Braaivleis op eerste dag na grendeltyd in Qazaqstan: ‘n Onwerklike ervaring

Kyk, ek wou myself die afgelope maand in die gesig klap. As ek by die venster uitkyk op ‘n wêreld waar die lente my lok om uit te gaan om die natuur te gaan geniet. Na maande van te koud om buite te wees. Maar ek mag nie. Dan het ek by die venster gestaan met die allerongelooflikste gevoel van ongeloof.

Wou myself in die gesig klap om wakker te word. Hallo, wêreld, wat gaan aan? Dan het ek na die mense om my gekyk. Mia gekontak om te hoor hoe dit gaan. Vir manlief kom kyk wat in die woonstel by my lessenaar werk. Skelm foto’s geneem van hom, net om bewys te kry. Dit is waar, dit is eg. Ons is in ‘n onwerklike tyd. Ons is in ons huise vasgevang. Klap in die gesig gaan nie help nie. Dit is waar.

Vasgevang is eintlik ‘n verkeerde antwoord. Ons geniet die saamwees, doen baie goed saam. Dit is die meeste van die tyd lekker. Soms moet ek die deur toemaak om nie na die digitale vergaderings te luister nie. Sal ek liewer sê hoor?

Want ek hoor hom, dan hoor ek blah blah blah terwyl die tolk vertaal. Dan hoor ek blaaah blaah blaah terwyl die Rus of Qazaq aan die ander kant praat. En so gaan dit aan. Mynmanne het ‘n taal van hulle eie. Maar dit maak die nuwe werklikheid wat nie wil vasvatplek kry nie, werklik. Ons is in die woonstel, hy werk van de huis af …

En gister is ons grendeltyd sommer net so afgestel. Van bly in jou huis en gaan net uit om kos en medisyne te koop. Die polisiemanne en weermaglede is weg. Die paaie is weer oop. Ons mag naweke met Dusty gaan ry. Dit was asemrowende lekker nuus.

Maar mens het so half getwyfel. Kan dit waar wees?

Want ons het nog in die week gehoor ons provinsie gaan eintlik swaarder gestraf word. Al het ons die minste gevalle. En ons het haaks geraak.

Ons gaan die naweek saam met ons tolk die berg op dat hulle vir ons die meer kan wys. Wat ons nie kon opspoor nie. En braai gaan ons braai. Op die berg, met geen maskers aan nie. God is in beheer, ek nie.

Ek begin al meer wonder of daar ‘n virus in Suid-Afrika rondloop. Is dit nie vreemd hoe daar skielik baie meer gevalle is, sommer amper 1000 meer terwyl die wortel van Vlak 3 voor die Suid-Afrikaners se neuse gehou word nie? Klini vir my soos maak reg vir op- eerder as afskuif?

Is dit ook nie snaaks dat die gebiede wat getref word, nie ANC gebiede is nie? Ek glo nie daardie statistiek nie. Na 49 dae is almal met die virus of gesond. Of nie meer met ons nie. En die wat gesond is, het teenliggampies ontwikkel. Hulle gaan lank gesond bly.

Ek glo ook nie die getal sterftes aan die virus nie. ‘n Hoogsopgeleide verpleegster vertel my dat ‘n vrou ‘n dokter wou hof toe vat. Omdat die dokter op haar man se doodsertifikaat Covid-19 wou skryf, as hy na ‘n maandelange siekbed die stryd teen kanker verloor het.

In Amerika kom aan die lig dat dit ‘n geldmaakstorie is. Dokters en hospitale kry geld as daar “covid-19” gevalle is!

Hier is iets baie groters as ‘n virus aan die gang. Wat presies weet ek nie, maar dat dokters en hospitale wel geld uit siek mense maak, kan niemand betwyfel nie. Elkeen moet maar vir homself uitklaar.

Ek wil eerder oor ons eerste dag na grendeltyd vertel. Want raai wat?

Jy gaan my nie glo nie, net soos wat ek die statistiek oor Covid-19 nie glo nie. Dus, gordel vas, hier kom ‘n regte, egte storie uit Qazaqstan, maar jy gaan dink ek jok.

En daarom sal ek seker maar foto’s ook moet deel. Want sien, ek sluk ook swaar aan die berig oor die lewendige virus wat ‘n navorsingsgenoot opgespoor het. Foto’s asseblief! Hoe lyk Sarsie 2019 in lewende lywe? Foto asseblief. Hoe lyk sy kroontjie, het hy regtig sulke pootjies. Fotos! Daarsonder glo ek dit nie, dit kan enige iets anders wees. En so wragtig, almal glo die nuus … So in die tyd wat die vlakke moet verlaag …

Ek dwaal weer af, dalk wil ek jou ook net laat twyfel oor wat ek nou gaan vertel? Ok, jammer, hier kom dit.

***

Ons het dié week begin om die maskers tuis te laat, ek voel siek soos hond na die tyd. En toe moes ek lees dat dit nie droom is nie. My eie Co2 is veel erger as ‘n onsigbare virus wat op die oomblik ‘n afpersmiddel geword het.

Ek kontak ons tolk, gesels oor hoe ek die berg mis wat ek sien, maar nie soos bobbejaan mag klim nie. Hy antwoord dat hy permit het, ons kan die naweek saam met hulle die berg bestyg. Kan ons saamvat.

Hoe laat dit my nou aan vele Bybelverhale dink. Geloof en die berg? ‘n Berg. God en die mens saam op berge. Om sake uit te klaar. Of die mens alleen op die berg?

Ewenwel, ek en manlief het besluit om te gaan. Saam met hulle twee in ‘n kar. Om die koms van die lente en nuwe lewe te vier. Maar ook om Covid-19 vrese te besweer.

Iewers gaan geloof moet oorwin. Ons kies geloof. Met ‘n BBQ op die berg. Donderdag hoor ons, dit is af. Ons mag die naweek met ons eie karre ry. Grendeltyd is verby! Ons kan wettig op die berg wees.

Ons is gisteroggend aan die toets of grendeltyd oor is.

Manlief wil die kar laat was. Mag hy? Ons tolk bel en kry afspraak. Dus …. Hy is hier weg en kom terug met ‘n skoongewaste kar. Volgens hom is die padblokkades weg, ons kan ry waar ons wil. Gits, hoe klink my storie nou soos Noag in die ark. Wat ‘n duif uitgestuur het om te toets. Wel, dit is waar, net soos Noag se verhaal ook waar is. Ek jok nie.

Toe wil ek saam toe hy goed vir die vuur wil gaan koop. Ons is maskerloos in Komfort, die hardewarewinkel in. Soos beleid vereis, is ons temperature getoets en handjies gesanitiseer, maar ons kon koop net wat ons wou.

Snaakse gevoel daai, ons wou min koop. Ons kom binnekort huis toe, het klaar te veel in een jaar opgegaar. Langsaan by A-store koop ons net koeldrank vir die piekniek. En melk. Vervelig, die winkel was mos al die tyd oop … Koskoop kan ook net soveel keer lekker wees.

Ons is te vroeg vir ons 14:00 afspraak. Probeer op die bed lê en die twee ure omslaap, maar opgewondenheid dryf die slaap weg. Ons gaan op die berg wees, saam met vriende, wat nie vir ons bang is nie.

Halleluja! Ons het nie pes of melaatsheid nie. Ons mag ons vriende sien en kuier. Soos dit hoort. Dink ek sommer nou aan een van my nuwe Italiaanse vriende hier, wat voor die grendeltyd oor die siekte gespot het.

In my gesig oor die tafel gehoes het, so kug-kug. En gespot het oor ‘n virus wat so oorgedra kan word. Ek was baie kwaad … ek kan wel kieme so kry. Wat ons drie dae voor grendeltyd op Almaty lughawe gedrukgroet het. Al het hulle van Georgia af teruggekom. En al was die virus toe lankal in Italië. Nou groet sy my met swaar masker aan, handskoene aan, op ‘n afstand. sê selfs sy wou bril gaan haal. Al was ek en manlief vir 40 dae soeter as sy. En het ons handskoene en maskers gedra. Ons was net een keer per week buite as ons kos moes koop. Sy het alleen langs die rivier gaan stap. Waar baie ander ook gestap het.

Jammer, ek moes vertel. Ek gaan nou nie weer afdwaal nie. Hier kom die storie.

Net voor twee daag Garth, ons Suid-Afrikaanse vriend wat saam met manlief werk, ook op. Sy vrou mag nog nie kom nie, wou eers kom as dit somer is nadat sy 12 November 2019 vir die sneeu gevlug het. En nou mag sy nie terugkom nie.

Ruslan en sy Natalja daag net daarna op.

Sy bestuur. Ons het al saam met haar gery en manlief is bly hy kan self bestuur. Sy sal baie mans bang ry, tog spog sy dat sy goed bestuur. Haar pa het haar geleer. Die drie SUV’s ry agtermekaar. Haar ou Subaru voor, ons nuwer Dusty in die middel en Garth se Subaru agter, nuwer as Natalja s’n, ouer as Dusty.

Verby die blokke en blokke woonstelle, uit en tussen die woonhuise aan die voet van die berg in.

So terloops, ek verkies woonstelle bo die huisies aan die voet van die berg. Ek wil nie eens raai hoe dit in die winter onder dik sneeu daar lyk nie. As ek vir altyd hier moet bly, sal ek wel soontoe wil trek. So aan die voet van die berg.

Toe is ons op die berg op pad na die meer, waarvan Natasja en Ruslan vertel het, wat ons twee nie kon opspoor nie. Ons het gaan soek …

Ons moes baie vroeër afgedraai het, net na die monument op die berg draai ons links weg. Ry verby ‘n vrou wat langs die pad in die veld met ‘n pot in die hand sit en iets pluk. Wat weet ons nie. Natasja weet ook nie. Kan kruie wees, sê sy. Ons ry aan die agterkant van die monument, sien ‘n man op sy perd teen die randjie, hy stop en kyk reguit vir my wat ‘n foto neem.

‘n Voël hang in die lug. Ek het aan arend gedink, dit is hulle voël, maar kan iets anders wees as ek so na die foto kyk. Dalk wel? Ditis ‘n groot voël.

En toe is die meer voor ons. Kleiner as wat ek verwag het, maar mooi. Soos ‘n spieël, ek wil net foto’s gaan neem.

My iphone leermeester sê ek moet nader aan die vlak wees om goeie foto’s daarvan te neem. Die foon amper in die water. Toe nie. Van naby is die water vuil. Van ver is die weerspieëling asemrowend.

Kyk hoe skoon is die lug, hoe groen die groen, hoe blou die blou. Ons was vir die middag in die hemel. So het ek sit en dink. Kyk hoe weerspieël alles in die water. Wondermooi.

Later sien ek iets aan die ander kant beweeg. In hierdie spieëlbeeld sien ek iets wat my verskrik laat regop sit (tweede foto bo). Kyk, ek wil nou nie lyk of ek ‘n sissie is nie, maar as Ruslan en Natasja en Garth nie saam was nie, het ek opgevlieg en in die kar gaan sit.

Ons is in die berge, reg? Daar is iets soos wolwe in Qazaqstan. Reg? Bere ook, so net vir die korrektheid van die inligting. Reg? Daar is iets wat soos wolwe lyk aan die ander kant van die meer. Reg?

Nee man, gesels my brein terug, dit kan nie wees nie.

Ek kliek en trek nader en kyk. Nee, dit is eerder honde. Rondloperhonde. ‘n Hele paar. Ek sit, maar my oë volg hulle. Hulle lyk groot. Ek moet weet waar hulle is. En of hulle ons gaan sien of ruik en om die meer gaan stap. Dalk hardloop. Ons is waar ons nie hoort nie. Hulle plek! En die karre staan entjie van ons af.

Hulle verdwyn om die wal en toe ek weer sien, is hulle op pad na ons toe. Ek sit aan die boom se kant, Ruslan en sy Natasja my en die honde. Ek ek hou hulle dop. Hulle lyk nie kwaai nie, maar hoe sal mens nou weet?

Maar hulle neem ons aan. Staan eers ver en kyk. Maak seker dat ons nie gevaarlik is nie. Ruslan bied van sy brood aan en gee dit en hulle neem dit opgewonde by hom.

Ons is aangeneem, vir die dag het ons ons eie honde gehad wat ons beskerm het. Die ou wit enetjie het selfs by my kom sit dat ek haar koppie krap. Dit het wel baie moed gevat, maar as mens jou hand uitsteek, palm na onder, weet hulle jy is vriendelik. Nie geweet Qazaq honde verstaan ons gebaretaal nie.

Manlief het gesit en braai, niemand moet daai taak by hom oorvat nie. Sonder bier, die bestuurders hier drink nie. Niks nie, as jy agter die stuur is, is jy nugter.

Toe sien ek weer iets aan die ander kant van die meer wat in die water weerspieël. Beeste. En baie daarvan. Hulle klim sommer in die water om te drink, wie staan nou langs die kant en drink soos ‘n meisie? En weer kom die skrik. Die troppie beeste kom om die meer gestap. Na ons toe.

Soos in daardie gedig van Jan F.E. Colliers van die osse wat geduldig, gedienstig, gedwee deur die stowwe stap, kom hulle in die twee wielspore van motors aan. Hulle gaan reg by ons verbystap, langs ons, vat afstand ver.

Toe nie, manlief braai op hulle voetpaadjie, en hulle klim teen die bultjie uit. Ek en Natasja staan versigtig op en kry vir ons elkeen ‘n boom. Maar hulle lyk nie kwaai nie. Stap reguit na ons toe. Sonder om te sukkel.

Dan gaan staan die een dame en kyk ons so aan. Iets soos wat de ongeluk? En draai effens uit om om manlief te stap. Ek skat ek word nou glad nie geglo nie? Wel …

Die arme diere het massiewe uiers, kyk veral die een in die regterkantste onderste hoek. Dit was seker melktyd, want ek kon die melk ruik. Soos toe ek klein was. As ons by die stal omstap en eers bekertjie melk so uit die bees drink voor ons verder stap skool toe. Daardie reuk van vars beesmelk. Dit kon ek ruik.

Maar dit was nie die einde van my storie wat jy seker nou begin glo nie.

Toe ek weer sien kom ‘n ruiter aan. Op sy perd. Om sy beeste te kom haal.

Hulle wil nie luister nie, hou van die Suid-Afrikaners. Ruslan sê hulle voel seker veilig by ons? En manlief raak laf: “Dit is omdat hulle nie weet wat op ons vuur is nie!”

Sjoe, ek het sowaar daaroor gelag. Noudat ek daaraan dink, sal ek sommer ophou vleis eet. Kyk hoe mooi is die beeste.

Die beeste staan in die bosse agter ons, dit is afdraende na ons toe, en toe is daar ‘n geritsel in die bos. Agter ons. Ons kyk mos na die meer se kant toe! En raai wat kom uit? Die ruiter!

Met die beeste wat vir ons staan en kyk …

Ek voel van gister af of ek in die hemel was. Vandag, toe ek hierdie foto saamstel, weet ek hoekom. Dit is nou wel nie ‘n leeu en ‘n lam nie, maar hier lê woef (sien leeu) by die beeste (sien lam). Ewenwel, dit was salig. Die versigtig voel saam met die rustigheid en die reuk van plaas al om ons. Ek het op ‘n plaas grootgeword.

Terwyl ons braai!

Later het nog mense gekom, vrouens met hulle honde kom speel, mans in die meer geswem. Dit was soos ‘n fliek wat voor ons afspeel.

Ons het geëet, ons het koeldrank en wyn gedrink (ek drink nie alkohol nie), ons het saam met ons Qazaq vriende gekuier.

Ruslan het die vleis gebring, ons het wors gevat. Vreemde hoe hulle vleis sny vir braai. In sulke stukke asof vir sosaties.

Die einde van die dag was net so ongelooflik. Die tefie wat by my kom sit het, het gewag dat ons in die kar sit, in die pad voor ons. Vir ons gekyk. En toe ons begin ry, hardloop sy voor ons uit. Omkyk, omkyk. Om ons weer uit die bos te lei …

En toe ons uit is en op die regte pad terug, stap sy uit die pad en gaan na haar eie plek toe. Hoop ekke.

Ek neem aan jy verstaan waarom gister onwerklik gevoel het.

Soos ‘n droom.

In ‘n droomwêreld.

So na as wat ek my die hemel kan voorstel … Vir ‘n plaasmeisie sal hemel altyd so lyk.

23 gedagtes oor “Braaivleis op eerste dag na grendeltyd in Qazaqstan: ‘n Onwerklike ervaring

  1. Klink so lekker om in die natuur te braai en piekniek te hou.

    Julle beleef sulke wonderlike goed!

    Wanneer kom julle permanent terug na SA?

    ❤❤❤

    On Sun, 17 May 2020, 12:34 Dr. Christa van Staden, wrote:

    > Dr Christa van Staden posted: ” Kyk, ek wou myself die afgelope maand in > die gesig klap. As ek by die venster uitkyk op ‘n wêreld waar die lente my > lok om uit te gaan om die natuur te gaan geniet. Maar ek mag nie. Dan het > ek by die venster gestaan met die allerongelooflikste gevoel van” >

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.