Gepubliseer in Reisjoernaal

Drie brabbelgesprekke

Ons lag gereeld omdat manlief se werkers vergeet dat ons al ses maande hier is. En oorneem as ons iewers saam is. Om die uitlanders te help bestel of koop.

Want sien, hoe dink hulle kom ons daagliks oor die weg? Ek het al van vele van ons koopekspedisies vertel. Soos die aanpas van ‘n rok vir ‘n troue. En die koop daarvan ‘n dag later.

Dié week het ons drie interessante brabbelgesprekke gehad. En ek vertel dit net om te verduidelik dat ons wel verstaan al verstaan ons niks.

Vanoggend toe ek terugkom van my stappie af, keer die dame wat ons gebou se ontvangs beheer my voor. Ek moet wag. Sy het iets vir my.

Ek haal die een airpod uit om te hoor en sy kom om die glaspaneel met ‘n sakkie met twee pragtige, stywe tamaties, ‘n geel soetrissie en ‘n komkommer.

En sy praat en praat en haar stem gaan op en af en ek verstaan niks! Wat ek wel verstaan, is dat dit vir my is. Of ek net moet vat, weet ek nie.

Want sien, manlief het so week gelede met ‘n pragtige, lang pampoen en komkommers hier aangekom. En vir my gesê die tannie daar onder hou baie van my, sy stuur dit vir my.

Ek het lekker gelag. Ja, hoor! Nogal van my? Sy het dit vir hom gegee.

Later het hy gesê hy weet nie of dit verniet is nie. Ek moet gaan vra.

Ja hoor? Hoe vra ek dit? Vat ek saam om te verduidelik waarvan ek praat? Watter een van die drie vrouens was dit? Hy kon nie sê nie. Die drie lyk vir hom eenders.

Toe lag ek eers. Sommer so uit my maag uit. Dit is half waar, die Qazaq vrouens lyk half eenders. Donker hare, donker oë. Ek sou een kon wees, my oë is net groen. Maar sommiges het ook groen en blou oë.

Maar ons drie dames lyk glad nie na mekaar nie.

Die een is merkbaar groter as die ander twee. En die ander twee lyk ook nie dieselfde nie, een is grys en een het swart hare.

Aangesien hy nie weet watter een nie, is die probleem opgelos. Ek hoef nie te gaan praat nie!

Vandag keer die donkerkopdame my voor. En luister en hoor geen woord wat ek ken nie.

Verstaan uit die handgebare dat sy dit waarskynlik in haar eie tuin kweek. Hulle doen, almal wat in huisies bly het groenhuisies in die tuin.

Maar ek moet weet of ek moet betaal. Want ons twee is nie seker nie. Ek vra in my beste Russies Skolka? Hoeveel? En sy skud haar kop. Nee, gits, dit is geskenk verstaan ek.

Vir daardie geskenk sal ek baie betaal! Vars uit haar eie tuin.

****

Gister is ons Metro toe. Metro is amper soos Makro, behalwe dat mens in groot winkels en in klein winkels een prys betaal. Om kleinhandelaars te beskerm.

By die kassier sê ek in die laaste tyd hallo en nie meer zdrastwietje nie. Want dan verstaan hulle ek verstaan nie. Sy vra of ons karta het en ek sê vir manlief gee die kaart, die lojaliteitskaart. Sy lui alles en ek sê koebaai, ek wil loop. Maar sy keer my voor met ‘n pak kaarte.

Sprei dit op die toonbank oop. Ek is nog verstom, toe verduidelik manlief die logiese. Ek meot een van die kaarte kies. Ek kies en wil loop, maar nee, ek moet die silwer deel oopkrap. Onthou jy dit nog? Dit was altyd lekker, maar nie nou nie. Want sien, ek gaan nie weet wat op die oopgekrapte deel staan nie!

Ek gee die warm patat vir manlief aan. Hy kan oopkrap. Sy naels werk nie, dus haal hy munstuk uit en krap oop. Gee vir haar. Sy lyk ingenome en wys ons moet na die inligtingtoonbank gaan.

Ons het geen idee waarvoor nie. Die vrou vat die kaart, loop na ‘n koipeermasjien, sit die kwitansie en die oopgekrapte kaart neer, maak fotostaat, kom terug en haal vir ons twee glasbotteltjies van die rak agter haar af. Ons het geen idee wat dit is nie, bedank haar net en gaan.

Tuis aangekom sien ons dat dit ‘n soort bessiesap is. Nogal baie lekker. Ons gaan waarskynluk weer daarvan koop!

****

Manlief is mos eintlik die een wat van oorfone hou! Dus wou hy ook Airpods kry toe hy sien hoe baie ek van myne hou. Ons is ons net voor ons na Metro toe is, na ‘n ander winkel, Mechta (Mesta), toe om die tegnologie te koop.

Was eintlik sedert Sondag by drie ander plekke, Tecnodom, Sulpak en nog ‘n Sulpak. Hulle het nie. Volgens die een is Oskemen ‘m klein plekkie. Ek dink nie so nie. Mechta het, en ons wys dankbaar vir die Russiese verkoopsman dit is presies wat ons soek.

Maar die verkoopsman haal sy foon uit en skryf vir ons. Hy verstaan net Russies, maar hy kan help. Ons knik.

Daar is twee soorte, die een wat ons wys en ‘n duurder een. Verskil is so R500. Ons kies die goedkoper een, maar manlief besluit toe dat hy die duurder een wil vat.

Ons het geen idee wat die verskil is nie, neem net aan dat die ou in Nur-Sultan aan my die ouer weergawe verkoop het. Hy het vertel dit is generasie 2, maar dalk is daar ‘n 3 ook? En hy het niks van twee soorte vertel nie, net op die foon vertel dat dit die nuutste generasie is.

Tuis moes ek eers kom ondersoek instel. So kom ek agter daar is twee soorte Airpods 2’s, een in ‘n boksie wat deur middel van die wifi-toestelletjie laai en een in ‘n gewone boksie.

Myne is in die gewone boksie, dus is ek gelukkig dat die ou in Nur-Sultan my nie vir ‘n aap gevat het nie. Dit hoef nie met wifi te laai nie, ek het nie eens so ‘n toestelletjie om dit te laai nie. Buitendien, my handsak het plek vir draadjies om te laai, geen plek vir groot plate waarop fone gesit word om te laai nie!

Ek sou wel vies gewees het as hy Airpod 1 aan my verkoop het onder die indruk dat dit Airpod 2 is. Wie wil nou uitstap met die 2016-model?

***

Ons bly lekker, het pret, lag baie, maar ek verlang na my Schnauzers en my kinders en kleinkinders.

Ses maande is oor ‘n week verby, dan is daar nog baie maande oor. As ek egter in breuke tel, is verby, die ander sal seker ook so vinnig verbygaan? Intussen maak ons die beste van die geleende tyd in ‘n geleende land.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

11 gedagtes oor “Drie brabbelgesprekke

  1. Dit is baie goed dat jy hierdie joernaal oor julle ervarings skryf. Wanneer julle vir goed huistoe kom kan baie van hierdie herinnerings vergeet word.

    Like

  2. Genade maar dis n heel ander manier om te lewe. Ek glo goed dat hul onverstaanbaar praat. Hier is die Engels wat sommige ouens praat ook Griekse. Mens kan geen kop of stert uitmaak van wat hul sê nie. Dan het hul ook nog Maori wat in jou keel afgedruk word ook. Sug. Ek geniet jou stories baie, baie dankie dat jy dit hier deel.

    Like

  3. Dis so lekker om op hierdie Maandag oggend by jou te kom ‘kuier’ en te hoor wat julle nog gedoen het. Jy bring vir my ook bietjie ontvlugting, Christa, noudat ek nie meer my winkel het nie wil-wil die gewone huisvrou lewe my bietjie pootjie.

    Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.