Laaste Donderdag in Ust-Kamenogorsk

So staan ek en manlief vanoggend op die laaste Donderdag in Ust op, met ‘n slegte hoofpyn. Die rede daarvoor is, anders as wat baie nou sal dink, nie Covid-19 nie. Ons volg alle protokolle om ons teen virusinfeksies te beskerm.

Ek hoef net regop te beur om die oorsaak vir die hoofpyn te identifiseer. Deur die venster sien ek dat die vlag op die berg soos ‘n nat vadoek teen sy paal af hang. So dig teen die paal dat mens twee keer moet kyk of hy nog daar is. Hy kan nie sy triomfantelike waai waai as daar geen wind is nie.

Die lug is vrot as daar geen wind waai nie. Dan staan ons met hoofpyn en seer kele op as ons die venster in die nag oopgelos het. Op die agtste vloer is ons dan mooi in die misnewels. Besoedeling sommer so om ons. Reg om in te asem en hoofpyn te kry.

Ons het in die 15 maande gewoond geraak aan vensters toemaak as die wind nie waai nie, maar soms vergeet mens. Veral as dit so warm soos nou is. En as daar – raai wat – weerligstrale was. Ons het nog nie in Ust weerlig gesien nie. Ek het juis laas jaar geskryf dat die reën sommer net ewe skielik neersak. Sonder aankondiging. Wel, nie meer nie. En met reën om ons, het ek gisteraand nie aan vuil lug gedink nie.

Sewe-uur sit ek nog in die bed, die son sit al baie hoog, hy gaan mos eers teen tienuur saans onder. En hy sukkel om deur die newels te skyn. Die lug is vrot vandag.

As ek so na my half gepakte huis kyk, is ek vol heimweë dat hierdie paadjie Maandag in Ust ‘n einde loop. Môre word ons paar aardse besitting in Qazaqstan gelaai om oor die naweek die pad na Almaty te vat. Sal blykbaar Maandag daar wees.

Ek sien dit is, soos die kraai vlieg, presies 864 km tot by ons nuwe tuiste in Almaty. Maar die pad gaan nie soos die kraai vlieg nie, dus is dit so bietjie meer as 1 000 km soontoe per pad, wat by dorpies en gehuggies aangaan.

Ons het mos laas jaar begin Junie die pad gery. Al die pad met Dusty teruggekom nadat ons haar in Almaty gaan koop het. Nou gaan sy op ‘n trok soontoe, ons kies die vinnige pad na Almaty. Per vliegtuig. Bietjie meer as ‘n uur en ons land daar. Soveel anders as die 3 dae per pad wat dit ons geneem het om van daar tot hier te kom. Ek verstaan darem dat die padwerke goed gevorder het. Dit behoort nie so ‘n slegte rit te wees soos toe ons met haar hierheen gery het nie. Altans, ek hoop so – sy gaan op ‘n trok se rug soontoe.

As die lug so sleg soos vandag is, is dit amper soos wanneer die weer sleg is op die laaste dag wat mens van die see af huiswaarts keer. Die lus om eers te gaan swem voor mens die pad terug vat, verdwyn dan soos mis voor die son. So verdwyn my heimweë ook as ek daaraan dink dat ek daar, heel waarskynlik, skoner lug gaan inasem.

Maar, mens weet ook nie, weet jy?

Ek verstaan Ust se lug raak so besoedel as gevolg van die nywerhede wat die lug besoedel. En ek sê saggies by dat hierdie stad ook met kernmateriaal werk. Sergei, ons vriend hier, vertel dat Almaty se lug ook vuil is. Daar is die oorsaak van die vuil lug motors.

En dan vertel hy ons ander interessante inligting wat my laat verstaan waarom Ust se geboue nie, soos in Suid-Afrika, die meeste van die son maak nie.

Dit gaan nie oor die son nie, maar oor wind. Die geboue word so geplaas dat dit tonnels vir die wind maak om deur die stad te waai om skoon lug in die stad in te waai. En vuiles uit. Dit is nou die kennis van mense wat die stad 300 jaar gelede uitgelê het. En ek dink die kennis word steeds in die meeste gevalle toegepas. Dit moet, want as die wind waai, is die lug amper dadelik weer skoon. En … die wind waai gereeld in Ust. Wat ‘n genade.

In Almaty, wat bykans 200 jaar jonger as Ust is, is die logika nie toegepas nie. Volgens die toergids wat my en ‘n vriendin deur die stad gevat het. In Maart vanjaar. Almaty is vir estetiese waarde uitgelê, en seker ook vir praktiese redes, met die gevolg dat baie van die geboue dwars oor die wind se rigting staan. En verhoed dat lug goed deur die stad versprei.

Volgens ons vriend is die lug daar ook besoedel. Motors.

Sal ek daardie uitstappie na Almaty ooit kan vergeet. Ons was skaars terug, dieselfde week het Qazazqstan en Almaty in grendeltyd ingegaan. En dit is steeds grendeltyd. In beide lande.

En ons vriend vra, watter besoedeling is nou die ergste? Dié van nywerhede in Ust? Of dié van motors se uitlaatgasse in Qazaqstan se grootste stad? Goeie vraag, is dit nie? Ek sal moet ondervind en hier kom vertel.

Maar, daar is darem ook sekere dinge waarna ek gekyk het toe ek huis gesoek het. Anders as toe ek hierdie een gesoek het, het ek seker gemaak dat ons nuwe plek die toegeboude stoepe het waarvan ek eers niks gehou het nie. Op sulke stoepe kan jy die stoepvensters oopmaak en die huis se deure nie, sodat die lug eers filter voordat dit in jou huis inkom.

Ons eerste woonstel buite Ust het een gehad by die slaapkamer. En dit was, volgens my ‘n totale vermorsing van spasie. Ons het in Maart en ‘n deel van April daar gewoon. En ek kon dit nie sonder warm klere en skoene op die stoep waag nie. Al was dit deel van die huis. Dit was belaglik koud, amper so koud soos buite.

Ons tweede woonstel het ‘n oop stoep, geen toegeboude stoepie nie. En dit is toe nie so lekker nie. Winter en somer is die huis baie warm. Winter as gevolg van pieperige son en die sentrale verhitting. Somer as gevolg van die son wat meer as 10 ure lank aan ons kant van die gebou hang voor hy oor die gebou verdwyn. En dit bak die huis warm. Te warm.

Hierdie derde woonstel het dus sommer twee toegeboude stoepe. Een by elke slaapkamer.

Ek het klaar vir manlief gesê dat ons dit ‘n “her-cave” en ‘n “his-cave” gaan maak.

Myne gaan ‘n strykplank hê en ‘n tafel waar ek op my rekenaar kan werk terwyl ek oor die stad uitkyk. Hmmm, seker ook hangplek vir die klere wat gewas is? Hoop ek sal kan werk met so ‘n uitsig …

Syne gaan die groter een moet wees. Om plek te maak vir Dusty se winterwiele, tuingereedskapkas waarin braaigereedskap gesit word, gereedskapkissie en natuurlik ‘n plek waar ons kan braai. As mens kan, gaan ons beslis braai.

Of sal syne die grootste een kan wees?

Ek het juis die week tot my skok agtergekom dat ek wel baie tasse vol klere en skoene het. Soos wat manlief beweer het – en toe reg bewys is. Hy skat lyk my beter as ek.

Die ding is dat myne waarskynlik die groter een moet wees, want dit is by die hoofslaapkamer.

Ek sal nie kan werk as ek gaste het nie. Ons het in die jaar nie gaste gekry nie, maar mens weet ook nooit. Dalkies kry ons tog … en dan kan ek nie werk as hulle daar slaap nie.

Manlief se “cave” is meer van ‘n stoorplek as ‘n werksplek. Dus moet hy die kleiner een vat? Maar ek sal weer moet gaan seker maak – want die kleiner een kyk deur sy kantvenstertjie op die berg! En dit gaan dalk vir my rede gee om die kleiner een te vat. Sal maar kyk wat die son maak voor ek finaal besluit. Want, ek weet klaar dat dit baie warm kan word as mens so teen vensters werk. Die twee stoepe kyk in verskillende rigtings.

Vanoggend het ek vir die eerste keer opgestaan met die opgewonde gevoel in my hart. Ek dink die hoofpyn dra daartoe by.

En dan tref die verrassing my: Al twee krane het net kokende warm water. Ons het nou drie dae lank nie warm water gehad nie, noodsaaklike herstelwerk aan pype. Dan maak jy maar waslappies nat, laat dit in jou hande eers warm word en was jouself. Vir water kook op die stoof is ek nie lus nie. Al herinner dit my aan my kinderdae op die plaas.

In die bad het ek die drie dae nie geklim nie. Eers was dit belaglik koud. Onthou – ons water is gesmelte sneeu. Glad nie matig nie.

Gistermiddag het die warm water lou geword, vanoggend het manlief lekker gestort. Hy het niks gesê nie, maar hy hou van kokende water, ek kan ook nie op sy woord staatmaak dat dit nie toe al kokend was nie.

Nou moet my bad water maar staan, moet eers afkoel voordat ek ‘n toon daarin waag.

En die opgewondenheid stoot al meer op. Ek dink nie Almaty gaan pypprobleme hê nie, die stad is nie so oud soos Ust nie. Maar, wie weet? Dalk is die volgende verrassing ysige koue water uit altwee krane, of ysige warm water uit altwee krane. Ook in Almaty.

Vir nou hoop ek maar iemand kla oor die te warm water in albei krane, want ek het nie die woorde om dit te doen nie. En dan lag ek vir myself. Ek het nie die vorige frie dae gekla nie, het ekke?

Ek bly egter opgewonde, so deur die skryf van hierdie artikel. Een slapie, dan vertrek die trok. Vier slapies, dan bly ek in Almaty. Ook maar goed die huise is volledig gemeubileerd. Anders was dit ‘n ding, was dit nie?

Stad van die Appels.

Qazaqstan se eie Big Apple. Al beskryf hulle dit nog nie self so nie …

Hooffoto: Uitsig oor stad vanuit die hotel waarin die werk ons altyd in Almaty bespreek. Ek gaan absoluut verlief wees op Almaty se yslike berge.

4 gedagtes oor “Laaste Donderdag in Ust-Kamenogorsk

  1. Die besoedeling klink na ‘n erge probleem. Ek dink nie ek sal weer in sulke omstandighede lekker kan oorleef nie – ons het genoeg daarvan gehad in die Vuil Driehoek waar ons vir twaalf jaar gewoon het. Ons het nou gewoond geraak aan vars seelug met net so ‘n reukie van gebrande suikerriet so nou en dan. Geniet jou laaste ure daar in Ust en ek hoop julle gaan baie gelukkig wees in Almaty.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.