Eergisteraand kom manlief tuis, Dusty wil nie met haar spesiale afstandbeheerder (groot ding op foto) sluit nie.
Hy moes haar maar met die sleutel sluit, want die afstandbeheerder van die motor wat in die sleutel ingebou is. werk nie. Dit is gedeaktiveer in die guns van die ander een. Al sit dit nog mooi op die sleutel vas.
Hy dink dit is die afstandbeheerder se batterytjie wat pla.
Gisteroggend toe ons wil ry om ‘n battery te koop, haal sy haar Russiese maniere uit. Ignoreer ons geheel en al. En sit ‘n keelgat op! Terwyl ons twee beteuterd langs haar staan. Geen knoppie werk nie!
Dit is naweek en ons twee is dan soos daai tweetjies op die TV met hulle Duster. Ons jeuk. Ons moet skuur.
Sy vertel vir elkeen wat nie wil luister nie dat iemand met haar peuter. Moet sê, sal diewe afskrik, ek het my ore toegedruk. En ons was op pad om eers vir haar ‘n batterytjie te koop. As sy net wil saamspeel.
Ek sê ek sal battery gaan koop. Manlief sê dit is nie die battery nie. Daar is ‘n battery ikon op haar skerm.
Ek sê ek gaan koop. Dit moet wees. Manlief bly by die kar en ek stap vinnig die twee blokke af na Muken toe.
By die ingang is ‘n speelgoedwinkeltjie. En ek kon sweer hulle het AAA batterytjies. Uitasem daar aangekom om voor ‘n toe deur te stop.
Hallo! In Ust maak winkels 10 uur oop en bly hulle tot 10 uur die aand oop. Hierdie een is egter so toe soos ‘n klei os se oog. En ons het ‘n nood.
Bel manlief, hulle is toe, ek gaan oor die straat loop, na Gastronom toe. Daar is ook ‘n speelgoedwinkeltjie by die ingang. Net om daar ook voor dooiemansdeur te staan te kom. Wat is die kans?
En toe tref dit my. Ek kon lankal gehelp geword het as ek net aan Sulpak gedink het!
Sulpak is oorkant ons woonstelblok, blok van Gastronom af en verkoop TV’s en baie meer en sou beslis batterye hê.
Dus is ek straatop. Om by Sulpak in te stap. Sulpak is oop en ek sien dit dadelik raak. Verskeie make. Ek kies Durocel en wil van die rakkie afhaal maar ‘n verkoopsdame kom staan by my.
Sy praat Russies, ek verstaan niks, wys net na die pakkie trippel A’s. Ek soek daai. Sy skud kop asof ek dom is en gooi ‘n pinkie in die lug. Malienkie!
Ja, ek weet dit is klein. Ek soek dit. Net so klein. Ek Da (ja) ongeduldig en wys ek soek daai ene. Sy skud haar kop en gooi ‘n dikker vinger in die lug. Langs die dunner pinkie. Regtig? Lyk ek so dom?
Ek het foto by manlief geneem, maak foon oop, vergroot en wys. AAA. Sy skud haar kop, wys die twee vingers se dikte, die een na die ander een!
Ek is raadop. Manlief sit in die kar en wag. Dusty het dit darem na ‘n ruk toegelaat. Maar geweier om aangeskakel te word! Hy kan uit die son kom, maar ry gaan sy nie ry voor sy ‘n nuwe batterytjie inhet nie. Hoop ek.
En die Russiese verkoopsdame wil nie glo ek soek die AAA’s nie. Ek kyk haar vies aan en vra: Angleski? (Engels?). Klaar gepraat. Sy moet een gaan soek wat my verstaan. Ek soek daai pakkie. En nou!
‘n Russiese man kom aan en ek wys kwaai. Ek soek daai trippel A’s. En hy gee dit vir my. So wat was haar probleem?
Ek betaal en stap uit, oor die straat en om na manlief en Dusty toe.
Hy sit die nuwe battery in en die battery ikon verdwyn van die skerm af.
O, sê manlief, die batterytjie wys as dit vervang moet word. I rest my case. Dit is wat hy gister geglo het?
Dusty is tevrede en laat toe dat hy haar enjin aanskakel.
Ons doen op ‘n paar plekke inkopies en koop by Euro mebel (meubels) ‘n laaikas vir ons slaapkamer. Met moeite, maar die verkoopsdame laat nie ‘n koop deur die mat val nie.
Sy tik die vrae op haar Google Translate en ek antwoord. Manlief is oor die straat om Dusty te gaan haal. By ADK. Want sy staan daar geparkeer.
Hulle laai in en ons is weer terug in die winkel om na nog iets te kyk.
Terug by die kar is Dusty weer vol nukke. Wil nie oopsluit nie. Manlief druk knoppie en sy weier. Ons probeer oor en oor en sy besluit om ‘n keelgat op te sit. Almal kyk vir ons, sy gee nie om nie.
Ek gaan staan by haar neus omdat die lawaai daar sagter klink. En sien dat haar ligte aan is. Wonder of haar battery nou ook pap is. Maar toe ek vorentoe tree, voel ek sy is warm. En hoor ek dat haar enjin saggies loop.
Nou kyk, ek is nie bygelowing nie. Maar, ek kyk saam met my kleinkinders na karre wat self kan ry. En ‘n wil van hulle eie het.
En ek staan voor ‘n warm Dusty wat gereed vir aksie is. Toegesluit. Sleutelloos. Die sleutel is in manlief se hand!
Ek besef dat ek tussen haar en die gebou staan en gee pad. Staan by die kar langsaan se neus. En vra vir manlief of hy iets hiermee te doen het.
Hy pleit onskuldig.
Maar, laat ek eers vertel, motors hier kan alleen loop. Dit is waarvoor daardie gevaarte aan die sleutelhouer is.
Dit word in hierdie koue stad geïnstalleer om jou motor vanuit jou huis of ‘n gebou aan te skakel. Sodat die enjin al warm geloop is teen die tyd wat jy ry.
Ons het dit nog nie nodig gehad nie, maar manlief het ook nog nie vandat ons haar in Mei gekoop het, daarin geslaag om die selfstart per ongeluk te aktiveer nie.
En gister kry hy dit reg, per ongeluk. Met die gevolg dat ons grootoog vir Dusty staan en kyk.
Hoekom wil sy dan nie oopsluit nie?
Ek sê al genade is dat ons met die sleutel oopsluit. Hy doen en sy skree uit volle bors. Hy druk haar knoppie en sy bly stil. Halleluja!
Ons klim versigtig in. Sy bly stil. Manlief druk die sleutel in. Sy bly stil. Sy is tevrede en ons ry huis toe.
Nodeloos om te sê, moes ek haar papiere in die paneelkissie soek. En sit manlief die middag met die boekie. Neem foto’s en vra Google Translate om te vertaal. Want alles hier is in Russies. Geen Engels nie.
Wat het hy fout gemaak? Die knoppie te lank ingehou.
Nou weet ons hoe om dit nie in die somer te doen nie. En hoe om te maak as ons in die winter in ‘n verhitte motor wil inklim.
Net voor ek te gerus is oor wat fout gegaan het, stop ons vanoggend by die huis. Dit is somer. Dit is warm. Geen rede om die motor te laat luier nie.
Ek klim uit en langs my purr ‘n vinnige wit motortjie soos ‘n tevrede kat. Met geen verdwaaste eienaar in sig nie.
En prentjies van karre wat self besluit om te ry flits deur my kop …
Omtrent ‘n “brave new world” Ek weet nie of ek gereed is vir sulke slim karre nie.
LikeLike
Ekke ook nie.
LikeLiked by 1 person
Ai toggie…”if all else fail, read the instructions”!
Lekker lag ek vir julle twee en Dusty!
LikeLike
Dit is in Russies, soos alles hier. Geen plek vir Engels
LikeLiked by 1 person
Hahaa, dis eers erg!
LikeLike
Selfs al wil mens lees …
LikeLiked by 1 person
Ai toggie, toggie wat n storie. My seun het n Prius wat n heibrid is en het n leaf ook probeer waarvan hy nie gehou het nie. Dis nogal n belewenis om met die karre te ry.
LikeLike
Ons sal haar voor winter mooi moet ken
LikeLiked by 1 person
Christine (Stephen King). Nadat ek daardie fliek gekyk het, wou ek vir ‘n lang tyd nie bestuur nie 🤣
LikeLike
Ek sal bietjie kyk, ek ook nou versigtig vir Dusty
LikeLiked by 1 person