Gepubliseer in Joernaal

Drie begrafnisse wat ‘n lewenslange indruk gelaat het

Begrafnisse is vir my hartseersake. Selfs al moet ek gaan omdat my man die mense geken het, nie ek nie.

Ons het seker baie begrafnisse bygewoon toe ek klein was. Maar ek kan eerder die troues onthou.

Ek het baie nefies en baie niggies gehad en die meeste is ouer as ek. Dus het ons baie troues gehou.

Ek onthou egter drie begrafnisse in besonder.

Die eerste begrafnis wat ek kan onthou, was van my oupa. Dit moes in Vereeniging of Vanderbijlpark gewees het waar oupa begrawe is.

Ek was al op universiteit, die Fouries word baie oud. En manlief was al my kêrel, of my man? Ewenwel, hy was saam met my.

Mens het in mate ook uitgesien. Want al jou neefs en niggies was daar. En ons was baie. Ons was byvoorbeeld vyf Fourie niggies wat in een jaar verjaar het. As ek reg onthou, was dit ek en Rina van oom Hennie, Santie van oom Danie, Ansie van tannie Sannie (ok, sy het dan ander van gehad) en Rika van oom Piet.

Ek onthou die instap in die kerk na die groetery buite.

Daarna het my hart stil gaan staan.

Oupa se kis was op soort van ‘n staander in die voorportaal. En die kopstuk was oop.

Almal het gaan staan en vir oupa gekyk. Ek wou nie. Maar ek moes. Wou nie al die aandag op my hê as ek nie doen nie. En toe kyk ek. Wat ‘n fout!

Oupa se kop op ‘n kussing, sy oë toe agter die glas. Net toe ek weg wou draai, kan ek sweer, het oupa sy oë oopgemaak. En vir my geknik. So onthou ek dit.

Ek was lam van skok. Ek weet dit is onmoontlik. Maar dit is hoe ek dit beleef het. Ek kon nie luister wat die dominee sê nie, het soos lappop agter die kis aangestap in die kerkhof.

Nooit vir iemand vertel nie. Want wie sou my glo? Dit is wat ek van oupa Dawid se begrafnis onthou.

Tydens my jare as juffrou is ‘n paar leerlinge begrawe. Waarvan twee se begrafnisse steeds diep in my geheue ingebrand is.

Beide is uit dieselfde Engelse kerk begrawe. Beide se kiste moes by die voordeur wag, want die kiste word nie in die kerk ingebring nie.

Beide dogters was baie gewild. Voorbeeldkinders in my Afrikaanse klas.

Beide se ouers of familie het DJ Sammy se Heaven gekies om in die kerk te speel.

Ek het dit nie geken nie. Die eerste keer het al my armhare in die lug gestaan. Dit het gevoel of hulle in die kerk is. Saam met ons. En ek het my oë uitgehuil oor die twee kinders so vroeg weggeneem is. Die woorde het diep gaan lê.

Die tweede keer het ek probeer keer, geweet wat kom, en steeds my oë uitgehuil in die kerk.

Hierdie liedjie moet eendag op my begrafnis gespeel word. Al is dit Engels.

Ek het in my getroude lewe ook langs die grafte van my swaer, skoonma en skoonpa gestaan. Hartseer gegrafnisse, al drie is deur siekte weggeneem.

Ek het ook by die grafte van baie van my ooms en tannies en neefs gestaan. Groot familiebegrafnisse. Hartseertyd.

Tog is die drie genoemde begrafnisse in my geheue ingegrafeer. Oor die detail wat daarmee gepaard gegaan het.

My grootse vrees was altyd dat ek sal gaan terwyl ek nog skool hou. En dat daar nie plek vir my gesin sou wees nie omdat skoolkinders die banke volsit.

Ja toe, ek weet, dit is nie te sê dat een sou gaan nie. Vir my was dit net probleem dat ek daar sou wees en sou sukkel om hulle wat die naaste aan my is te sien.

Want sien, dit voel regtig vir my of die persoon wat begrawe word, daar in die kerk is om saam te groet.

Dit is tog die afskeid van die persoon?

Ek sal nie wil kyk wie van my vriende en groter familie daar is en wie nie. Daai pla my min. Ek is al gewoond daaraan om mense na my goed te nooi wat om een of ander rede nie kan kom nie.

Buitendien, kan werkgewers mense ook van begrafnisse weghou. Ek dink jy kan net gaan as dit baie naby familie was.

Ek sal net daar wil wees om my gesin te troos. Te laat weet dat ek veilig is waar ek nou is. En dat ek hulle lief het. En dat hulle altyd in my hart ingebrand is.

My lewe, my trots. My man my rots.

Ek weet ek is in hulle harte.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “Drie begrafnisse wat ‘n lewenslange indruk gelaat het

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.