Gepubliseer in Joernaal

Wat is ‘n towerin?

Ek is ‘n taaljuffrou, het bykans my hele loopbaan deur vir tweede taal kinders Afrikaans as vak aangebied.

En tog vang Mia my die week onverwags uit. Toe ek haar vertel van die vervolgverhaal van die towerinne. En dat dit my beurt is om verder te vertel.

“Joune? Skryf jy stories?” En ek kry ‘n ongelowige kyk. En my hart bons in my keel. Toortsie, Una!

Hoekom het ek my laat motiveer om te skryf? Op my spoor kan ek nie teruggaan nie. Verbygaan se afdraaipaadjie was verby.

Mia lees my blogs. En haar uitdrukking sê dat daai ene bo my vuurmaakplek is.

Ek verduidelik dat dit ‘n uitdaging is. En ek moet julle nou sommer ook mooi vertel. Almal wat my ken, weet twee dinge.

Ek en die rooi taal ken mekaar goed, ek skryf net so gemaklik in Afrikaans as in Engels as ek akademiese artikels skryf. My woorde. My storie.

Maar Gorrelpyp Sannie de Waal, die gesproke taal is so effens van ‘n ander kanallie. My seun het iewers vir my gesê:”Ma moet liewers nie Engels praat nie.”

Nou moet ek vir haar verduidelik waarom ek dit doen, dat dit ‘n uitdaging is. Wat ek aanvaar het. Ek ‘n uitdaagduiwel? Nee!

Nee, hemel tog, dan is dit my skuld dat my dollatjie so ‘n waaghals is. Ek word so vies vir haar as sy fisiese uitdagings aanvaar. Maan sommer dat sy ‘n fyn poplap is wat nie sulke goed behoort te doen nie. En dan aanvaar ek uitdagings wat die tor in my brein se bootjie gevaarlik laat wankel?

Dan het sy darem ook by my geërf om uitdagings deur te voer. Ten spyte van die druk wat op gees of vlees geplaas word.

Mia wil weet wie die uitdagings stel. En ek verduidelik meer as een mens doen dit. Jy aanvaar waar jy kan, soos Toortsie in haar blog vandag verduidelik het.

En as jy aanvaar, stel jy jouself bloot om uitgedaag te word om nie alleen die vorige skrywers in ag te neem nie, maar ook om jouself tot die uiterstes uit te strek. Plekke in jou brein te ontdek wat nog kan dink.

Volgens my dominee geniet hy my blogs, hy leer my hart ken. Dit was so half en half ‘n skok op my gestel. Maar, dit is waar, mens kan nie skryf sonder om jou hart te betrek nie. Dus word vlees, gees en hart by die skryf betrek. En my hart sukkel soms in hierdie land ver van my mense en my kerk.

Ek dwaal af. Ek vertel vir Mia dié uitdaging is deur die towerinne gestel. Om moet saam hoofstukke vir ‘n blogvervolgverhaal skryf.

Sy vergeet skoon om die butternut verder te skil dat ons sop met die Thermomix kan maak. Want sien, ons twee kook met Thermie.

Sy het my brood geproe en gevra of sy kan bestel. Ek het leer en kuier raakgesien en genooi om haar te leer om met Thermie te werk. Sien ek het passie vir die onderwys En nou bak sy haar eie brood.

Dinsdae knie Thermie ons brood, maar dié week het ons sop ook gemaak.

Duitse presisie. Elke resep wat Thermomix plaas, is soveel keer getoets dat dit nie flop nie. Ons twee eksperimenteer en sit goed by. Lekker, lekker geselstye.

O ja, ek het weer afgedwaal. Ek het so in die skilproses vir Mia van die uitdaging van die towerinne vertel.

Mia kyk my so en vra vir my: “Wat is ‘n towerin?” Want sien, sy is wel Suid-Afrikaans maar kan nie Afrikaans praat nie.

En daar haak my Engels vas. Ek weet nie wat is ‘n towerin in Engels nie. Verduidelik dat dit iets soos ‘n fairy is.

En haar wenkbroue skiet in die lug.

Kan ek haar kwalik neem? Jy? ‘n Fairy? Lees ek op haar gesig. Sien myself in ‘n pofrokkie met pofmoutjies, die ene net en kant en valletjies. Krulle in die golwende hare wat op ‘n manier op en af gedoen is. Toorstokkie in die hand. Nee, daai is ek beslis nie.

O jinne nee, fairy is nie die regte woord nie. Mia weet ek dra geen valletjies en kant nie. In elk geval, nie wat ander mense kan sien nie.

My brein jaag, die kos moet klaar en ek kan nie gou my Viva toep uithaal om te loer na ander woorde wat my kan help nie. My hande is buitendien vuil.

“Nee, nie feëtjie soos jy dit ken nie. Nie vir kinders nie. Vir grootmenae jy weet?” probeer ek in my beste Engels verduidelik.

Daar gaan ‘n liggie aan, sien ek. Maar sy skok my tot in my tande, soos daai een karakter in een van my Afrikaanse TV sepies gereeld gesê het.

Oh, you mean a witch!

Ek ‘n heks?

Flip nee, dit is ek nie, ons groepie vrouens ook nie. Ons is beslis nie hekse nie. Hulle toor met woorde. Mooi woorde. Skryf stories oor lewens en gebruik soms handevol verbeelding. Maar nee. Ons is nie hekse nie!

Inteendeel, ons vlug in ons towerwêreld in. Na Rebusfontein toe. Om van die hekse en drake weg te kom. Vir ‘n rukkie. Daai een gaan ek maar liewers nie vir Mia verduidelik nie. Sy is wetenskap-onnie, gaan beslis nie verstaan nie.

Ons volstaan toe met dat dit goeie feëtjies is. Hulle verwoes nie, dit is ons versamelnaam.

“Hoeveel van julle is daar?” vra sy toe. Man, ek is self onseker, maar dink ons is 16.

Noudat ek daaraan dink, daar is meer. My huisie in Rebusfontein is hoeka nommer 17. Hoeveel is ons?

Sy slaan haar oë op in ongeloof. Sowaar, so baie. Ek dog vier sal baie wees. Toe nie!

Vanoggend wou ek eintlik vertel dat Mia nie weet wat ‘n towerin is nie. En vra vir hulp, want my woordeboeke lê in Suid-Afrika.

Ek het al van onwillige toeps in Qazaqstan vertrel. Die Viva-toep is vervlaks onwillig, antwoord as volg:

My goto woordeboek, mevrou Google Translate kan ook nie help nie en antwoord as volg:

Selfs toe ek vra dat die woord gesoek word, kry ek Engels towerin (pleknaam) en dan tower. Ons is nie torings nie, al sal baie van ons ‘n ou herehuis vol torings kies as wegkruipplek om in stilte te skryf.

Nie ‘n enkele tref nie!

Daar is nie so ‘n woord nie.

Het iemand in ons kring die woord geskep? En as ons dit moet omskryf, hoe sien ons onsself?

Oud en wys genoeg om ons nie te veel aan ander se kommentaar te steur nie, alla Woordnoot.

Ons dra wat ons wil want ons is uiteindelik gemaklik in ons velle. Veral in Rebusfontein.

Ons is nie feëtjies nie, maar heks is beslis invanpas. Kyk net na ons mooi onsie heel bo, gedeel deur Kameel, geskep deur Seegogga. Lyk ons soos feëtjies of hekse?

O ja, het ek vertel? Sommige van ons het skuilname, ekke nie. My blognaam is my eie’ my Rebusfonteinnaam is sommer Ego, alter-ego van skaam ekke. Dit is in die blog oor nommer 17 al vertel.

Daar is nie ‘n woord soos towerin volgens my toeps in Qazaqstan nie. Ek dink hulle is verkeerd. Lost in translation. Viva weet nie, Google is nog nie geleer nie. Die taaljuffrou in my kan nie glo dat daar nie so ‘n woord is nie.

Maar, as daar nie is nie, het iemand hierdie mooi woord vir ons geskep?

En moet ons dit sommer ook nou vertaal. Na Russies ook asseblief.

As daar is? Dan moet ek my woordeboeke naderhark. En nog mooi woorde aanleer. Die woord het ek egter reg verstaan.

Help asseblief, ek moet nou weet.

Intussen kan jy saamgesels. Ons hou baie van gesels.

O ja, as jy towerinne Google kry jy baie van die towerinne se stories daar. Geniet!