Twee anderste-eenderste verjaarsdae na mekaar

My lewe deur verkies ek om op my verjaarsdag saam met my geliefdes te wees. Toe ek nog in die huis was, saam met my ouers en susters. Daarom was my eerste verjaarsdag op universiteit vreeslik vaal. Hulle was ver weg in Ermelo en ek was in Pretoria.

Vandat ek manlief in my tweede jaar ontmoet het, het hy gesorg dat hy altyd daar is as ek verjaar. Na die geboorte van ons kinders, was ‘n verjaarsdag onvolledig sonder hom en die twee aan my sy. En sedert ek aangetroude kinders en kleinkinders het, is hulle ook deel van my groter wordende verjaarsdagpakket.

So nou en dan ruk manlief die dam onder die eend uit. En verras hy my met vriende vir my verjaarsdag. En moet ek voorgee dat ek dit geniet. Ek verkies egter om die een dag per jaar net saam met my te gesin te kuier.

Verlede jaar het daar egter ‘n keerpunt gekom.

Manlief het besluit dat ons my verjaardsdag in Dubai gaan vier, maar ek sou my kinders die dag na my verjaarsdag sien. Dus was dit nie vreeslik erg om nie op die dag saam met hulle te wees nie. Toe het ons nog nie geweet wat die volgende een vir my sou inhou nie. Dat ek weer aan die verkeerde kant van die ewenaar gaan wees nie. Met die verskil, ek bly nou hier. Dus kon ons nie Augustus weer huis toe gaan nie. Ons het wel per video’s gekuier en my kinders het my verskriklik verras toe alweet huisgesinne vir my gesing het. Dogter en die kleinseuns. Seun en sy vroulief.

Om die seer weg te kry om nie saam met my kinders te wees nie, skimp ek toe om na Nur-Sultan, hoofstad van Qazaqstan, geneem te word. Anders is ons tweetjies so alleen tuis. En sonder dat ons dit so beplan het, het hierdie laaste twee verjaarsdae so erg ooreengekom dat mens sou sweer dat ons twee beplan het om Dubai te repliseer.

Vergun my net om twee belangrike verskille uit te lig, dat meer.

Toe het ons ‘n week vakansie gehou in ‘n groot stad met moderne geboue van ‘n piepklein landjie wat aan ‘n see grens. Nou bly ons in die negende grootste land op aarde, met ‘n klein gedeeltetjie wat aan ‘n see grens. Die inwoners van hierdie land verwys egter agter die hand na Nur-Sultan, die hoofstad van hierdie land, as Klein Dubai weens die moderne geboue wat opgeskiet het vandat hierdie stad die hoofstad geword het.

In Dubai is die mense ook onverstaanbaar, hulle praat Arabies, maar hulle verstaan darem Engels. Hier praat die mense Russies en die meeste van hulle verstaan Engels net so min as Afrikaans.

So, laat ek bietjie die ooreenkomste tussen die twee verjaarsdae uitlig.

Verlede jaar het ons die aand voor my verjaarsdag in Atmosphere geëet, ‘n baie, baie duur restaurant op die 125ste vloer van Burj Khalifa, die hoogste gebou in Dubai.

Dalk steeds die hoogste in die wêreld. Dit was skokkend oor hoe vinnig die hysbak mens opneem. Terwyl ons vir die een gewag het wat ons weer af sou neem, het dit soos ‘n vliegtuig geklink wat opstyg. Ek het onwillekeurig weg van die hysbak gestaan. Dit was so duur dat ons net cocktails en slap chips kon bekostig. Maar hulle het die bakkie met lekkergoedjies die hele tyd vol gehou. Die ervaring het vir die gebrek aan kos opgemaak.

Ver onder ons het die Dubai fonteine, motors en ander hoë geboue soos speelgoed gelyk, mense was so klein soos miere en het soos punte ver onder ons beweeg.

Daardie wit goedjies op die blou is groot toeristebote wat mense nader aan die fonteine neem. Die swart lyne is die fonteine.

Ons het ‘n 360 grade uitsig oor Dubai gehad om foto’s te neem. Asemrowend. Plat aarde waarop die stad gebou is, met ‘n woestyn wat aan die buitewyke wag.

Vanjaar het ons, op my verjaarsdag, by Vechnoye Nebo of Eternal View in Nur-Sultan geëet. ‘n Uzbek-restaurant. Nie in die hoogste gebou in die stad nie, maar die restaurant is wel op die hoogste vlak, die 25ste vloer, van die gebou.

En dit ht ons langer geneem om die 25 vloere op te gaan as wat dit in Dubai geneem het om tot op die 125ste vloer geneem te word!

Ons kon ons trommeldik eet omdat uiteet in Qazaqstan nie ‘n arm en ‘n been kos nie. En hulle is nie skaam met porsies nie, my sop was genoeg vir ‘n tafel. Daarom was ek reeds oorvol toe die salm opdaag.

Net soos in Dubai, kon ek 360 grade foto’s van die hoofstad van hierdie land neem. Asemrowend mooi!

Daardie wit toring is die Beiserektoring. Daar word beweer dat die vorige president, Nur-Sultan, die prentjie in ‘n restaurant op ‘n servet geteken het om vir die argitek te wys wat hy moet ontwerp. Ons was die volgende dag daar bo, dit is pragtig om die stad van daar te bewonder. Ek sal foto’s op my Instram deel: Handvatsel cvanstaden.

Vanaf ons restaurant kon mens sien dat hierdie stad, net soos Dubai, op ‘n plat aarde stuk aarde gebou is, maar dit word deur lowergroen lande aan die buitewyke omring. Die mense en geboue lyk ook nie soos baie klein speelgoed nie.

Manlief het my verras met kaaskoek met die getal van my verjaarsdag daarop. En kelners het, soos in Spur, vir my kom sing. Ek wou onder die tafel inklim oor die spesiale aandag omdat ek baie skaam is as dit my pas. Maar manlief was so trots op wat hy gereël het dat ek die gebaar met ‘n grasieuse glimlag oorleef het. Kry mens so iets?

Verlede jaar het ons my verjaarsdag op ‘n toeristeboot op een van die kanale in Dubai gevier en dit het met ‘n dinee gepaard gegaan. Dit was vreeslik lekker. Manlief het vooraf vir ‘n koek op die boot gevra en ons was nogal vies toe ons sien dat die koek op die nageregbuffettafel staan. En op was voor nog voor ons kon proe. Sonder die kersies en foto’s vir die kinders.

En toe verander die musiek, dra ‘n kelner ‘n boks na my tafel toe, steek die kersies aan en sing vir my. Met die dinee se gaste wat saam Happy Birthday sing. Ek het so sleg gevoel dat ek vir hulle oor die koek op die nageregtafel kwaad was dat ek sommer mooi gewys het hoe ek van die gesing gehou het …

Vanjaar het ons die dag na my verjaarsdag ‘n toeristeboot in Nur-Sultan opgespoor. En die stad van die rivier se kant af gaan bewonder. Anders as in Dubai, is Qazaqstan nog nie vreeslik op toerisme ingestel nie, daarom was dit vreeslik lekker om die bederfie op te spoor.

Met groot gesukkel vir die taxi-bestuurder verduidelik wat ons soek. Ons het die rivier gesien, ons het groot bote gesien, maar ons het nie gesien dat hulle toeriste hanteer nie. Dus het ons nie geweet of ons per boot op die rivier kon vaar nie. Hy het verstaan en ons presies daar waar die toeristeboot die mense op en af laai gaan aflaai. Min mense weet daarvan omdat dit nie geadverteer word nie, dus is hulle lekker verbaas as ons hulle van ons ervaring vertel.

Hierdie brug laat mens aan die mooies in Dubai dink.

Verlede jaar is ons in die week voor my verjaarsdag per bus na Abu Dhabi toe gegaan, ‘n hoofstad van ‘n ander land wat net so 100 km van Dubai af is. En as deel van ‘n toergroep, moes ek en manlief saam met die groep daardie swart en wit gewade aantrek om in die moskee te mag gaan.

Dit was belaglik warm, Dubai en Abu Dhabi is baie vogtig en baie, baie warm in die somer en die swart gewaad en swart hooftooisel het my soos ‘n vendusie-os laat sweet. Hoe skryf PG du Plessis in sy storie oor net-pryse, hulle het in die son in die winkelsentrum gesit en fotosinteer? Wel, as ek ‘n blommetjie was, het ek ook gefotosinteer.

Manlief het so koel soos ‘n komkommer in sy wit gewaad gelyk. Ek sou ‘n rebel in hierdie Arabiese lande gewees het. Manlief kon die swart dra, dankie, ek vat die wit. My kopdoek wou nie op my hare bly nie en ek het die hele tyd in Arabies raas gekry, maak jou hare toe!

Toe ons deur die sekuriteitshek is, het ‘n baie verbaasde manlief my handsak gekry. Ek het so in die loop na die bus die lang swart rok oor my kop gepluk, my hare reggeskud en in my kort rompie verder gestap. Niemand sou my ‘n oomblik langer in daardie swart rok kry nie. ‘n Hele klomp geskokte gesigte gesien, maar basta met hulle. Die marteling in daardie groot moskee se erf sonder bome was genoeg. Dankie!

Vanjaar het ons twee weke na my verjaarsdag, per vliegtuig na Almaty, die ou hoofstad van Qazaqstan gereis,so 1000 km vanaf ons en Nur-Sultan, in ‘n driehoekformasie. Ons het die aand saam met vriende in ‘n tradisionele Uzbek-restaurant gaan eet. By ons raak dit herfs en as die son weg is, is dit regtig koud. Ons twee het niks warms saamgevat nie.

Hier bied die kelners kombersies aan en ek het gaan vra of ons nie asseblief kombersies kon kry. Was ons baie verbaas toe ons tradisionele jasse aangebied word!

Lyk ons twee nie alte fraai nie? Dit is tradisionele drag, ek vermoed ek gaan vir my en manlief elkeen een laat maak voor ons teruggaan. Om ons aan hierdie land te herinner. Net so terloops, dit was glad nie warm jasse nie.

Ons het, toe ons daar aankom, gesien dat mense aan een van die tafels die jasse dra, maar ons het gedink dat hulle iets vier.

Toe ek later die aand gou my neus gaan poeier, keer ‘n gryskop man, wat my baie aan Dozi herinner, my voor.

Dit het vreeslik lawaai, ek kon nie mooi hoor nie omdat sewe vrouens besig was om tradisionele danse uit te voer. Ek het verduidelik ek verstaan nie en toe vra hy Engels of Duits? Volgens hom het ek vir hom die hele tyd vreeslik mooi en professioneel gelyk. Hy het gewonder waarom ek die mooie jas dra. En kyk, toe kry hy ook ene. En daar staan ons in ons jasse en spog!

So van tradisionele danse gepraat, noudat ek daaraan dink, is ons ook in Dubai met tradisionele danse vergas. Op die boot. En ook toe ons in die woestyn gaan eet het!

So van die woestyn gepraat, ek het my lam gelag in die kar op pad na die plek waar ons sou eet. Ons is per vierwielaangedrewe kar daarheen. Amerikaner en manlief aan weerskante van my, sy Amerikaanse vrou voor by die bestuurder en agter ons twee jong, maer Duitsers.

Die bestuurder van die 4×4 wou ons eers op die sandduine bang ry. En glo my, hy het dit reggekry, my hart het in my keel gesit. Aangesien ek in die middel gesit het, sou ek deur die voorruit vlieg as iets gebeur. Die twee mans langs my sou nie keer nie, elkeen het vir sy eie veiligheid gevrees.

In plaas daarvan om te skree, het ek die hele tyd gelag. Want die twee outjies agter my het soos meisies geskree. Hoe kon ek met hulle meeding?

Ek glo dit is soos op daardie boot van God Reef City, vir die wat agter sit is die ops en afs seker erger as vir die wat in die middel sit? En antuurlik vir my, sonder die beskerming van ‘n sitplek voor my.

Verlede jaar het ons besluit dat ek nie weer van my kinders weg gaan wees as ek verjaar nie. Ek mis hulle te veel. Nie in ons wildste drome het ons gedink dat ons ‘n jaar later drie vliegtuie nodig het om by my kinders uit te kom nie.

Maar ek kan nie kla nie, kan ek? Dit was tot in die afgrond bederf saam met manief. Die twee verjaarsdae!

Foto’s: Myne, geneem in Dubai, Abu-Dhabi, Nur-Sultan en Almaty Augustus 2018 en Augustus 2019.

13 comments

  1. Heerlike ondervindinge waaroor jy op die ouetehuis se stoep kan lag. (Dis my dogter se uitdrukking – “Ma, kom ons maak memories waaroor ons eendag op die ouetehuis se stoep kan lag”). Ek is mal oor die jasse, maar dalk moet ‘n mens ‘n langmoudingetjie saamdra in jou handsak.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.