Gepubliseer in Joernaal

Galmende geweerskote langs die Vaal

Ons is by die rivier. Manlief het vir hom ‘n waterspuitmasjien gekoop en ons sou al ‘n vorige keer die huis begin skoonmaak het. Dit is nou na die groot vloed van Maart 2023.

Ons huis het toe 1.9 meter water gehad, in die huis. Buite was dit baie hoër, ons huis is baie hoër as die wal. En dan is hy ook gelig van die grond af. Dit was nie genoeg nie, die water was 1.9 m hoog van die vloer af in die huis.

Ver bokant my kop, maar dit is nie waaroor ek wil gesels nie.

Manlief lawaai vreeslik met die masjien, hoor niks wat buite aangaan nie.

Ek aan die ander kant hoor elke geluid buite terwyl ek aan my nuwe artikel werk. Ek weier om in die moddergemors te werk, ek maak genoeg skoon by ons huise. Daar was mos nie ‘n vloed nie, daar is skoonmaak my werk en vuil maak manlief s’n.

Hier rus ek, so in die een kamer van die woonstelgedeelte waarvan die mure nog nie skoongemaak is nie.

En toe hoor ek dit.

Geweerskote.

Ek is seker almal wat op plase bly se eerste gedagte is om te luister hoe ver dit weg is, of dit nader kom.

Want, ons bly mos in Suid-Afrika waar plaasaanvalle op ons ouderdom mense ‘n bykans daaglikse gebeurtenis is.

Die geweerskote het nog so ‘n ruk weergalm, maar nie nader gekom nie. Toe gaan vra ek of manlief dit gehoor het, en natuurlik of koeëls tot by ons kan trek.

Hy sê nee, maar ek het tog maar geskuif dat ‘n muur tussen my en die weergalmende koeëls is.

Manlief dink dit is boer en bobbejaan/aap wat in die oorlog betrokke is. Dit is mos amper oestyd en natuurlik feestyd vir die ape/bobbejane. Aangesien hulle nie vir die mielies betaal nie, moet hulle verjaag word. En klink my geweer is die beste oplossing.

Hoe wil dit my aan Afrikaanse stories herinner? Oues.

Dit laat my dink aan Elsabe se blog van vanoggend. Dat mens soms uit jou gemaksone moet beweeg. En aan die nuwe vervolgverhaal van die Goue Vrouens.

Julle, ek weet verseker dat manlief in die Kaap sou moes vassteek as hy die idee in sy kop sou kry om noordwaarts te trek.

Ek dink nie ek sou kans sien vir pad nie. Om aangeval te word. Siek te word, te sien hoe jou kinders siek word.

En ek dink regtig nie ek sou so half op my gemak gewees het dat dit ‘n boer is wat skote skiet nie.

Ek dink ek sou paniekerig geword het.

En waar kruip mens op ‘n ossewa weg?

Maar hier is ek, in die noorde en nie in die suide nie. Dus het ek wel oermoeders gehad wat die kans gevat het, die pad saam met hulle mans aangepak het. En wat ten spyte van alles oorleef het om ‘n nageslag in die noorde van Suid-Afrika te vestig.

My skrik vir die geweerskote kon nie naastenby so groot soos hulle skrik vir aanvallers, ongediertes en gewere gewees het nie. En tog het hulle dit gedoen.

Geloof, hoop en liefde, dit is na my mening wat hulle vrouemoed gegee het.

Met die Here as hulle enigste beskermer op die gevaarlike uittog.

Ek haal my hoed vir hulle af.

My hart sit in my keel al dink ek dat ons wel veilig is …

Dit is waarskynlik nie aanvallers nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Galmende geweerskote langs die Vaal

  1. Ek het nou die aand so elfuur agter my bank ingeduik toe hier 3 geweerskote afgevuur word! Ons is omring met woonstelblokke! Mens skrik jou jis af!

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.