‘n Brief aan myself op 19

Vandag wil ek almal wat my volg of hierdie inskrywing lees, uitdaag om ‘n brief aan jouself op ‘n sekere ouderdom te skryf.  Die uitdaging werk so:

  1. As jy eie blog het, skryf die brief aan jouself (kies enige ouderdom) op jou eie blog en plaas die skakel na jou brief aan jouself in die kommentaar op hierdie blog. Dat almal so saam kan lees aan die briewe.
  2. As jy nie ‘n blog het nie, skryf jou brief dan sommer direk in die kommentaar hieronder en deel dit so met my en almal wat saam skryf.
  3. Dit kan so lank of kort wees soos wat jy wil …
  4. Gesels dan asseblief saam met my en die ander oor hulle briewe, ek sien so uit na ‘n lekker lees van briewe aan die selwers …
  5. Onthou om ‘n opskrif te gee: Brief aan myself op XXX (kies self die ouderdom)

Ek het die gedagte vanoggend gekry toe ek deur ‘n digitale Fair Lady geblaai het. En die vorige openbare beskermer se brief aan haarself in die tydskrif gelees het. ‘n Hele paar ander mense het ook geskryf, maar ek het nie verder gelees nie.

Die gedagte om so iets self te doen en ander te vra om dit ook te doen, was te opwindend. Speel saam toe?

Hier volg myne:

***

brief

Foto geleen op die internet

Brief aan myself op 19

Die aand aan die begin van jou tweede jaar toe jy na jool gaan slaap het, het jy nog nie geweet dat die oulike, maar irriterende jong man van Evander, wat jy die aand ontmoet het en wat jou ewe galant in sy baie mooi Colt Galant (pampoenkleur volgens jou koshuismaats) koshuis toe gevat het, jou man gaan word nie.

Oulik, omdat hy ‘n mooie glimlag aan hom gehad het en lekker kon lag as hy jou pes, sagte blou oë, harde werker – eienskappe wat jou getrek het. Irriterend omdat hy jou nie wou glo dat jy twee jaar na hom in dieselfde skool was nie.

Sowaar vertel het dat jy by iemand kon hoor wat almal se name was, asof jy ooit omgegee het wie onderwysers in watter skole was …

Tog het julle twee afgepaar nadat jou vriendin se vriend julle twee aan mekaar voorgestel het toe jou groepie meisies by hulle groepie mans gaan sit het. Dit was egter juis die navraag oor die name van elke onderwyser van die skool wat hom rede gegee het om met jou te gesels.

Anders sou jy heeltemal te skaam gewees het om aan die gesprek met ‘n vreemde jong man betrokke te raak. Buitendien, die gewone jy sou nie gesels het nie. Wat sou die punt wees? Hy gaan terug na Evander, twee skepe wat op die groot oop see mekaar ‘n oomblik raakreis en verbygaan. Te veel moeite vir een aand by die jool.

Maar, dit het toe nie so gebeur nie. Die Here het die man, wat nog nie eers jou kêrel was nie, se paadjie geswaai om joune te volg en uiteindelik saam te smelt.

Hy was die derde ou in jou lewe, onthou jy?

***

Jou pa het alle kêrels voor matriek verbied, dus het jy, gehoorsame kind wat jy was, almal ‘n koue skouer gebied wat belang gestel het. En so was jy, gelukkig vir jou as ek so na ander se skoolstories luister, ‘n kêrellose meisie tot matriek. Dit het jou uit die kwaad gehou.

Daar was een ou in standerd 8, maar dit tel nie omdat julle op papier gekys was. Toe hy wou handjies vashou en op die paviljoen tussen die ander met jou wou gaan sit, het jy hom per brief gesê, soos wat die kys ook begin het, die dear Johnie gegee. Hierdie papierkys het net een week gehou.

Buitendien, jy het een keer van die fietse af na die skoolgebou gestap toe jy gesien het hoe een van die meisies se rokkies se twee enkele knopies wat dit in die sye bymekaar hou losgeknoop was. Jy het toe nog glad nie geweet waarom die ou se hande daar in was nie, al het jy Biologie op skool gehad. Maar geen ou sou jou rok se knopies losgemaak kry nie.

Gits, ek verwonder my altyd aan die onskuld wat in jou was, dalk juis omdat jy op ‘n plaas grootgeword het. Maar dan onthou ek, my pa het die diere se vryery van ons ogies weggehou.

Jy het in die seun se brein belang gestel, nie in sy lyf nie. Want, daar was een ding wat vir jou van kleins af belangrik was – jou man kan nie dommer as jy wees nie.

Onthou jy jou ontsteltenis in die laerskool toe een van die seuns in jou klas druip? Hy het enkele punte gekort, jy het die meeste in die klas gehad. Selfs as die juffrou genoeg gevat het, het jy nog eerste gestaan. Juffrou wou niks weet nie. Jy sal eers daaroor kan giggel as jy self skool hou. Mens mag mos nie?

Die tweede ou was ‘n jaar of langer jou vaste ou, ‘n jaar ouer as jy en op pad universiteit toe toe julle in standerd 10 gekys het. Hy was in ‘n ander skool, dus het jy hom eers ontmoet toe jou ouers en sy ouers saam by ‘n vergadering was. Ek kan nog nie heeltemal verstaan waarom jy vir hom die ja-woord gegee het nie, hy het gerook. En jy het in ‘n rooklose huis grootgeword. Self nooit die lus gehad of te rook nie. Hy het darem nie gerook as julle saam was nie, moes maar sy lus daarvoor ook bedwing.

Hy was ‘n warmbloedige man, wat wou soen en soen. En sy hande was soos ‘n seekat, jy moes die hele tyd keer. Dus het jy kuiers met hom beperk tot plekke waar julle nie alleen saam was nie.

Jy was te kuis na sy smaak.

Die verhouding met nommer twee het nie lekker gewerk toe jy ook op universiteit was nie. Tot toe het hy liefdesbriefies geskryf en jy het teruggeskryf. Toe jy ook daar is, was hy nie meer ‘n eerstejaar nie en jy was ‘n Ienk (eerstejaar van Madelief koshuis, Tukkies), wat met jou rokkie se some in jou hand aan jou ou se hand moes vat en aan ander eerstejaarouens se hande. Geen fisiese kontak nie, dit was streng verbode. Hulle gaan nie vir mammas vertel waarom daar babatjies is nie …

En jy was vir die Ienkvoog so bang soos ek weet nie wat nie. Al het jy glad nie in fisiese kontak meer as handjies vashou belanggestel nie.

Ek kan nie glo dat jy so bang vir ‘n meisie kon wees nie, nie nadat jy in standerd 6 al vir die klas se groot boelie meisie met jou mond op haar plek kon sit nie. Onthou jy? Sy het altyd voor die Engelse juffrou se klas vir jou gestaan en wag. En jy was die kleinste dogtertjie in die klas. Dan het sy voor almal vertel hoe sy dit en dat met jou gaan doen. En hulle het gelag. Toe kry jy haar respek toe jy haar uitdaag met jou pa se bravade: Toe, doen dit dan, want sien ek gaan nie so seer soos jy kry as jy val nie, ek is baie kleiner en fyner as jy! Sy het jou nooit weer getart nie, glad nie geweet dat jou broek gebewe het nie.

Maar ek verstaan. ‘n Ienkvoog is ‘n ander spesie. Vir hulle kan mens seker maar bang wees?

Toe verneuk hy jou met daardie ‘vriendin’ van die koshuis, wat jou vriendin van jou. Hom juis afgevry toe sy een naweek kastig ook moes Ermelo toe om by vriende daar te gaan kuier. Belustig-vlammetjies hou nie lank nie en toe hy weer wou probeer, was hy lankal reeds iets van die verlede in jou gedagtes. Sy hormone was vir jou ‘n probleem. En dit het hy met tertjie gedeel, wat sy met groot vermaak vir jou koshuismaats vertel het. Jy was volgens die ou ‘n koekie. Wel, sy het nie besef dat dit baie van haarself vertel het nie.

Ek dwaal af, nommer twee het nie jou hart genoeg geroer om vlinders in jou maag te maak nie. Inteendeel, dit het soos good riddance gevoel. Hoe moeilik is dit om te verstaan dat mens nie belangstel in enige iets anders as dat hy jou ou is nie?

***

Jy wou daardie aand nie jool toe gaan nie, jy is nie een vir kuiers op joolplase nie. Jou hart was nie lus vir kuier nie, jy drink nie en dit het jou geïrriteer maar vriendinne het gekerm en jy het saamgegaan.

Toe ontdek julle hierdie oulike ou by die jool wat so irriterend aan die begin was. En hy het jou hart gewen. Ek sien jy is nie verras nie. Hmmm, hy was toe jou trouman. En so wraggies ook ‘n perd uit Hoërskool Ermelo se stal – soos jy.

Let daarop, hy was nie jou rebounce nie. Daardie tyd was daar nie eens so ‘n woord nie, in elk geval, nie in my of my vriendinne se woordeskat nie. Hy was kêrelmateriaal, jy het nog glad nie aan trou gedink nie.

So, laat ek jou so ‘n kykie in die lewe na 19 gee, net dat jy weet dat jy veilig by hom sou wees.

Hy het mos ‘n afspraak vir die volgende dag gemaak, en jou aan sy ouers gaan voorstel. Hier volg skermgrepe van die res. Oeps, jy gaan die woord nie verstaan nie, grepe sal ook werk.

Toe het jy nie daaraan gedink dat die effens gesette rooikoptannie, haar lang maer man en sy jonger boetie jou familie sou word nie. Jy het van haar kos gehou, maar nie geweet hoe sê mens vir die gasvrou dat jy nie soveel soos volwasse mans eet nie?

Jy het later maar gaan slaap na ete, jy kon net nie wakker bly van die baie kos nie. Toe vra jy maar vir manlief, wat toe al jou ou was, om asseblief vir jou in te staan. Jy kan self opskep. Daarna het jy gehoor jy eet soos ‘n voëltjie, maar dit was veel beter as om opgestop te voel.

Jy het daardie dag gedink dat jy net middagete saam met hulle gaan eet. Toe nie, jou meetsnoere het toe reeds op goeie grond geval.

Hy het ook op Tuks gaan swot, die myn het hom gestuur. Mynbou-ingenieur. Lekker kyk jou snob maatjies toe op hulle neuse toe jou kêrel nie meer ‘n myner is nie. Maar ‘n ingenieur student. Hy was eerstejaar toe jy derde jaar was, al was hy twee jaar ouer as jy.

Selfs later jare het kollegas in Welkom sleg oor myners gepraat, en dan ter versagting bygesit – jou man is darem ‘n ingenieur, nie ‘n myner nie. Dan het jy vir hulle vertel jy gee nie om om ‘n myner se vrou genoem te word nie. Jou beste vriendinne is myners se vrouens. Steeds is hulle jou beste vriendinne … Jy kon noag altyd ware vriendinne kies.

Buitendien, jy het op ‘n plaas grootgeword. Daar is nie iets soos status en statussimbole nie. Ook nie snobs nie, nie in die plaasgemeenskap waar jy groot geword het nie.

Julle het die dag van jou 21ste verloof geraak, saam met sy ouers en broers in Pretoria. Want, hy was sowaar te bang om jou pa te vra – op jou 21ste verjaarsdagpartytjie! Dit eers teen 12 uur die nag gedoen, na ‘n hele paar koffies.

Kan jy glo? Daai selfde wintie van jou.

En julle wou die volgende Desember trou. Pa het egter gesê dat julle sommer die volgende Januarie moet trou, so voor die universiteite begin. Dus is jy as mevrou jou derde jaar op universiteit in.

Onthou jy hoe die Geografie dosent vir julle vertel het dat Welkom ‘n stad is, die enigste in die land met sirkels in plaas van verkeersligte?Toe julle die beplanning van stede bestudeer het? Wel, julle het in Welkom begin.

Wel, toe julle daarheen trek aan die einde van sy vierde jaar, het mense julle van sandstorms vertel wat veroorsaak dat jy bedags met jou motorligte aan moes ry. Hulle het vergeet om van aardbewings te noem. Jy en manlief het julle alies afgeskrik toe ‘n aardbewing die dorp tref die dag toe julle soontoe getrek het. Later was jy nie meer bang daarvoor nie.

Vreemd dat ek nou daaraan dink. Want daar word voorspel dat Almaty een of ander tyd deur een getref kan word. Inteendeel, hulle voel geruime tyd al trillings …

Iedergeval, so ses maande na die troue het jy die verrassing gekry.

Die Here het julle gekies om ‘n baba-dogtertjie groot te maak. G’n wonder dat sy is so slim nie, sy was dan die laaste maande van jou graadkursus reeds saam met jou in die klas.

Sy is so 14 maande na julle troue gebore. En julle het haar Anja genoem. Anja Marinel. Gemaak van beide oupas en oumas se name. An(dries)Ja(n) en Mari(Maria)Nel(Nellie, kort vir Petronella). Sy was nog ‘n pap babatjie toe sy saam met jou na jou gradeplegtigheid was, en al twee toe sy na haar pa se gradeplegtigheid toe is. Jy sal trots wees op die meisiekind. Sy het jou droom gevolg, ballet tot graad 11. Oulike man getrou en het vir jou drie pragtige seunskinders vir kleinkinders gegee, met pragtige name. Jy het reg gehoor, jy is al tien jaar lank ‘n ouma. Hulle is nou al meer as tien jaar getroud, jy sal baie van hierdie gesinnetjie hou.

Bykans vyf jaar later is ‘n boetie vir haar gebore, en julle het hom Marnus genoem. Verkort van sy pa se name, Marthinus Steyn. Jy sou ook trots wees op die seun van jou. Hy verstaan my hart. Hy het ‘n oulike meisie getrou, hulle het so pas ‘n babatjie gehad, hy het sy pa en oupa se name. Hulle is meer as vyf jaar getroud, jy sal ook baie van hierdie gesinnetjie hou. Hulle pas die afgelope 18 maande jou drie Miniatuur Schnauzers op. Jy sal ‘n ensiklopodie moet gaan nader trek, anders moet jy wag tot jy my inhaal om te sien hoe hulle lyk. Jy sal dit nie glo nie … Woewe met baarde.

Jy wou net twee kinders gehad het. Twee hande, twee kinders. Dit het jou te diep getref toe ‘n vriendin se jongste van drie voor haar oë in Welkom doodgery is. Toe hy boetie se hand los en voor ‘n taxi inhardloop.

Jy het toe jou passie gevolg. Jy het juffrou geword. Dit was aanvanklik lekker, later het dit sleg geraak. So sleg dat jy op ‘n dag jou bedanking gaan indien het, jou PhD gaan klaarmaak het en tans navorsing doen.

Oe la la la!

Skuus man, daar skok ek jou tot in jou tande.

Moenie so verbaas lyk nie, jy het sowaar oor die jare verander, ander idees van lekker ontwikkel.

Ek weet waarom jy so geskok lyk. Ek onthou hoe jy nadat elke vak afgeskryf is, by die skag van Madelief gaan staan het. Jy het mos op die tiende vloer gebly. Wel, dan het jy die aantekening so een vir een in die skag afgegooi en behaaglik geruik hoe dit verbrand. As handboeke nie so duur was nie, was hulle saam af. Uitbundig bly omdat die taak afgehandel is.

En jy het later verder gaan swot … Jy het reg gehoor, dus gaan ek seker maar moet verduidelik hoe dit gebeur het.

Vir jou was studies ‘n middel tot ‘n doel. As jy ‘n BA(Ed) moet hê om juffrou te wees, dan sal dit so wees. Man, jy was so rukkie getroud, toe wil manlief verder swot. Sy werk vereis dit. Maar, jy moet ook, smeek hy. Hy staan vas, geen verdere studies vir jou nie, maar die man smeek en jy gee in.

Jy het toe vir ‘n B.Ed (Begaafdekindonderwys) ingeskryf en dit in twee jaar klaar gemaak. Hy nie, is bevorder en tyd vir studies was weg.

Raai wat? Jy het daarvan gehou, seker omdat jy uit baie kon kies wat om te studeer. En dit was so lekker dat jy onderskeidings gekry het.

Moenie so lag nie. Ek weet, jou motto was dat 51% gewys het dat jy te veel studeer het, 50% was perfek. Ek dink as mens self juffrou is en die kinders so aangaap wat niks regkry wat jy so mooi verduidelik het nie, verstaan jy jou dosent se pyn beter as wanneer jy voorgraads is. Jy sal dit later verstaan.

Die graad het veroorsaak dat ‘n universiteit wat nou nie meer bestaan nie, jou gekontak het om daar klas te gee. Opvoedkunde. En toe aanvaar jy dit sowaar! En daar moes jy jou M.Ed doen, almal swot. Jy het toe kinders met probleme gekies, negaafde kinders.

Sies man, ek gaan regtig kwaad word en nie verder vertel as jy so op die grond lê en skop van die lag nie.

Ek weet. Dit was jou slegste vak. Nie puntgewys nie, jou punte was verbasend goed. Hou van gewys.

En, omdat jy BA(ED) gedoen het, het jy daardie vak as hoofvak gehad, tweede jaar daarmee begin, in jou derde jaar gehad en jou vierde jaar het net daaruit bestaan. Dit was darem vir jou lekker om te sien hoe die ander sukkel wat eers ‘n BA gedoen het en toe net ‘n diploma as nagedagte. En jy het dit geniet om Statistiek aan te bied.

Terug by die skoolhouery.

Toe jy eers begin skool hou het, was jy spyt dat jy net Geografie wou neem en minder aandag aan Afrikaans, jou ander hoofvak gegee het. En jou derde hoofvak Opvoedkunde ook afgeskeep het.

Jy het eers teen die einde van jou loopbaan ‘n pos daarmee gekry. En die Afrikaans wat nie vir jou lekker was nie – jy was al die jare Afrikaanse taal juffrou. Dit is soveel anders as in ‘n eerstetaalklas, tweede taal leerders maak jou sommer lus om vir hulle te lees en te vertel watter pragtige taal Afrikaans eintlik is. En jy kan vir hulle stories lees en aandag aan die taal as spreektaal gee. Jy het hulle selfs van Steve Hofmeyr se musiek laat hou. Hmm, jy hoef ook nie in die klasse beter op te let nie, maar haai, as jy nou nie so skaam was nie, kon jy gerus AP en Henriëtte se handtekeninge gaan vra. Of dalk sommer van ‘n eksamenvraestel afgeskeur het.

Ek gaan nou eers stop, dat jy asem kan kry en gaan water drink. Hou op lag … jy gaan sien, dit is lekker om taaljuffrou te wees.

Hier waar jy nou is, is jy gek oor Arikaans, so rasend gek dat jy jou al saam met ‘n groep bloggers bekend as die towerinne in aanlynvervolgverhale inleef waarin julle allerhande goed doen, of liewer gedoen het. En – julle bly op ‘n dorpie wat in julle verbeelding bestaan – Rebusfontein. Die dorpie  was amper weg, maar daar is stoere towerinne wat dit gaan herontdek het.

Sien – karma gaan jou lekker tref omdat jy nou so gelag het.

Onthou jy hoe meneer Maree altyd jou beste vriendin se opstelle gekies het om vir jou saam met die klas te laat verstaan hoe mens moet skryf. En dat joune regtig nie goed was volgens hom nie, jy het van die regte lewe vertel. Dit gaan gelukkig nie oor goed of sleg nie, maar oor ‘n storie wat mens vertel.

Die een lyntjie waarin jou skoolvriendin geskryf het … die water kabbel oor die klippertjies van die rivier … steek nou nog steeds diep in jou hart. Hier waar ek nou vir jou skryf. Jy skryf steeds nie geforseerd nie, prakties werk beter vir jou.

Onthou jy hoe jy Fundamentele Pedagogiek gehaat het. Daardie vak waarin jy eers goed kon doen nadat Johan Hamman jou geleer het om ‘n sin te skryf, te omdat, daarom, terwyl, want en dan die volgende sin. Toe kry jy skielik baie punte, maar jy het geen idee gehad waarom nie … Nou weet ek dit het jou voorberei om vir die werk wat jy nou doen. Navorsing …

Jy wou nie reis nie, vir jou was Suid-Afrika altyd die enigste plek. Wel, jy gaan verras wees as jy hoor waar jy oral was. Ek gaan nie vertel nie, jy gaan dit in een van die laaste Saries van 2020 lees. Onthou die datum. Ek hoop jy al oral gegaan waar jy graag sou wou wees. Want ek het die vermoede dit was jou laaste reise na vreemde lande.

Jy hou steeds daarvan om kaarte te bestudeer, die koördinate van plekke op jou kaart te kry, te probeer uitvind waar daardie plekke op die aardbol is. En om selfs te probeer kyk hoe dit daar lyk. Jy het nog nie self ‘n oorsese reis onderneem nie, maar wag maar, van 2002 af gaan die aarde tot 2020 jou oester wees. Ek gaan jou liewer nie van 2020 vertel nie. Maar jy sal dit in die geskiedenisboeke sien.

O ja, en wees gerus, jy het nie verander nie, verhoudinge is steeds vir jou verskriklik belangrik. Dit is juis waaroor jou navorsing gaan. Nou is daar tegnologie beskikbaar wat wys hoe belangrik verhoudinge is. Die probleem is dat die tegnologie wat gebruik word om verhoudings te bou, ook skade kan aanrig as mense dit gebruik om skinderstories te versprei. Klomp mense was al in die hof oor goed wat hulle skryf. hou dus in gedagte dat jy jou vingers nie die praatwerk moet laat doen nie.

Hoop ek het jou lus vir die volgende 40 jaar gemaak.

Jy gaan van die 21ste eeu hou, nou kan mens kaarte op jou selfoon sien.

Hmmm, daar verloor ek jou weer.

Dit is ‘n foon, baie kleiner as die plaastelefone en dit is nie aan ‘n draad gekoppel nie. Jy kan selfs mense in ander lande daarmee bel. Ek gaan nie verder vertel nie, jy sal maar self moet kom kyk of ekke jok. Want sien, jy dink weer dat ek stories opmaak.

Jy hoef hierna nie te reis nie, daar is baie foto’s op die internet beskikbaar. Ek gaan dit nie ook verduidelik nie, jy gaan binnekort daarmee te doen kry. So tien jaar van nou, nee, dalk minder?

Jy het ook jou eie blog. Jy gesels met jou lesers. Oeps, hoe verduidelik mens nou vir iemand van die 1980’s wat ‘n blog is?

Jy het mos dagboek gehou? Sy was jou beste maatjie op skool en universiteit? Wel, ‘n blog is so. Maar dit word nie weggesteek en met slotjies gesluit soos wat jy gedoen het nie.

Dit word in die lug gepubliseer en dan lees almal dit.

Man, nee man, wat kyk jy nou so vir die wolke. Dit is nie soos die foto’s wat jy van wolke geneem het nie. Dit is asof daar ‘n onsigbare dagboek in die lug hang. En mense gebruik masjiene om dit te tik, baie anders as tikmasjiene, en hulle kan dit ook so lees.

Ek gaan nie verder beskryf nie, dan bederf ek jou pret en verbasing oor wat alles deur die lug vir jou gestuur kan word.

Onthou net, mooi speel daarmee. Enige iemand kan dit lees.

Jy skryf nogal baie oor interessante dinge wat met jou en manlief in Qazaqstan gebeur.

Oeps, jy weet nie waar dit is nie?

Wel, moenie verbaas wees nie, die land was tot onlangs agter die ystergordyn van Rusland versteek. Dus het jy nie op skool of universiteit van hierdie mooi maar koue land geleer nie. Groot land, negende grootste in die wêreld. En jy sal, so net voor jou sestigste verjaarsdag al 18 maande hier woon.

Dit is lekker, was tot Maart opwindend. En toe gebeur daar iets wat die hele wêreld op sy kop gegooi het. En nou sit vliegtuie op lughawens.

En skielik mag jy nie huis toe gaan nie, omdat al die lande in die wêreld hulle grense gesluit het. En jy sit hier en jou kinders en woewe sit in Suid-Afrika. Dit gaan, soos jou vriendinne Toortsie, Una, Seegogga en Scrapy jou troos, ook verby gaan.

‘n Paar interessanthede: Jou ouers, susters, hulle kinders, jou kinders, en kleinkinders is nog almal deur die genade van die Here gespaar. Annatjie het nooit getrou nie, jou ander susters het wel, alhoewel dit nie elke keer gewerk het nie.

Dus kan jy uitsien om tot hier te kom. Daar is interessante stories om te beleef … En die ou lyf hou darem ook nog by.

En nee, jy lyk verniet so opgewonde, die lyf gym steeds nie. Het wel bergfiets gery, lekker ver hoor, tot 45 km ver. Aan resies deelgeneem. En nee, nie gewen nie. Te bang. Jy en manlief en Anja was in ‘n karongeluk toe boeta nog op pad was. Jou nek gebreek, maar dit was ‘n kompressiebreuk, dus is jy heel ok. Nie verlam nie. Almal is bewaar.

Moet net nie jaag deur die lewe nie, dit is nie ‘n resies nie. Gee dalk meer aandag aan manlief en minder aan skoolhou …

Ek weet nie of ek jou wil aanraai om langs die pad ander draaie te kies nie.

Ek dink jy gaan gelukkig wees soos die Here jou pad vir jou help stap het.

Op die oomblik bietjie ongemaklik, maar ek weet Hy weet dat jy graag weer by jou kinders en kleinkinders wil uitkom.

En dit is wat ek jou wou vertel. Jy en manlief sql Januarie 40 jaar getroud wees. Lekker baie emmers sout, jy is mos maar kwaai as jy lus is. En hy ook.

Hoe kon ek so afgedwaal het? Dit is eintlik was ek wou vertel.

Jy geniet die lewe hier op aarde voor jy oor minder as ‘n maand 60 word. Jy gaan dit wel nie saam met jou kinders kan geniet nie, maar manlief gaan dit beslis vir jou die moeite werd maak. Soos altyd. Hy geniet die bederf op verjaarsdae.

Dit is ‘n kort sketsie oor wat op jou wag.

Ek kan net dankie sê vir die keuse van ‘n manlief, ons kliek mooi saam.

Leef dan in vrede rustig verder met die gedagte:

Die Here is in beheer, Hy lei ons twee op ons lewenspaadjies. Daar is soveel om voor dankbaar te wees … tot jy my inhaal.

Ek deel liewers nie foto nie, jy moet darem na iets uitsien … Mens kan ook nie alles wil weet nie.

***

En nou nooi ek blogvriende en ander vriende en almal wat lees om my uitdaging aan te neem. Neem deel toe? Gesels met jou jonger self en deel dit hier …

 

 

32 gedagtes oor “‘n Brief aan myself op 19

  1. Dis goed om te kan terugkyk op ‘n mooi lewe. Wens ek kon dieselfde sê… maar myne is ‘n pad van chaos waarop ek net bebloede mense sien lê. Al wat ek vir my jonger self kan sê is as jy nie ‘n pad van chaos en trane wil stap nie, moenie jou rug op God draai en die wêreld instap en dink daardie duisternis gaan vir jou geluk bring nie. Dit bring nie lewe nie, dit bring dood…. dit vat weg wat jy liefhet… en bring jou van aangesig tot aangesig met demoniese magte. Jy gaan uit hierdie hel probeer ontsnap deur jou eie lewe te neem… maar teruggebring word om die stryd verder te stry. Die God vir wie jy op agtienjarige ouderdom gesê het as Hy bestaan moet Hy jou maar eendag wys Hy is… maar tot dan wil jy niks met Hom te doen hê nie… gaan Homself aan jou openbaar; wat Hy egter nie gaan doen nie is om die nagevolge van die gemors wat jy aangevang het weg te neem. Hy gaan vir jou nuwe kanse gee, jou vertrou in die area van jou grootste mislukking… maar die pyn in jou binneste gaan soos Paulus se doring in die vlees bly.

    Liked by 1 person

    1. Sjoe, Kameel, dit is die roerendste brief wat ek al gelees het. En ek wil net vir jou vertel dat ek dink dat jy een ongelooflike wonderlike mens is. Dat ek lief is vir jou is soos ek jou leer ken het. En dat ek sou help om seer weg te neem, as ek kon.

      Liked by 1 person

  2. Dankie Christa. Soos ons hemelse huis nader kom hoe meer sien ek uit na die verwelkoming daar. Hy gaan elke traan van ons oë afvee, en daar gaan nie meer pyn en lyding wees nie. ❤

    Like

    1. Kameel, dit is baie waar. En ek is so dankbaar jy het die Here gevind voor dan. My blog vertel nie alles nie, daar is baie waaroor ek spyt is, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag. Hierdie brief het my gister die hele dag besig gehou.

      Liked by 1 person

      1. Kan dink om so oor jou lewe te dink en skryf gaan ure neem. Ek het toe ek begin blog het opvolg gedeeltes oor party dinge in my lewe geskryf… maar nog nooit die moed gehad om my hele lewensverhaal te skryf nie. So baie mense het vir my gesê ek moet ‘n boek skryf… maar hoe ontbloot ek myself so heeltemal voor ander. Dan is daar my kinders wat ek in ag moet neem.

        Like

    1. Dit is so mooi, knop in my keel want ek verstaan dit. Ken dit. Verlange maak my siek, die weer speel nie saam nie. Ons is in nuwe stad, maar ek kan dit nie waardeer nie. Soms wil hopeloosheid mens oorval. En wanneer dit verbygaan, weet niemand nie. Dit is in die hande van mense buite jou kring, jy kan nie eens met hulle gaan praat nie. En sal die groei deel aangryp.

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.