So braai ons in Qazaqstan

Die Kazakhs braai nie soos ons nie. Seker maar omdat hulle nie hulle vleis soos ons sny nie.

Ek het al oor die snitte in Qazaqstan gesels. En ook oor hoe moeilik dit is om die regte vleis te vind om te kan braai. Want sien, volgens ons is ‘n braai ‘n steak op die vuur. Met wors. Dalk sosaties en dalk hoenderstukkies. Maar beslis fillet of ander sagte vleis. Bevrore T-bene is wel te koop, as mens mooi soek.

Die eerste maand en ‘n half het ons nie gebraai nie. By ons eerste woonstel was die stoep toegebou en was dit nog so koud dat ons nie buite sou wou sit om te braai nie. As daar plek sou wees, maar daar is nie braaiplekke by woonstelle soos in Suid-Afrika nie.

By die tweede woonstel het ons ‘n babastoepie op die agtste verdieping, 3m by 1m. Vrek klein. Maar ons het toe ons die plekkie gekies het al besluit dat dit ons braaivleisplekkie gaan wees.

Ek het al van ons eerste braaivleis op die stoepie vertel. Ons het ‘n elektriese braaier gekoop, maar die vleis wat bokant die rytjies ysters braai het nie soos braaivleis geproe nie. Kon dit net sowel in die oond gebraai het. Dit het egter tog lekkerder gevoel as om vleis in ‘n pan te braai.

Ons het intussen ‘n kar gekoop, soos ek al vertel het. En ons het ook, soos al die ander mense in die stad, besluit dat naweke gemaak is om die platteland om die stad te verken.

Vir ons eerste uitstappie het ons besluit om ‘n piekniekmandjie te pak en by die vyf mere te gaan braai. Daarvoor het ons ‘n braaier nodig gehad. Elektries sou nie werk nie.

Ons vriende hier het sulke plat bakke gekoop wat as braaiers verkoop word. Met roosters. Ons wou iets soos ‘n Weber hê. En dit was te groot vir die kar. En word met moeite opgeslaan en afgeslaan. En toe ontdek ons enetjie in ons een gunsteling winkel, кфмфорт uitgespreek as komfort, soos in Afrikaans.

Die oulikste baba braaier wat soos ‘n klein Weber lyk.

Ons het charcoal gekoop, bykosse en koeldrank ingesit en is toe op pad na die vyf mere toe.

Die vyf mere, 57km buite Öskemen

Daar gekom het ons eers foto’s by elke meer geneem en toe die teruggegaan na die vierde een om te braai.

Ons het Dusty getrek dat haar boudjies na die meer staan en ons goedjies uitgepak om te braai.

Braaivleis by die 5 mere

Dit was hemels en hierdie mere is ‘n moet om te gaan besoek. Dit is so na aan die hemel as wat kan kom. Ek sal nog daaroor skryf. Maar die vuur wou nie vat nie.

Ons het alles probeer, houtjies, papier. Niks. Die charcoal het amper dadelik wit geword. Geen rooi kole nie. Ons is toe maar met die halfgebraaide vleis huis toe. Net so op sie braaier wat net so in die kr gepak kon word omdat die deksel vasklip. Om daar klaar te braai. Op die elektriese braaier.

Intussen moes ons uitvind hoe om Kazakhstan charcoal aan die gloei te kry. Hier is nie Blitz nie. Daarom moes prof Google help.

Mens kan was smelt, lyn daarin druk en dit in stukke sny en so in kar bêre om as vuurbeginners te dien. Jy kan ook stukkies hout in ‘n koekiehouer sit en was bo-oor gooi. Ek weet nie waar om was te kry nie, ken nie eens die woord daarvoor nie en moes alle planne wat met was te doen het laat vaar.

‘n Ander metode is om dennebolle te gebruik. Dit is blykbaar goeie vuurbeginners. Maar waar kry ek dit? Die Kazakhs wat saam met manlief werk, kan nie help nie.

Donderdag sit ek en manlief in die parkie vir middagete en ek vertel van al die maniere om ons charcoal aan die brand te kry. Toe ek van was vertel, sê hy ek moet van daardie klein kersies koop wat mens op tafels sit.

Op pad terug huis toe, loop ek onder dennebome deur. Maar kliek nie. Dit het gereën en die denneblare het oor die paadjie gespoel. Ek loop nog so en wonder of ek dit kan gebruik om in koekiehouers te sit, toe ek ‘n sopnat dennebol sien.

Die dennebolle is klein, nie so groot soos die wat ons op die plaas gehad het nie. En sou kon werk. Ek was nogal verleë om so in die straat te loop en bolle optel, maar ons het ‘n nood gehad.

Daarna is ek na al die winkeltjies om ons, maar kon geen kersies kry nie. Dié bolle moes droog, daarom het ek dit soos beskuit in die oond gedruk en drooggemaak. Toe manlief tuis kom, kon ons die bolle toets.

En dit het gewerk! Ons kon die charcoal aan die brand kry.

Die aand het ons selfgemaakte sosaties, wors en pap geëet.

Pap! Dit is ook iets wat mens nie in Kazakhstan sonder moeite kan maak nie.

Die mieliemeel is geel en baie grof, en word in piepklein pakkies verkoop. Seker omdat dit nie baie geëet word nie? Maar dit is na aan pap soos ons dit ken.

Saterdag het ons die kersies gekry en die beste vuurbeginners ontdek. Veilige produk om in die kar en piekniekmandjie te hê.

Nou kan ons die charcoal op die pad aan die brand kry! Ons het ook twee ander produkte gekry wat kan help om vuur te begin.

Hierdie een is parafien. Ons hou van die digter vloeistof in hierdie een.

En dan kry mens houtskaafsels met geur. Ek het kersiegeur gekies, maar ons het dit nog nie getoets nie.

Hier is ‘n foto om die grootte van ons stoepie te probeer wys …

Ek het my amper besimpeld geskrik toe dit voel of iemand vir my kyk, ek omkyk en ‘n pop in die venster onder ons s’n sien en die pop haar oë oop en toe maak. Die dogtertjie het seker gewonder wat die oom en tannie daar bo maak. Ek dink ons is die enigste mense in Öskemen wat op ons stoepie braai.

Ons gaan dié stoepie teël en ‘n tipe van afskorting maak dat mens so bietjie meer privaat is …

20 comments

  1. Jy sien…daai spreekwoord van ‘n boer maak ‘n plan!!! Jy kan nog eendag ‘n bundel saamstel met al jou wedervaringe.

    Like

  2. Sjoe! Dis omtrént ‘n avontuur om die vleis gebraai te kry. Die pap wat jy daar beskryf lyk meer na wat die Italianers polenta noen en wat ek beskryf as geel mieliepap. Ek hou nogal van laasgenoemde se smaak.

    Like

    1. Hi Hester, ons het dit ook iewers in Suid-Afrika geëet. Die geel mieliepap. Die korrels is vir my baoe groot, gaan Thermie inspan en kyk of haar turbo dit fyner kan maak. Hou van die geel kleur, doe growwigheid pla so bietjie. Manlief dink dit is baie lekker

      Liked by 1 person

  3. Terug pieng: Dr. Christa van Staden
  4. As kind was pap geel in SA, maar mense wou wit pap hê en word die geuriger Boesmanmielies nie meer geplant nie. Ek is eers tevrede as daar lamsboudtjoppies ook is. Sulke duimdikkes.

    Pap is nie Afrikakos soos mense dink nie maar is in die sewentiende eeu deur Portugese seevaarders uit Mexico tot in Natal gebring. Dus is dit Meksikaanse kos so der die byt? My liewe vrou maak dit perfek styf of krummel in die mikrogolf en ‘n groot tweetandvleisvurk.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.