Gepubliseer in Joernaal

299 jaar gelede gestig: Ust-Kamenogorsk ala Oskemen

Ons woon sedert 2 Maart 2019 in Ust-Kamenogorsk, die administratiewe hoofstad van die Oostelike provinsie van Qazaqstan.

Hierdie stad het twee amptelike name, naamlik Öskemen (Qazaq) en Ust-Kamenogorsk (Russies). Dit was blykbaar vir die Qaqaqs moeilik om laasgenoemde woord uit te spreek, toe verkort hulle dit na Öskemen.

Die dorp is in September 1720 gestig nadat Peter the Great ‘n ekspedisie uitgestuur het om goud te kom soek. Die stad het sy oorsprong op die plek waar die Irtysh en die Ulba riviere ontmoet en het aanvanklik as handelspos en fort gedien.

Gister was die stad dus 299 jaar oud en het dit nie met joligheid gepaard gegaan nie!

Die afgelope twee weke was hulle besig om stellasies oorkant die sentrale park, wat langs ons woonstelblok is, te bou. En ons het geweet hier kom weer ‘n groot fees, maar nie watter een dit is nie. Want daar is geen vakansiedae op die kalender nie. Hier word daar groot gegaan om groot feeste onvergeetlik te maak.

Vrydagmiddag was die stellasies amper klaar gebou. En my vriendin, saam met wie ek op die trem gaan ry het, het vir my vertel dat sy by haar nanny hoor dat die stellasies opgerig word om fees te vier omdat Öskemen verjaar.

Saterdagoggend, toe ons gou dorp toe wil gaan, is die hoofstraat voor ons woonstelblok afgesper met stalletjies in die pad, net waar jy kyk. Al die stalletjies in die hoofstraat het heuning verkoop.

Aan die ander kant van die straat in die was die dienspad ook vol stalletjies wat groentes en vars gebak verkoop het. En dit was lekker, vars gebak is hier so skaars soos hoendertande.

Dus is ons eers deur die stalletjies om vars groente en gebak direk by die boere te koop. Heuning het ek genoeg, sal weer by die mark gaan koop as dit klaar is.

Ek het nie vertel nie, dink ekke, maar Ust is bekend vir heuning, mens koop dit met ‘n sertifikaat van egtheid, selfs op Dubai-lughawe. Ons koop sommer direk by die boere, geen sertifikaat nodig nie omdat ons dit nie per vliegtuig gaan vervoer nie.

Die feesvieringe het ons nie getrek nie omdat dit teen die middag, toe dit al joliger gegaan het, koud en nat was. Ons hoor in elk geval alles in ons woonstel, dus spaar ons ons ore maar. Dink net hoe hard moet dit op die plein wees, ons is seker so 500 m daarvandaan …

Daar is feesgevier met allerhande kos en shashlick (massiewe sosaties) en spookasem. Daar is altyd goed vir die kinders om te doen.

Tienuur gisteraand klink dit egter of die stad uit die lug aangeval word.

Al ons vensters is toe om die musiek vanaf die plein te demp, maar die geluide is skielik oorverdowend. Mens moet onthou dat ins op die 8ste vloer bly. Dus baie naby aan die ontploffings in die lug.

Gelukkig onthou ek betyds, voordat ons skuiling te soek, onthou dat my vriendin ook vertel het dat daar vuurwerke gaan wees.

Toe ek by die venster uitkyk, kon ek net gekleurde lug sien, want ons woonstel het ‘n muur wat die uitsig na die plein versper.

Ons was reeds in die bed, maar ek moes net beter sien. Ons woonstelgebou het een kantvenstertjie waar ek meer sou kon sien. Nie die plein nie, maar darem die lug.

Toe ek die woonstel se deur oopmaak, sien ek dat almal se deure toe is en hardloop ek sommer so in my kort nagkabaai na die venster om die draai toe.

Die geluide was oorverdowend, anders sou ek die bure voor die venster kon hoor. Maar ek het nie en ek moes gaan kyk.

Toe ek om die draai kom, het ek in my spore vasgesteek, omgevlieg en ‘n langbroek en baadjie aangetrek en weer gegaan. Want die bure het klaar geweet dat ek ook gaan kom kyk.

Ek moes net sien. Terug daar was die bure weg, hulle dogter wat Engels kan praat, het voor die venster gestaan. En ons twee het in verwondering na die liggies gekyk.

Die geluide was so oorverdowend dat van die motors se alarms afgegaan het. Siestog, ek het nie geweet karre kan ook oor geluide kla nie.

Later in die woonstel laat manlief hoor dat hy dankbaar is dat Dusty nou ‘n garage het. Sy sou seker ook gekla het, die wispelturige Russiese kar van ons is mos vol dinge.

Ek weet nie hoeveel vuurwerke afgeskiet is nie, ek weet net dat dit ‘n hele paar rand moes kos. Want dit het seker ‘n halfuur aangehou. Ek het tyd gehad om my foon te gaan haal om ‘n video te neem.

Die bure se dogter vertel vir my dat die stad volgende jaar 100 jaar oud is, maar die getal was lost in translation. Dit is eintlik 200 jaar. As die 199ste verjaarsdag so gevier word, is ek baie nuuskierig oor hoe die grote gevier gaan word.

Ek besef dat die geluide vreeslik erg vir diere moes wees, maar hier is die mense erg oor hulle diere. Ek is ampee seker almal s’n sou veilig in hulle huise gewees het.

Dit was so lekker om vir ‘n paar oomblikke saam met die stad en sy mense die besonderse verjaarsdag te vier. Loer gerus na die video wat ek op Instagram gedeel het.

‘n Bietjie meer inligting oor Ust (Ons troetelnaam vir ons stadjie).

Ust is in 1720 gestig en het in 1868 ‘n stad geword. Die stad is 540 vierkante meter groot en het 321 251 mense, ‘n bevolkingsdigtheid van 590 mense per vierkante meter. Dus kan jy aflei dat die stad vreeslik baie woonstelle het.

Ek het al vertel dat die hoogste rivierslot op aarde by Ust gebou is om bote toe te laat om om die deel can die dam te vaar waar hidro-elektrisiteit gemaak word.

In 2016 is ‘n fabriek in Ust oopgemaak wat 120 000 karre per jaar vervaardig. Mens sou dit amper nie kon glo nie, want die karre in Ust is oor die algemeen stokoud.

Die gunstelling sport hier is, soos mens kan verwag, yshokkie, die naam van die span is Kazzinc Torpedo’s. Hulle speel bandy en rink bandy, twee ander soorte yshokkie, en voetbal. Ons moet nog plan maak om te gaan kyk, hier is ‘n baie groot yshokkiebaan.

Hier word 32 gelowe beoefen, wat Christen, Moslems en tradisionele gelowe insluit. Alhoewel Christenskap toegelaat word, is ‘n protestantse kerk in 2017 verban omdat die mense religieuse liedjies by ‘n somerkamp gesing het.

Wat vervoer betref, is hier motors, trems, busse, taxi’s, en ook ‘n internasionale lughawe. Mens kan direk na Moskou vlieg (so vier ure se vlug).

Rk het al baie genoem dat die temperatuur hier tussen plus 40 en minus 40 grade Celsius speel. Daarom moet mens hier weet hoe om te leef en aan te trek om nie te vries nie …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

6 gedagtes oor “299 jaar gelede gestig: Ust-Kamenogorsk ala Oskemen

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.