Ons het gisteraand vanaf George teruggevlieg na ‘n paar dae by die see. Daar het dit gereën, maar daar was ook sonskyndae.
Ons het in daglig opgestyg, al was dit al halfsewe in die aand, en ek het nie, soos gebruiklik gekies om by die venster te sit nie. Manlief sukkel as hy in die middel sit.
Naby Johannesburg het ek gesien dat die wolke om ons soms verkleur, daarom wou ek by die man langs my weet of dit weerlig is. Want, ons het voor die vlerk gesit, ek het nie gedink dat dit die vlerk se liggie is wat ek gesien het nie. Daar was egter wolke om ons, dus was dit moontlik.
Dit was verspreide cumulunumbuswolke, daar die soort wat van onder soos blomkool lyk, met ‘n aambeeld aan die bokant. ‘n Aambeeld is mos daardie ding waarop die ou mense – en dalk nog vandag se mense? – ‘n skoen gevorm het. Daardie aambeeld voorspel weerlig – en ook hael as die lug binne hoog genoeg opstyg en koud genoeg word om te vries. Elke keer wat ‘n waterdruppeltjie afval in die wolk, kry dit ‘n lagie water by en elke keer wat dit tot in die aambeeld opgestoot word in die wolk, vries die lagie. Totdat die bevrore waterdruppel of haelkorrel dan te swaar raak en net wil val aarde toe.
Iedergeval, ek vra toe vir die man of hy weet waar ons is, want ons was vroeg, en dit lyk of ons sirkel. Hy wys toe ‘n pers kol ligte regs van ons (ons het aan die regterkant gesit) en sê dat daardie pers kol ligte Carnival City is.
Ek toe kry ek die verrassing van my lewe.
Vuurwerke lyk altyd vir my asof dit hoog die lug in skiet, soos baie, baie hoog!
Wel, hulle het vuurwerke by Carnival City afgeskiet, mens het die pluime gesien en die sterretjie, maar dit was skaars bokant die grond as mens so uit die lug daarna kyk. Pieperig.
Dit het gelyk soos die vuurwerkie wat Spur saam met kleinkind se roomys na ons tafel gebring het toe hy verjaar het.
Klein, verspot klein.
En nou wonder ek.
Is alle vuurwerke so skaars bokant die grond? En lyk dit net vir ons baie hoog omdat ons daar onder is?
Dit maak nogal sin. Want hoe sou ons oog die brandende sterretjies kon sien as dit hemelhoog eers ontplof het? Dit siou dan mos te ver van die aarde wees om lig te kan sien?
Ek is natuurlik nuuskierig. Is dit hoe viirwerke uit die lug lyk? Of was daardie maar pieperige vuurwerkies?
Dit laat my natuurlik aan een aand in Öskemen (Ust-Kamenogorsk) in Kazakhstan dink. Ons was al in die bed en skielik het dit geklink of ons stad uit die lug aangeval word.
Die kamer het elke keer verlig as die donderende slae weerklink. Toe ek in die gang uitgaan en by ‘n ander venster gaan uitkyk, sien ek dat dit vuurwerke is. Laat nag, in die stad, en baie daarvan.
Ek kan nie die rede onthou nie, en kon ook nou nie foto’s daarvan opspoor nie. Die tyd van die jaar wat dit plaasgevind het, wil nie terugkeer nie. Toe gaan soek ek maar ‘n bloginskrywing daaroor.
Ust-Kamenogorsk is 299 jaar oud.
Dit was 16 Junie 2019, en Ust het sy 299 jaar gevier. Die volgende jaar sou dit 300 jaar wees. Toe steel die pandemie-skeppers die feesviering weg.
Ek wonder hoe sou hulle 300 vier as hulle toegelaat sou wees? Mense is eers maande later toegelaat om buite saam te drom om fees te vier.
Noudat ek so kyk na die foto van vuurwerke wat ek gaan soek het kyk, besef ek dat dit regtig skaars bo die aarde is …
Jy laat my nou ook wonder oor hoe hoog die vuurwerke regtig in die lug ingaan. Dit laat my so bietjie aan die volgende dink: Toe ek in die laerskool was, het die saal waar ek skool toe gegaan het verskriklik groot vir my gevoel. Toe ek later jare met skool klaargemaak het, het ek weer eendag daar ingestap en toe besef dat die saal eintlik baie klein is. ‘n Mens se persepsie van groot en klein verander dus soos jy groter word. Dus, kan dit seker ook die geval wees met of jy op die grond of in die lug is …
LikeLiked by 1 person
Inderdaad, en afstand van die vuurwerke af speel seker ook rol
LikeLiked by 1 person
Hier skiet hul vuurwerke in die middel van die hawe. Ons het een jaar in my seun se kantoor so 5 verdiepings hoog gestaan en kyk. Die vuurwerke het nie regtig so hoog soos die gebou waarin ons was opgeskiet nie. Wys tog dat dit nie regtig so hoog gaan nie. Dis die volume wat saam afgeskiet word wat maak of dit baie groot/hoog is. Dis hoe ek dink.
LikeLiked by 1 person
Ek dink ook so.
LikeLiked by 1 person
Daar was geen vuurwerke in ons dorp nie – vir die eerste keer in ‘n lang tyd. Die vuurwerke in jou foto lyk pragtig.
LikeLiked by 1 person