Gepubliseer in Joernaal

So raak ek toe van miere ontslae …

Ons nuwe blyplek se twee badkamers was vol miere. Hulle was nie daar toe ons kom kyk het na die huis nie. En ek kan ook nie onthou dat hulle die eerste dag daar was nie. Maar, toe ons die tweede dag en daarna in die badkamers kom, is hulle oral.

In die baddens. Op die rand van die baddens. In die wasbak, teen alle pype. Oral. Selfs op die toiletpapier. Sodat ek die een altyd moes wegsteek. Om nie ‘n mier iewers te kry nie.

Al voel ek soms of ek miere juis daar het, verkies ek die gevoel bo die realiteit.

As jy lank genoeg stilstaan, voel jy die sagte beweging van ‘n mier op jou arm. Want hulle het selfs hulle pad na die handdoeke gevind.

Ek het nie kar hier nie en dit voel beslis ook of ek nie een hierheen gaan bring nie. Buite die veiligheid van my huis verkies manlief dat ek saam met hom ry. En ek laat dit begaan, want ek raak verskrik vir Kuruman en hierdie omgewing. Dus kon ek nie net gou dorp toe gaan om Doom te koop nie … as dit sal help.

So gesels ek met skoondogter toe sy bel. As ek nou baba gehad het, kon ek babapoeier gooi. Maar ek het nie babapoeier nie.

Sy sê dat dit nie baie gaan help nie, babapoeier is vir motte as ek reg onthou. Ek moet daardie wit poeier strooi waarmee mens staalpotte blink skuur.

Nie een van ons twee kon op die naam kom nie, al het ek met Vim (Wim?) grootgeword.

Self het ek dit nog nooit gekoop of gebruik nie.

Dus het ek ook nie Vim in die huis nie.

Volgens skoondogter het sy een keer gestrooi en die miere in hulle nuwe huis was weg.

Skoonveld.

Om nooit weer terug te kom nie. En hulle bly nou al amper twee jaar in hulle nuwe huis.

En natuurlik Nip It. Die gif waaraan ek al my kinders voorgestel het en toe vergeet ek self daarvan. Dit sal beter as Doom werk.

Ons het miere in ons huis in die stad gekry. Toe strooi ek die gif vir die miere. Dit lyk mos soos beige worsies. Piepklein.

Die miere het vir my soos petroltrokke gelyk wanneer hulle loop met die beige worsies, reguit gat toe om vir die vet koningin te voer wat hulle misbruik om haar vuil werk te doen. Dit het my sleg laat voel dat die miere – wat so hard werk – my gif in hulle nes indra om almal te laat vrek.

Maar, miere in ‘n huis is ‘n onaangenaamheid.

En hulle verstaan nie, dus kan ek nie verduidelik waarom hulle moet weggaan nie.

Ek en manlief is na die koöperasie waar ek Nip It gekoop het en toe na Pick n Pay – een van die winkels wat ek beslis nie baie gaan besoek nie – om Vim te koop. Ek kon nie Vim kry nie, maar skoondogter het Pick n Pay se produk gekoop. En toe kies ek die Potpouri geur\.

Ek het die wit poeier, wat heerlik ruik, dik in die badkamers gestrooi, sommer so bo-op die miere. En moedeloos gekyk hoe hulle verder stap. So onder die poeier.

“So much vir die skuurpoeier.” het ek gedink.

Toe ek later gaan kyk, is daar min miere, hulle het pad gegee.

Manlief het gesê ons moet die poeier so twee dae laat lê, net vir ingeval.

Maar toe nooi hy die mense oor en maak ek dit na ‘n dag en ‘n half skoon.

Om ‘n dag later steeds mierloos te wees.

Ek sal later weer hier kom verslag lewer, maar sover werk die eksperiment.

Die miere het besluit my huis is nie hulle huis nie. En ek moet bieg, ek is so dankbaar daaroor.

Want my hart pyn as ek ‘n mier moet doodmaak in my huis.

Hulle het self besluit dat my huis nie meer hulle huis is nie.

Die poeier was mierloos toe ek dit opsuig. Of dalkies het die poeier hulle uitgedroog? Ek weet net dat ek nie dooie miere gesien het nie. Die poeier het skoon gelyk, wat my gewete sus.

Ek kan net uitroep: “Halleluja, die miere is weg.”

Volgens die vrou wat gister hier gekuier het, plak die poeier aan hulle bene vas. En hou hulle net mooi niks daarvan nie. Dit is blykbaar waarom hulle besluit het om my “vuil” huis te verlaat!

***

Laat ek verduidelik waarom ek – wat my eie kar het – nie hier wil bestuur nie. Ek voel nie veilig in hierdie wêreld nie.

Ek het mos veilig in Kathu gevoel. Wel, ek was baie verkeerd. Gister kuier my man se een kollega en sy vrou hier. Sy bly nou so amper ‘n jaar saam met hom in Kuruman. En hulle vertel ‘n ding wat my hare laat rys!

Verlede week het ses mans – volgens hulle Nigeriërs – ‘n vrou in Kathu gegryp en in ‘n kar geprop. Gelukkig vir haar het mense dit gesien, die kar gevolg en die polisie op hoogte gehou van waar hulle is. Sy is gekry, maar my hart het ‘n skrik gevang wat nie maklik weg sal gaan nie.

Ek bly dan maar eerder in my huis. Hier kan ek baie doen – selfs 30 minute stap om oefening te kry. Maar alleen wil ek nie in die strate wees nie. Want ek word gewaarsku om versigtig te wees.

Ek mag nooit my deure laat oopstaan nie.

Daaraan is ek darem gewoond.

Al die deure van my huis moet altyd gesluit wees. My huiswerkers – toe ek nog gehad het – het dit geweet. Hulle kon kies – óf hulle hou die deure toe óf hulle soek ander werk. Want een ding weet ek verseker – in my eie huis moet ek veilig voel.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

22 gedagtes oor “So raak ek toe van miere ontslae …

  1. Hoe het Dave Pepler gesê? Die stomme gied soek water om te drink. Ek glo asn die babapoeierraad, maar dit lyk my dit werk nie altyd nie. Ek sal beslis jou Zip It raad onthou. En die Vim.

    Liked by 1 person

      1. Ons het in die ou plaashuise die probleem met rysmiere in die mure. Ek weet dat my neef iets ingooi wat hulle dan in die nes indra. Het nooit die naam geken nie. Ek sal dit beslis onthou wanneer ons dit weer nodig kry.

        Liked by 1 person

  2. Die Oom gaan nou dadelik PickNPay toe moet ry vir Vim!! Ons sukkel weeer met termiete. Skynbaar is Montana Park waar ons bly, die area met die hoogste termiet populasie in Pretoria…. hulle bou binne minute neste sommer in die paadjie by die voordeur. Wens ek kon van hulle ontslae raak. Is so bang die balke gee in want hulle trek mos in die hout in. Wil nie graag doodgaan agv houtbalk op my kop nie!

    Liked by 1 person

  3. Dis aaklig om so geslote te leef. Die bliksems het gisteraand oor ons laagste hoë muur geklim en die grassnyer en wheateater se drade afgeknip. Uit die werkkamer onder die huis. Mens wil wonder hoe die bliksems geweet het die knip werk nie lekker nie.

    Liked by 1 person

  4. Dit is regtig sleg dat dit algemeen moet wees om agter geslote deure te lewe en nie net sommer te kan hop en ry nie. Dit hou jou gevange in jou eie huis en dit is tog nie lekker nie. Ek moet ssê vandat ons hier in Suriname woon, was ek aanvanklik bang (want die omgewing lyk soos daai areas wat jy in Suid Afrika moet vermy) … maar met tyd? Ek is gladnie bang nie, niks alarms nie. Covid het armoede verhoog, en armoede verhoog kriminele aktiwiteite, maar sover in ons klein Gated Community voel ek tog veilig. Dit is regtig ‘n wonderlike gevoel. Ek hoop regtig nie dat jy in angs en vrees lewe om jou neus by die deur uit te steek nie. 😘

    Liked by 1 person

    1. Dankie, hoor. Dit is baie sleg, want in Kazakhstan kon ek beweeg soos ek wou. Arm mense, maar roof en steel is nie deel van die pakket nie. Trotse mense, met ‘n regering wat nie speletjies maak as jy roof, steel of verkrag nie.

      Like

  5. Sjoe! Wat ‘n belewenis vir die arme vrou! Hier is ook ‘n baie jong meisie deur ‘n polisieman vermoor!! Vars in die nuus vandag. So sad.

    Oor Vim – ek het daarmee groot geword en hier by ons is ‘n winkeltjie met die Omie van SA – al oor die 40 jaar hier en praat Afrikaans – al is hy ‘n Engelse SAner – hy ken so bietjie, maar baie trots om dit te kan praat en raai wat, hy het Vim verkoop! Toe hy my se dat die fabriek in Duitsland (ek dink) gaan dit nie meer vervaardig nie, toe koop ek sommer ‘n hele paar houers! Jammer, ek kan nie nou vir jou stuur nie. 🙂 Die sunlightseep wat hy verkoop is nie groen nie, maar so ligte bruin/beige – is dit nog groen daar by julle? Ek hou van die groen.
    Sterkte met die miere, ai tog, die goed is so klein maar sjoe, hulle kan ‘n pes wees. Laat weet hoe dit gaan met die klomp en of hulle jou nog verpes.

    Liked by 1 person

    1. Hi Nikita, ja, dit is aaklig as vrouens nie meer veilig is nie. Vim! Regtig, so mens kry dit nie meer nie. Die PnP een is heel ok, dit miere is nog weg. Ek hoop dit hou, want anders is dit Nip It vir die nes. Dit is nog groen, maar ek verbeel my ek het al beige gesien. Nou is ek nuuskierig, ek sal moet gaan soek. Dankie vir lekker saamkuier.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.