As jy die swakplekke van die huisies langs joune ken

Ek lees nou die oggend Una se stuk oor die twee afgebrande huise langs hulle. En dat een van die huise met laslappiewerk reggemaak word. Eerder as om af te breek en oor te bou.

En dit laat my toe dink aan die huis wat in ons estate langs ons huis gebou is. Die erf het so 10 jaar lank leeg gestaan. En was nogal onooglik omdat ons vanuit ons tweede verdieping oor die hoë muur kon kyk. Op ‘n vaal stuk veld.

En toe verdwyn die te koop bordjie en word dit met verkoop vervang. En ‘n rukkie daarna begin die bouery.

Dit was een gewerskaf vir ‘n vale. En tog het die bouers langs ons nie naastenby so erg lawaai soos die bouers hier in Qazaqstan in die woonstelle bokant ons nie. Miskien omdat hulle op die erf langs ons gebou het.

Ek het gereeld bo by een vn die vensters gaan staan om te kyk hoe hulle vorder. En as hulle smiddae weg is, het ek soms om die huis gaan stap om te probeer verstaan hoe die huis gaan lyk. Maar veral hoe dit op my huis kyk. Want ek is nie lief vir digte kantgordyne nie.

En toe is die eerste verdieping klaar gebou, kan ek sien waar trappies opgaan na die tweede verdieping. So van my stoep af. Hulle was besig om die vloer van die tweede verdieping te gooi. En ek sou nie veel meer daarna kon sien nie.

Toe ek die oggend opstaan, is ek verstar. Want ‘n deel van die vloer het meegee, daar was stukke staal wat in alle rigtings gestaan het. Met sementblokke oral. Die breekwerk is gelap en die bouery het aangegaan. En ek het gewonder hoe veilig dit is. Moet die vloer nie weer gegooi word nie?

En soos wat die huis al hoër geword het, het ek twee lekkertes ontdek.

Die eerste een is dat geen van die boonste vensters op my huis kyk nie. Daar was een wat gelyk het of dit het. Toe gaan stap ek binne om te kyk hoe dit my raak. En kry ek die verrassing dat daar geen vloer is waar die venster is nie. Dit gee net lig vir die vertrek onder hom. Wat noem mens dit? Dubbele volume? Bokant die voordeur.

Die tweede was dat hulle aan die planne verander het. Ons het die planne gesien omdat ons moes toestemming gee dat hulle naby aan ons bou. Die een kamer op die boonste vloer moes ‘n stoep hê wat direk op ons boonste stoep en twee van die spaarkamers kyk. Die muur is egter toegebou. En die stoepdeel het ‘n platdak vir die kombuis geword. Nogal onooglik, die stoep sou dit afgerond het. Maar ek was bly. Natuurlik net vir my onooglik, die bure kan die deel van hulle huis mos net van die grond af sien.

Die huis het verskeie platdakke wat gevorm is deur sementblaaie op die kombuis en bokant die garage. Bokant die kamers het die mure hulle eie skuinsdakke vier elke kamer gevorm, dat dit soos blokke bokant die platdak gedeeltes uitgestaan het. Met klein muurtjies om. Om massiewe swembaddens op die dak te vorm.

En pype wat daardeur steek. Ons het aan die begin na harde reën wakker geword van die geluid van ‘n kraan wat oop is. Eers het ons uitgegaan om te gaan soek watter kraan oop is. Om te ontdek dat dit die huis langs ons is wat staan en piepie. Skuus vir die beskrywing, maar ek kan aan geen beter een dink nie. Simbolies perfek geskets, want die pype het die water met ‘n boog na onder laat tuimel.

Die huis was in twee bloue geverf wat dit met die hemel laat saamsmelt het. Ek het baie daarvan gehou. Die huis het lank leeg gestaan, dit was ‘n spekulasiehuis.

Toe kry die huis ‘n vinkwyfie, wat die kleur anders wou hê. Blinders wat nog nooit gebruik is nie is vervang. En die huis het ‘n ligte beige kleur gekry.

Toe hulle die bokant van die muur tussen ons wou verf, laat ek deur die bestuurderes weet dat die muur aan ons behoort. Die kleur word nie verander nie. Ons huis was die eerste van die drie langs mekaar. Voor en agter ons huis is ‘n straat, wat beteken dat ons al vier mure op eie koste gebou het. Ons muur. Ons besluit oor die bokant van die muur.

Die belangrikste flater ken die mense egter nie. Naamlik dat die vloer ingeval het en net gelas is.

Ek het baie gewonder of ek hulle van die probleem moes vertel. Naamlik dat daar ‘n struktuurfout is wat net reggelap is.

Maar dan het ek elke keer besef. Dit help nie om mense van die strukturele gate in hulle nuwe huisies te vertel nie. Hulle gaan jou nie glo nie. En dan heers daar kwaaivriendskap.Maar keaaivriendskap het in elk geval gebeur.

***

Sommer die eerste naweek met die bure langs ons gebeur.

Hulle het die hele week nesgeskrop. Ons het gedink hulle gaan die naweek pootuit wees. Ons was.

Die Vrydagnag word ek wakker van ysters wat op mekaar gegooi word en die skree-stemme van mense wat in Afrikatale praat. Manlief is uit sy slaap weggeruk en dus nie te vriendelik nie.

Ek het uit die kamer gesluip, want mens kan nie op daardie deel van die erf vanwaar die lawaai kom sien nie. Sluipend verby die vensters op die stoep, kwaad dat ek dit nie met gordyne wou toemaak nie. Na seun se kamer vanwaar ek na onder sal kan kyk.

Want ek dog ons huis word oopgebreek en ek sien nie kans om na onder te gaan nie. Die honde was stil. In my gedagtes het ek gesien dat hulle klaar vergigtig is.

Laat ek maar eers van bo kyk wat aangaan. En wakker word. Om die oorsaak van die Babelse lawaai te sien. Mense hardloop op en af in die nou gangetjie tussen ons huis se muur en die huis langs ons. Met pype en goed in die hande. En iemand staan en bevele skree, terwyl almal lawaai met die pype in hulle hande.

Teen eenuur die nag is hulle steeds skreeuend besig. En toe bel ek sekuriteit. Hulle moet die lawaai onmiddelik kom stilmaak. Soos nou dadelik. Ons het nou genoeg gehad. Buitendien, breek hulle in?

Hulle gehoorsaam vinnig en ek is kwaad. Ons twee huise is reg langs die hek, waarom het hulle nie lankal kom stilmaak nie? As manlief waag om oor ‘n naweek in die daglig ‘n gaatjie te boor om ‘n lig op te sit, is hulle onmiddelik by ons hek. Stilte asseblief!

Die volgende dag verrys ‘n massiewe markiestent op die erf se voorste grasperk. Regtig. Ek jok nie.

Word buite-toilette teen ons muur staangemaak, so drie van hulle. En die karre word uit die garage gehaal. Om plek vir die partytjie te maak.

Ek bel die bestuurder, vertel haar van die lawaai in die nag. O, sê sy, hulle het toestemming gehad om tot tienuur te lawaai. Lekker gewip was ekke, in die nag? Moet ons nie ook gewaarsku word nie, ons het ons besimpeld geskrik. Is wakker gelawaai. Tot baie lank na middernag.

Sondagoggend kom die mense aan, in hulle hordes. Dit het die vorige dae hard gereën en die karre stop bo-op bure se grasperke, om diep spore te maak. Die duur motors staan in die straat op, in die straat af en om die draai. Twee blokke verder af word hulle in die park toegelaat om te stop. Ek kan nie raai hoeveel mense daar was nie, maar dit was baie.

Ons moermeters (skuus vir die woord) is lankal diep in die rooi.

Ons gras gaan so wragtig nie ook beduiwel word buitekant ons muur nie. En die sproeiers se punte is op die rand van die sypaadjie. Dit gaan nie stukkend getrap word nie. Manlief soek lint en tou en paaltjies en kap dit in om af te sper. Geen kar gaan op ons gras stop nie.

Lekker kwaad is ons kerk toe en toe ons terugkom, het motors ons hek toegeparkeer. Moerig stap manlief na ‘n wag wat die motors oppas. Regtig hoor, ons wat in die estate bly gaan waarskynlik ene steel? Die man word aangesê om die motor te laat wegneem en dat niemand ons weer moet vasparkeer nie.

Ons het ander klere gaan aantrek en na seun se huis gegaan vir ‘n braai. Lank gekuier ook dat die partytjie langs ons kan stop. Partytjies hou mos nie lank aan nie?

Toe ons sesuur die aand by die huis kom, is dit een Babelse lawaai!

‘n Blaasorkes is in die garage staangemaak, die vensters is oop wat te naby aan ons muur is omdat ons mos toegelaat het dat hulle nader aan ons muur bou! En dit is verskriklik. Ons kan niks in ons eie huis hoor nie, al is al die vensters toe!

Teen sewe-uur kan ons dit nie meer hou nie, ek neem die lawaai op en stuur die stemnota aan die bestuurderes. Hierdie lawaai moet onmiddellik ophou, ons is baie, baie kwaad.

Kan ek net eers verduidelik dat so iets in die jare wat ons in die estate bly en dit is nou so vyftien daarvan nog nooit voor en na die insident gebeur het nie?

So staan ek en afkyk hoe die sekuriteit kom en die blaasorkes in hulle manelpakke uit die garage na hulle kombi begelei. Salige stilte het oor die plek gedaal. As mens nou mensestemme nie tel nie. Honderde daarvan. En nie sag nie, die drank het gevloei!

Agtuur die aand bel ons die bestuurderes weer. Hierdie was die aakligste naweek vandat ons in die estate ingetrek het. Ons soek stilte.

Dit is Sondag. En ons soek die stilte NOU!

Tienuur lawaai dit steeds. Hoe later hoe kwater. En toe bel manlief sekuriteit. Of hulle maak die mense stil. Of ons bel die polisie om hulle te kom stilmaak.

Dit het gewerk, die gaste is huis toe.

Natuurlik het hulle geweet dat ons die bure is wat gekla het. Ons het op die stoep gestaan om te kyk hoe die orkes weggelei is. Ons het video’s geneem. Ons het foto’s geneem. Ons was verby kwaad! Ons was nêtens vriendelik nie. Al die bure het gekla, hoor ek daarna.

Dit was baba se doop. Arme baba, hy is seker doof na sy doop en die lawaai wat daarmee gepaard gegaan het.

As ons iewers ingelig was oor die lawaai wat kom, kon ons gehelp het om hulle aan reëls te herinner.

Daarna was dit die lekkerste bure om te hê. Die inlywing in die estate se reëls het seker gehelp.

So het ek gesien hoe die ou seuntjie langs ons grootword as hy en sussie by die agterdeur gespeel het waar hulle speelgoed gestoor is. Dit was lekker om die kinderstemmetjies in Afrikatale langs ons te hoor. En soms moes ek ‘n bal oorgooi wat aan ons kant geland het wanneer hulle speel. Kon. ie sien waar die balmgaan landnie, maar hulle was bly oor die speelgoed wat terugkom.

Die huis langs ons het slegter as ons van ‘n natuurramp afgekom.

Die tornado wat ons area getref het (ek skat was 2017 of 2018) het groot skade by die splinternuwe winkelsentrum en huise om ons aangerig. Van die huise af in die straat se boonste vlak se buitedeure is uit die kosyne geruk. En ons het amper geen skade gehad nie. Die huis langs ons se dakteëls is opgelig en rondgeskuif. (hooffoto).

Ek kon ernstig seergekry het, want ek het op die stoep gestaan en kyk hoe plastieksakke en voëls deurmekaar in die lug gemeng word. My verwonder omdat hulle so snaaks vlieg, hulle amper in bondeltjies vou om net gedryf te word. En nie besef dat dit ‘n draaikolk is wat my van die stoep kon afhaal nie.

Toe ek ons huis wou laat verf, kry ek haar nommer by die bouer. Vra haar wie hulle gebruik het om te verf. Ek het ‘n kwaai vrou verwag toe sy hoor ek is buurvrou, maar sy was vriendelik.

Ons het nooit by mekaar gekuier nie. Ons kuier nooit by enige bure nie. Maar ons was vriendelik met mekaar. Het oor die muur gehallo as hulle buite was en ons op die boonste stoep. Die mure is te hoog om bo-oor te kan kyk.

Kyk waar het ek nou gaan draai!

Wat ek eintlik wou vertel, is dat dit nie goed is om die foute in die struktuur van die huisies langs myne te ken nie. Ook dat dke nie dink dat dit gaan help om te gaan vertel wat ek weet nie.

Dit help nooit om in te meng nie. Mense verkies dat die wiel oor en oor ontdek word.

36 gedagtes oor “As jy die swakplekke van die huisies langs joune ken

  1. Dis regtig so, Christa, al het van ons estate se mense hom gaan waarsku, die eienaar langs ons bly net sy bouer se kant kies. Hy wil nie weet nie.😲

    Like

  2. Ek is n carer en sou graag die mense wou waarsku om versigtig te wees of om voorbereid te wees. Maar dikwels word dit as inmeng beskou. Ek sou daarvan hou as iemand my waarsku, maar nie almal sien dit so nie. Soos jy gesê het, die eienaar het sy biuer verdedig.
    Mooi vertel Christa

    Like

    1. Ek stem. Ek is n senior by die skool en moet dikwels inspring om probleme op te los. Dit kom al outomaties. Dan is dit dikwels moeilik om bewustelik weg te kyk van n probleem.
      But such is life.

      Like

          1. Netso. Het juis verlede week weer agter gekom dat jy kan hoe lojaal wees, daar is altyd ouens wat dit omkeer en jou die skuldige maak net omdat hul besef hul kan nie wen soos hul dit wil doen nie.

            Like

          2. Gelukkig het ek hierdie keer sterk gestaan en my nie laat oorweldig nie. Ek het n BAIE goeie vriendin, sy is amper tien jaar ouer as ek. Ek kan oopmaak by haar. Haar woorde was: Move them out of your life. You don’t need their dominating ways! Dit het my weer insig gegee om nie betrokke te raak nie, wat ek uit menslikheid sou gedoen het. Dankie vir jou onderseuning en vriendskap ook. Ek lees op oomblik minimum blogs omdat die storie my nou eers weer van lyn afgegooi het. Sal weer koers kry binnekort.

            Like

          3. Jy sal moet, daar is ‘n Goue Vroue storie wat jou naam op het. Toortsie het vandag die derde hoofstuk geskryf. En ek dink dit is jou tipe storie daardie. Ek gaan sukkel, maar ek probeer. Hoop jy gaan lees en saamskryf.

            Like

          4. Het al gelees. Sal eers ou Alice in wonderland moet gaan lees. Het die boek in std 5 by ons buurman skoolhoof as geskenk gekry. Het hom steeds en nog nooit werklik gelees nie. Die oom het ook n outydse sprokies boek gegee met mooiste prentjies in wat ek baie gelees het. Moet byvoeg die twee boeke is in engels en ek was nie te lief vir die Engels nie.

            Like

          5. Jong ek weet nie presies nie. Dis naaks dat dit nie wys nie. Dalk moet jy weer my follow oor aktiveer. Sal self ook bietjie kyk hoe my verstellings lyk. Daar is twee maniere wat mens kan volg. Een is dmv email en dan die verskyn in jou reader.

            Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.