My idee oor kersversierings vir altyd verander

Ek kon nog nooit verstaan waarom kersversierings gelyk het soos dit gelyk het nie. Wit bome met rooi bessies en groen bome met wit op die takke en kaartjies en versierings vol blinkers.

Tot ek gister die eerste diep sneeu in Ust beleef het.

Na die eerste sneeu in Ust-Kamenogorsk, ala Oskemen, begin val het, gaan my kersbome in Suid-Afrika presies so versier moet word.

Gaan ek bome soek wat nie spierwit of grasgroen is nie. Maar bome met wit op groen takke.

Met wit watte onder die bome om die sneeu voor te stel. Of dalk eerder dons? Want ek het gister daaraan gaan vat.

En dit het nie soos ‘n vaste stof gereageer nie. Die vlokkies het uitmekaar beweeg en in donsagtige stukkies grond toe geval.

Op my warm vingerpunte was geen vlokkies nie. Eerder yskoue sproei. Wat so vinnig soos die pyn van die steek van ‘n naald my vingers pienk begin kleur het. Van die ysige koue.

Iemand sê gister vir my dat sneeu die enigste natuurverskynsel is wat alles toemaak. Alhoewel mens met die stelling kan saamstem, moet ek ook verskil.

Want sien, die dennebome, lees kersbome, bly deur die ysige winter groen.

Staan met hulle arms wat swaar afgedruk word, deur die gewig van miljoene sneeuvlokkies wat daarop val. En as die wind waai, word hope van die sneeuvlokkies swewend die lug ingestuur. Blink soos diamantés. Wondermooi. Ek moes net ‘n video neem.

Sal mens dan kan aanneem dat die vlokkies so lig soos dons is as dit op die boomstamme lê? Ek weet nie, lyk tog of die bome swaar dra. Ek weet net dit is God se skepping.

God se skepping is wondermooi.

Ek kon nooit verstaan waarom rooi bessies deel van kersversierings is nie. Tot ek hier kom woon het. Behalwe vir die dennebome, het al die ander soort bome hulle blare afgesmyt.

Die een dag het ek nog foto’s van die kleureprag geneem. Die volgende dag het die wind soos die wolf se asem in die storie van die drie varkies geblaas en geblaas en geblaas en die blare dwarrelend aarde toe gestuur.

Om die bome kaalgat agter te laat.

Skuus, maar daardie stelling het my terugevat na somer op die plaas. En ons boom met kaalgatperskes. So genoem omdat daar geen hare op die skil is nie.

Hierdie bome het egter na die wind regtig kaalgat gestaan. Gereed vir ‘n ysige winter wat kom.

Wat my laat wonder of die eerste mense oor die hele aarde verspreid was. Want as hulle was, sou hulle wat die Groot Boek opgeskryf het, van mekaar kon verskil oor die klimaat in die hel.

Glo my, as ek nou een van die skrywers was, het ek my mening gelug. Dat dit amper ‘n groter straf sou wees om na ‘n ysige hel gestuur te word.

Ek dwaal af. Tussen die groen dennebome en die kaalgatbome staan kaalgatbome met rooi bessies!

Daarom moet daar voortaan ook trosse rooi bessies aan my kersboom hang.

Sodat die dons wat oor die boom gestrooi word, net so hopies op die trosse bessies kan maak. Om ‘n kersboom te versier, soos die Here dit hier in Qazaqstan self versier.

Sodra al die versierings hang, en die bome getooi is, waai daar ‘n wind, wat die vlokkies in die lug opswiep en dit soos diamanté in die sonlig laat glinster.

https://youtu.be/moO4tlL3_Wk

En glinsterend oor die sneeu op die grond laat land.

Dus moet my boom voortaan ook met blinkertjies bestrooi word. Om my daaraan te herinner dat die Here die kersbome hier in Qazaqstan presies net so versier.

Nooit sal ek weer kla wanneer die kersboom opgeslaan word nie. Voortaan sal ek met heimweë staan en kyk na die blinkertjies en dons wat opgesuig word. Om volgende kersfees weer gestrooi te word. Om my aan ‘n ondeurdagte stelling te herinner.

Seun en sy vroulief sou Desember kom kuier. En ons sou saam ‘n white Christmas gevier het. Toe besluit baba Van Staden om ons almal te verras. Sy mamma mag in haar toestan nie ver reis nie. En dit is baie, baie koud hier by ons. Mens vat nie kanse nie.

Dit is begin van die winter. En ons is vanoggend met temperature van -22 grade C ontmoet.

Mens vat nie sulke kanse tydens swangerskappe nie. ‘n Vriendin sê toe vir my hulle moet tog kom om ‘n white Christmas te beleef.

En ek antwoord dat ‘n wit kersfees overrated is, gedagtig aan die vreeslike koue. En die dik klere. En die aantrek in lagies om uit te gaan. En die afstroop van lagies as jy in plekke ingaan. Omdat mens van hitte-uitputting in geboue kan omkom in die klere. En bevrore kan raak buite as jy nie die klere aantrek nie.

Na die glinstervertoning van die ragfyn sneeuvlokkies gister, het ek skoon vergeet hoe ysig die sproei in my gesig vasgeslaan het. Hoe dit gevoel het of duisende duwweltjies teen my vel stamp.

Ek het die videotjie geneem. Om my altyd daaraan te herinner dat ‘n white Christmas nie overrated is nie.

Inteendeel, ek dink elke mens moet dit een maal beleef.

Om aan God se grootheid herinner te word. Maar veral om daaraan herinner te word dat hy kersbome gedurende kerstyd in die Noordelike Halfrond presies net so versier.

Soos ons voorouers dit uit hulle Europese verlede onthou.

12 comments

  1. Daardie bessies is uit ‘n ander wêreld. Die smeeu is fantasties.
    Ons gesin was so bevoorreg om twee jaar gelede ‘n white christmas te kon beleef. Ek stem saam dat ek dit vir almal gum minstens een keer in hulle lewe.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.