Vandag wil ek sommer net gesels oor die vreugdes en verdriet van sosiale media. Ek begin met die groepe mense wat ek nie kan verstaan nie.
Die eerste groep mense wat ek nie verstaan nie, is diegene wat my onsigbaar op Facebook en ander sosiale media volg. Nie diegene wat my volg omdat hulle geniet wat ek skryf nie. Julle is my ware vriende, al reageer julle selde. Ek praat van diegene wat op ‘n stadium gevra het om ‘n vriend te wees. Of ek het dalk in onkunde ‘n vriendskapversoek gestuur? Hulle reageer slegs wanneer hulle my in die openbaar of in ‘n privaatboodskappie “reg” kan help. Of hulle praat afkrakend by ‘n byeenkoms oor iets wat ek in die verlede gedeel het, met oë wat gerol word en ‘n melodramatiese sosiale media sug. Ek waardeer hierdie groep mense nie. En het dit onlangs uiteindelik reggekry om my Afrikaans taalonderwyseresskoene uit te skop, die skoene wat vereis dat ek met elke mens oor die weg moet kom. Ek wil nie meer nie, my lewensvreugde word gesteel. Daarom word hulle so een vir een van my vriendskapslys verwyder, om ook nie meer deur gemeenskaplike vriende te kan lees wat ek skryf nie. Wat hulle nie lees nie, kan hulle seker nie pla nie?
Die tweede groep mense wat ek nie verstaan nie, is mense wat ander se humeurmeters die rooi in te stuur. Op sosiale media. Hulle skryf doelbewus goed wat mense kwaad maak, veral in groepe. En beledig ander gebruikers. So erg dat onderwysers skugtig is om in onderwysergroepe saam te gesels. Hulle is nie deel van my vriendekring in die regte lewe nie, ek vlug van konflik weg. In my Facebook-groep vir onderwysers (RSA Onderwysers) word hierdie groep gewaarsku en verban as dit nie help nie. Hulle torring aan leerteorieë wat beweer dat mense uit hulle foute leer. Die juffrou in my is besig om bes te gee. Hulle gaan nooit verander nie, daarom wil ek hulle ook nie meer in my lewe hê nie.
‘n Derde groep mense wat ek sukkel om te verstaan, is diegene wat vreeslike goed op sosiale media kwyt raak. En dan verstom staan as hulle in vreeslike groot moeilikheid kom. Die probleem is nie sosiale media nie. Die mens skinder nog altyd. Die Bybel waarsku teen die verwoesting wat die tong kan saai. Die probleem is dat die mense nie seker maak dat dit, wat hulle in ‘n oomblik van woede skryf, net met ‘n beperkte groepie regte vriende gedeel word nie. Soos dit maar in die regte lewe ook gaan, bly liewer stil as jy nie seker is dat jy mense kan vertrou nie. Hierdie mense vergeet die veel erger groep mense as diegene wat jou volg om jou te kan betig. Wat my by die laaste groep mense bring.
Die laaste groep wat ek nie verstaan nie, is diegene wat deel wat jy geskryf het, om jou in vreeslike groot moeilikheid te kry. En dit is die probleem met sosiale media. Nie dat jy iets in woede geskryf het nie, maar eerder dat ander jou presiese woorde kan deel om soos ‘n verwoestende veldbrand te versprei want hierdie sogenaamde vriende se vriende deel dit ook verder. Hierdie mense weet nie van die Six grades of separation teorie nie. Soms wonder ek of die mense nie weet dat hulle hulle plasings kan redigeer nie. En dan staan die delers soos skape. Selfs as hulle skermskote geneem het. Want die onus is op die skinderbek om te bewys dat dit die persoon se regte woorde was. Intussen word die persoon se lewe verwoes. Omdat dit, wat hy of sy met ‘n beperkte groepie vriende gedeel het, die wêreld ingestuur is. Hoe gemeen moet mens wees om net te sit en wag om ander die doodskoot te gee?
My navorsing gaan oor die wonderlike leergeleenthede wat deur die gebruik van sosiale media geskep word. Dat tegnologie gebruik kan word om vriendskapsbande met ander te bou sodat jy by hulle kan leer. Die meeste van die gebruikers van sosiale media staan reg om onbaatsugtig hulle inligting, kennis, tasbare bronne en ervaring met ander te deel. Om raad en leiding en ondersteuning aan te bied. Om ander te help om ‘n beter self te word. Toets maar. Vra ‘n vraag en kyk hoe vreemde mense nader staan om te help.
Waarom? kan ons navorsers nog nie verklaar nie. Dat dit wel gebeur is ‘n feit. Die neiging staan as e-praktyknetwerke bekend. Daarom voel ek om my oë melodramaties te rol vir diegene wat sosiale media sug.
As hulle maar geweet het hoe sosiale media hulle lewens kon verryk! My navorsing toon byoorbeeld dat afstandstudente en onderwysers by mekaar leer. Deur middel van sosiale media. Loer gerus na die artikels wat ek reeds daaroor geskryf het. En dan sal jy verstaan waarom ek sommige gebruikers van sosiale media uit my binnekring stuur.
Hulle skep onoorkombare hindernisse, wat leergeleenthede beperk. Ek het hoofsaaklik op WhatsApp en Facebook gefokus. Omdat dit groepvorming moontlik maak. Om leergeleenthede vir onderwysers en studente te skep. Ek hou nie van Twitter nie, dit voel soos om op ‘n straathoek te gaan staan en iets te skreeu. Of om in ‘n kamer in te hardloop, iets te skreeu en weer weg te gaan. Daar vorm selde e-praktyknetwerke. Inteendeel, ek begin dink dat Twitter ‘n gevaarlike hulpmiddel is. Diegene wat jou volg is nie ‘n uitgesoekte groepie vriende nie. Jy bou ‘n gehoor, een wat jou kan verwoes.
Ek het egter onlangs eers die vreugde van WordPress ontdek. Ek het al lankal my Afrikaanse en Engelse CV’s aanlyn met behulp van WordPress geskep. Omdat dit moeilik raak om daarmee tred te hou as dit op papier is. Hier kan ek dadelik veranderinge aanbring. Om dit gereeld op datum te hou. En maklik met ander kan deel.
Ek het die Engelse een gebruik om inskrywings te skep om my kennis oor die gebruik van tegnologie te deel. Hierdie een (Afrikaans) het ek vir Afrikaanse inskrywings uitgehou. Ek het al vertel dat ek pro-Afrikaans is.
Toe ons onlangs Qazaqstan toe getrek het, het ek my ervaringe hier in ‘n land waar die mense nie Engels verstaan nie, en waar hulle vir die eerste keer met Afrikaans deur ons te doen kry, in lang inskrywings op Facebook gedeel. En twee of drie spesiale vriende het my aangemoedig om ‘n reisjoernaal te skryf. Omdat hulle die stories geniet. Dankie Nico en Marinda en almal wat my aangemoedig het!
Vir my was die Facebook-inskrywings ‘n manier om my, as ek die dag te oud is, aan hierdie tyd te herinner. Drie jaar wat ons opoffer, ver van my geliefde kinders en kleinkinders. Want Facebook herinner mens mos aan wat op hierdie dag lank gelede gebeur het …
En so het ek my stories op Facebook deel, omdat baie gevra het dat ek hulle op hoogte hou.
Daarom het ek eers nie aan die voorstel gebyt nie. Blogs was nog nooit vir my ‘n opsie nie. Al moes my studente my aanlynleeromgewing vir onderwysers (Arend) gebruik om joernaalinskrywings te maak om oor hulle leerervarings te skryf. Aparte webwerwe soos WordPress het ek nie gaan uittoets nie. Hoofsaaklik omdat ek nie vriende wou vra om volgers te word nie. Vir my was WordPress dus onpersoonlik, ek hou van die terugvoer wat mens met behulp van hou van’s en kommentaar kry.
Ek het geen volgers gehad nie, tog het ek as gevolg van hulle aanmoediging ingespring en ‘n reisjoernaal begin.
En toe ontdek ek ‘n groep mense waarvan ek salig onbewus was. Ander bloggers. Afrikaans. Maar ook Engels. ‘n Groep wat hoofsaaklik uit vrouens bestaan, maar daar is ook mans. ‘n Groep mense wat my ondersteun, saamgesels en aanmoedig om meer te skryf. Mense wat nie beledigend raak nie, selfs al het ek al met my opmerkings oor Afrikaans op tone getrap.
Mense wat self blog en die wonderlikste stories vertel. Sommiges praat, soos ek, oor hulle eie lewenservarings, ander gebruik ‘n tussenganger (soos byvoorbeeld ‘n hond) om namens hulle te praat.
Behalwe vir Mia, my nuwe vriendin in Qazaqstan, en sommige van my Facebook-vriende wat my blog volg deur middel van die skakel wat ek in Facebook deel, dink ek dat ek al een van my lesers al in die regte lewe ontmoet het nie. Antwoord asseblief in die kommentaar as ek verkeerd is, ouderdom is ‘n snaakse ding.
Tog verwarm hierdie twee groepe mense my hart, die WordPress-volgers en diegene wat op Facebook kommentaar lewer. Ek geniet julle vriendskap, voel of ek op ‘n wolk loop. En, nou verstaan ek eers waarom ek vandag hierdie inskrywing wou maak. Om eers onbewustlik en dan doelbewus vir julle te vertel.
Julle is die soort vriende wat elke mens nodig het. Julle moedig aan, ondersteun wanneer dit nodig is en gee onbaatsugtige vriendskap. Elke mens het vriende soos julle nodig.
Diegene wat lees sonder om kommentaar te lewer, lewer asseblief vandag kommentaar. ‘n Hou-van is net so bemoedigend soos woorde. Sodat ek weet wie almal is. Hier of op Facebook.
Intussen sê ek vir julle almal baie dankie. Uit my hart! Ek voel geliefd.
Ons leer nog wat selfs ons kleinkinders ervaar as normale middele van kommumikasie 🙂 Ek stem saam met baie van wat jy geskryf het, alhoewel ek nie Facebook gebruik nie, en dink die mees positiewe aspek van sosiale media is hoe maklik ons met vriende en familielede kontak kan hou al bly hulle ver weg. Die Blog gemeente is een waar ek nou al so baie mense ‘ontmoet’ het en oor die jare leer ‘ken’ het en waar ek van so baie interessante dinge al geleer het.
LikeLike
Ek stem saam Anne, ek leer so baie van julle almal. Maar geniet die gemeensaamsaamheid die meeste. Is daar so ‘n woord?
LikeLike
🤗💐
LikeLike
Dankie vriendin!
LikeLike
Sjoe, ek het hierdie nou baie geniet.
Ek sien Facebook en WP nog altyd soos ‘n sitkamer in my huis. Wanneer mense by my lees en kommentaar lewer, is dit soos wanneer hulle by my kuier. Op hierdie oomblik kuier ek nou by jou terwyl ek by jou lees en kommentaar kewer.
Dieselfde ordentlikheidsreëls geld as in my sitkamer. Ek moet jou respekteer in wat ek doen en sê.
Tog kan hier maklik misverstande kom, maar in die gewone lewe net so.
Fb het my gered toe ek baie eensaam gevoel het. Ek us so bly jy blog saam. 😁
LikeLiked by 1 person
Dankie Toortsie, dit is hoe ek oor die bloggemeenskap voel
LikeLiked by 2 people
Soms wens ek ook dat ek meer positiewe terugvoer oor my gedigte kan kry. As ek egter in ag neem wat jy sê oor goor mense en hulle nydige kommentaar is ek nou bly mense wat my werk lees, swyg net. Dalk is ons ‘n skrywersgemeenskap op WordPress wat mekaar met respek hanteer.
LikeLike
Ek stem saam, gedigte. Lief jou werk, sal meer kommentaar lewer.
LikeLike
Ek kan nie na jou wensite gaan nie. Kan jy asb vir my link los?
LikeLike
Ek weet ongelukkig nie hoe nie. Sal probeer uitvind.
LikeLike
Dankie, dit wys fout by my as ek na jou wil gaan
LikeLike
https://httpafrikaansegedigte.wordpress.com/
LikeLike
Ek dreig dikwels om my raakpunte met jou uit te lig. Sal vandag: ook ‘n Tukkie, ook Afrikaans onderrig by Florida, ook Ouma, ook uit onderwys, ook lief vir naaldwerk, ook blogger…
LikeLike
Dit is baie raakpunte! Ek kan nie gedigte skryf nie, maar lief digkuns.
LikeLike
Hello dok
Ek geniet jou stories baie en lees dit altyd. Dit voel sommer of ek saam dok daar in die verte is.
Sosiale media kan baie gevaarlik wees ek stem saam en dis asof mense dink hulle kan enige iets kwyt raak sonder gevolge.
LikeLike
Ek stem saam, Petro. En baie dankie, ek waardeer dit baie
LikeLiked by 1 person
Hallo Christa,
Baie dankie. Jou skryfstyl en interessante beskrywings is lekker om te lees. Tegnologie speel inderdaad ñ massiewe rol in die veranderende wèreld waarin ons leef. Wat vir my interessant is, is dat ek nog papier wil lees as ek leer….al is dit dan net my eie opsommings…
Sterkte daar en nogmaals dankie.
LikeLike
Dankie Philip, ek waardeer baie. Dit hou my aan die gang hierdie kant. Mis my mense baie!
LikeLike