Saterdag besluit ons om ‘n ander deel van die stad se strate te verken. Sommer naby ons.
Af met Kazakhstanstraat, verby die sentrale plein en regs af in die volgende straat, die een met die groot Telekom gebou op die linkerkanste hoek.
Ek wil in Koton in, maar manlief is traag.
Dit is vir vrouensklere. Vies stap ek vinnig deur om te sien wat ek daar kan koop en toe is ons saam oor die straat na die volgende gebou, Eurasia.
In hierdie gebou, op die tweede vloer (hulle 1ste) is ‘n winkel wat hoedjies verkoop. Die vrouens hier dra versierde pette, manlief weier dat ek so een koop. Die swarte, wat meer soos ‘n Russiese manspet lyk, trek ons albei se aandag. Maar die winkel is toe. Ons kan nie koop nie. Ek het dit die volgende dag gekry, lyk so.
Manlief het onder twee lyfbande gekoop met indrukwerk. Baie mooi! Daarna is ons na die gebou langsaan toe, nader aan Kazakhstanstraat. Zangar.
Daar sien manlief ‘n plekkie wat manspakke verkoop en hy het ‘n hemp nodig.
Ons kry met groot gesukkel reg dat sy verstaan ons soek 44 en ‘n half. Sy haal 46 uit die rak. Manlief beduie nee, dit is te groot. Sy wys oor haar lyf van styf pas en groot om haar maag om ons iets te laat verstaan.
Ons verstaan verkeerd en beduie ons soek 44 dan, die 46 is te groot. Woordeloos trek sy die gordyne van die aantrekkamer oop en wys manlief moet in en maak die 44 se pakkie oop dat hy kan aanpas.
Hy stry nie, ons het nie die woorde om te kan stry nie. Dit is daai soort hemde met al die ystertjies wat dit oral op plek hou en sagte papier tussenin. Ek sien sommer dié hemde gaan ‘n fortuin kos en gee die hemp vir manlief aan.
Dieselfde manlief wat pes om aan te pas en sy klere by Woolies koop want hy kan van rak af vat en dit pas. Hy kom uit met ‘n hemp wat te klein vir sy breë skouers is. Sy glimlag beterweterig, haal die 46 uit die sakkie, haal almdie ystertjies af en gee vir my aan dat hy weer pas. Hy pas en die hemp pas soos handskoen.
Hy trek weer sy hemp aan en kom uit. Sy wys die tweede hemp moet ook gepas word. Hy sê nee, hy vat 46 in daai een ook. Sy wys na die etikette, ek verstaan nie want ek kan nie lees sonder my bril nie.
Manlief is onwillig, maar hy is weer in om aan te pas. En ja, dit moes gepas word, die hemp is te klein. Rede? Hemde hier kom van Sjina, Europa en Engeland. En groottes is nie selfde nie. Mens moet pas.
Ons soek nog ‘n hemp en manlief kom uit die kamertjie en ek weet hy gaan nie weer pas nie. Die derde hemp moet net werk. Hy kies een en sy sien ook hy gaan nie weer pas nie en gee ‘n ander een aan. Sy brabbel en ons verstaan niks. Sy wys na die twee etikette en ons weet nie of ons nou moet koop of los nie.
Moedeloos soek ek so sonder die bril vir Google Translate om maar weer te help. Gelukkig kan ek net op die mikrofoon klik dat sy praat in plaas van tik.
Ek vra dat sy daar sê wat sy wil sê en Google sê sy sê die twee hemde word deur dieselfde fabriek gemaak. Die tweede een sal pas. As ons die ander hemp wil hê, moet manlief eers weer pas.
Sy is sommer baie tevrede toe ons lag en sê dat ons altwee vat. Die tweede een soos sy aanbeveel.
R1000 vir twee hemde, maar dit is regtig baie mooi! So is ons twee weer laggend uit ‘n winkel uit. En albei hemde pas perfek. Sy werk nie verniet in ‘n manswinkel nie. Sy ken hulle groottes, mens moet net vertrou.
Dis maar ‘n gesukkel met die taal! Lekker gelees.
LikeLike
Ek hou van jou parmantige pet. Dis ‘n bonus as die assistent weet waarvan sy praat, maar ek raak ook gou moeg vir diegene wat so om ny draai wanneer ek probeer besluit op ‘n kledingstuk. En ek hou niks van ‘n aanpassery nie.
LikeLike
Dankie! My man ook nie. Ek pas ook net aan waar hulle my uitlos, anders loop ek … Dit is maar een van daardie dinge. Ek koop min klere, maak liewer self. My masjien is egter by die huis …
LikeLiked by 1 person