pad terug werk toe nadat ek vir hom kossies tot by die park geneem het.

13 comments

  1. Ons kan net ons beste probeer om die regte lewenspad te kies: vrou, ma, skoonma (ek stem saam met jou daar -hulle is sommer my kinders ook), en ouma. Dit is nie altyd maklik nie, maar daar is altyd kans om beter op te tree – en altyd met liefde as dit by famielie kom.

    Like

  2. Ek sal jou onthou as die baanbreker vrou wat saam met haar man na ‘n ander wereld toe verhuis het, omdat sy die regte dinge doen. En as ‘n lekker blogvriendin.

    Liked by 1 person

  3. Hello Christa – hoe ek onthou sou wou word? Dit is ‘n moeilike een en daarom het ek nie vir jou raad nie. Tog van die dinge oorvleuel sekerlik met wat jy gese, dit is net dat ek nog nooit pertinent daaraan gedink het hoe ek onthou wil word nie. Die positiewe dinge wat op ‘n begrafnis van ‘n persoon gese word is heleaas dikwels nie waarvoor ‘n persoon onthou word nie. So miskien kan dit my bydrae wees. Ek wil nie onthou word vir dit wat op my begrafnis onder die invloed van emosie van my gese word nie. Ek wil onthou word vir wie ek werklik was, Of wil ek? In my jonger dae het het ek ‘n filosofie gehad (miskien moet ek blog daaroor of oor hierdie kommentaar) ai aandagafleibaarheid… Die filosofie: Jy is nie wat jy aantrek nie, jy is nie wat jy eet nie, jy is nie wat jy dink jy is nie JY IS WAT JY DINK. As ek onthou sou word vir wat met tye in my denke aangaan, wil ek eerder nie onthou word nie…

    Like

    1. Sjoe, ja, nee kyk, dit is beslis stof vir nadenke. Ek sou tog graag onthou wou word vir wat ek vir ander beteken en nie vir wat ek dink nie. Ek is, tot ‘n groot mate, in beheer van my denke, maar nie oor wat ek vir ander beteken nie. soms dink mens jy doen goed, dan meng jy eintlik in. Want hulle het ander idees en jy het nie eers gevra voor jy koop nie. Kan mens sleg voel daaroor? Nee, al doen mens. Want dit is waar die punt inkom, dink ek. as ek eers gevra het, het ek dalk meeer beteken?

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.