Die Groot Trek …

Ek het al vertel dat ons op 5 Maart 2020 in Öskemen geland het. Met vier slegs groot tasse, drie handbagasietasse en Thermie in haar drasak. Slegs dit wat daarin kon pas, is saam met ons na Qazaqstan. En natuurlik die bietjie wat in my handsak kon pas.

Toe ons na ‘n maand van die een woonstel buite die stad na die een in die stad trek, was die trek effens groter. Drasakke vol kruideniersware en skoonmaakgoed moes saam. En ons het sommer die nuwe jasse en skoene teen die koue gedra.

En nou is die trek veel groter as wat ek gedink het dit sal wees.

Manlief het intussen ‘n biltongmaker van SA af gebring en ‘n swart ysterpot om potjiekos te maak. Toe moet hy ‘n gereedskaskas hê, een waarin boute en moere en skroewe en so aan gebêre kan word. Want hy is my “handy man” en hy kan alles regmaak wat breek. Goed dan, amper alles. Hy moes ook ‘n groot plastiese kas koop waarin hy al sy goed kon bêre op die buitestoep. Braai, kampstoele, ens. Die kas kom nou handig te pas, ons kan baie goed maklik daarin vervoer.

Ek moes ‘n naaimasjien kry, want wat is ‘n vrou sonder ‘n naaimasjien? Hier in Öskemen het ek dan ook die verrassing van my lewe gekry. Hier is nie materiaalwinkels soos ek dit ken nie. Goed dan, in SA raak dit ook so met tyd weg, maar ek kon in Roodepoort na een van verskeie winkels gaan om te koop wat ek nodig het.

Ek moes ‘n worsmasjien kry. Want ons twee moet wors braai en ek en manlief moes leer hoe om dit te maak. Ons kan nou, die Qazaqs dink so. En ons Suid-Afrikaanse kennisse dink ook so. Dit sal egter eers geloofwaardig wees as my pa en ma ook so dink. Ek dink egter hulle sal. Ons twee is baie kieskeurig oor wors.

Hier is daar twee winkeltjies met beperkte keuses materiaal. Gare in ‘n probleem, my gunsteling Seralon is nie hier te koop nie. Dus moes ek intussen materiaal en gare en kant en lint saambring as ek van SA af terugkom.

Van twee naweke gelede af begin manlief pak. Al sy skoene en klere wat nie die week gedra gaan word nie, is gepak. Ek is besig om ‘n hoofstuk klaar te maak, en staan maar gereeld op om seker te maak dat ek nie ook gepak word nie. Ek is seker ek sal gepak word as ek lank genoeg stilsit.

Intussen moet ek saam Metro toe, ons kort nog tasse. Een grote vir ons elkeen en een handbagasie ook. Die tasse wat ons hierheen gebring het, het te min geraak. En mor dat ek nie nog tasse nodig het nie, my klere en skoene is nie so dik en swaar soos syne nie. Hy sê dat ek meer tasse as hy gaan nodig hê. En ek kyk die saak maar so uit.

As hy dan wil koop, moet hy. Maar ek gaan die kleur die kleur kies. Geen swart tasse vir my nie. Dankie, maar baie dankie, daarvan het ek genoeg gehad. Hierdie tasse het effens silwer in hulle om uitgeken te word. O ja, en sakkies aan die bokant, meer as een. Nog ‘n manier om die tasse uit te ken.

Het jy al so by die band gestaan en wag vir jou tas? En elke liewe een wat verbykom is swart. En lyk soos joune?

Dit help darem effens om linte om die tasse se handvatsels te sit. Maar as die tas boudkant na jou gedraai is, sien jy die linte nie sommer nie. Ons rooies het al erg uitgerafel, moes intussen met goues oor die weg kom. Wat toe nie so maklik te sien is nie.

Dus staan ek by die band en wag. Kyk ek soos daai grappie oor die polisielig. Links, regs, links, regs soos wat de tasse aankom. Want ek wil ook nou nie aan iemand anders se tas vat nie. Dus moet ek maar so probeer seker maak dat dit nie my tas is wat aankom nie. As ek nou nie die lint sien nie. En dan weer kyk soos hy verbygaan dat ek nie my lint gemis het nie. Frustrerend. As lughawens ‘n onlosmaakbare deel van jou lewe geraak het …

Pak wou ek nog nie pak nie. My klere hoef darem nie twee weke lank in tasse te staan nie? Dit gaan kreukel. Dan moet ek alles daardie kant of was of stryk. Buitendien, ek haat dit om in ‘n gepakte huis te probeer leef.

Intussen pak manlief my kombuis, alles wat ons by gekoop het. En so land die bakkies waarin oorskietkos gepak moet word, in ‘n toegeplakte boks. Ook die klitser waarmee ek pap roer, die broodmes, die sakkies waarin ek kos moet sit en die ritssakkies ook.

As ek die masjien aansit om te was, is daar te min goed. Glase is gepak, koppies is gepak. Alles is gepak. Behalwe die breekware wat aan die woonstel behoort. Tog is dit in ‘n mate lekker om te sien hoe die goed om te was al minder raak.

Sondag begin ek toe pak. Want manlief se tasse is te min vir sy klere en hy loer verlangend na myne. En ek het baie. Volgens myself. Drie grotes, drie kleintjies. Ek het nie soveel nodig nie. Dat ek tog net pak dat hy sien dat hy van my tasse kan gebruik.

Toe is my tasse nie so baie nie.

Die wintersjasse en winterstewels maak een groot tas tot oorlopens toe vol. Ek het Desember baie koud gekry. En dit was blykbaar ‘n matige winter.

My mussies en serpe wat ek so ewe lustig nie gebrei het, maar een hele klein tassie vol. Het ek regtig soveel goed gaan staan en brei?

My wintersykouse en langbroeke en pare wintersokkies en baadjies vir die lente en herfs maak een hele groot tas tot oorlopens toe vol. Saam met die rok wat ek vir die Qazaqtroue gekoop het. En vessies en langbroeke wat as onderbroekendien as dit -38 grade Celsius word.

Toe bly net my nuwe groot tas en nuwe handbagsietas oor. En dié word volgemaak met langbroeke wat ek in SA gaan koop het omdat klere hier besonder duur is. En toe ek weer sien, moet my stewels en tekkies en verskeie pare skoene wat van SA af gekom het, in ‘n boks gepak word.

My tasse was te min. As dit nou ekkke was, het ek dit onder manlief se neus gevryf dat ek toe reg was, ek het te veel tasse. Manlief glimlag egter net, hy het van beter geweet. Hoef my nie te oortuig dat ek ‘n baie groot aandeel aan die Groot Trek het nie.

Want Groot is die trek inderdaad.

Ons het nou vir Dusty wat per vragmotor na Almaty geneem gaan word.

Ons het nou braaiers en braaigoed en potjies en biltongmaakgoed wat na Almaty moet gaan.

Ons het nou verskeie baadjies en jasse en baie pare kouse en skoene om na Almaty te vat. Dié is aangeskaf om te keer dat ons nie hier vries as ons buite kom nie. En my tone het bly vries tot ek die regte paar skoene kon kry met die regte beskerming teen koue. Ek wou verskeie kere skoene terugvat as hulle my vertel hoe goed dit is. En my tone kla dat hulle gaan breek en afval as ek hulle verder aan die koue blootstel.

Ons is dus vandag amper klaar gepak. Twee dae voor die goed op die vragmotor gelaai moet word. Amper ‘n week voor ons Maandagoggend op die vliegtuig klim.

En ek moet manlief krediet gee. Hy het goed beplan, ek sou holderstebolder moes pak as ek nou eers begin pak. Om alles Vrydagoggend gereed te hê vir die Groot Trek na die Groot Stad. Almaty.

Hoe kan ek vergeet dat Dusty die Groot Trek selfs groter maak? Sy is mos soos ekke, skoeisel nodig vir elke seisoen. Dit is nie net ons wat winterskoeisels moes kry nie. Sy moes ook. En ek het al vertel hoe hare lyk. In die winter is sy “gangsta” Dusty met al die studs in haar winterbande.

Ek is nie seker hoe ek daaroor voel om in Almaty te gaan bly nie. Dalk sal die uitsien eers kom as ek die deur van hierdie woonstel agter my dig trek.

Want hier het ek en manlief ons tuisgemaak tussen mense wat ons glad nie verstaan nie. En na ‘n jaar weet hulle ook ons en Russies is nie maatjies nie. Dit is ‘n moeilike taal om aan te leer. Veel moeiliker ad wat dit vir my was om Duits op skool aan te leer. Of Zulu op Universiteit.

In Almaty gaan die drang om die taal aan te leer ook minder wees. Want daar kry mens gereeld die geluk dat iemand in die winkels of ‘n taxi-bestuurder jou wel sal kan verstaan.

En hier, aan die einde van hierdie briefie, voel ek vir die eerste keer die uitsien na Almaty in my gebeentes. Dalk omdat ek daar in baie restaurante vanaf ‘n Engelse menu kan kies wat ek wil eet? Maar, nee, ek weet waarom. Van daar af het ek twee vliegtuie nodig om by my mense uit te kom. En dit maak die reis ‘n dag tot ‘n dag en ‘n half korter. Soveel meer rede om na ‘n vlug uit te sien.

Minder lughawens om te trotseer. Minder sekuriteitsmanne wat nie verstaan dat manlief se knie die skandeers laat rooi skree nie. minder kanse om enige virus op te doen. Want almal word mooi netjies geskrop en gemuilband. Om mens gesond aan die ander kant te kry.

Foto: Naam van die stad: Алма-Ата (Siriliese alfabet se skryfwyse) = Almaty (ons alfabet), plek van die appels.

En skielik kom dit weer by my op. Qazaqstan het verskeie plekke wat mens aan ander dele van die wêreld herinner.

Hier is naby Öskemen ‘n plek in die berge wat Little Switzerland genoem word. Die nuwe hoofstad, Nur-Sultan, wat tot verlede jaar as Astana bekend gestaan het, word dikwels met Dubai vergelyk weens die nuwe wolkekrabbers van glas. En niemand praat daaroor nie, maar staan New York nie as die groot appel bekend nie? Wel, hier is Almaty die stad van appels ….

 

24 gedagtes oor “Die Groot Trek …

  1. Daar is nooit net ‘n bietjie goec in ‘n vrou se handsak nie. Behalwe vir die ander helfte van Paul Kruger se skatkaart en gedetailleerde rekords van mans se oortredings, is daar mos daai Husse Met Lang Ore daarin. En daai blerrie goed BYT en dis hoekom ek nooit in my Ma, meisie, vrou, dogter of kleindogters se handsakke gaan torring het nie. Ek wil nie my kosbare, dierbare, bruikbare vingers offer aan Husse Met Lang Ore nie.

    Like

    1. In my handsak is daar die afgelope drie of vier jaar net bietjie goed. Sleutels, beursie, paspoort, lipstiffie (1), bril (noodsaaklik, anders kan ek nie pryse lees nie), materiaal inkopiesakkie sodat ek nie met plastiek help mors nie. Daar was altyd baie goed: verskeie lipstiffies, dik bondels sleutels, ens. Tot my dogter op ‘n dag aangebied het om my handsak te dra. Terwyl ek die baba dra. En vir my vertel dat ek iets aan die sak moet doen, dit is sleg vir my postuur. Want dit was, volgens haar, swaarder as haar baba en die drasak met babagoedjies in. Toe koop ek klein handsak (of skimp ek liewer by manlief vir klein handsak) en hy laat nie baie goed toe nie. Dan moet ek kies: Foon of kragbank, altwee pas nie saam in nie …

      Like

      1. Ek weeg op ‘n dag K se handsak. 8kg. Ander keer 6kg. En eendag 20kg. Sy het gaan rou materiale aankoop vir haar handkuns. Postuur het lankal sy knou weg.

        Like

          1. K s’n het ook gewig verloor. En sy kom nie meer met 6kg boksmelk en 2.5kg suiker en kruideniers oor haar skouer ingestap nie. Want na die laaste kardiale krisisse en beroertes kon ek nie winkel toe loop of selfs die 32 trappe klouter nie. Daar was mos die Incredible Hulk wat my hart in sy vuis fyngedruk het. Toe is sy traag om te loop en dra haar liewer dood.

            Like

          2. My lewe lank altyd swaar gedra. Toe ek 12 was, van Kleinmond af Gansbaai toe gestap in diep, los sand met 50lb op my rug. My heel laaste beroerte juis omdat ek vriendin in haar besigheid gaan help het, die werk was “too difficult” vir die soort jong manne wat wel mág werk. En weet jy hoe lyk Clifton Steps met 40kg af en wéér op? Toe ooreis ek my reeds vergrote hart en die slap stuk steak begin fibrilleer, daan maak dit klontjies. En jy weet waarna toe húlle is, reguit basal ganglia toe.

            Van toe af kan ek nie swaar dra nie want my staatsuitgereike Landcruiser vat nie vrag nie. Dis daai aloominimpyp wat die liefsoete Wilna vir my gebring het in die hartseerhospitaal. Sy is ‘n lyfmekenniek wat met haar Jesusliggie en spookasemlyfie my hart kon masseer het met die mooiste soetste woordjies. Sy is mos kort, toe praat sy nie met my ore nie maar sommer direk met my seer ou hart. Want ek is gekierievonnis laaaank voor sestig. En sy moedig my aan om Leeukop te gaan klim; sy doen dit gereeld.

            Loop die laaste maand van Spar af die sware steiltes uit. Dis ‘n outydse myl huis toe en my familie het my dekades gelede uit my ampernuwe, skuldvrye Moosuutjies Benz uit bedonner. En dis hoekom ek loop, maar nie meer dra nie, behalwe één sak ghrouseries van niks meer as honderd Rand swaar nie.

            En ek loop met my Merc. Dis die mooi kierie wat Soraya en Adeel van Macassar af gebring het toe ek met my twee ministervrinne op my diepblou mooitreintjie gaan ry het Woester toe. Want die mense wat Vrydae annerpad bid het gedink ek moet met waardigheid dra, toe ry hulle van Macassar af en bring my die mooiste ligte houtkierie. Maar ek kan hom nie swaar laai nie, hy’s vir ghrend lyk.

            So loop ons deesdae, sal moet blog en vertel van Saskia en die Spartrollie.

            En hoe Liewe Hiesis mense stuur om padlangs, lewelangs, te help dra.

            Like

          3. Myne het reeds vóór lockdown nie gekom nie maar my vrou was aan my sy en het my verpleeg toe staatsverpleging nie bestaan het nie.

            Like

          4. Sy is die soort wat kaalvoet die Drakensberg kan oor, en dan daarvan ‘n handelsroete kan maak, die grond koop en tolgeld eis.

            Like

          5. Jip, hy is weer tuis en die arme ouetehuispersoneel sal geen ledige oomblik hê nie. Ek vermoed hy sal die eerste oupagrootjie word wat met ADHD gediagnoseer word.

            Like

  2. Dis lekker om so nou en dan te trek. Dan doen ek voorraadopname en gee weg wat onnodig is. Mens versamel te veel onsin wat jy regtig nie nodig het nie – ek noem die nice to have’s. En dis altyd lekker om ‘n nuwe omgewing te leer ken.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.