Bure, die spesiale vriende wat ek nou eers ontmoet

Ek het al vertel dat ons nog nêrens waar ons gebly het met die bure kuiervriende gemaak het nie.

Presies waarom sal ek nie kan vertel nie, maar ons het nie. Miskien het ons gewag dat hulle ons oornooi? Dalk het hulle gewag dat ons die nooiwerk doen.

Of dalk was ons te kwaai toe ons die eerste keer met mekaar te doen gekry het? Ek gaan seker twee gevalle moet verduidelik.

***

Die eerste kwaaiwees met bure was hier teen 1984/5 rond. Ons het in Jangriemoapstraat in Naudeville, Welkom gebly. En Sondagmiddag was slapenstyd, dollatjie was nog baba.

Vir ons buurman was dit egter die tyd van die dag om op ‘n stoel in sy voortuin te gaan sit. Met sy Skotse rompie aan. Opgedress vir die oefening met sy doedelsak, is dit die regte woord vir daardie Skotse pyperige instrument?

Hy was nie musikaal nie. Onuithoudbare beproewing vir ore. Aaklig as mens baba het wat so pas aan die slaap geraak het. ‘n Geluid wat ek na derig jaar of dalk meer steeds verpes.

Een Sondag het manlief die polisie gebel en gevra dat hulle die lawaai kom stop. Daarna het ons ‘n baie ongeskikte buurman gehad. Maar ons gehoor is nie beskadig nie. Hoop ekke?

Want as dit was, het die tweede keer nie soveel gepla nie.

Die tweede keer was so twee of drie jaar gelede. Die erf langs ons huis was vir seker tien jaar sedert ons ons huis einde 2005 gekoop het huisloos. En ek het regtig uitgesien na nuwe bure toe die erf iewers in 2016 of 2017 ‘n huis gekry het.

Geloer as mens kom kyk het. Aangesien beide huise dubbelverdiepings was, kon ek sien as ‘n agent met mense stop. Ek het opgewonde geraak toe ek sien dat die huis wel pasmaats gevind het.

Hulle was egter aanvanklik nie pasmaats vir ons nie!

Hulle het in die week ingetrek en die Saterdagnag het ek twaalfuur wakker geword van ‘n geweldige geraas in ons erf. Altans, dit het geklink of dit in ons erf was.

My broek het gebewe toe ek mansstemme hoor wat in Afrikatale vir mekaar skree en pype of goete is op mekaar gegooi. Ek het ba die kamervenster gesluip om te kyk wat aangaan.

Kon niks sien nie, die stoep is in die pad. Die geraas was aan die nuwe bure se kant van die huis. Daarom moes ek verby die groot vensters wat op die boonste stoep uitkyk, sluip na seun se kamer om te probeer kyk wat aangaan. En ek het myself verwens vir my keuse om nie daar gordyne te hang nie.

My arme Schnauzers was doodstil geskrik, geen piep het uit hulle kele gekom nie. Al was die Babelse lawaai reg by hulle huisie wat onder ons huis ingebou is. Ek het voorspooksels gesien, my woewe was klaar stilgemaak. En wie dit ookal was, het nie omgegee om my wakker te maak nie.

Toe ek versigtig deur die venster kyk nadat ek seker gemaak het dat my silhoeët nie sigbaar gaan wees nie, was ek stomgeslaan oor die oorsaak van die lawaai.

In die lang gang tussen die bure se huis en ons muur het vyf groot mans met lang ysterpale van die hek na die agterste deel van die bure se erf gemarsjeer.

Ek verstaan dit is kultuur om nie sag te praat nie dat ander mense weet dat jy nie skinder nie. En noudat ek daaraan dink weet ek in elk geval ook nie wat my ‘n groter skrik op die lyf sou jaag nie.

Vyf mans wat vir mekaar skree of vyf mans wat vir mekaar fluister in ‘n taal wat ek nie ken nie. Middernag. In Suid-Afrika. Toe het ek nie gewonder nie. Ek was bang!

Manlief was deurmekaar. Wou nie opstaan nie. Ek moes kyk. Dit was donker, maar ek kon sien dat hulle lang ysterpale dra. Wou hulle dan oor die muur na ons kant toe klim?

Ek het teruggesluip kamer toe, my foon gekry en gewonder of ek die hek moet bel. Want sien, ons twee huise was reg by die hek. Daar was geen manier waarop die wagte nie die lawaai kon hoor nie. En my brein het meer voorspooksels gesien, hier gaan ons vanaand nie gehelp word nie.

Die wagte is gewoonlik dadelik by as iemand na ses in die aande in hulle erwe lawaai. Wat nooit gebeur nie. Daar was geen sekuriteitswagte met hulle draaiende geel ligte by die bure se huis nie. Is hulle in op die saak?

En toe besluit ek om die bul by die horings te pak, in onsekerheid kan ek nie leef nie.

Ek het gebel en die wag het geantwoord. Ek het vir hom gevra of hy asseblief kan kom kyk wat by die bure aangaan en hy het gesê dat hulle toestemming het om tot tienuur goed af te laai.

Ek het kwaai vir hom gesê dit is al amper eenuur en hy moet hulle kom stilmaak. As die pale moet af, moet dit af, maar die geskree moet gestop word. ‘n Ruk later was daar stilte nadat ‘n vragmotor gery het.

Die volgende oggend (Sondag) het ‘n groter skok op ons gewag.

Vroeg oggend het die lawaai weer begin en toe ek uitkyk kon ek sien hoe ‘n massiewe markiestent in die voortuin opgeslaan word. Vier buitetoilette is teen ons muur staangemaak. Die pale wat na agter gedra is, het ‘n reuse opblaasspringplek geword.

Toe ons terugkom na kerk, kon ons nie by ons erf in nie. Ons oprit en sypaadjie is oorgevat deur gaste.

Manlief het gaan vra dat die karre verwyder word. Teen die tyd wat ons wou ry om by seun te gaan kuier, was die karre weg, gleuwe in die sopnat gras ingery.

Ons het drade gaan span. Die boodskap duidelik, af van die gras af. Ons bure wou nie kla nie en ons almal het weke daarna nog gesukkel om die gleuwe uit die gras te verwyder. Weet die mense hoe mens sukkel om ‘n grasperk aan die gang te hou? Ons almal het skade met die besproeingspunte opgedoen.

Ons is daar weg met die idee dat daar stilte sou wees as ons die aand terugkom. Dit is Sondag en Sondae moet daar stilte wees.

Toe nie! Die bure se gaste was joliger as die oggend, en daar was baie gaste. Die drank het gevloei en die rykmansmotors het die hele straat volgestaan, af tot in die park.

‘n Blaasorkes het hoor en sien laat vergaan. Hulle is in die garage, wat langs ons huis is, tuisgemaak. Die vensters wat teen ons muur is, was oop. Ons wou mos toestemming fee dat die garage so na aan ons huis mag wees!

Ons was gewip, kon niks in ons eie huis luister nie. Die TV het probeer, maar kon nie bo die kakefonie uitkom nie.

Teen sewe-uur die aand was daar nog geen teken dat die lawaai gestop gaan word nie. En ek en manlief het soos donderwolke in ons huis rondgeloop.

Ek het die bestuurder gebel. Ek moes skree dat sy my hoor. En sy het geskree dat dit die baba doop is. Ek was nie lus vir ag siestog nie. Arme baba, gaan doof wees nog voor hy ‘n paar dae oud is.

Ek het gevra dat sy luister. Sommer so oor my foon. In my huis. My ore sou dit nie kon hou om nader te gaan om haar beter te laat hoor nie. Sy het die hek gebel, die hek het gaan vra vir stilte en weer gery. Geen effek!

Die lawaai het voortgeduur en ons lonte was kort.

Ons weet reeds dat tienuur en eenuur geen verskil maak nie!

Manlief het die hek gebel en voor ‘n ultimatum gestel. Of hulle maak die mense stil of hy vra die polisie om hulle te kom stilmaak. Ek het nie gedink dat dit gaan werk nie.

Maar, tot my verstomming was die sekuriteitsmotor by hulle huis en is die blaasorkes na hulle kombi begelei. En daar was stilte! Agtuur die aand.

Ek dink nie ek was al ooit in my lewe so dankbaar vir stilte nie.

Anders as wat mens sou verwag, het ons mekaar daarna gegroet, daar was geen kwadegevoelens nie.

Hulle het so een of twee keer gekla as my honde op ‘n Sondagoggend huil. Anoniem. Te dom om te weet dit kan net hulle wees.

Ons ander was al vir meer as 10 jaar bure. En die ander bure het geweet hulle kan maar kyk as my honde blaf. My honde was nie nosy bure nie. Het gou gewoond geraak aan die kindersremmetjies aan die ander kant van die muur.

Nou kan ek seker vertel waarom bure nou eers vriende geword het.

***

Ek het nou die dag vertel dat ons buurseun my hondeoppasser geword het nadat my vorige huishulp ons bedrieg het. En dat hierdie staatmakertjie nou seker maak dat ons tuin gereeld versorg word. Ek betaal sakgeld en hy verdien sakgeld. Wen-wen situasie. Wonderlike vriende wat ons nou eers leer ken.

En nou kan ek van my ondervinding hier in Qazaqstan vertel.

Eergister klop iemand aan die voordeur. Ek het my vriendin verwag, maar eers veel later die middag. Dus het ek eers gevra wie by die deur is.

‘n Man het in Engels geantwoord dat hy hier is oor ‘n garage. Ons kar staan buite in die wind en weer. En ons soek al vier maande ‘n garage.

Ek het verlede week vir een van die ontvangsdames onder gevra of sy weet van iemand wat garage te huur het.

Ek het oopgemaak, hy het getolk. Ons het so gereël om gisteraand te gaan kyk. Hy het aangebied om saam te gaan om te tolk. En sy nommer gegee. Hy sal help as ons tolk nodig het. Enige tyd.

Ek het vir hom gesê sy Engels is goed. Hy het gesê dat hy ‘n tolk is.

En gevra of ek van Suid-Afrika is. My aksent! Hy was op besigheidsbesoek daar! Ek was verby verras. Die eerste Qazaq wat my nie aankyk met geen idee van watse land ek praat nie.

Ek het gisteroggend gevra of hy ons asseblief sal help die aand. En bedank toe hy sê hy sal.

Sy antwoord?

This is what neighbours are for. See you.

Hulle is in selfde gebou, vierde vloer. Nie regtig bure nie. Dit is spesiaal. Mag ek ook so ‘n buurvrou vir hulle word. Ek sal iewers in die week van garages in Oskemen vertel.

Foto: lugfoto van Oskemen, self geneem op 1 September 2019.

17 comments

  1. Soos jy beskryf het,neem dit tyd om aan verskillende kultuure gewoond te raak, maar ons leer van mekaar af en na ‘n tyd vind mense ‘n middelpunt. Dit is nie altyd maklik nie.

    Like

  2. Ek het ook al so n grasperk, tent en baie mense byeenkoms op n Sondag beleef. Gelukkig nie te naby my nie. Dis wonderlik om so iemand soos die tolk raak te loop in n vreemde land. Ek het sommer heerlik myself ingeleef in jou bure petaljes. Ek het ook n hele paar bure-maniere beleef. Nie net in SA nie maar ook hier in NZ.

    Like

      1. Jong jy moenie so uitdaag nie, sommige stories kan ek nie so openlik vertel nie. Het juis vandag weer my nek uitgesteek en in die moeilikheid gekom by die hoof omdat ek glo lelik met n klein wipgat meisietjie is. Sy is egter onhanteerbaar “rude” met almal. Ek is ongelukkig nie so maklik regeerbaar soos sy dit wil hê nie.( alles kom van die huislike omstandighede af, wat haar nie die reg gee om so ongeskik teenoor my te wees nie!)

        Like

      1. Ons het nou ook weer sonde met ons bure…dis seker maar te wagte maar ai…dis so onnodig.

        Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.