Die hooffoto is uit ‘n koerantberig geleen, ‘n berig oor ‘n sneeustorm wat ons hoofstad, Astana, in 2018 beleef het.
Ons leef sedert November 2019 in ‘n sprokieswêreld wat van ys gemaak is. ‘n Laag ys wat weekliks aangevul word en tans so 600 mm of dikker is waar dit nie geskraap word nie. In die stad.

Hierdie sneeu het agter ons gebou so hoog teen einde Januarie 2020 opgebou. Die oomblik wat ons uit die huis uitgaan, stap ons in ‘n wêreld in waar die temperatuur wissel tussen laer as die van my yskas en baie laer as die van my vrieskas.
Om die eerlike waarheid te sê, as my vrieskas lyk soos dit buite lyk, laat ons dit ontvries. Hier is geen ontvriesknoppie nie.
As mense nie die sneeulae van die strate en sypaadjies afskraap nie, hoop dit op om later te ontvries wanneer die temperature weer bo vriespunt styg. En dit gebeur nie sommer voor einde Februarie nie. Want, die temperature gaan in Februarie eers baie laer daal soos wat die wind oor ‘n bevrore Qazaqstan en Rusland en Mongolië waai voor die son lank genoeg gaan skyn om genoeg krag te hê om bedags genoeg hitte te maak om die sneeu te laat smelt.

Foto in Januarie 2020 deur die venster van die vliegtuig geneem.
As dit sneeu, is ek en manlief om twee redes maklik buite. Eerstens gly mens nie as jy loop nie, want die sneeu is korrelrig as dit vars is. Tweedens is dit heelwat warmer wat ook maak dat mens makliker buite gaan stap.
Die Qazaqs is buitelugmense. Hulle is altyd buite, selfs as die temperature onmenlik laag is. Ons is ‘tender African flowers’, ek gaan dan nie sommer uit nie.
Vir hulle is die sneeulandskap ‘n rede vir ‘n ander soort lewe. Die kinders word in sneeupakkies uitgedos, musse met klappies oor die ore en dan is hulle reg vir pret in die sneeu.
Die afgeskraapte hope sneeu wat al hoër word, dien sommer as glyplanke.

En hulle gebruik die speelgoed wat Suid-Afrikaners gebruik om op water en sand te gly om teen die skuinstes af te gly. Hierdie dogtertjie het sommer om haar ruggie gelê en afgegly.
Wie het ‘n glyplank nodig as die hope sneeu wat van die paaie afgeskraap en op die sypaadjies opgehoop word, natuurlike glyplanke vorm?

Ek sit in die kar met warm jas en warm langbroek aan, mussie en handskoene en warm kouse en skoene ook aan en kyk hoe die twee kinders op die hope ys speel. Gaan nie sommer in hulle pret deel nie, maar hulle lyk heel tevrede met die nuwe speelplekke.
Öskemen is koud. Ons woon in die vallei wat deur die Itysh en die Ulbariviere se samelope gevorm is, aan die voet van die Altaiberge.
Langs riviere is dit van nature kouer as verder weg. In valleie is dit ook van nature kouer as in die omliggende dele. So wil mens redeneer, maar mens vergeet dat die berge om ons lank in die sneeuswanger wolke staan voordat die wolke afsak na ons toe. Hulle is dus beslis kouer as wat dit hier by ons is.

Hierdie foto verander daagliks. En snags. Dit is my uitsig uit ons woonstel, ‘n berg wat voortdurend verander.
Ander kere kom die sneeu grondlangs soos ‘n gordyn aangeskuif, eers oor die top van hierdie berge en dan nader en nader tot ons gebou ook deur die kombers toegemaak word.
Sal mens dit ‘n kombers kan noem? Kombers word tog as sinoniem met warmte gebruik. En dit is nie warm nie. Maar, nou ja, dit is beslis warmer as wanneer dit sneeu. So, ek skat kombers is gepas.
Van die veiligheid van ons warm huise wil mens net uitgaan en gaan kyk.
Hierdie sprokieswêreld moet egter met versigtigheid betree word.
Ek het al vertel dat ek binne 4 minute ligte vriesbrand opgedoen het toe ek buite foto’s geneem het. Mens is nie so onverantwoordelik wanneer die temperatuur laer as -15 is nie. Dit was -28 grade Celsius. En slegs 4 minute was nodig om skade aan vingers aan te rig. Eintlik minder as dit. Ses keer se hande uithaal, mik en foto neem was al wat nodig was. As dit so koud is, moet mens nie buite wees nie.
Daar is egter ander gevare ook.
Dit is gevaarlik om langs geboue te stap omdat sneeu op alle dakkies en punte ophoop en dan na die aarde val wanneer dit effens warmer word. Of te veel opgehoop het. Die gly-effek op die dak gee vir dit momentum sodat dit nie loodreg afval nie, maar met ‘n boog.
So het so ‘n ysblok ‘n tannie in Almaty doodgeval. Verlede jaar of die jaar tevore. Net nadat sy uit ‘n taxi geklim het om in ‘n woonstelblok in te stap. As jy moet kyk, kan jy die video hier sien. Die artikel oor die voorval kan hier gelees word. As die gebou nie sekuriteitskameras gehad het nie, sou die rede vir haar dood seker nie bepaal kon word nie. Met al die ys om jou sou mens nie besef dat die moordwapen ook daar lê nie.
Die smeltende sneeu maak stalaktiete, wat meters lank na onder vanaf die dakke van hoë geboue hang. Dit staan as ysnaalde of icicles bekend. Ek sou dit beter as ysswaarde kon beskryf weens die grootte van hierdie sneeuverskynsels wat al langer word soos die druppende druppels daarteen afloop en weer vries.

Hierdie foto is in Januarie 2020 geneem by die mark in Kazakhstanstraat van ons stad. Kyk sommer ook hoe die straatmark oop is, al is die ys oral opgehoop. Die lewe gaan aan, ongunstige weers ten spyt.
As daardie stalaktiete loskom wanneer die sneeu op die dakke weer smelt, kan hierdie ysswaarde skade aanrig. Dink ek. Vreemd om so daaraan te dink. Smeltende wapens. Ek het nog nie van sulke voorvalle gelees nie.
Vanoggend ontdek ek met ‘n skok dat die woonstel bokant ons op die negende vloer ook ysnaalde vorm na gister se warm weer.

En ek loop juis aan daardie kant van die gebou deur die tonnel wat onder ons gebou is! Moet knoop in my oor maak, daardie goed gaan binnekort val! Losmaak kan ek nie. Wil nie die oorsaak van iemand se skade of besering wees nie. Dit moet maar self val … Ek weet waar ek nie weer gaan loop nie.
Ek het al foto’s van baie langer ysswaarde geneem. Hier in ons stad.

Kyk die mense nie op nie? Ek sou my kar nie daar parkeer nie. En ek sal beslis nie daar stap nie. Hoeveel langer kan dit bly hang?
‘n Mynwerker is twee weke gelede tydens ‘n sneeustorting by die myn in Shemonaika oorlede. Meer as 2 en ‘n halwe meter sneeu het die dag geval, die sneeu op die hang van die oopgroefmyn onstabiel gemaak en die avalanche veroorsaak. Hoe vreeslik is dit!
Die weervoorspellers is besonder goed, hulle kan byna presies bepaal wanneer dit gaan sneeu en hoe sterk die storm gaan wees. My man het onlangs in so ‘n storm op pad van die myn af huis toe gery.

Met die vragmotor wat die sneeu van die pad skraap ‘n entjie voor hulle. Die twee stede is twee ure se ry van mekaar, met ‘n gehuggie of twee tussenin. Skaars ‘n halfuur later is die pad toegemaak. Ek het geen idee waar mens gaan skuil as die pad toegemaak word nie. Ek het nog nie hotelle of so iets langs die pad gesien nie.
Soos ek geskryf het, is daar nie hotelle langs die pad nie. As die sneeustorm te rof is, moet die motors stop omdat hulle nie kan sien nie. En daar kan hulle vas- en selfs toegesneeu word!
Ek het iewers geskryf dat sneeu nie soveel skade soos water aanrig nie. Ek wil die stelling onvoorwaardelik terugtrek. Hoe meer ek lees, hoe meer weet ek dat dit ‘n baie groot probleem gaan wees as aardverwarmimg meer en meer sneeu veroorsaak.
Dit voel mos tog maar of ons darem nie in Ysland of Groenland woon nie. Daar word motors sommer begrawe as sneeu meters dik in een storm val.

Foto: Geleen by strangesounds. com. Kliek op die skakel om die berig te lees en meer foto’s te sien. En meer foto’s van dik lae sneeu wat mense begroet as hulle hulle voordeur oopmaak.
Hoe moedeloos moet mens nie wees as jy na ‘n sneeustorm opstaan om hier en daar in ‘n wit omgewing te gaan soek waar jy dink jou motor gestaan het voor die storm uitgebreek het nie!
Dit is dan natuurlik waarom ons geboue se ingange nie plat op die aarde is nie. Om seker te maak dat ons uit kan kom as daar soveel sneeu op een slag val!
Sneeustorms veroorsaak dat openbare vervoer ontwrig word, vliegtuie kan nie opstyg nie, treine se spore moet eers oopgemaak word en paaie moet oopgeskraap word. Kyk gerus na hierdie nuusberig van ‘n sneeustorm wat die hoofstad, Astana, in Desember 2015 stil laat staan het. En hierdie video in in 2018 tydens ‘n sneeustorm in Astana geneem.
So kry manlief dan so pas ‘n video wat wys hoe motors in ‘n straat en parkeerarea heeltemal toegesneeu het. Waar weet ek nie, deel kry ek dit nie gedeel nie. Die mense loop oor die sneeu en soek waar hulle motors is. Wonder waar hulle gaan slaap het.
In Canada het ‘n storm ‘n paar dae gelede ook amok gemaak. Wat ‘n yslike taak om skoon te maak en karre te soek. As alles wit toegemaak is. Daar het verlede week blykbaar 80 sm sneeu geval.
En in Oostenryk het dit verlede jaar so gelyk.
En ook in ons land, die mense in die videos praat Russies. Vasgekeer op hoofpaaie, motors half toegepak met sneeu. Mense wat tonnels deur die sneeu grawe om ander uit te haal.
Mens se brein wil dit nie lekker verstaan nie, maar 80 cm en meters sneeu wat op een slag val, kan baie goed heeltemal toemaak. Vir die oog verberg wat daaronder aangaan.
Op die foto’s is ‘n wit laag sneeu oor motors gegooi. Stap mense oor hierdie laag, sonder om te weet hoeveel motors daaronder toegenseeu staan. Dit is vreesaanjaend, hierdie wit gevaarte.
Hoe vreemd is dit? Die vreeslik baie sneeu? Maar logies. As dit koud is en warm word en die vog is in die lug, dan sneeu dit!
Ten spyte van hierdie gevare, is dit ‘n belewenis om in hierdie ou stad te leef. Tussen die Qazaqs en Russe. Te sien hoe hulle die wêreld aanpak en, as ek so kyk, mak maak. Of is dit net ‘n geval van aanpas oor die eeue om nie so koud soos ek te word nie?
Vir my sal die winters hier altyd prentjiemooi wees. Hoe koud dit is as dit so mooi is, voel ons gereeld aan eie bas.
Ek was na die bevrore vingers bang vir hierdie land, sou eintlik wou oppak en loop. Die foto’s van paaie wat toegesneeu is, maak mens versigtig. Veral as jy sien wat kan gebeur as die kar nie verder kan gaan ne omdat dit vas- en selfs toegesneeu is!
Maar ek besef ook dat ek is ongelooflik bevoorreg is om dit te beleef … Al word ek as ‘n ‘tender African flower’ hier beskryf … Ek gaan daarmee nie stry nie.
Sjoe, soms, net soms, kla ons oor die hitte, maar daardie weer wat julle beleef, ek weet nie?
LikeLike
Hitte is beter, glo my. Hierdie weer kan vingers laat afval as mens nie versigtig is nie.
LikeLike
Hoe volg ek jou nuwe blog?
LikeLike