Airpods: ‘n Aangename verrassing

Toe Apple die Airpods in 2016 beskikbaar gestel het, het ek die goedjies en die prys so bekyk en besluit dat daar geen manier is waarop ek die goedjies, wat soos tandeborselkoppe lyk en duurder as goue oorbelle is, sal aanskaf nie. Hoe bly dit in jou ore? As jy een verlore raak, is die stel daarmee heen. En weer koop sal ek nie kan nie, dit kos ‘n arm en ‘n been.

Ek sit nooit oorfone in my ore nie. Hou van absolute stilte om my, tot manlief se groot frustrasie. Hy hou van musiek en radio en TV en alles wat dit laat klink dat daar lewe is. Ons het darem al tot ‘n vergelyk gekom, hier in Qazaqstan. Omdat hy raas as ek die radio en TV en alles wat lawaai afsit as hy loop.

Hy kom smiddae in vir middagete en die radio is dadelik aan, want hy luister op sy foon na Suid-Afrikaanse musiek deur middel van die bloutand toebehore. Eers het hy die radio afgesit wanneer hy loop, maar het gou daarvan vergeet. Ek kla egter nie want die lawaai gaan met ‘n piepgeluid vanself af sodra hy in die hysbak klim om terug te gaan werk toe. Kan ook net so ver opvang.

Ek het al vertel dat die Qazaqs redelik ongeskik op straat is. Toe begin ek hier in Qazaqstan om met my oorfone in my ore stap. En toe besef ek eers hoe lekker dit is. Ek stap op die maat van Afrikaanse sangers soos Steve, Juanita, Adam Tas, Adam, ag sommer almal, se liedjies die 30 minute per dag vinnig kaf. My musiekbiblioteek het darem ook liedjies van Engelse sangers in, asook klavier, panfluit en boeremusiek in. Ek stap nogal lekker op die maat van boeremusiek omdat die polsslag met my hartslag ritme vind.

Gou-gou was ek verslaaf, as ek die oorfone vergeet het, is ek eers terug om dit in te sit. En was ek sommer vies omdat ek al in moet gaan want die laaste liedjie het nog nie klaar gespeel nie. In die huis is dit ‘n probleem, want dit is net drade waar jy kyk. En ek moet die foon by my dra tot die musiek klaar is.

Ek kom toe ook eers agter dat Apple se oorfone ‘n sekere manier van sit in die oor het, iets wat ek na my sesde of sewende iPhone eers agterkom omdat die ander oorfone nog netjies in hulle boksies is. Hierdie paar sou ook wees as ons nie getrek het nie. Toe pak ek maar een stelletjie in.

O ja, en as ek nie vir ons by Apple Music ingeteken het nie. Eintlik vir hom, ek het mos nie musiek geluister nie. En hy sit met oorfone in sy ore en musiek luister as ons vlieg. Dan is hy sommer vies as ek iets vra, sy musiek is onderbreek.

Dit is juis die Apple Music wat gemaak het dat ek Vrydae sit en musiek aflaai, die wat iTunes voorstel en die wat ek self gaan soek.

Ek is ‘n baie groot aanhanger van Steve se musiek, maar ek hou van bykans elke liewe Afrikaanse sanger. Behalwe die wat skree, daarvan het ek genoeg gehad toe ek ‘n juffrou was.

My foon se biblioteek het gou vol musiek geword, van klassieke musiek, tot dansmusiek, boeremusiek, Enya, Russiese musiek. Weet jy hoe na dit aan Afrikaans is? Wat ritme en so aan betref en ook gemoedstemming. Nie die woorde nie, dit is Grieks. Maar ek het nou die dag een van die liedjies in die taxi verstaan, tut-tut beteken min, bietjie en word in sinne gebruik soos Ek verstaan bietjie Russies.

Soos ek reeds geskryf het, het die musiekaflaaiery my aangemoedig om oorfone in die ore te sit as ek stap. Want nou kon ek manlief se liefde vir musiek in die ore deel. Na soveel jare …

Dus skimp ek nader aan my verjaarsdag by manlief dat ek nie sal omgee om Airpods te kry nie. Nader aan my verjaarsdag skimp ek dat ek graag na die hoofstad, Nur-Sultan, sal wil gaan vir my verjaarsdag en dat die Airpods kan oorstaan vir ander dag.

Ek was baie verras toe manlief my in Nur-Sultan van winkel na winkel laat loop om die Airpods te kry. Dit is nogal duur, pryse is na aan Suid-Afrikaanse pryse, goed moet mos ingevlieg word hierheen. Geen see wat aan ons land grens nie. En toe kry ons die goedjies by Technodom.

Jitte, maar is dit nie oulik nie! As jy die boksie oopmaak, gaan ‘n liggie aan. En as jy jou bloutand oopmaak en die oorfone se boksie oopmaak, paar dit sommer maklik met jou foon.

Dit weet wanneer dit in my oor is. Sodra dit in is, maak dit ‘n geluidjie en dan kan ek musiek luister.

Ek kan deur die huis stap en goed doen en my foon in ‘n ander vertrek los, die musiek speel steeds. Geen drade wat om my arms vou as ek stap nie, geen drade wat rondvlieg omdat dit vir te lang mense ontwerp is nie. En dit haak so gemaklik soos die oorfone in my ore.

En, anders as wat ek verwag het, is dit piepklein en gemaklik. Die batterye hou lank en dit hoef net 15 minute in die boksie terug te gaan om weer vol gelaai te wees. Die boksie self hou ‘n hele paar laaie in voordat dit gelaai moet word. Iets waaroor ek nogal gewonder het.

Die lekkerste is egter die suiwer klanke van die musiek. En dat ek dit saggies kan stel, reg vir my oor.

Daarom is ek soos ‘n kind met ‘n nuwe speelding. Sit hier en musiek luister terwyl ek aan my artikel werk. As ek sukkel, moet ek eers bietjie klassieke musiek gaan soek want dan wil die ore na die woorde luister. Net ‘n stuitige kind. Dan hoor ek hoe Joe Foster en Johan C Venter sing:

Hoe moes ek weet? Hoe moes ek weet dat ek ‘n hart gaan breek!

Gits, dit gaan my hart breek as ek een die goedjies verloor. Hulle moet beslis weet dat hulle my hart gaan breek as een ‘n ander baas gaan soek …

16 comments

  1. Oeeee ek verstaan. Ek is mal oor musiek maar ook mal oor stilte. Daar is tye wat ek stilte moet hê en tye wat die musiek maar kan speel. Darem grênd die tegnologie. Geniet jou blessings

    Like

  2. Ons 15 jarige kleinseun kom nounet hier by ons ingestap… en wat sal ek in sy oor sien? Presies waaroor jy nou geskryf het. Toe kon ek so ewe slim met hom daaroor gesels 😂😂😂

    Like

      1. Hoog in sy skik en ja dit is duur. Hy het net een ingehad want altwee en hy hoor niks anders nie (seker vir as sy ouers hom roep 😂😂😂) Toe raak hy tegnies en verloor my.

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.