Gepubliseer in Joernaal,Tegnologie

Ek is ‘n vroeggebore milleniër …

Ek kyk laas week na Tydelik Terminaal. Wat ‘n pragtige reeks. En toe sê een van die jong mense:

Ek kan dit self doen, want ek is ‘n milleniër.

Nou ja toe! Ek het dit nie verwag nie.

Ons koppel milleniërs, die troetelnaam vir diegene wat in die 21ste eeu leer leer, aan tegnologie en meer spesifiek aan mense wat met tegnologie in die hand gebore is. Hmmm, hoe dan anders? Hierdie groep mense en hulle direkte voorgangers is met tegnologie in die baarmoeder bestudeer. Hulle ken tegnologie nog voor hulle geboorte.

Ek is nie met tegnologie in die hand gebore nie. Dus maak dit my ‘n vroeggebore milleniër wanneer dit by speel met tegnologie kom. Ek is ‘n Apple, of Mac, liefhebber. Het ‘n iPod, iPad, Airpods, verskeie iPhones, MacAir en die grootse Mac op die mark. Het al ‘n webwerf en ‘n toep vir onderwysers ontwikkel. Kan ook my eie webwerf host as ek moet. Verstaan die tegnologie agter die tegnologie. Geniet ‘n tegnologie-gedrewe wêreld. Een waarin leer deur tegnologie moontlik gemaak word.

Een waarin my Tiguan haarself oopsluit as ek naby is. Hoe oulik is dit nie? Met die sleutel in my sak. Want hemel tog, dit is ‘n genade as nie eers ‘n sleutel moet kry om my hande vol pakkies in te laai nie.

So van pakkies gepraat, hier is nie mense in Qazaqstan wat jou kar wil oppas nie. Hulle sou geen doel dien nie. Want hier word mense se goed gerespekteer. Dus is hier ook nie mense wat kwaad is as jy jou eie pakkies in jou eie kar wil pak nie. Wat ‘n saligheid!

Maar, ek moet bieg, ek sit nou ook nie al my vertroue in tegnologie nie.

My Volkswagen Tiguan kan haarself parkeer. Net soos my Volkswagen CC kon. Ek het hulle tweetjies egter self parkeer. Nogal geskrik toe my seun my wys hoe dit werk en die stuurwiel so wild draai om vir die parkering gereed te maak.

Sjoe, ek draai dit nie so wild wanneer ek parkeer nie. Daai slimgeid kan maar onbenut bly. My hart sukkel om die skrik te verwerk as ek die ding so bekyk.

Maar!

As milleniërs dan aan ek-kan-dit-self-doen gekenmerk word, is ek steeds ‘n vroeggebore milleniër. En daardie ek-kan-dit-self-doen houding help my om hier in Qazaqstan te oorleef. En dit te geniet.

Ek bak brood omdat die brood hier reeds oud en droog is as ek dit koop. Manlief het tog vir Thermie al die pad saamgebring. Nou kom sy handig te pas.

Nee, hier is nie potjies nie. Manlief het daai ene van SA af saamgebring. In sy tas. Hier is ook nie hamburger rolletjies nie. Nou bak ek dit ook.

En geniet die geur van varsgebakte brood in my huis. Mag ek noem dat ek dit nie kan eet nie? Ek het weerstandigheid vir verskeie van die bestanddele. Tog bak ek dit om manlief gelukkig te hou. Hy het genoeg stres by die werk. Kos kan nie ook stresvol wees nie.

Hier word vleis anders gesny, maar ek leer die vleissnitte ken omdat ek weet dat taai dele gekook en sagte dele gebraai moet word. Hier is nie vleissnitte soos ek en jy dit ken nie. Ek is nie ontsteld omdat my slagter 10 000 km weg is nie. Hoe laat daardie stelling my nou aan daai liedjie van Katie Melua dink? 9 Million bicycles? Dit is darem baie meer as 10 000. Dus kan ek nie kla nie Tog was ek verbaas toe ‘n Rus Vrydagaand sê dat hy nie loin en t-bone en fillet en ribeye op die menu bestel nie, hy ken dit nie. Oe tog! Lekker leergeleenthede hier, ons eet lekker aan dit wat ons ken.

Hier kan ons ook nie wors koop nie. Hulle ken dit nie. Jammer, perdewors of kazi tel nie. Dit is massiewe wors so dik soos polonie gemaak van perdevleis. Ek sterf van die honger voor ek dit eet.

Ons maak ons eie wors en maalvleis. En eet alte lekker omdat ons presies weet wat daarin is.

Nou maak ons die hele hamburger tuis, behalwe die botter. Dit kan ek ook maak. As dit moet. Het die kuns as klein dogtertjie bemeester. Ek maak ook my eie grondboontjiebotter. Met Thermie. En sitrusstroop en vele meer.

Gister sê manlief ons leer mooi. Hy raak lekker bederf hier in Qazaqstan. Ons maak ons goed self as ons nie kry wat ons nodig het nie! Goeie leerskool as ons dit in SA ook gaan moet doen.

Juis omdat ek myself leer om alles te doen, sukkel ek met mense wat goed nie self wil doen nie.

En dan van my verwag om dit vir hulle te doen, asof ek hulle persoonlik slawe is.

Ek maak my kar se deur self oop. Doen dit al vandat ek manlief ontmoet het. Hy het aan die begin omgestap om my deur oop te maak. Maar ek kon nie verstaan waarom ek in die kar moet sit en wag dat hy omkom nie. Ek besef dit is galant. Hy is nie my slaaf nie. Soms is daar eers gegroet. Dan sit ek soos die queen in die kar en wag? Of maak die vriende my deur oop. Met ‘n kyk na die queen wat sit en wag.

Ek verwag nie van ander mense om deure vir my oop te maak as ek in of uit winkelsentrums stap nie. Ek wil in of uit, dus maak ek dit self oop en toe.

En ek sukkel hier in Qazaqstan met mense wat van my verwag om deur vir hulle oop te maak.

Ek het nie krag in my arms nie, inteendeel, my arms is saans seer as ek die swaar deure moes oopmaak. By elke winkel is twee stelle daarvan. Groot glasdeure met skarniere wat erg weerstand bied. Want hulle moet die deure weer dig trek as die deurstapper dit nie doen nie.

Ek kan nie die deure lank oophou terwyl dit teen my druk om weer toe te gaan nie. Tog verwag ek nie van ander om die deure vir my oop te maak nie. Behalwe manlief, hy weet van my seer, doen die oopmaak vit ons. En sy gespierde arms doen dit met gemak.

Hier is die jong mense ongeskik. As hulle nie van jou verwag om die deur oop te maak nie, stap hulle deur as ek oopmaak. Voor my in, gee my geen kans om self te stap nie. Asof ek die lakei of butler is. Asof dit my plig is om hulle te bedien. Dit terwyl elke mens sy goed self doen in hierdie land!

Dus leer ek hulle maniere. Aangesien ek nie in butler kleredrag by die deur staan nie, los ek die deur. Om eers af te koel. Dit laat my egter sleg voel.

Nou gaan staan ek doodstil by deure, ‘n tree of twee weg. As iemand van binne of buite aankom. Dat hulle maar hulle gang gaan. En dan gaan ek myne. In vrede. Daardie ongepoetsheid gaan ek nie help koester nie.

Ek pak my eie kruideniersware wanneer ek inkopies doen. Hier is nie pakkers nie. Dit is nie soos in sommige Suid-Afrikaanse winkels nie. Jy pak jou goed op die band, dit word deurgestoot, jy betaal en die volgende persoon word gehelp terwyl jy jou goed pak. Die kassier het nie tyd om dit vir my te doen nie. Buitendien, daar is ander mense in die ry wat ook gehelp wil word. Dit pla my nie.

Ek is gewoond daaraan om my eie goed by Cradlestone se Pick-n-Pay te pak. Daar staak die pakkers gereeld. Ek verkies dit so. Pak is deel van die koopproses, ook wanneer ek en manlief inkopies doen. Hy pak die trollie uit, soort by soort. Ek pak die sakkies wat ons saamgevat het. Soort by soort. Ander mense kan dit nie vir ons doen nie.

Ek verdeel die gewig oor die sakkies soos ek weet ons twee se arms die gewig kan hanteer. My goed, my probleem om dit verpak te kry. My probleem om dit in die kar te kry en my probleem om dit dan weer in my woonstel te kry.

Ek stap dikwels meer as een keer op ‘n dag mark toe. Want ek moet die gewig huis toe kan dra. Selfs as ek saam met vriendinne gaan, koop ek wat ek kan dra. Ek verwag nooit van ander om my goed te dra nie.

Ek maak my eie huis skoon. Soms staan die vloere ‘n dag oor. Omdat ek met iets anders besig is. Maar dit is lekker om die huis skoon te maak. Ek weet waar alles is. Daar, waar ek dit laas gelos of weggepak het.

Ek was my eie wasgoed. Stryk dit ook. Het stryk gehaat tot my laaste huishulp ons ingeloop het. Gedros het en my verkla het dat ek haar weggejaag het. Daarvoor sien ek nie weer kans nie.

En ek hoef nie die nukke van iemand anders in my huis te hanteer nie. Ek weet, almal is nie so nie, my laaste huishulp het my net in soveel opsigte laat besef dat ek my huis self moet skoonmaak.

Nou doen ek dit met ‘n vrede in my hart. Al is manlief se klere die enigstes wat stryk nodig het.

Noudat ek daaraan dink, is dit dalk eerder vir my lekker om die enigste asem in die huis te wees tot manlief huis toe kom?

Niemand wat lawaai as ek werk nie. Wat my gedagtegang onderbreek as ek ‘n artikel skryf of beoordeel nie. Ek sit nie eens musiek aan nie. Vrede!

Ek kook my eie kos. Nog altyd.

Snaaks hoe netjies mens word wanneer jy self skoonmaak. As die kos gaar is, is my kombuis skoon. Elke blik of bottel met ‘n bestanddeel is terug in die kas as ek dit klaar gebruik het. Skille in die asblik. Tafel afgevee.

My kuiergaste dink gereeld dat daar geen kos is as hulle in die skoon kombuis instap nie. Dit is maar deel van die proses.

Ek doen my eie naels, sny en kleur my eie hare en maak my eie klere wanneer ek die dag lus is daarvoor. Ek brei my eie serpe en mussies.

Want ek is so grootgemaak. My ma het ook, sy is steeds my voorbeeld dat alles self gedoen kan word. En goed ook.

Mens is mos meer krities op jou eie werk as op ander s’n. Altans, ekke is.

Omdat ek alles self kan doen, beteken dit nie dat ander van my kan verwag om hulle huishulp, lakei of draer te wees nie. Ek help graag, maar wanneer ek misbruik word, steek ek vas, soos ‘n steekse donkie.

Want sien, ek het ook ‘n lewe. Een waarin ek nie die queen is met ‘n aantal helpers nie. Nadat ek huis skoongemaak het, kos gekook het, gewas en gestryk het, brood geknie en opgepas het tot die gebak is, is ek nogal moeg.

En dan begin my dag eers.

Navorsing vir ‘n artikel, keur van artikels vir publikasie, vertaalwerk, bloginskrywings, lees van ander se blogs, kommentaar op ander se werk, skryf van blogs saam met die towerinne, hulp in my Facebookgroepe vir onderwysers, brei.

Ek help studente met hulle akademiese skryfwerk en doen my eie admin.

Saans as manlief tuis kom, sit ek alles neer. Maak ons saam kos as iets gebraai moet word. Kyk ons TV. En gaan slaap ons al vroeër omdat die son al vroeër gaan sak.

My dag is vol. Al is ek huisvrou. Geen fancy woord daarvoor nie. Sommer net huisvrou. Dit maak my egter nie ander mense se slaaf nie.

Daarom voel dit nou of ek moet afsluit met Adam Small se woorde. Al doen ek die vuil werk in my huis, is dit nie nodig om my soos ‘n ondergeskikte te behandel nie. Want ek is soos die straatvëer in Small se gedig oek important.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

3 gedagtes oor “Ek is ‘n vroeggebore milleniër …

  1. Nee, jy is niemand se slaaf nie. Met al daai lekker goed wat jy maak, klink jy baie soos ‘n boervrou.
    Ek het in Heidelberg, Duitsland, die deur gelos. Ek druk die deur oop, stap deur en hou dit oop vir die volgende persoon met die gedagte dat sy dit by my sal vat, soos ons mos gewoond is. ‘n String tieners kom by die deur uitgestap, niemand raak aan die deur nie, toe los ek die deur.
    Alhoewel ek ook baie dinge self doen en vir jare my massiewe plaashuis sonder huishulp beman het, het ek nou iemand wat my help. Donderdae kom Fransiena en maak ons plaashuis skoon en hier in die dorp het ek vir Maria, ‘n blanke meisiewat my help. Sy is soos ‘n dogter vir my en noem my mamma.

    Like

  2. Ek moet eerlik sê, ek bewonder jou, Christa. Ek is self maar goed bederf, so wat jy als vermag daar in die vreemde laat my soms na myself kyk en besin.🌹

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.