Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

Ek sukkel in swaar verkeer …

Ons ry op die oomblik op die N1, rigting Vrystaat. Ons was skaars uit Centurion toe ons in erge verkeer vassit. Nog voor ons by Midrand was.

Ek hou niks daarvan om in sulke verkeer vas te sit nie. Terwyl ons teen ‘n slakkepas aangesukkel het, het ek gedink aan alles wat ek nog moet doen. En dat die tyd verbygaan.

Ons is weer op pad rivier toe, die keer om ‘n paar meubelstukke te kom haal. Want ons nuwe huisie is groter en ek kan na drie jaar in die stoor weer ‘n paar goedjies uitsoek om my nuwe huisie te gaan versier.

Op my Apple Maps het gewys dat dit nog so entjie druk gaan wees, daarna is die pad beter. En daar was ook die teken wat aangedui het dat dit ‘n motorongeluk was …

Onder die brug kom ons op die twee motors in die vinnige baan af. Die ene – ‘n klein blouetjie – het ‘n stamp teen die deur en kyk terug in die rigting van die aankomende verkeer. Voor hom lê ‘n groter motor – ‘n SUV – op die dak, sy neus in die rigting van die betonmuur wat N1-hoofweg se twee rigtings skei. Bo-oor twee bane van die hoofweg. Sy kattebak oop, die spaarwiel vreemd in die kattebak met wit plastiese sakke wat ook uitsteek.

Die beseerdes – of was daar dalk sterfgevalle ook? – reeds verwyder, die motors nog nie.

Aangesien die ongeluk in die twee vinnige bane is, kan ek raai wat gebeur het. Dit is mos ‘n inding van diegene in die SUV’s om skerp voor kleiner motortjies in te swaai wat die gewaag het om in hulle vinnige baan te ry.

Teen die regte spoed.

Want hierdie spoedvrate jaag teen die spoed van weerlig waar hulle slegs 120 km/h mag ry. Self moet ons gereeld padgee vir die padvarke, wat hulle ligte vir jou gooi om pad te gee. Die pad behoort aan hulle.

Ek het byvoorbeeld een keer na aan die dood van so ‘n geval weggery. Die swart man in die swart SUV het onder die brug by John Vorster afrit voor my ingeswaai en gerem.

Ek het 125 km/h gery, besef ek kan nie betyds stop nie en na links geswaai om ‘n ongeluk te vermy. In die mens wou ek nie vasry nie, ek kon net raai wat so ‘n mens doen as hy uit sy kar sou klim na die ongeluk.

My Volkswagen CC (Comfort Coupe vir diegene wat die motor nie ken nie), is gelukkig laag op die pad, groot en sterk. Sy het vir ‘n rukkie gewieg en gewieg en ek het my lewe voor my verby sien speel.

In die truspieëltjie het ek gesien hoe die ander bane se motors ‘n veilige afstand van ons twee af volg.

Die mal mens het in die vinnige baan langs my kom ry, hande swaaiende in die lug. Ek het hom totaal geïgnoreer, mens gee nie aandag aan mense wat vloermoere (tantrums) soos tweejariges gooi nie.

En toe doen ek wat ek die beste kan doen.

Rem eers versigtig en toe meer en deeglik, dat sy kar voor myne uitskiet sonder dat hy spoed vermeerder. Die gevaar vir eers verby. En toe hou ek die kar van agter af dop. Ek het geweet ek het voor twee keuses: Reguit aan op die N14 – my regte pad huis toe. Of links af op die N1 na Johanneburg se kant.

Ek het my flikkerligte aangesit, een vir een oor die bane na links beweeg asof ek op die N1 gaan afdraai. En die padvark het dit soos ek gedoen – ook na die linkerkantste baan beweeg. Toe sit ek weer my flikker aan asof of op die N1 gaan afgaan, om te sien hoe hy voor my op die N1 afdraai.

Seker gedink hy gaan my dan van die pad kan afdruk? As ek in die heel linkerkantste baan is?

En toe ry ek op die N14 reguit aan huis toe.

Daar is baie maniere om ‘n padvark te beheer. Hulle breins vrot so op daardie oomblik dat hulle nie logies kan dink nie.

Dalk het iets anders by hierdie ongeluk fout gegaan?

Dalk het die SUV na die vinnige baan oorgekom en die kleiner motortjie se spoed onderskat?

Ek is geneig om te glo dat die bestuurder van die blou motortjie onskuldig was.

***

En so kom ek by my rede vir dankbaarheid vir vandag. Dit gebeur soveel keer dat iets ons ophou, dat ons nie weg kom op die presiese tyd wat ons beplan het nie. En dan besef ons later dat God ons teruggehou het. Ons lewe is in Sy hande.

Vandag wou ons twaalfuur ry, maar toe kom ons eers naby eenuur uit die stad. Ons moes eers na ons ou huisie om die sleutels aan die baie opgewonde nuwe eienares te oorhandig. Manlioef wou eers by Pep komberse vir die meubels koop, toe kom ons nader aan halfeen as twaalf by ons ou huisie aan. Toe moet ons na seun toe om die waentjie te haak en my twee potplante wat agter gebly het af te laai.

Dus was ons so driekwartuur later op die stuk pad waar die ongeluk was. As ons ons “betyds” uit die stad gery het, was die waarskynlikheid groot dat ons deel van die ongeluk sou wees.

Dit was nog nie ons tyd om Huis toe te gaan nie.

Vir my lesers vir wie Gauteng en Johannesburg onbekend is, ‘n klein deeltjie van die hooffoto: Johannesburg se horison (skyline) van Midrand se kant af op die N1.

Daardie grootste gebou regs van die lamppaal en ver op die horison is Sandton City, die grondgebied daar is die duurste in die hele Suid-Afrika. Dit is ‘n baie duur hotel wat daar uittroon, met ‘n baie duur winkelsentrum daaronder. Links voor op die horison is die middestad van Johannesburg se hoë geboue. Soos in die geval van die meeste stede is die middestad van Johannesburg vervalle, gevaarlik selfs om daar te gaan stap of inkopies te doen. Hulle is besig om die middestad te restoureer, maar ek wonder of mense dit regtig gaan waag om weer daar te gaan inkopies doen. Daarvoor het die stad heeltemal te veel ander, veiliger inkopiesentra.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

19 gedagtes oor “Ek sukkel in swaar verkeer …

  1. Hi Christa, so baie verwoesting op die snelweg! Dit herinner aan toe ek gebruik om te ry professioneel semi-trekker sleepwa vragmotors en gevang kry in die massiewe verkeer grid lock soms vir ure as daar was’n ongeluk of net die ergste rush uur verkeer rondom die groot metropolitaanse stede! Ek is gelukkig om nie te doen wat werk vir’n lewe nie meer as sy te stresvol en vermoeiende veral wanneer 60 uur per week!
    Ek hoop jy reis gaan beter of miskien het jy nie nodig het om te wees op die snelweg tydens die besige ure!
    Hoe hou jy van jou nuwe meubels?
    Baie seën vir jou en jou man toe uit op die paaie ry!
    Lawrence

    Liked by 1 person

  2. Wat ‘n harige ervaring! Hoe lank voor al jou ou goed by jou nuwe huis is?
    Ek het vriende van Johannesburg. Ons Dokter is ook van daar maar sy vertrek om in Ouetehuise te gaan werk. My vriende, Alice en Rob, kom van Jo-burg, soos hulle sê, Alice is ‘n verpleegster. Dit lyk of medici jou verlaat om hierheen te kom. Ek dink ons ander Suid-Afrikaanse Dokter moes terug Kaapstad toe om vir haar ma te sorg.

    Liked by 1 person

    1. Ons dokters verlaat die land, veral na joune, maar daar is toif dokters wat bly. Omdat hierdie land ons land is. Regtig van Jo’burg? Die Engelse praat baie so, die Afrikaanse mense praat die meeste van die tyd van Johannesburg.

      Like

  3. Dit is waar. Baie van ons land se bestuurders is arrogant en ongeskik. En dit word al hoe erger. In ons dorp is wettelose bestuur oral.
    Ek glo ook dat ons beskerm word teen iets as ons iewers opgehou word. Dit help dan sommer baie dat ek myself nie opwerk daaroor nie. Ek word mos eintlik teen iets beskerm…

    Liked by 1 person

  4. Net genade… en baie bly dat julle veilig is. Ek is geduldig, maar dis nie vir my lekker om in Johannesburg, en omgewing, te bestuur nie. Mens kry dikwels die gevoel dat almal laat is en die aggressie is duidelik sigbaar. Te veel motors vir te min paaie.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.