Gepubliseer in Reisjoernaal,Tegnologie

Ek en RSG en alternatiewe vir melk

Ek het klaar verduidelik dat ek stilte om my nodig het om te funksioneer. Daarom het ek eers verlede week die vreugde van Airpods ontdek. En as ek nie nou in my spoor begin trap nie, gaan ek een van die dae permanent met die goedjies in die ore rondloop.

Want manlief het die Radio South Africa toep so ruk gelede ontdek en afgelaai.

Hy luister net wanneer hy kan na Jacaranda. Ek soek, as ek moet luister, Afrikaanse stasies, daarom is RSG een van my gunstelinge. Nee, dit is my gunsteling stasie, veral omdat ek altyd in die kar saamgeleer het as hulle gesprekke voer. En so bietjie van die druk Johannesburgse verkeer kon vergeet. Soms sommer in die garage klaar geluister voor ek in die huis in is.

Vanoggend besluit ek toe om die toep af te laai, maar eers nadat ek seker gemaak het dat RSG daar is. En ja, raai, RSG is sommer een van die top radiostasies op die toep.

Saskia Meijer, as jy hierdie een lees, stuur asseblief vir my die tye wat jy op is dat ek daarna kan luister. Ek kan daarna luister, hier in Qazaqstan luister.

So halfuur gelede besluit ek om op RSG in te skakel.

En wat kondig Martelize aan? Waaroor gaan hulle gesels?

Niks anders as alternatiewe vir melk nie. En ek het net gister geskryf oor die alternatiewe Green Milk wat ek in Qazaqstan ontdek het.

Dus het sy my volle aandag. En was ek nie verras nie!

Sy kondig ook aan dat sy ‘n resep vir hawermoutmelk gaan deel. Wat blykbaar baie maklik is om te maak.

Ek het nog nie daaraan gedink dat ek my eie alternatief vir melk kan maak nie. Al het ek ‘n Thermomix om my daarmee te help. En toe kondig sy haar e-posadres aan. Maar ek was nie seker dat ek reg gehoor het nie.

Wat ek wel weet, was dat ek die resep in die hande moes kry. Om my eie melk te maak. Hawermoutmelk.

Aangesien ek voor die rekenaar gesit het, het ek net daar en dan ‘n e-pos gestuur. Vertel van die alternatiewe wat ons in Qazaqstan ontdek het. En gevra hoe ek die resep in die hande kan kry. Want ek bly in Qazaqstan.

Die volgende oomblik kondig sy, asof ek nie meer as 10 000 km van haar af is nie, aan dat sy ‘n e-pos van my gekry het. Noem die alternatiewe wat ek hier ontdek het. En eindig af met ‘n direkte boodskap vir my. Sy het die resep so pas gestuur!

Ek het nog gesit en wonder of die e-pos daar gaan uitkom, want ek was nie seker dat ek die adres reg afgeskryf het nie. Ek het die foon hoor piep, maar nie gekyk watse e-pos ingekom het nie. Ek het te lekker geluister na die redes waarom ek van alternatiewe gebruik moet maak.

Die voordele van plantaardige melk is inderdaad indrukwekkend, maar ek het al vertel dat ek laktose-weerstandig geword het.

Alternatiewe het nie laktose in nie, dus is dit vir my die grootste voordeel van die melk. Ek kan weer koffie drink, sonder om bykans onmiddelik gastro te kry.

Die nadele van koeimelk is ook genoem, naamlik dat die koeie kunsmatig bevrug word om kalfies te kry, omdat dit hulle melkproduksie verbeter.

Die kalfies word dan dadelik van die mammas weggevat en die proses word elke drie maande herhaal. Die vroulike kalfies word wees groot gemaak om melk te kan produseer, die manlike kalfies word veal. Dan is daar ook ‘n probleem met hormoonbehandeling. Daarom is dit dalk beter om alternatiewe te toets en goeies kies.

Die aarde sukkel juis so met water en die skaarste aan water kan ‘n derde wêreldoorlog ontketen. Mens gebruik, volgens die gas, 200% minder water on plantaardige melk as koeimelk te maak. Ek sal daaroor moet gaan oplees, bome gebruik ook baie water …

Die ding is, volgens die gas, dat mens nie melk oor die voordele daarvan drink nie, dit word eerder gebruik as draer.

Om koffie en pap te maak. En om koek te bak en so aan.

Ons is, volgens ‘n artikel wat Martelize iewers gelees het en wat ek ook iewers gelees het, die enigste soogdiere wat aanhou melk drink as ons gesoog is.

Alternatiewe melk word van kokosneute, amandels, soja, hawermout, rys en hemp gemaak.

Laasgenoemde klink vir my soos materiaal of ‘n kledingstuk.

Ek is nie seker wat dit is nie, maar ek vermoed ek gaan, soos die gas in die ateljee, ook nie van hempmelk hou nie. The name says it all?

Toe ek in my e-posbus kyk, wag die resep vir my.

Hawermoutmelk. En dit kink baie, baie eenvoudig. Blykbaar ook baie goedkoper. En ek gaan presies weet wat in my melk is.

En toe is ek pienk getiekel.

Die oomblik toe hulle met iemand anders praat, het ek Google oopgemaak en gaan soek.

Resepte.

Om my eie alternatiewe vir melk te maak. En daar is baie. Wat ook met ‘n Thermomix gemaak kan word.

Wat my veral opval, is dat die melk nie so afgewater lyk soos die wat ons hier gekoop het nie.

‘n Indrukwekkende voordeel is dat dit veel goedkoper is om jou eie te maak as om dit in die winkels te koop.

Ek dink nie ek gaan amandelmelk probeer maak nie, die smaak sit my beslis af. Ook nie sojamelk nie. Maar, ek gaan beslis my eie kokosneutmelk en hawermoutmelk maak.

Want ek het nog nie so daaraan gedink nie: Ek kan koek en poeding en ander lekker goed met plantaardige melk maak. Soos die gas aanbeveel het.

Is dit ‘n goeie ding? Tyd sal leer, ek gaan dalk gewig optel as ek nou meer goed op my spyskaart kan sit …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

20 gedagtes oor “Ek en RSG en alternatiewe vir melk

  1. Ek hoop nie dat jy ‘n probleem met gluten het nie, want hawemout is gif. Baie van daardie artikels, is ook baie eensydig. Die storie van die gas, wat beeste so nadelig maak vir die atmosfeer, is bewys as snert. Een amandelboom, amandelmelk en -meel, is mos deedae die in ding, het meer water nodig, as ‘n bees ens ens ens. Ek wonder, wie sit agter hierdie vals informasie. Soos destyds, met margarien, wat kwansuis soveel beter as botter was en nou is dit gevaarlik, om te eet.

    Liked by 1 person

    1. Stem saam met jou oor die twak dat beeste se gasse die omgewing so benadeel. Toevallig is een van die grootste agiteerders teen beesvleis en ‘n skepping van ‘n plantaardige iets soortgelyk aan vleis, Al Gore. Hy het ‘n aandeel in vervaardiging van hierdie alternatiewe “vleis”.Ook dieselfde man wat gesê het die wêreld gaan teen 2014 ysvry wees en hy maak miljoene met sy bangmaakpraatjies, terwyl hy in luukse stralers orals heen flenter.

      Like

        1. Hier is ‘n skakel 2019/08/17/gores-quest-to-become-a-fake-meat-billionaire-lobbies-for-climate-policies-that-limit-meat-while-his-firm-invests-200-million-in-meat-substitutes/

          Like

    2. Interessante skakel wat inlig hoe ons bedrieg word
      2019/08/17/gores-quest-to-become-a-fake-meat-billionaire-lobbies-for-climate-policies-that-limit-meat-while-his-firm-invests-200-million-in-meat-substitutes/

      Like

  2. Christa, nou juis vanoggend as ek nie radio luister nie, lees hulle jou e-pos voor! Ek sou mos letterlik aan die gil gegaan het en geskreeu het, ja, ek ken haar, sy is my baie belangrike blog-vriendin!!!! Wat ñ absolutwe heerlikheid vir jou.xxxxxx

    Like

      1. Ek kan jou glo!!! Iets uit jou eie land wat joune is. Jy het dit sò nodig gehad, Christa, en ons Vader glimlag nou sekerlik daaroor. Want Hy het geweet.

        Like

  3. Radio RSG is my gunsteling stasie en ek het ook vannoggend geluister toe hulle oor die alternatiewe vir melk gesels het. Ek het onmiddelik aan jou Green Milk gedink – en daar hoor ons van jou e-pos!

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.