Ek het toe die materiaal vir die romp en bloes gekry. En dit lyk my ek het te lanklaas klere gemaak. Want ek stap nooit uit ‘n materiaalwinkel sonder die regte kleur garing in my sakkie nie. Die keer het ek wel. Miskien omdat manlief saam was?
Toe moet ons Saterdag terug materiaalwinkels toe.
Die materiaalwinkel is Saterdae toe, dit het ek geweet. Maar daar is ‘n straat vol klein materiaalwinkels langs hom.
So is ek by elke deur in, die woord vir garing op my foon. Om te kan vra en te wys presies watter kleur ek soek met die lap in my hand. Goeie idee gewees, maar tot my skok kom ek agter dat die plekke materiaal verkoop, selfs knope en ritssluiters. En GEEN garing nie!
Ek en manlief dink toe ook daaraan dat ons alles in die groot winkel gesien het. Behalwe garing.
Toe ek by die agste winkeltjie instap, en ook die skouerophaal kry, is ek vies. Vra sommer in Afrikaans hoe stupid is dit om materiaal te verkoop sonder garing? En nie te weet waar ek kan koop nie?
Ek het by elkeen van die winkels gevra: Ghidee? Waar? En by elkeen ‘n skouerophaal gekry.
Die laaste vrou is vriendelik, kom saam met my uitgestap en wys doer in die verte met die vinger. Heel skeef oorkant die straat, maar ek neem aan dit is die hoek waarteen ek vir haar kyk. Ek was mos klaar daar? Die winkel is toe.
Moedeloos draai ons om en stap mark toe.
Mens kan mos enige iets daar koop? Want ons het gesien Green Bazaar is oop toe ons verbystap na die materiaalwinkels.
Wel, toe nie. Ons kon lamp vir lessenaar koop, met ‘n gloeilamp. Jippie, na ses weke in Almaty is ‘n plek oop waar ons die lamp kan koop! Ek sal later van die mark vertel. Maar nee, geen garing nie. En geen filter vir die lugbevogteraar nie. Die winkels soos Sulpak, Mechta en Technodom wat dit kan verkoop is so toe soos ‘n klei-os se watsenaam die afgelope ses weke. Soos my pa iets wat toe is beskryf. Watsenaam word net met ‘n drieletterwoord vervang.
Moedeloos stap ek kar toe. Die blou gaan maar met swart gare vasgewerk word. Ek is vies, manlief sê niemand gaan dit sien nie, mans kyk nie daarvoor nie. Vrouens doen, kap ek terug. En ek weet dit, dit is mos genoeg om te weet dat hier geknoei is.
Ons ry in die straat af, van die mark se kant af na ons straat se kant toe. Wat beteken dat ons in ‘n winkel vasry, waar mens links moet draai in ‘n ander straat in.

Net voor ons by die T-aansluiting kom, kyk manlief toevallig tussen die bome op die sypaadjie deur en sien hy wol en hekelgaring in ‘n winkeltjie. Hy weet ek is ongelukkig, soek parkeerplek en ry om die blok toe daar nie is nie.
Ons stap oor die straat na die winkeltjie waar hy gesien het. Ek is nie so seker hy het reg gesien nie, maar dit is die stap werd om te gaan kyk.
Ek stap in met die materiaal in my hand, maar sien net wol en hekelgaring en naaimasjiene. Geen garing nie. En ek is baie naby aan moedeloos, want die verkoopsdame trek net haar skouers op.
Jy weet, noudat ek daaraan dink, wonder ek hoe mense wat nie kan praat nie oor die weg kom met sulke onbehulpsame mense. Ek is seker hulle verstaan nie vingertaal nie. My gebare wat wys ek soek garing help niks. Sy gee my net ‘n dowwe kyk.
Dan sien manlief ‘n rak waar garing is. Massiewe tolle, die soort wat op omkapmasjiene kom en nie op my masjien gaan pas nie. Haar garinghouer lê en staan nie. Na aan moedeloos is ek toe die vrou kom om te help.
Veral toe sy omdraai en weer agter haar toonbank gaan staan wat reghoekig met myne staan. Ek wil omdraai en loop, maar sy wink my nader.
Vir die verrassing van my lewe.
Voor my op die tafel lê ‘n boek. Katakogus. Wat mens aan die soort laat dink wat haarkapsters gebruik om jou ‘n kleur vir hare te laat kies.
Met rye en rye fraaiings in verskillende kleure. Sy vat my lap en sit dit onder die bloues en toe besef ek eers wat dit is!
‘n Hele katalogus met verskillende kleure gare. Ek en sy is tevrede met die een wat pas, sy vat die kode, stap na rakke agter haar en haal my tolletjie garing uit. Perfekte pas.

Ek weet ek klink nou of ek niks gewoond is nie. Maar ek maak al jare en jare en jare lank klere. Elke keer moet mens self by die rakke staan, ‘n stukkie garing uitwurm en maar die een die naaste aan reg vat. Daar is nie soveel keuses nie.
En dit is die eerste keer wat ek ‘n katalogus kry met die garing. Om die perfekte kleur te kies.
Dit is nou wel nie my gunsteling garing nie. Ek hou van Ceralon, dit hou bykans vir altyd. Hierdie Ideal maak voel so bietjie lig in die broek. Maar vir nou is ek baie tevrede met my vonds.
Selfs as die groot winkel garing het, gaan ek steeds na myne effens skuins oorkant die straat loop. Om daar die presiese kleur aan te koop.
Geen geringe taak om garing te bekom nie!
LikeLike
Alles behalwe, maar so interessant.
LikeLike
Uiteindelik! Ek is so bly vir jou.
LikeLike
Dankie.
LikeLiked by 1 person
Wat ‘n gesukkel! Maar ek is beïndruk met die baie vasberade naaldwerkster! 👏👏👏
LikeLike
Lag ek nou lekker, ek kon nie rok koop nie, dus was maak al ander keuse
LikeLike
Wat is die geleentheid? Ons soek foto’s asseblief. Dit is nou letterlik ‘n rok met ‘n storie!
LikeLike
My 60ste verjaarsdag …
LikeLike
Mmmm…Dis goed dat jy jouself bietjie bederf vir die wonderlike mylpaal. 💙
LikeLike
Dit was stresvol, maar lekker. Dankie, Gedigte
LikeLike