Kaalvoet in die reën in Öskemen

Ek het net gister vertel dat die reën in Öskemen haarself nie met donderslae en weerlig aankondig nie. Toe bewys sy my verkeerd …

Hierdie lelikerige silo’s het daarna soos sierstene geskitter.

Dit het so gebeur. Ek en manlief sou Woensdagaand gaan uiteet het. Omdat dit moeilik is om parkeerplek te kry, stap ons gewoonlik na die restaurantjies om ons toe. Lekker goeie oefening en mens hoef nie oor veiligheid bekommerd te wees nie.

Dus is dit sommer opvangtyd terwyl ons stap. Dit het egter liggies gereën, toe besluit ons om tuis te eet en gisteraand uit te gaan. Gistermiddag het dit weer gereën, maar toe manlief tuis kom, was die weer oopgetrek.

Ons maak toe reg om uit te gaan. Ek besluit om met fyn sandale te gaan, is al so bietjie moeg vir die tekkieagtige skoene wat mens hier dra, saam met alles! Fyn rompe ook …

Met ‘n lang romp en ‘n dunnerige swart langmou t-hemp wat ek gister gekoop het. Omdat dit lekker koel is, besluit ons om nie baadjies aan te trek nie, maar ek gooi tog vir die wis en onwis my rooi sambreeltjie in my handsak.

Aangesien my dun Nike reënbaadjie die vorige dag sy werk goed gedoen het, wil ek dié ook saamvat. Maar manlief oortuig my dat die sambreel alreeds ‘n “over-kill” is.

So stap ons by ons gebou uit, onder deur die koepel van die gebou wat as straat na agter dien na die voorkant van die woonstelblokke. Oor die besige, dubbellaan Kazakhstanstraat na VIP Lounge, ons gunsteling restaurantjie in Öskemen.

Daar word ons met sagte hoenderborsies (hy) en sagte hoendersosaties (ekke) bederf. Ons gesels lekker, betaal en stap by die voordeur uit. Op die trappies voor die deur staan ‘n natgereënde man en sy seuntjie. Voor ons val die reën saggies aarde toe.

Ons besluit nog of ons gaan stap of nie, toe die weer een groot brom gee (darem sonder weerlig) en toe maak die sluise van die hemel oop. ‘n Rukwind pluk die bome voor ons se takke deurmekaar en waai die reën teen ‘n baie skuins hoek na die aarde toe. So sal mens sommer gou-gou sopnat wees.

‘n Paar vrouens kom om die hoek gehardloop en skaar hulle by ons skare van vier op die trappies voor die restaurantjie.

“Kom ons gaan in en drink koeldrank”, stel ek voor.

Maar manlief, wat nie hou van op sy spore teruggaan nie, sê net: “Nee. Die reën gaan gou oor wees en dan is ons reg om huis toe te gaan”.

Na ‘n ruk bedaar die wind en val die reën saggies aarde toe. Manlief sê ons moet gaan, ekke twyfel.

“Nee”, skerm ek, “my handsak gaan natreën en sy mag nie, sy is van leer.” Dit behoort te werk, want hy het dit vir my gekoop en hou daarvan as ek dit oppas.

“Dit is nie probleem nie, jy kan die sambreel gebruik, ek sal sommer so in die reën hardloop”, bied hy groothartig aan.

Dit is nou dieselfde man wat my baie onlangs langs hom laat natreën het toe ons in die stad was, hy mooi onder die sambreel.

“My sandaaltjies gaan rek as hulle nat word”, skerm ek. Hulle is van leer gemaak.

“Jy het mos ‘n sambreel”, daag hy uit. “Trek uit en dra dit ook in jou hande, so onder die sambreel.”

Die een kon werk, manlief weet ek het op ‘n plaas grootgeword.

“Gaan jy saam met my bad om warm te word nadat ons natgereën het?” vra ek.

Manlief haat bad, hy geniet stort. Spaar kastig water, maar ek twyfel want ek is seker as ek die bad se prop insit, gaan daar genoeg water wees nadat hy gestort het dat ek in ‘n bad vol water kan wegraak. Sy stort is buitendien so warm, dat die water net reg vir my sal wees as hy uiteindelik klaar gestort het.

“Ja”, is hy weer tegemoetkomend.

“Belowe?” troef ek weer, en hy is beslis. Ons gaan ‘n lekker lang bad vat as ons by die huis kom.

Nou ja kyk, ek het op ‘n plaas grootgeword en ek aanvaar die uitdaging. Ek het hom al soveel keer vertel hoe ons nie kon wag dat dit klaar reën sodat ons in die poeletjies kon gaan stap nie. Terwyl dit gereën het, het my ma botweg geweier. Weerlig is nie iets om mee te speel nie. Mens bly uit die water uit as die weer swaar is.

Ek aanvaar die uitdaging en hoor hoe die vrouens om my na hulle asem snak en in hulle taal begin praat. Ek hou nie van die aandag nie, pluk die ander skoen ook gou uit en staan gereed om my sambreel by manlief te vat.

Hulle het nie verstaan wat ons gesê het nie, maar hulle gesigte sê jy gaan dit seker nie regtig doen nie? Ek verstaan nie hulle taal nie, wens nou ek het, knik laggend, vat die sambreel en stap in die reën in.

Die eerste paar treë is heerlik. Die koue van die reën is verfrissend en ek trek my romp so effens op om nie in die poele water te sleep nie.

Öskemen se strate dreineer nie goed nie en word na die geringste reën of smelt van sneeu soos riviere. Die foto is vanoggend geneem, die wolkies lyk so mooi in die water.

Halfpad om die poel wat by die straathoek opgedam het, besluit ek om sommer deur te stap. Skop die water ook so effens dat dit om my voete skommel en speel. Dit is mos vet pret. Kaalvoet in die strate van Öskemen terwyl dit saggies reën.

Die mans in die motors by die verkeerslig kyk ook verstom vir die lawwe vrou met haar skoene en die punt van haar romp in die een hand en die sambreel in die ander een.

Ek lag, en begin soos ‘n wafferse Mary Popkins oor die straat stap. En toe besef ek waarom almal so verstom is dat ek kaalvoet gaan stap.

Dit is nie omdat ek kaalvoet stap nie, dit is omdat ek totaal gek moet wees om te glimlag terwyl ek kaalvoet stap. Die straat voel soos ‘n martelplank wat van spykers gemaak is. Noudat ek daaraan dink, dit is seker te verstane?

Hierdie teerpaaie word seker so nadat duisende winterwiele, of wiele met spykers in, daaroor gegaan het. Ek het tog al gehoor hoe dit klink as die wiele oor die teer gaan. Dit moet tog seker ‘n invloed op die klippies uitoefen?

Punt is, dit steek. Maak nie saak of ek klein of groot treë gee nie, dit steek. Dit is daai seer van op rotse by see stap wat vol gebreekte skulpe is. Hierdie hou net nie op nie. My glimlag bly opgeplak terwyl my oë plekke soek wat sagter lyk, maar onder die glans van die druppels lyk orals eenders, en glad nie soos ‘n martelblok nie.

En ek wens ek was nog ‘n kind. Dan sou ek hardop geskree het terwyl ek loop: “Ouch! Ouch!” Ek is amper seker dit sou help.

Die straat is breed en dubbeld, dit is een van die hoofstrate van Kazakhstan. Op die middelmannetjie is plaveisel, dus kan ek so effens rus, maar dan slaan die ander deel van die straat se robot na groen oor en moet ek weer aanstap. Gepynig. Die skoene kan nie nou aan nie!

Manlief, die pes, hardloop vooruit. Oor die parkeergedeelte en verdwyn net na die Da Vinci restaurant om die hoek. Vrouens wat van vooraf gestap kom, glimlag vir my. Sien ek simaptie in hulle oë? Ek het dit beslis nodig. My voetsole is so seer dat ek nie meer omgee waar ek trap nie. Elke tree pyn. Ek wil net by die huis kom. Manlief staan onder die koepel onder die gebou en wag. En hy lag vir my en ek is te seer om kwaad te wees. Of saam te lag.

Ek raas, weet jy hoe seer is dit? Hy lag harder en ons gaan laggend om die draai, ek deur die poel water want ek kan en op met die trappies in ons gebou in. En nou moet ek eers verduidelik wat expats en toeriste in Öskemen gaan my nie glo nie.

Al die woonstelblokke se ingange is aan die agterkant van die geboue, met winkeltjies se ingange aan die voorkant. Die ingange bestaan uit groot swaar ysterdeure en die deure gaan net oop as mens die regte kode indruk.

Binne ruik dit soos ‘n grot omdat die deel van die gebou nie sonlig of skoon lug kry nie.

Ons gebou het my dadelik aangetrek. Mens gaan met trappies op na wit en glas voordeure.

Dan gee jy ‘n tree of twee voordat jy weer deur ‘n soortgelyke glasdeur gaan. Voor jou is ‘n glasafskorting met ‘n vrou agter ‘n lessenaar. Daar is drie vrouens wat die pos beklee.

Een is nie so vriendelik nie, sy herinner my aan juffrou Rottenmeier. Die ander twee is vriendeliker, en een van hulle is die een wat Maandag bekommerd was omdat manlief per motor werk toe is en te voet vir middagete teruggekom het. Ek het die storie Maandag vertel.

Sy beman gisteraand die voordeur. Manlief “hallo” haar en ek “zdratswietje” want ek oefen die taal. Sy brabbel in haar taal en lag hard terwyl sy haar kop skud en vir manlief kyk.

Ek kyk waarom sy lag, menende dat dit sy sopnat hemp is. En toe lag ek net so hard soos sy. Manlief se bril glinster in die lig, die ene reëndruppels. In die hysbak vra ek hom om in die spieel te kyk. En hy lag lekker saam nadat hy van nader gekyk het. Die druppels is so baie dat dit sy visie beïnvloed!

So eindig nog ‘n dag al laggend in Öskemen.

Handsak droog? ✔️

Skoene droog? ✔️

Ek droog? ✔️

Manlief saam gebad? ✔️

Advertisements

14 comments

  1. Dit lyk dit het lekker gereën by julle, nes by ons. 🙂 Die silo’s lyk omtrent mooi soos hul skitter.

    Ma sê sy hou baie van daai tekkieskoene en sy wens hul wil hier ook sulkes verkoop. Dit lyk of dit baie lekker loop. 🙂

    Dis so lekker om in die reën te loop. Ek en ma doen dit baie maar dan loop sy maar met haar plakkies want die teerstrate is maar net so klipperig en sy het ook eendag probeer maar sy het heelpad ouch, ouch geloop en sê. Ek is slim en loop op die gras. 😀

    Siestog, dit moes baie seer gewees het vir jou maar jy is nes ma. Julle kan nog lag oor sulke goed.

    Julle ingang lyk baie mooi met die glasdeure. Ma het lekker gelag oor die juffrou Rottenmeier beskrywing. Sy sê nou dink sy baie jare terug. Sy was lief vir Heidi. 😀

    Ek is bly julle het die ete geniet en dat julle droog by die huis aangekom het, seer voete en al en ma sê ‘n bad saam manlief is baie lekker. Sy en pa doen dit baie. 😀

    Lekker daggie vir julle hoor. Baie nat soene van my af en Ma stuur baie groete. 😘😘😘😊💕

    Like

    1. Oe! En toe vergeet ek om te sê van die foto met die wolke in die plasse water. Ai, my en ma se breine werk partykeer nie lekker nie. 😅 Daardie foto is pragtig hoor! Ma sê dit sal so mooi skildery uitmaak. En ons hou baie van jou mooi, rooi sambreel. Dit lyk baie vrolik. Jou foto’s is almal so mooi. Baie dankie vir die deel en die lekker vertel. Ons geniet dit baie. 😀 💕

      Like

      1. Ag, dit ‘n plesier en Ma sê sy word nou vies dat hul nog nie daai teleport masjiene gemaak het nie want sy wil ook graag so paar hê. 😀

        Oeee, baie dankie. Ek love nat soene! Ek sal vir Ma sê, baie dankie en ja, dit lyk vir my ook so. 😀

        Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.