As mens nie self ‘n Duster ry nie, irriteer die Suid-Afrikaanse advertensies jou. Daardie waarin die tweetjies in hulle Duster spring. Op pad na nog ‘n avontuur.
Maar daar is ander ook, soos die een waar hulle op die strand ry. Met hulle baba SUV’tjie. Vir die wat nie weet nie, Dusty is uit die Renault stal, ‘n 4×4 SUV’tjie. Piepklein as sy langs ander SUV’s staan. Grootmejuffrou op die pad. Staan haar skoentjies mooi vol.
Het selfs ‘n navigasiestelsel om ons elke keer veilig huis toe te bring. ‘n Noodsaaklikheid hier. Want seine in die platteland is baie wispelturig. Gewoonlik bestaan dit nie.
Dusty maak dat ons tweetjies, soos die tweetjies in die advertensie, gereeld in haar spring om die wêreld om Öskemen te verken. Ons sal nooit by so ‘n groot golf soos hulle uitkom nie. Qazaqstan mag wel die negende grootste land in die wêreld wees. Maar het geen oseaan nie. Wel mere en ‘n stukkie van die binnelandse Kaspiese See. Groot golwe sal sy nie deur ons te siene kry nie, want dit is baie ver van ons af. Ek skat so 3 000 km.
Van lang paaie het ons genoeg gehad. Toe ons Dusty gekoop het om goedkoperige wiele te hê om nie meer so afhanklik van Aparu taxi’s te wees nie, moes ons 1 000 km na Almaty, hoofstad van Qazaqstan, ry. Om haar op ons eie naam te kan koop.
Dus het ons eerste reis met ‘n linkerkantbestuurder 1 000 km van ons huis af begin het. In die hoofstad. In spitsverkeer. Met twee Qazaqs saam met ons in die kar. Manlief se tolk en sy meisie. En dit was regtig baie ver. So ver soos Kaapstad van Johannesburg.
En dit is nie ‘n grap nie. Die pad is lelik en daar is min om te sien. Maar die kalf was in die put. Ons wou kar op ons eie naam koop.
Die eerste 250 km is die pad mooi. Daar is selfs toilette langs die pad. Nie die soort wat ons ken nie. ‘n Vertrek of twee, met ‘n gat in die grond. Soms selfs deurloos.
As plaaskind weet ek dat daardie gat diep moet wees. Om ‘n ruk lank te hou voordat dit vol is. Maar ons s’n op die plaas het darem ‘n bankie gehad om op te sit. Die gat se opening was dus seker ook groter?
Hierdie gate is kleinerig dat mens nie daarin val nie. Maar jou neus is ook op die hoogte van glipse van diegene wat nie kan mik nie. En dit was die hoofrede waarom ek by een in en dadelik weer uit was. Goeie genade, mens kan ook net soveel in die naam van dame verduur. Daarna het ek die bos gekies.
Intussen het Dusty ons al verskeie kere uit die stad geneem.
Om na die 5 mere te gaan kyk. Wondermooi. Aan die een kant van die pad is grasbedekte heuwels, aan die ander kant ruwwe berge met diep inhamme, wat seker as valleie omskryf kan word. En in elkeen van die vyf inhamme het mere gevorm.
So mooi dat ons nog ‘n keer soontoe is. Toe dit warmer was. Ons het intussen geleer om maar liewer ‘n piekniekmandjie te pak as om te wil gaan braai. Hierdie land is nie op braai ingestel nie, ons moes al terugkom en tuis braai.
Eintlik ook nie op toerisme ingestel nie. In elk geval, nie in ons deel van die land nie.
Geen Ultra Cities langs die pad nie, ook nie garages nie. Dus moes jou kar vol wees as jy koers vat uit die stad uit.
Ek het al van die toiltekaskenades langs die pad vertel …
Geen winkeltjies waar mens gou kan stop om proviand te koop nie. Eintlik ook geen restaurante nie. Jy is op jou eie, daarom pak ons nou ‘n mandjie met lekkergoed in die kar. Anders kom ons honger en dors huis toe. Winkels maak eers 10 uur oop, dus moet ons twee vroeë katte die vorige dag koop wat ons nodig het.
Ons het al uitgery na Shemonaika toe, die dorp waar die myn is. So twee ure van ons af, om sommer langs die rivier te gaan braai. Dit was ook baie lekker, so in die vreemde. In die dorp moet mens versigtig wees, nie almal word daar toegelaat nie omdat dit so naby aan die Russiese grens is.
Ons was al na die damwal toe, dit is in die stad en kenmerkend aan Ust. O jitte, dit is net so mooi. Ek het sommer ‘n blog daaroor geskryf. Hierdie damwal het die hoogste slot in die wêreld wat in gebruik is. Om bote van die hoë damvlak ba die aansienlik laer riviervlak te neem. Om verby die hidro-elektriese stasie te kan vaar.
Ons was al uit na die ski-oord toe. So 50 km van hier. Pragtige pad, laat mens so aan die pad tussen Piet Retief en St Lucia dink. Golwende heuwels of berge met dennebome. Op die pad is daar ook hemelhoë populiere, dink ek? Die blare raas so in die wind as ‘n briesie daardeur blaas.
Laas naweek het ons ander koers gevat. Uit na ‘n groot meer so 100 km van hier af. Sommer so op sy eie in die Irtish gevorm. En mens ry baie stadig aan daai 100 km. Nie omdat die pad lelik is nie, maar omdat die pad op meer as een plek ‘n 360 grade draai maak om jou boontoe of ondertoe te vat, soos op die foto.
Pragtige tyd van die jaar om daai ene te doen. Die herfsblare en valleie en berge en koeltes onder in die vallei maak dit ‘n pad wat ek met die paradys sal wil vergelyk.
Sy vat ons ook op inkopietogte. Na Arzan, Metro, ADK, Kolos en Komfort. En na ander plekkies as ons iets spesiaals soek en nie in ons winkels kan kry nie.
Sy het intussen ‘n garage gekry, heel anders as wat mens in Suid-Afrika het. Maar gemaak vir die koue wat kom. En nou hoor ek Dusty moet die naweek winterwiele kry. Daarvan gaan ek eers vertel as ons by daardie punt kom. Want, sê hulle, oor twee weke kan die sneeu begin val.
Wat my brein twee weke gelede sou glo. Dit was onmenslik koud. Nou is dit so warm dat ek nie met skoene of lang moue buite wil wees nie. Maar dit moet waar wees. Dit moet mos eers na koue warm word. Dat die sneeu kan val … En as die sneeu eers val, weet ek nie of ek so in die sneeu wil gaan baljaar met Dusty soos hierdie mense nie. Maar, mens weet nooit ….
Intussen moet ons nuwe dinge begin aanleer. Soos hoe Dusty se beheerkontrole werk. Sy het ons al voor ‘n winkel gelos. Buite die kar. Uitgesluit. Terwyl haar enjin aan is. Sonder dat ons in die kar was.
Omdat sy so aangeskakel kan word. Op ‘n afstand. Om solank haar enjin en binnegoed warm te maak. Voordat ons in haar inklim. Ons het maar oopgesluit met die sleutel en so ingekom en beheer oorgeneem. Tuis met die handleiding kom sit. Wat in Russies geskryf is. Ons kon net sowel Grieks probeer verstaan het …
Ek plaas nie my foto’s hier nie, dit kos heeltemal te veel om dit te doen. Daarom deel ek gereeld foto’s op my Instagram beskikbaar by @cvanstaden of die #reisjoernaalcvs
Foto: By elke haarnaalddraai is so ‘n spieël, om om die draai te kan sien. Ek moes mooi mik en betyds druk om Dusty in die spieëls vas te vang.
Dusty verkeer in goeie geselskap, omring met Porsche, Ferrari en soortgelyk in ‘n eksklusiewe glanstydskrif iewers in die huis. Die soort boek wat gelees word deur mense wat sweeftuie agter aan Rangey’s haak en luukse versamelneste teen Fresnaye en Clifton se hellings bou.
Mense vind jou Dusty se spoeg-en plakoefening verdag maar tog val niks uit mekaar nie. Taai spoeg van ‘n Romeen. Hulle loop enige plek en klouter oor alles. Sonder laestrek of ewenaarslotte.
Dis eintlik ‘n Dacia wat van Roemenië afkomstig is, alhoewel dit by ons ‘n Renault geword het. Tot almal se verbasing, gerieflike kanniedood en lig op brandstof. Soms kom ‘n vervaardiger na vore met ‘n verrassend briljante idee. Geniet die lewe met julle Dusty, wat minstens ‘n paspoort is na avontuur en ‘n visum na lewe.
LikeLike
Dit is, baie dankie.
LikeLike
Driven, Februarie 2019
LikeLike