Gepubliseer in Reisjoernaal

‘n Ooraktiewe verbeelding in Qazaqstan

Qazaqstan is veilig, anders as wat ek gedink het voor ons in Januarie kom kyk het hoe hierdie land lyk.

Voor ons kom kyk het, wou ek niks weet nie, want flieks beeld die Russe as die boewe uit. Hier beleef ek die Kazakhs as mense waarmee ek graag bevriend raak. Omdat hulle, net soos ons, vredeliewend is.

Tog het tonele uit flieks in my onderbewussyn vasgesteek. En as donkerte saam met ‘n ervaring hier gaan, skrik ek my uit my geweste uit! Net om myself daarna, as my hartklop verminder het, te herinner dat flieks nie die realiteit is nie.

Ek vertel van drie sulke skrikmaakervarings. Of nee, daar is eintlik vier!

Die eerste een is dalk die rede vir die ander drie. Ons het eers in ‘n ultra moderne woonstel gebly, wat ver uit die stad is. Die mense hier noem dit Riviera, my man het dit na die konsentrasiekamp herdoop. Omdat ons so ver van alles was.

Binne het dit soos iets uit ‘n glansblad gelyk, met spieëls en leer en muurpapier oral.

Ons was ongelukkig omdat hulle die hele dag gekap en geboor het. Die landlord het nie probleem daarmee gesien nie. Dit was 25 minute per taxi ver om enige iets te koop want daar was geen winkels nie. Ons het kennis gegee.

Die landlord was kwaad en wou weet waarom? Ons het gesê dat hy ons die volgende aand moes kom sien om redes te hoor.

Die volgende aand het ons klas tot halfsewe gehad. By sy suster. Die voordeurklokkie het gelui en ek het oopgemaak, menende dat dit die landlord is.

Twee kwaai polisiemanne het gewys dat ek dieper in my huis moes instap. Ek het niks verstaan nie, maar tonele uit movies het deur my kop gevlieg!

Die landlord se suster het met hulle gepraat en hulle uit ons huis gedruk. Sy het die landlord gebel en die deur gesluit.

Ons het verstom gestaan. Ons het niks om weg te steek nie, waarom dan so lelik met die polisie wees? Die polisie en die landlord het later teruggekom, die mense wou net ons paspoorte sien!

Ek het ook by die vrou raas gekry. Mens maak nie net oop nie, jy kyk wie aan die ander kant staan!

Daarna het drie ander goed my uit my geloof laat skrik. Omdat movies in mens se kop vassteek!

Soos om snags in die donker stegie agter die geboue terug te stap, met ‘n kar wat stadig agter ons aanry. Ek stop sommer en laat hom verbykom, gereed om te hol of skree as hy sou stop!

Of om onder deur die gebou te stap, met ‘n kombi wat van agter die gebou uitkom en stadig in die donker ingang aangery kom. Ek het gesorg dat ek aan die ander kant van ‘n geparkeerde kar stap, net vir ingeval.

Maar die een wat my hart laat ruk het, het gebeur toe ons krag vir die tweede keer af is. Die eerste keer was die eienaar se fout, dus was dit lig aan die ander kant toe ek deur die loergaatjie kyk voor ek uitgaan om uit te vind of ander se krag ook af is.

Die tweede keer was dit donker aan die ander kant van die gat! En ek het juis in Maart toe ons hierheen gevlieg het in ‘n movie gesien hoe ‘n sluipmoordenaar ‘n vrou in die oog deur so ‘n gaatjie skiet. Dus is dit te verstane dat ek gekoes het. My nek amper verstuit in die proses. Weg van die deur gevlug het. Die deur vermy het. En my man gebel het om uit te vind wat die probleem is. Almal se krag was af, dus was daar ook donkerte voor ons deur. En deur my loergaatjie!

Maar ek kon myself nie sover kry om daai deur of donkerte aan te durf nie. Nie voor die krag aan is nie. Hierdie een het ek eers die week vir manlief vertel. Geweet hy sou lag. En toe sou dit nie snaaks gewees het nie…

Dit is werklik veilig hier. Almal werk, almal stap. Niemand wil ander aanval om hulle goed te vat nie. Ook laat snags.

Tog het my ooraktiewe brein my hart al drie keer onaangenaam vinniger laat klop. Aangevuur deur die verbeelding van movie-skrywers …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

4 gedagtes oor “‘n Ooraktiewe verbeelding in Qazaqstan

  1. Eerder bang jan as dooie jan, maak nou nie saak waar in die wêreld mens is nie. DAlk is ek ‘n pessimis maar ek glo daar kan altyd ‘n eerste keer wees, en sê nou net so ‘n situasie is dalk vandag die eerste?

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.