Beperking op gewig van tasse na Qazaqstan

Ons is mos op 2 Maart 2019 met ons vier groot tasse (32 kg elk, Lufthansa besigheidsklas), vier klein tasse (8 kg elk) en my handsak na Qazaqstan om vir drie jaar hier te kom woon en werk.

Hierdie 40 kg per persoon beperking was egter nie genoeg om alles wat ons hier gaan mis, hier te kry nie. Ons het basiese klere gepak en min skoene, want skoene is swaar en pak moeilik.

Nie geweet dat skoene en klere hier baie duur is nie, want alles word ingevoer! Dit is darem kwaliteit. In skoenwinkels word ons gehelp met nie dié nie, dit is Sjinees. Koop dié, dit is duurder, maar egte leer en in Duitsland gemaak. Ons volg hulle raad, hulle oorleef hierdie uiterste temperature.

Dus het ons, toe ons die afgelope week in die RSA was, plek in ons tasse nodig gehad. Vir goed wat dié keer moes saambring.

Nog voor ons weg is, het die hoeveelheid tasse wat moes saamgaan ‘n ligte oorlog in ons woonstelletjie veroorsaak. Ek wou twee grotes vat, een met persente vir kinders in en een met ‘n klein handtassie in. En een handtassie as handbagasie met klere in. Vir ingeval ons tasse wegraak.

Manlief wou een grote vat. Met een kleintjie as handbagasie. Ek het gewen, maar moes eers my speelgoed uit die waentjie gooi. Gelukkig vir hom, want ek het gehoor wat hy vir die kinders vertel wat moes saamkom.

Sy nommer 1 potjie, mens kry dit nie hier nie. Eg Suid-Afrikaans. Hulle het gelag, dit is hier. Kyk foto …

Sy biltongkerwer, al kry ek en hy die biltongmaak nog nie lekker reg nie. Hier is nie biltong nie. Speserye en derms om self wors te maak, ek het vertel dat ons nie weer hier wors sal koop nie. Hulle verkoop nie worsderms nie, perdewors s’n is die grootte van middelslag polonie. En spierwit.

Braaispeserye. Klein plekmatjies waarop glase en warm goed neergesit kan word om die tafels te beskerm. Ons kry nie hier nie. Peri-peri sous. Blatjang. Kerrie.

So van kerrie gepraat. Ek het al vertel dat hulle nie warm kos eet nie. My kinders het gaan oplees waarom nie. Sterk kruie is kenmerkend aan warmer lande soos Indië en Sjina, waar vleis maklik afgaan as gevolg van die hitte om die reuk en smaak vrot vleis te verberg.

Genade tog, dan is dit nog een ding wat ons met die Qazaqs gemeen het. Hulle eet, soos ons, goeie vleis. Al is daar ook perd tussen in. Dit kan ek op ‘n myl uitken en vermy. Gelukkig haat te sterk kos en te warm drankies!

En manlief wou nog van sy klere en lyfbande ook saambring.

En ek wou ook goed saambring. Materiaal vir rompe en bloese, wat lankal gekoop is en nog nie gemaak is nie, garing, mens kry nie Ceralon hier nie. Ek maak nie stukkende klere reg nie, dus is goeie gehalte garing noodsaaklik. Die kledingstuk moet van die begin af stewig wees.

My naaldwerkskêr, geen mens kan materiaal knip met die skêre wat hulle hier verkoop nie.

Goue stroop vir gemmerkoekies. Gemmer, SA se gemmer is baie sterker. Tissue oil. My soort Dove sjampoe en kondisioneerder. Hulle het Dove, kan dalk vra dat my soort ook beskikbaar word. My klere wat saam is en weer moes terugkom.

En dan wou Mia ook medisyne vir haar kinders hê. Wat mens nie hier kry nie. En ek wou ook medisyne kry wat mens nie hier kry nie.

Viral Choice, Septoguard en ACC200 om die dokter weg te hou. Laasgenoemde is noodsaaklik, hoe gaan ek in my beperkte Russies sê wat ek makeer?

Nog somerbloesies, ek het net langmougoed gepak. Moenie lag nie, daar is vir my gesê dat ek dit nie hier gaan nodig kry nie. Toe ons kom kyk het, het die kwik onder 40 grade Celsius gedaal, dus wou my brein in elk geval nie glo dat dit hier ook warm kan word nie.

Maar dit doen! Twee of drie maande van die jaar. Soos nou. Dit is vandag besonder warm. En dit kan 40+ word!

So is ons toe met genoeg pakplek RSA toe, maar daar is ‘n gewigsbeperking as ons wil terugkom.

Toe ons Sondag tasse by seun weeg, is my groot tas 30 kg. Ons het elk 23 kg volgens Qatar se beperkings. Ek sê ek kan my Woolies piekniekstelletjies, wat ek mettertyd as persente gekry het, uithaal, maar manlief is tegemoetkomend, hy sal inbetaal, my buit is veilig.

Nou kan ek en Mia tee in beter verpakkings in die parkie drink. En ek kan piekniekkos pak vir die dae wat ek manlief vir middagete in die parkie kry. Hier hou ons elke naweek op piekniek.

Sy tas kreun die skaal op 37 kg. Hy haal klere uit sy tas, potjie en biltongkerwer en die plekmatjies moet bly. O ja, en die 20 pakkies biltong van 200g elk. Vir sy werksmense wat wil proe waaroor die SA-manne so aangaan. Sy tas word toe 35 kg. En hy staan vas, wat in is, gaan saam. Hy betaal vir oorgewig.

Net vir ‘n lag: Toe ons vanoggend ons buit begin uitpak, ontdek ons dat die slagter vir die ekstra gewig verantwoordelik was. Hy het 30 pakkies biltong gemaak, 10 te veel, dus ‘n hele 2 kg. Ek en manlief kla nie, ons het nou voorraad in die kas!

So is ons OR Thambo toe. Met ons vrag. En ons beskerm dit soos oudste kleinkind syne beskerm. Met ons lywe.

Op die lughawe is die vrou by die Qatar toonbank tegemoetkomend. My tas is reg, die 30 kg is minder as die toegelate 32 kg. Ons steek ons verbasing goed weg. Onthou as julle Qatar vlieg, dit was ekonomiese klas.

Manlief moet egter uithaal om by 32 kg te kom. Die res kan as handbagasie deurgaan. En ons sit met ‘ ‘n probleem.

Ons handbagasietassies is ook oorlaai. As gevolg daarvan het ek ewe briljant voorgestel dat ons handbagasie by seun en sy vroulief, wat vir ons in Spur wag bly.

Net ingeval hulle ons handbagasie ook wou weeg omdat ons twee so oorgewig is. Om die kostes vir oorgewig te bespaar.

En my brein maak planne. As hy 3 kg uit sy sak haal, kan hy 2 kg in myne sit en 1 kg per hand dra. Dan is ons reg. Sy stem saam, so kan ons maak. En ons maak die tasse sommer net daar voor haar oë oop om te herrangskik.

Ek is bekommerd oor die biltong, maar sy het geen probleem daarmee. Wat in die tas is, is my saak. Sy soek die gewig reg.

Ek stel voor dat 8 pakkies na my tas skuif, dit is 2 kg. En hy haal ‘n leersak met ‘n houtboek uit sy tas, ons neem aan dit is 1 kg.

Sy tas kreun net onder die 32 kg. Myne ook. En Qatar is tevrede dat ons goed kan deurgaan. Groot rooi plakkers op om arme pakkers teen die gewig van ons buit te waarsku!

En ek raai beslis nie aan dat ‘n vrou haar tas so swaar laai nie. Manlief het darem sterk arms.

Ons tart die noodlot nie verder nie, daarom word die twee groot tasse direk na Ust-Kamenogorsk, ons stad, gestuur. En alles het veilig aan dié kant vir ons gewag.

Ek kan nie wag dat manlief sy tas vanaand uitpak nie, nuuskierig oor sy buit.

Sien vanmiddag dat hy ‘n hele boks vol Canderel stokkies daaruit opgetower het. Wat my aan sy ma se een vertelling laat dink.

Haar seuntjie wat met prysuitdeling oor die verhoog stap met kortbroekie se sakke wat omtrent onder die broekspype uithang, maar sy buit marbles is veilig by hom.

5 comments

  1. O wee….julle sal dalkies weer moet kom kuier, en weer…om alles daar te kry! Ek weet net nie hoe gaan julle alles terug bring nie!

    Like

  2. Terug pieng: Dr. Christa van Staden

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.