Gepubliseer in Joernaal

Kabeldief, as ek jou kan kry …

Daar is min goed wat my so kwaad maak soos om ewe skielik geen krag te hê nie. Niks, zero, niks.

Vanoggend word ek net na 4 wakker om ‘n donkerte in my kamer om my te voel. Alle liggies in die kamer is verdof, daar is geen ligte buite nie.

Manlief is weer in ander land, dus moet ek in die donker soek na lig, hy weet mos waar alles gebêre word. Ek stuur WhatsApp en hy bel, kyk op die DV boks, en ek antwoord alles om my is donker, dit is nie net by my nie. Maar ek moet ook op die kragmeter kyk, wat natuurlik nie wil werk nie …

Ek weet egter daar is net een “mens” wat ek daarvoor kan bedank:

Kabeldief, maar dit is seker die werk van meer as een kalant. Dus seker kabeldiewe?

Dit maak mens magteloos, want jy weet, hier gaat ons alweer. Ons gaan ten minste 10-11 ure sonder krag wees.

As ek in beheer was, sou dit nie gebeur het nie. Want daar sou stelsels in plek gewees het om kabeldiewe te fnuik. Een daarvan sou wees om hande wat kabels steel, versigtig te maak. Want kabels kan hande in die slag laat bly.

Dit is sulke tye wat ek Afrika se regstelsel bo die Westerse een verkies. Ook die Bybel se stelsel, naamlik dat ‘n mens dit wat jou laat struikel, moet afkap. In hierdie geval kan die kabeldiewe dit nie self doen nie, dus moet hulle gehelp word.

As ek in beheer was, sou ek ‘n wag gehad het wat my lyne patrolleer. En hy sou genoeg betaal gewees het om nie deur kabeldiewe omgekoop te word nie. Hy sou ook gewapen wees met die opdrag om ernstig te beseer indien hy ‘n kabeldief op heterdaad betrap.

Dit gebeur bykans elke maand met ons, en ek is seker dat dit die munisipaliteit meer kos om kabels aan te lê as om wagte aan te stel. Of om stelsels in plek te hê wat ‘n kabeldief twee keer sal laat dink voor hy steel.

Iets soos kabels wat suur bevat en hande deur handskoene stukkend kan brand. Genoeg om nie weer te wil steel nie.

Of, kabels wat niks werd is nie, soos veselkabels wat vir internet gebruik word.

Maar, dit is nie die enigste iets wat in die kiem gesmoor moet word nie. Want kabeldiewe kan niks met die kabels maak nie. Hulle moet dit aan iemand verkoop om geld te kry.

En dit is die eintlike persone wat na my mening van die gras afgemaak moet word. Seker nie letterlik nie, al voel ek op die oomblik so as ek nie weet hoe lank ek vandag kragloos gaan wees nie.

Veral omdat die bediende vandag kom en daar ‘n hoop strykwerk vir haar wag. Dalk moet ek haar kontak en vra dat sy Saterdag kom, wat help dit om vandag te kom?

So bel ek haar sommer gou. Kan jy asseblief eerder Saterdag kom? Ons is kragloos en daar is baie werk.

En sy “Yes, Ouma” my, want sy was mos kleinkind se oppasser ook, werk vir seun hulle ook. Dus is ek ouma, soos kleinseun my noem.

Probleem opgelos, sy kom Saterdag.

Nou moet ek batterye spaar, want ek het geen idee wanneer ek vandag krag gaan hê nie …

Toedels, van ‘n baie kwaai ene aan hierdie kant.

Ook maar goed ek is nie in beheer van die kabels nie, ek sou seker nie met my gewete kon vrede maak as ek kabeldiewe klaar aangedoen het wat op die oomblik deur my gedagtes hardloop nie …

Die ding is net, ek verstaan nie waarom ons die wiel oor en oor moet ontdek nie. Daar moet tog n plan wees wat werk?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “Kabeldief, as ek jou kan kry …

    1. Ai Anne, ek sit met witbrood onder arm. Kan nie eintlik kla nie, maar dit is so sleg as ek nie weet wanneer dit terug gaan kom nie. Ek verstaan nie loadshedding nie, behalwe dat dit manier is om ons te beheer. Want, hulle maak minder geld as daar nie krag is nie

      Like

  1. Dis ‘n frustrasie … selfs al weet mens presies wanneer die krag afgaan en weer aangaan. Jy weet dan dat jy vir ten minste die volgende 2-3 ure kragloos gaan wees en beplan daarvolgens. Maar as dit sommer net onbeplan afgaan en wie weet wanneer weer aankom … dit maak my (ook) kragteloos!

    Liked by 1 person

  2. Ek dink hier sit meer agter hierdie onverwagse kragonderbrekings as net “kabeldiewe”. Dalk net onaangekondigde onverwagse agter die skerms skelm beurtkrag? Want hier by ons “steel” die diewe en 2 ure later is die gesteelde kabel gefieks. Of n kragstasie ontplof en word wonderbaarlik in net 2 ure herstel. Ruik n rot….

    Liked by 1 person

  3. Maar Christa, toe ou Jan van Riebeeck in SA kom bly het, in die jare toet, was die wiel nog nie in Afrika ontdek nie! So hulle begin seker nou dink aan ‘n wiel. Hoe kan ons nou verwag dat Afrika iets van elektrisiteit en ekektriese kabels moet weet??? Sterkte vriendin.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.