Laat ‘n jonge verkeerskonstabel my vandag bloos

Manlief WhatsApp vanoggend, hy kan nie etenstyd huis toe kom nie, kan ek dalk kossies na die park bring. Die park is tussen die huis en sy kantoor, nader aan sy kantoor en die huis. Ek willig in, het goeie stap nodig.

Eers stap ek na Oliviers toe om iets te koop om saam te vat om te eet, maar die ry staan tot amper by die deur. Dit is ‘n restaurantjie wat baie aan koshuis herinner. Vat skinkbord, stap deur en kies wat jy wil eet. Sommige goed, soos slaaie, is reeds in bakkies, dan vat jy die hele bakkie. Ander is nie, dan skep hulle vir jou in. Hier gaan ek nie staan en wag nie, die keuses is te veel, ek gaan lank wag.

Dan maar na die winkelsentrum toe. A+ Store verkoop ook gaargemaakte kos, maar dit is koud en moet nog warm gemaak word. Dus stap ek met die hoender en broodjie en aartappelskyfies terug huis toe, om die hoender in die broodjie te sit.

En raai wat? Daar het ek niks om dit in te sit nie. Geen bakkies nie. Geen sakkies nie, Geen ritssakkies nie. Geen kleefplastiek nie. Ek sien in my gedagtes hoe ek gister gesien het hoe manlief daarmee in die hande staan. Nooit besef dit is verpak en geboks nie.

Die broodjie was darem in kleefplastiek toegemaak, dus moet dit maar oop en weer toe nadat die broodjie gemaak is.

A+ Store maak nogal lekker brood, vars briesie nadat ons amper ‘n jaar lank nie goeie brood hier kon koop nie. Ek bak steeds, maar gaan Thermie pak. Die broodjies is goed genoeg vir die week.

Nadat die broodjies gemaak is, het ek genoeg tyd om rustig na die parkie te stap. Ek kies gewoonlik om regs na Komfort se kant toe te draai om oor te stap. Manlief verkies links om, by Gastronom verby na die ander hoek van die park om so skuins deur die park te stap. In die middel kom die twee paaie bymekaar.

Ewenwel, ek het genoeg tyd.

En ek is in ‘n lekker goeie bui, die lug is een pragtige blou, die son skyn na die paar bewolkte dae.

Voor ek stap, is my airpods in my ore, Steve lekker hard aan dat ek met dapper en stapper kan stap en daar gaat ek na die hoek van die straat.

Nou kyk, ek weet nie wat daarna gebeur het nie.

Ek weet ek het by die robot gestop. Omfat hy rooi was. Ek sou mos vir die robot gewag het om groen te raak, of sou ek? Ek weet tog ek het gestop om oor te stap. Anders sou die motors mos gery het as die lig vir my rooi was?

As mens oor die ses-baan pad geloop het, land jy op ‘n randsteen en dan moet jy ‘n dienspad ook oorsteek. Ek vermoed die robot vir die dienspad was dalk nie groen nie. Maar ek het regtig gedink ek is reg en dat ek oorstap terwyl die robot vir my groen is.

Toe ek oor die straat is, kom ‘n meisie van die ander kant oorgestap, reg voor my in. En ‘n verkeerskonstabel volg haar ook oor die straat. Na my kant toe.

My musiek is hard in my ore, ek sing so bietjie saam ook as niemand naby is nie. Hmmmm -hmmmm net as hulle naby is tot ek weer kan sing. Daarom dat ek bewus is van die mense om my. Sy kyk om, kyk na my en stap weer aan.

Sy draai weer haar kop en kyk vir my en dan agter my. En ek besluit om te kyk waarvoor sy kyk.

Vas in die oë van jong verkeerskonstabel, wat wys ek moet stop.

Die mannetjie blah-blah-blah. Ek wonder of hy iets soek, haal my airpods uit my ore en sê: “Sorry, I do not understand.” Hy sê: “Tak,” daardie invoegsel wat hulle gebruik as daar ‘n probleem is, amper iets soos wag ‘n bietjie. Of hoe gaan ek nou verduidelik? Of laat ek net gou dink hoe om te verduidelik.

Toe haal hy sy foon uit en tik op die vertaaltoep. Ek moet lees.

Ek grou in my handsak, haal die bril uit en lees:

“You have passed a red light.”

Gits, ek het my alie afgeskrik. Hoe het ek dit reggekry om oor ‘n rooi lig te stap? Watter een? Die groot pad s’n? Of die kleintjie s’n?

Ek kan sweer ek het vir die groen lig gewag. En nie oor rooi gestap nie. Maar sê nou maar die klein pad se lig word gouer as die groot pad s’n rooi? Of sê nou maar ek het gestop en oorgestap soos wat ons by die voetoorgange maak?

Ek glo mos nie die motors gaan vir my stop nie. In elk geval nie as hulle so vinnig aankom nie. So het een al vir my geskree dat ek moet loop. Sy arms wild swaaiend in sy kar.

En toe draai ek net om dat hy liewer ry. Hy was baie kwaad en het sy ruit afgedraai en luidkeels geraas. En ek het hom ge: “ Tie Grubie” wat beteken jy is ongeskik. Ek wag met liefde tot hy verby is voor ek glo hy gaan stop as hy geen poging aanwend om dit wel te doen nie.

En daar staan ek met groot oë by die verkeerskonstabel. Ek en hy is alleen op straat. Soos in ‘n tydslot.

Hoe gaan ek verduidelik dat ek nie ‘n rooi lig gesien het nie. Sien, ek beter kleure ook nou begin leer ken. Dit is hoog tyd. Hoe moeilik han groen en rooi wees om te leer? Hier is nie sommer oranje nie.

Ek sē net sorry, ek het nie gesien nie. Wat anders moet ek doen. Hy lyk kwaai en ek het nie die woorde om te verduidelik nie. Dar ek nie aspris oor die robot getsap het nie. Hoe simpel is dit.

Hy tak weer en tik weer op sy foon. Ek sien boetes en tronk en agterin ‘n vangwa om na ‘n polisiekantoor te gaanMalief gaan kosloos wees want ek kan die twee goed terselfdertyd doen nie.

Die boodskap lees, anders as wat ek verwag het so:

“Be careful.”

Nou kyk, toe bloos ek soos ‘n stout kind wat op heterdaad betrap is.

As hy my wou beboet, sou hy maar moes. Ek het nie gesien dat die lig rooi was nie. Sal my leer om te loop en sing. Ek het na die groot verkeerslig gekyk (foto onder) en. ie die kleiner een tussen die boom se blare gesien nie.

Dit is ‘n groot oortredimg as jy per motor reis, dus was ‘n wees versigtig die laaste ding wat ek gedink het die man vir my gaan sê. Net dit, en daar gaan hy.

Nodeloos om te sê, het ek manlief se kant om van die parkie af teruggegestap huis toe.

Toe pla die gebeure my. En moet ek na die “scene van my crime” terugkeer.

Stap ek weer na die hoek van die straat.

En toe sien ek waarom ek die rooi lig nie gesien het nie (tweede foto bo).

Ek gaan moet toets of die kleintjie met die grote gesinchroniseer is. As hy nie is nie, het ek heel waarskynlik oor die rooi lig vir die dienspad gestap. Sonder om eers vir motors te kyk.

Dit is dinge soos hierdie wat ek wens ek Suid-Afrikaners kon laat beleef. Verkeersmanne, polisie en weermaglede is hier nie veronderstel om die publiek se vyand te wees nie. Hierdie een het besef dat ek regtig nue aspris oortree het nie. Toe maan hy my om versigtig te wees.

13 gedagtes oor “Laat ‘n jonge verkeerskonstabel my vandag bloos

  1. Moet sê, ek geniet elke oomblik, elke tree van jou Qazaqi bestaan. Sit als saam in ‘n boek en laat RSG dit voorlees. Of hoe?

    Like

  2. Christa in die tjoekie sal jy die taal vinnig aanleer 🙂
    Saam met jou bly dat jy nog vry is. As student wat dink hy het ‘n gladde bek het polisie ons eenmaal agterna gesit en van die pad afgetrek. My gladde bek was stil!

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.