Julle! Ek gaan my nog slap lag vir die kleinkind van my.
Ek is gewoond om met die normale speserye kos te maak. Seun en skoondogter speel met masala en allerlei mengsels by die mark. So koop ek ook masala en maak vir ons frikadelle.
Piepkleintjies vir kleinkind. Grotes vir ons.
Hy sit nog so lekker en eet, toe haal hy ‘n ding uit sy piepklein frikadel. ‘n Hele naeltjie. En hy het dit raakgebyt.
Gee vir sy ma en vra wat is dit?
En sy ouma sit in verstomming. Is daar heel naeltjies in masala?
En sy ma antwoord ja. En ons lag daaroor. Ek verleê.
Maar toe ek vir die seuntjie kyk, kan ek nie help om te lag nie.
Al wil ek hom jammer kry, want naeltjies maak my mond sommer dadelik dood. En dit is hard, mens kan nog seer byt ook.
Maar ons mannetjie het ‘n heel ander idee met wat om met die onaangename smaak te doen.
Hy druk sy neusie toe!
Elke keer as ek in my kas kyk en heel naeltjies sien, giggel ek van pret. Ek het nog nooit my neus daarvoor toegedruk nie, die probleem was in my mond.
Die naeltjies in my kas?
Ons het die jaar met ramp op ramp begin. Een daarvan was ‘n kombuiskoskas vol motte nadat ons na drie weke by die see by die huis gekom het. Dit is nou nadat ek ontdek het die yskas/vrieskas was af … en vrot.
Ek het soveel rate gevolg, maar die beste was sover om Engelse sout agter in die kas te gooi. En heel naeltjies. Dit laat my elke keer mooi kyk of ek nie nou ‘n rot in die huis het nie …. maar dan sien ek dit is die heel naeltjies wat motte weghou! Dankbaar oor hierdie raat van my ma.
Hoofprent: G’n wonder dit tref my tande nie, lyk soos stukkies hout met ronde gesteentes in, soos konings se septers. So van konings gepraat. En toe word die Charles toe sowaar ‘n koning met sy skelmpie aan sy sy. Dit voel baie verkeerd …
Ek trek ook ‘n vreeslike gesig as ek dalk ‘n naeltjie raakbyt (ek het simpatie met jou kleinseun) … maar dit werk goed vir tandpyn! Dis altyd interessant om te lees hoeveel verskillende rate daar is met ons alledaagse speserye!
LikeLiked by 1 person
Dit is so, naeltjies is baie sleg. Tog proe dit anders in kos as wanneer mens dit per ongeluk raakbyt.
LikeLiked by 1 person