Gepubliseer in Reisjoernaal

Spoed waarteen wolke oor Öskemen verbytrek

Die lug bokant Öskemen verander so vinnig dat mens nie kan byhou nie. Tog kon ek vandag paar foto’s neem om dit te kan beskryf.

Die eerste foto is om 9:29 Qazaqstantyd geneem, dit is vier ure voor Suid-Afrika. Omdat ek toevallig by die venster uitgekyk het toe ek skoongemaak het.

Die wolkkombers het my aan die wolkkombers oor ons berg by Ruimsig laat dink. Toe ek een keer ‘n foto van ons wolkkombers in Ruimsig op FB deel, het iemand ewe snipperig vir my gesê dat dit nie ‘n berg is nie, al is die reeks se naam Magaliesberge. Ek moes volgens haar die Kaapse berg sien om te weet hoe ‘n berg lyk. Ek neem dus aan dat iemand vir my gaan sê die Kazakhstanberg is nie ‘n berg nie. Mag wees, maar hier praat ons van die berg.

Minder as twintig minute later was die wolkkombers oor die berg amper weg!

En nog vyf minute later was die berg skoon, maar die blougryskleur het, volgens my, koue voorspel.

Bokant my het die som gesukkel om deur die wolke te breek en ek het gewonder of die deeg vir die vetkoek sal rys. Maar dit het …

Onder in die straat het die water weer erg opgedam en toe ek weer kyk staan daar ‘n trok wat die water inpomp om dit weg te ry!

Ek moes net die foto neem. Ek het hier ook al gesien hoe sneeu weggery word en kan nie help om daaroor te giggel nie. Voel so verkeerd om water of bevrore water weg te ry om iewers anders te gaan verdamp of smelt en verdamp. Die kleure wat dit gemaak het terwyl die trok die water pomp, het my gefassineer. Iets soos ghries of olie moes in die water beland het.

Hier is ‘n video van ‘n kar wat deur die water kom ry het. Dit laat my aan daardie goggatjies dink wat op die Vaalrivier se water baljaar as ons op die boot is.

Of dalk laat die water my na ons boot by die Vaalrivier verlang.

En toe word dit oral grys. En sous dit die hele dag sodat baie meer water opgehoop het.

Vanmiddag laat staan die trok weer en pomp. Ek sou eerder slote grou om die water weg te voer. Maar nou ja, dan vat ek seker iemand se werk weg? En hier is almal trots op hulle werk.

Mia, my nuwe vriendin, en ek het die dag tevore al besluit ons gaan koffie drink by die fliekteater. En oor ‘n jaar wil ons gaan fliek en verstaan. Dus moet ek die taal vinniger aanleer.

Toe dit die hele dag reën, is die afspraak nie af nie. Ons maak soos die Kazakhs om ons en gaan steeds koffie drink. Ons trek net warmer aan, vat ons sambrele en weg is ons.

Kyk hoe oulik word die babas in hulle waentjies teen reën beskerm. Mia se Natasha is in die een met die rooi.

En nee, ons is nie laf nie. Almal loop so in die reën. Het lank gewag vir die somer en geniet die reën.

Niemand hardloop tot by hulle karre nie, hulle stap net. Al het hulle sambrele vergeet. Koes ook nie. Al is die reën so deurdringend dat hulle sopnat moet wees.

Hoe voel die somer? Ek wag nou lank vir die 40 grade Celsius somer, dit het nog nie gekom nie.

Dit is nou somer, Junie, Julie en Augustus. As ek moet sê, voel somer soos die Kaapse winter. Koud en nat. Daar is altyd ‘n wind wat waai en as dit gereën het, is dit ‘n koue wind.

Ek nooi Mia so in die loop vir pannekoek by ons. Maar eers moes ek kafee toe om melk te koop.

Tuisgekom word Thermie ingespan om pannekoekdeeg te maak. Toe manlief tuis kom, sê hy dat ek nie sal raai waarvoor hy lus is nie. Pannekoek!

Klaar gemeng. Hy moes dit net vir ons bak om hierdie reënerige Maandag saam met nuwe vriende af te sluit!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

4 gedagtes oor “Spoed waarteen wolke oor Öskemen verbytrek

    1. Dankie woordnoot! My vriendin Mia sê dit het soos Suid-Afrikaanse pannekoek geproe. Wil gedoen wees as mens in ag neem dat meel en eiers hier baie anders is. Die bruin eiers het ligte geel eiergeel en die eiergeel van die wit eiers is oranje.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.