Die spreekwoord sê haastige hond verbrand sy mond. Wel, nie in Qazaqstan nie. Hier is dit bykans onmoontlik. Laat en verduidelik.
Eergister staan ons in Kentucky om ‘n emmertjie hoender te bestel. Verstaan geen woord op die spyskaart nie, maar ons verstaan prentjies. Wys na die emmertjie wat regop staan en vra vir 12 stukke. Soos ons op die advertensie op die TV bokant haar kop gesien het.
Daai ene het hulle nie, sê sy. Ons het die ene die vorige keer ook gehoor, wat se nonsens is dit? Dus is ons ontevrede. Njeet? vra ons met frons. Want wat de ongeluk gaan ons nou bestel? Ons het juis so mooi reggestaan met wat ons soek.
Sy blaai deur die menu en wys na die omgekeerde emmertjie en sê ons kan dit bestel. En dit is wat ons wou hê. Twaalf stukkies hoender. Ons lyk verbaas, hulle het dan emmertjies?
Sy verstaan ons uitdrukkings en verduidelik in gebroke Engels die een wat regop staan is peri-peri. En dit maak hulle nie. Want, ek het al vertel, die Qazaqs eet nie kos was brand nie.
En dit is ‘n genade, want ek verstaan die lande wie se kosse so brand, gebruik die brandgoed om vrot vleis weg te steek. Omdat vleis so maklik daar afgaan. Wel, hier kan mens met gemak eet.
Die Qazaqs maak seker dat dit nie met hulle kan gebeur nie, speserye hier brand nie. Tot groot ontevredenheid van die manne wat van brandkos hou. My vriendin se man verduidelik kos moet twee keer brand, op pad in en op pad uit. Sy kry geen speserye of souse warm genoeg vir haar man in Qazaqstan nie. My mond moenie brand nie.
Ek haat dit met ‘n passie as my mond brand, hetsy as gevolg van te warm drinkgoed of te veel brandgoed in die kos. Dit laat my aan ‘n verleentheid dink.
Ons hou altyd, en nou is ek sommer hartseer want dit gaan moet wag, twee keer kersete as een van die kinders nie kersdag self saam met ons gaan wees nie. Een keer voor die tyd en een keer op kersdag self.
Altwee kere met kalkoen en gammon en al. Anders as met kersdag se ete maak ek al die kos tydens die eerste ete. Want die manne en dames werk dan nog.
So ses jaar gelede koop ek sulke oulike, klein rissies omdat hulle so mooi rooi is. Gedog dit is soetrissies, dit was in dieselfde rak. Toe nog nie geweet wat ‘n Jalapeno’s is nie, behalwe vir die wat mens in bottels koop. En hulle is lekker.
Nie geweet die roues is so verskriklik nie! Dus het ek dit saam met die groente gestoom en liggies gebak. Het te lekker gelyk, so mooi kleurvol op die tafel.
Gelukkig het die kleinkinders nie daarvan op hulle borde gekry nie. Want, hulle haat brandgoed baie meer as ek. Oupa het die een keer nie gesien hy het peri-peri hoendervlerkies gekoop nie. En middelste het ewe skielik vreeslik gehuil en sy tong gekrap, asof dit sou help?
Terug by die kos op die tafel. Ek het ‘n skyfie van die pragtige, rooi rissie gesny en saam met rys in my mond gesit. En toe brand my oë, en my tong, tandvleis en keel was gevoelloos. Vinniger as wat die tandarts dit kan regkry. As ek geweet het waar die pyn oral was, sou ek ook my tong wou krap.
My asem was weg, ek kon nie praat nie, die kos moes uit. Sluk gaan ek nie, die pyn sou ek die res van my anatomie spaar. Dus is ek kombuis toe om die goed in die asblik uit te spoeg. Een glas melk wou nie help nie, dus is ek met die tweede een saam tafel toe. En toe eers kon ek die res van my gaste waarsku.
Los daai goed!
Die kinders het gelê soos hulle lag. Hulle het nie daarvan gevat nie. Ook nie groente nie, want hulle ken die goed. Mens sou sweer hulle het nie in my huis grootgeword nie. Behalwe skoondogter se broer, dus het ek vir hom ook melk gaan haal.
Nou weet ek: Jalapeno’s het die nare gewoonte om alles waaraan dit raak in Jalapeno’s te verander. Ek moes die groente net so in die asblik gaan gooi.
Ek weet ook die goed ken net een manier van brand. En dit is voluit. Sonder genade. So vinnig dat mens nie kan keer nie. So erg dat ek niks van die res van my kos geproe het nie. Nie eens roomys nie!
Terug by die rede vir hierdie bydrae, haastige hond kry verrassings in Qazaqstan want hulle monde kan nie brand nie.
Laat ek verduidelik.
Alles op die rakke lyk soos in Suid-Afrika. Daar is vreemde make, maar daar is ook bekendes. Soos Lays, Nestle, Nivea, Pringles en vele meer.
Mens moet egter die taal verstaan wanneer jy koop, anders kry jy verrassings.
As dit ‘n ander maak is, lees ek gewoonlik op die pakke en mens kan dikwels uitmaak wat dit is. Want baie woorde klink Engels of Afrikaans as jy die Russies uitspreek. Soos sjampoe en conditioner. Ander kere moet jy raai of op prentjies staatmaak.As jy iets spesifieks soek, is Google Translate die antwoord. Maar mens wil tog nie by elke liewe ding eers gaan soek wat dit beteken nie.
En dit is die probleem. Want by bekende make maak mens op suid-Afrikaanse kleurkodes staat. Met verrassende gevolge in Qazaqstan. Want die kleurkodes is nie internasionaal nie.
So moes ek my pak skyfies vir my man gee dat hy twee het en ek geen omdat ek laktose-weerstandig geraak het. Hulle donkerblou pakke is nie sout en asyn nie, dit is suurroom!
Ek moes ook al weer gaan bad toe ons op pad is om te ry, want ek het my gunsteling Nivea lyfroom op grond van kleur van die verpakking gekies en die fout eers besef toe die room nie wou intrek nie. Want dit was seep en nie room nie. Afwas by die wasbak wou nie werk nie, ek het net meer en meer skuim gemaak.
Gister se verrassing was ook onaangenaam. Ons het die pak chips, wat soos kaaskrulle lyk (foto) gekies. Hulle verkoop soortgelykes mos in yslike pakke in Suid-Afrika, nie so geel soos kaaskrulle nie. Kon niks verstaan wat op die pak staan nie, maar ons wou probeer. Dit is iets nuuts.
Manlief was nog by die werk toe ek wou proe. Ek weet ek mag nie, want dit het laktose in. As dit soorgtelyk aan kaaskrulle is. Tog kry die nuuskierigheid die oorhand.
Toe ek een in my mond sit, was my eerste reaksie skok. Dit is soet! Is daar so iets in Suid-Afrika? Is dit nuut? Of uniek aan Qazaqstan?
Kan jy nou meer? Soet eetgoed soortgelyk aan kaaskrulle, sonder die laktose wat my pla. Dit het ‘n fyn lagie versiersuiker oor! Sal ek weer daarvan koop? Ek dink nogal so. Manlief hou daarvan en dit is iets wat ek sal kan eet.
Hou ek van die verrassings in Qazaqstan? Ek wonder. Mens raak in Suid-Afrika so in ‘n groef met koskoop dat die kettingwinkels die rakke skuif sodat mens aan ander soorte bekendgestel word. Hier verander hulle die kleur van die verpakkings om my aan hulle produkte voor te stel.
Hier is ook interessante geure skyfies. Pringles maak Shashliek (sosatie), krap en nog interessante geure skyfies. Ek sal volgende keer bietjie lysie maak. Lays het ‘n sampioen een wat volgens my een enkellopende vriendin soos kos proe. Daardie een wil my hart nog nie toets nie … Manlief sal dit ook nie eet nie.
Jare geleede het ‘n paar kollegas gedink die bakkie vol fyn gesnyde groen ‘iets’ soet groen peper was en het dit oor hulle kos gestrooi. Die byeenkoms was in Durban en hulle het gou – en te laat – uitgevind dat die ‘iets’ eintlik groen rissies was!
LikeLike
Eet eenkeer by Ocean Basket saam my sus hulle vir haar dogter se verjaarsdag. Ons weet nie wat die bakkie met groen goed is nie en sy vat ‘n lepelvol en druk dit in my mond om te proe. Wat jy hierbo beskryf het… presies net so maar ek kon dit nie uitspoeg nie. Weet nie hoe die kos gesmaak het nie want my smaak was weggebrand.
LikeLike
Sien, ek verstaan nie waarom mense van kos wat brand hou nie
LikeLiked by 1 person
My pa was n rissie man gewees. Donderdae het hy sy eie geursels en kruie oor sy rys gegooi. Rissies is in fynste repies gesny en tot pitte is in die rys ingemeng. Ek kan tot vandag toe nie rissies eet nie.
LikeLike
Scrapy ek ook nie. Het daarsonder grootgeword en hou niks van brand nie. Pitte en al? Genade tog.
LikeLike
Dis altyd so interessant om by jou te lees. My man is gek oor brandgoed en sou lag-lag jou groente geëet het! Ek hou ook nie van vuur in my mond nie, dankie.
LikeLike
Daar is hy – vuur. Brand alles weg.
LikeLiked by 1 person
Ek kon altyd brand goed eet, maar kom in die laaste tyd agter dat ek sukkel! So, ek sou ook maar daai groentebak verbygestuur het. Hou so baie van jou vertellings!
LikeLike
Dankie Woordnoot
LikeLike
Dis heerlik om van julle avontuur te lees. Ek kan myself glad nie die smaak van die soet kaaskrulle indink nie, as daar so iets in Suid-Afrika is, het ek dit nog nie gesien nie
LikeLike
Is lekker, na die vyftiende een. Eerstes werk nie …
LikeLike
My seun maak gereeld cream cheese jalapeno poppers, maar ek hou ook maar verby. Ek hou van gegeurde kos en eet graag kerrie, maar nie as dit byt nie.
LikeLike
Ek ook! Niks moet brand nie
LikeLiked by 1 person