My vriendelike Qazaq buurman

Laat ek eers so begin. In die winkels en op straat is die Qazaqs is volgens ons nie vriendelike mense nie. Ons beleef hulle selfs as ongeskik. Daarom het ek die woorde Tie Grubie (jy is ongeskik) reeds gou aangeleer. Al gebruik ek dit nie sommer nie. Na alles is ek in hulle land en nie andersom nie.

Ons was so opgewonde oor die nuwe winkelkompleks wat naby ons oopgemaak het. Ust-Kamenogorsk ala Öskemen se eerste winkelsentrum wat soos ‘n regte mall lyk.

Imperator probeer, maar kry dit nie heeltemal reg nie. Is klein, met enkele winkels, maar darem nie die soort waar mense agter toonbanke staan en dan moet jy vra wat jy wil hê nie. Ek het al van ons brabbelgesprekke vertel.

Hierdie mall laat mens egter aan een soos Cradlestone dink. Of Clearwater dalk.

Ons was veral opgewonde omdat A-store. ‘n Groot supermark, hierheen sou skuif. A-store is iets soos Pick-n-Pay en Checkers en Shoprite en Woolworths. Metro en Arzan, twee groot winkels soortgelyk aan Suid-Afrika se Makro, is nie binne stapafstand nie, mens moet per motor daarheen gaan.

By A-store koop mens kos en vleis en groente en vis en drank en koeldrank, net soos by Arzan en Metro. Dit is net meer mensvriendelik. Goed is menshoogte gepak. Ek hou nie so baie van die winkel nie, dit gee die snobistiese effek van Woolworths, maar het darem nie produkte wat eie aan die plek is nie.

Met A-store so naby, los dit die probleem van die klein winkeltjies onder ons geboue op. Want, dit los die probleem met Russies op. Alles is agter toonbanke verpak en jy moet vra en beduie en smeek wat jy wil koop. By A-store kan mens deur die rakkke loop en self kies.

Wat ‘n totale teleurstelling!

Die eerste keer wat ons daar in is, het ons in ‘n lang ry gestaan om te betaal. Net om voor te hoor dat hulle nie kaarte vat nie en ons het nie kontant getrek nie. Ons moes agter in ‘n ander ry gaan staan. Wat ons maar gedwee gedoen het al het ons in Afrikaans daaroor gemurmureer. Die keer kon ons darem koop, maar ons was nie meer lus vir A-store nie.

Die tweede keer was ook nie aangenaam nie. Ons het in die ry gestaan, het al die pad soontoe geloop om onder andere botter te koop. Sy lui toe die botter, roep ‘n vrou wat iets op haar skerm doen en sit ons botter agter haar. Geen verduideliking nie, ons mag die botter nie kry nie en sy het dit van die lysie afgehaal. Daar gaat ons sonder die botter. Lekker vies!

Die derde keer was ons maar versigtig om in te gaan, het reggekom en toe is ons Suid-Afrika toe.

Intussen het ons die handbaargesprekke in die klein winkeltjies verkies. Daar mag ek maar koop wat ek vra, anders is dit nie op die rakke nie.

Sondag is ons weer in die mall in, die keer om te kyk watter ander winkels al oop is. Die winkels in die mall maak so vloer vir vloer oop, enkeles op ‘n vloer. Na twee maande is baie van die winkels nog in onbruik. Die boonste vloer is nog nie bereikbaar nie, daar is toue voor die roltrappe wat mense keer om op te gaan.

Manlief voel sleg en ek besluit om gou in A-store in te gaan om vir hom water te koop. Hy wag verder weg, by ‘n waterfontein wat nog nie werk nie. Want raai wat? Anders as Suid-Afrikaanse malls, het ons malls nie koffiewinkeltjies of so iets nie. Jy moet alles by die supermark, A-store koop!

Nou moet ek eers verduidelik. As jy in die mall instap, kan jy reguit aan loop en dan voor links draai en so met ‘n draai terugkom na die ingang. Met winkels aan weerskant van die gang.

Of jy kan regsom stap, om ‘n draai en dan kry jy A-store aan jou regterkant. Ook met winkels aan beide kante van die gang. Daar is die kassiere in ‘n lyn voor die ingang van die baie groot winkel opgestel.

Ek stap toe ingedagte so met die lyn af om die ingang te kry. Die koeldranke is baie naby aan die eerste kassier, dus wil ek nie te ver verbystap nie.

Aan die linkerkant van die gang is verskeie skoonheidswinkels, almal langs mekaar en twee sekuriteitswagte staan in die gang, met hulle gesigte na A-store se kassiere gedraai.

Toe ek twee lang gange langs mekaar sien, draai ek in om deur te stap die winkel in.

Die een kassier skree iets, maar ek verstaan mos nie. Sy kon in elk geval nie op my geskree het nie, ek het niks verkeerd gedoen nie. En ek stap aan.

Ek hoor vinnige voetstappe agter my en draai om om te kyk. Sien die een sekuriteitswag is agter my. Wonder nog so wat gebeur het, en stap aan. Toe praat die man agter my en ek draai om. Dit is vir my wat hy soek!

Hy praat Russies, ek sê ek verstaan hom nie.

Hy probeer sy Engels soek, en beduie met die hande dat ek nie daar mag instap nie.

Ek vra met die skouers waarom nie?

Hy beduie dat ek uit moet gaan, al die pad na die einde van die ry kassiere moet stap en dat ek daar weer in die winkel in moet gaan.

Ek sê dit is stupid, ek is klaar in die winkel, hy trek sy skouers op en wag.

Ek moes sowaar terugdraai, al die pad uitstap en omstap. My stert was in ‘n krul gepluk.

So gaan ek toe tuis op die 2GIS-toep in. Die een wat ons gebruik om enige plek in die groot stede op te spoor. En sowaar, hierdie A-store tak is reeds op. En die mense kla.

Die pryse op die rakke kom nie met die pryse by die kassier ooreen nie.

Ek kla sommer ook.

Dit is ongeskik, waarom is daar nie duidelike tekens as mens net op spesifieke plekke mag instap nie. Daardie instapplek het soos ‘n ingang gelyk en daar was geen tekens dat ek nie daar mag instap nie. Toe word ek soos misdadiger of stout kind teruggeroep om uit te gaan en weer in te stap.

Ek gebruik toe sommer ‘ n foto van die mall en praat my hart uit op Instagram. ‘n Rukkie later antwoord ‘n Qazaq of Rus my. En Engels.

Iets soos I do not see a problem with that, you are in Qazaqstan.

Mensig!

Ek het my bloediglik vererg.

En toe met hom saamstem. Ek bly tog amper ‘n jaar hier. Die kassiere is ongeskik. Wat is nuut? Ek dog ek waarsku mense, hulle is gewoond daaraan.

En toe haal ek my hersiening van die plek op 2GIS af. En ook my plasing op Instagram. Want, die man is reg. Hulle dink dit hoort so. Ons beleef dit so.

Een piep gaan nie die kultuur verander nie.

Mense druk voor jou in ‘n ry in en word sowaar voor jou gehelp. Al wip jy jou stert en loop uit, dit traak hulle min. Waarom weet ons nog nie.

Maar die man se kommentaar het sin gemaak. Hoe kla mens oor een winkel se ongeskikte kassiere as dit algemene praktyk in Qazaqstan is? Dit is dom van my.

Ons koop nou maar weer by Metro en Arzan. Al is A-store 300 m van ons woonstel af. Of ons koop by Mieken en Gastronom, waar die mense nie vriendelik is nie, maar ons kan kry wat ons wil koop. En ons word nie soos kinders uitgejaag om by ‘n ander plek in te stap nie.

Mia, my Suid-Afrikaanse vriendin hier, lag vandag toe ek vir haar vertel ek moes uitstap en op ander plek instap. Sy moes sowaar ook!

In Suid-Afrika is daar openinge tussen kassiere waar mens deur kan loop. Hier moet jy verby al die kassiere loop om aan die ander kant van hulle by ‘n ongemerkte ingang in te stap.

En sy het ook maar soos ‘n skaap gehoorsaam, want wie stry nou met ‘n sekuriteitsman?

Mia sê sy is bang hulle verbied haar om weer in die winkel in te gaan. En ons het nie die woorde om daarteen kapsie te maak nie. Al kan Mia al baie Russies verstaan. Ek kan nie, maar as dit moet, haal ek my toep uit en skryf wat ek dink. Dit help gewoonlik.

Nou goed, ek het ook al vertel dat die Qazaqs op straat reguit op jou afstap. Maak nie saak aan watter kant van die sypaadjie jy stap nie, hulle kom op jou afgestap en as jy nie padgee nie, sal jy seker omgeloop word.

Dus is ‘n vriendelike Qazaqs ‘n lekker verskynsel.

Soos die vier dames wat ons woonstel se kantoortjie by die deur bevrou. Die een voel minder vriendelik, maar hulle almal is ons goedgesind.

Of die een kassier van Gastronom.

Of die een kassier in Mieken.

Of die een verkoopsman by Mechta, en die een by Sulpak, wat ons sowaar onthou.

Of die een buurman wat ons help vertaal as ons goed moet doen.

Of die buurman en sy gesin in die woonstel op ons vloer.

En dit is juis oor die buurman wat ek nou wou vertel.

Hy is een van die eerste mense in die gebou wat met my vriende gemaak het.

Die eerste keer het hy ‘n sweetpak aangehad en vir my met handgebare vertel dat hy in die park agter die woonstelle oefen.

En dat dit lekker is. Ek moet ook, het hy beduie.

Ek het net gelag, my kop geskud en dankie, maar nee dankie gewys, ek en oefen is nie maatjies nie. Al hou my lyf van oefen en beloon sy my gou vir oefeninge gedoen.

Die tweede keer het hy my in die hysbak geKak diela? wat ek darem geweet het dit beteken hoe gaan dit. En kon antwoord met garasho, goed. En kon ook vra hoe dit met hom gaan, maar die stortvloed woorde kon ek nie verstaan nie.

Intussen kry ons mekaar gereeld iewers in die gebou of naby die gebou raakgeloop. Hy praat baie, ek min, verstaan nie baie nie, maar hy lag en gesels.

So ‘n maer ou mannetjie. Ek wil eintlik oompie skryf, maar ek vermoed ek is nie veel jonger as hy nie. Swart hare, vriendelikheid straal uit hom uit.

Ons het so ook al mevrou ontmoet. Sy is nie vriendelik nie. En hulle dogter wat Engels magtig is en altyd ‘n geselsie aanknoop.

In Desember het ek byvoorbeeld buite ons woonstel gestaan, met twee swaar sakke van Metro by my. En met ‘n fietsrybril op, my oë sukkel met die koue en my oogballe word koud. Die bril help, maar ek moet sê dat ek wintie daarmee lyk. Ek was besig om die bril af te haal.

Die man het gegroet en gesê dat ek in hulle woonstel moet gaan wag, ek kan nie so in die gang staan nie.

Nou kyk, ons gange is mos in die gebou en nie aan die buitekant van die gebou soos in Suid-Afrika nie. Ek was doodreg en warm daar, en het net gewys, dankie, maar nee dankie. Hoe gaan ek met hulle kan gesels?

Buitendien! Ek het stewels aan, dit moet uit en ek moet op my kouse staan vir vyf minute. Hoe ongerieflik!

Hy stuur toe sy dogter om my in die gang te kom haal. En ek kan nie weier nie, dit is ongeskik. So is ek saam met haar in die woonstel in. Skoene by die deur uit, op my kouse. Dit is hoe dit hier werk.

Die man het al in die hysbak vir my vertel dat hy ons vir tee en ete gaan nooi, wanneer die mevrou sê dit is reg. Dit het genadiglik nog nie gebeur nie, want ek het ook al vertel wat vir mens aangebied kan word. Ek verkies om nie te gaan eet nie. Hoe sê mens nou nee as hulle dink hulle bederf jou? Daai goed gaan ek nie eet nie!

Vandag is ek op pad na die hysbak toe. En die hysbak is op pad na my vloer toe, hoor ekke. Die deur gaan oop. Om die hoek kom die man.

Hy glimlag breed en Kak Diela en ek Garasho (goed) en hy is om die hoek.

Die volgende oomblik is hy weer by my.

En wys dat ek vir hom moet kyk. En dans vir my.

‘n Privaatdansuitvoering.

Neurie saggies terwyl hy ‘n Russiese of Qazaq dans uitvoer. En kyk vir my terwyl hy dans.

En daar staan ek. Nie seker wat om te doen nie.

Saamdans kan ek gelukkig nie, ek ken nie die passies nie.

Glimlag dat dit oulik is en dat ek dit waardeer, kan ek seker ook nie.

Want dit het my onwillekeurig ook aan die mannetjie by die Qazaqtroue laat dink.

Wat so om my gedans het terwyl ander vrouens om my man gedans het. Toe wys ek ek is ongemaklik en manlief moet my kom haal. En die oompie dans soos ‘n kapokhaantjie tussen my en manlief. Ek het die storie vertel.

Punt is, ek het die dansie nogal geniet, maar ek het nogal geskrik by die Qazaqtroue toe die oompie so tussen my en manlief dans. In so ‘n situasie wil ek nie kom nie, ek is daagliks alleen by die huis.

Die man se andersheid as die ander Qazaqs maak hom egter spesiaal vir my. Die eerste mense wat ons in hulle huis innooi. Nie een van die werksmense het ons al na hulle genooi nie. Ons het die een paartjie al ingenooi toe hulle ons huis toe gebring het, maar hulle wou nie inkom nie.

Ek het vandag al ‘n paar keer aan die insident gedink. En elke keer gewonder wat die man van my verwag het.

Om te kyk hoe hy dans en applous te gee?

Om saam te dans?

Mens, hoe mis ek dit nie om te dans nie.

Ek en my man kon ‘n hond uit ‘n bos uit dans, maar rugby het sy knie opgefoeter. Hy het ‘n knievervanging gehad, maar dit pla steeds. En hy kan steeds nie dans nie.

Ek onthou hoe ek in my kinderjare na advertensies van Fred Astaire (dink ek) gekyk het. ‘n Dansskool in Roodepoort. En kan jy glo? Toe ons veertig jaar later na Roodepoort toe trek, is die skool steeds daar.

Wens eintlik ek het die moed gehad om toe te gaan. En te leer om te tango of so iets.

Wals kan ek, two-step ook en verskeie ander danse. Maar ek sou graag wou leer om die danse te dans waarvoor mens daardie mooi rokke nodig het. En ek sou dit geniet het om die rokke vir myself te maak.

Ai, waar gaan mens se gedagtes heen as een man vir jou ‘n dansuitvoering gee?

So het ek gou Russiese danse geGoogle om ‘n foto vir hierdie plasing te soek. En op die ene afgekom.

Russiese volksdans, geleen by Dreamstime.com

Die bewegings wat hy uitgevoer het, is deel van ‘n Russiese volksdans.

Ek dink ek gaan begin soek waar mens na sulke uitvoerings kan gaan kyk. Of dalk kan leer om so te dans?

Wat my natuurlik weer na my kinderjare terugneem. Kan jy glo?

Ek het aan Volkspele deelgeneem. En dit toe gehaat. Nou wil ek soos die Russe hulle volksdanse aanleer.

Miskien omdat die Qazaqs se tradisies my so baie aan ons Afrikaanse tradisies laat dink.

As ek my oë toemaak, voel dit of ek na Suid-Afrikaanse sangers luister. As ek op hulle volkfeeste my oë toemaak en nie na die woorde luister nie, maar na die musiek, is dit Afrikaans.

Klink hulle soos Rina Hugo, Ge Korsten, Lance James, stemme uit my grootworddae. Hulle spreek hulle r’e duidelik uit. Soos ons Afrikaanse mense.

Ek voel tuis in hierdie land, al verstaan ek ‘n paar woorde. En as jy eers aanvaar is, is hulle gasvrye mense!

16 gedagtes oor “My vriendelike Qazaq buurman

  1. Ek het jou skrywe baie geniet, Christa. En sommer kliphard uitgebars van die lag toe jy Woolworths snobisties noem. Ek voel presies net so. Hier waar oons woon is ook winkels waar ek soms ietwat onwelkom voel. Polities onwelkom, as ek dit nou so kan beskryf. Maar gelukkig kan ek meer as een van die tale praat en my man staan.

    Liked by 1 person

    1. Ai Hester, hoe kan ek vergeet dat dit in Suid-Afrika net so kan gaan? Ek is seker net so gewoond aan vat op die rakke wat ek wil koopen betaal dat ek gesigte miskyk wat nie wil help nie. Jy is reg, dit is probleem oral as mens die taal nie verstaan nie.

      Liked by 1 person

  2. Ai, het ek stilweg lekker geglimlag oor die botter en dat jy soos ‘n stout kind moes omdraai en die dansende man! Ek wou ook nog altyd danslesse neem. Dalk as ons eendag regtig aftree kan ons dit doen.

    Like

          1. Ek het ook jare terug toe ek n aanneem Schnauzer gekry het gevind sy was jaloers as my eie liewe, saggeaarde een op my skoot sit. Sy sal arme Nancy sit en begluur endan teen my kom opstaan om te kyk of sy Nancy kon Afstoot. Ek het altyd vir haar gesê : Nee, Nancy kom eerste en dan kom jy. Sy wou nie byt daaraan nie tot einde. Nancy was regtig n goedgeaarde hond terwyl Megan met haar geboeliede agtergrond altyd half onbetroubaar kon wees. Sy sal mens sommer van agteraf in jou hakskeen wil knyp. Ai ek is steeds hartseer as ek aan haar dink. Sy was uniek op haar eie.

            Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.