As dit eers so mistig in Ust raak …

So twee weke gelede sit ek en ‘n Qazaqmeisie en gesels. Ook oor hoe ek oor Ust voel. En dat dit goed is dat ek eers kom kyk het hoe dit hier lyk.

Want Ust’-Kamenogorsk se temperature wissel tussen minus 40 en plus 40 grade Celsius. Ons het kom kyk toe die kwik aan minus 40 grade Celsius geraak het. Hier is volgens haar regtig vier seisoene.

‘n Baie warm somer, ‘n koeler herfs, ‘n baie koue winter en ‘n warmer lente. En dan sprak sy die sprook: Dit gaan volgende week begin reën om die koue maande in te lei!

Goeie genade! Sy moet verkeerd wees, dink ekke.

Volgens ons SA vriende wat verlede jaar September hier aangekom het, begin dit eers in November sneeu.

Dan besef ek dat sy reg moet wees. Die lug moet vogtig genoeg wees en dit moet koud genoeg wees dat sneeu kan vorm.

Maar my hart sak in my skoene. Dit was nog skaars somer.

Ons het begin Julie nog nie regtig warm gekry nie. En dit is skaars ‘n maand en ‘n half later. Somer moet darem langer wees, veral as die kwik na die 40’s styg?

Dus het ek die lug dankbaar dopgehou in die twee weke wat gevolg het. Dit was blou met mooie wolkies

Hierdie foto het ek nog Saterdag van ons stoepie af geneem. Vir my gelyk soos ‘n vrou wat in die lug sweef, of dalk swem. Haar kop regs op die foto, een arm in die lug, rokkie dartelend afterna.

Vrydag sit ons in die vertreksaal van die lughawe, helderblou lug buite. En ek dink aan haar woorde. En ek is dankbaar dat dit nog nie bewaarheid is nie.

Ons het skaars helderblou lug in Ust gehad. Ek het nou die dag nog genoem dat ons selde blou lug in Ust sien.

Daar was geen reënwolke nie. Op pad na Nur-Sultan toe het ek, soos altyd, die Cumulus en die Cumulonimbuswolke afgeneem.

Die Cumuluswolke is blomkoolagtige wolke en vir my wondermooi. Die plat basis onder vertel dat dit vog in het.

As dit veel hoër word, donkerder word en ‘n aambeeld bo vorm, is daar ys in die wolke, wat op en af gedruk word deur lugstrome.

Elke keer wat dit op gedruk word, kry dit ‘n lagie ys by. En as die korrels swaar genoeg word, hael dit. By ons val die reën voordat dit haelkorrels kan vorm. Dus het ek nog net Cumuluswolke gesien.

Ons het ‘n bumpy ride gehad, ek het nog daarvan vertel, maar ek het nie daaraan gedink dat die wolkmassas op pad na Ust kan wees nie. En Sondagaand het ons eers naby tien die aand huis toe gekom, dus het ek nie die wolke uit die lug gesien nie.

Maandagoggend word ons, anders as voor die naweek, in ‘n donkerder huis wakker. Voorheen het die son reeds vyfuur in die kamer ingeskyn, om ons wakker te maak. Maar die son het later begin opkom en vroeër begin sak.

Ons het mos reeds die verste punt bereik. Die langste dag reeds gehad, ons is weer op pad na ewe lang dag en nag. En dan langer nagte as dae.

Toe ek by die venster uitkyk, het ek gesien dat ons in ‘n miswolk leef (eerste foto). En dit was aansienlik koeler as voor die naweek.

Dinsdag het dit bykans die hele dag gereën. Sag en dan hard en dan weer sag. Die son het agter die wolke weggekruip. En die reën het lank genoeg middagete gehou dat manlief huistoe en terug kon stap.

Daardie son wat mens so mooi sien as jou vliegtuig bokant die wolkmasses vlieg, was net weg. En dit was nog koeler want die son het nie deurgebreek nie.

Dus het ek gister my langmouklere nader gehark. Die kamerdeur wat op die buitestoepie uitloop, dig getrek.

Vanoggend is dit eintlik al kouerig. Dan besef ek hoe reg Saule was.

Dié vog wat nou reën bring, so aan die einde van die winter. Dié vog wat nodig is om ons dorp van Novembermaand af in ‘n sneeukombers te hul.

Die herfs het aangebreek. Dit is kouer, maar anders as in Suid-Afrika word die herfs met vogtige lug ingelui.

Ek weet dit gaan mooi wees, ek het sulke pragtige foto’s in Januarie geneem toe ons hier was.

Ek weet egter ook dat die koue op pad is. En dat dit baie, baie koud gaan word.

Toe my kinders in Januarie vir my gevra het hoe koud minus 38 grade Celsius is, het ek gesê dat ek hier uitgevind het dat koud koud is, maak nie saak hoeveel onder zero nie.

Want ek het gedink mens gaan sommer net verkluim as jy buite kom. Mens doen nie. Dit is nou seun se sêding. Koud is Koud. Want hulle moet hulself moed inpraat: Hulle kom Desember kuier

Hier het ek in Maart uitgevind dat mens moeilik loop wanneer die sneeu begin smelt, want jy moet jou oog op die pad hou om swart ys te vermy.

Daardie soort ys wat soos die teerpad lyk, maar jou voete sommer net so woeps onder jou uit kan steel. En hoe kom mens dan weer op? En hoe vinnig kan jy van die nat klere ontslae raak as jy buite was?

Daarom skuifelstap mens om ongevalle te vermy. En loop jy op die korrelys. Langs die wit ys, waarin jou skoene kan wegraak. Om yskoue broekspype te los.

Dit was nou toe die lente aangebreek het en die sneeu begin smelt het.

Ek wonder of dit ook so gaan wees as die sneeu begin val. Dat die warmer dae die sneeu gaan laat smelt om ons in die skuifelstap in te dwing.

Manlief sê ek moenie nou al daaraan dink of daaroor praat nie. Dit gaan ons net depressief maak.

Ons wat die son van Suid-Afrika in al sy glorie geniet.

So van son gepraat, ek het nogal gedink dat ek hier in Qazaqstan baie wit gaan word. Mens, was ek nie verkeerd nie?

Ons stap mos oral en die son voel nie warm nie, dus sit ek nie sonroom aan nie.

Ek het ‘n spiertwit kring om die pols waar my horlosie sit, ‘n wit kring om die ringvinger om aan te dui dat ek getroud is en ….

Jy sal sowaar nie raai nie!

Twee wit lyne oor my voete om die bandjies van my gunsteling skoene aan te dui en twee bruingebrande lyne daar bo om aan te dui tot waar my stapbroeke kom. Die lyne moet in die winter wegkom, dit wil nie nou nie!

Dankie skoondogter vir die Vitamien D. Ek het gister enetjie geneem en die swarterige gevoel het soos mis voor die son verdamp. Kan mens dit glo? Dat ‘n pilletjie die son in jou kan terugsit? Ek hoop die Qazaqs se Vitamien D het net soveel krag!

11 comments

  1. Ek weet jy hou van woorde en toe ek jou beskrywing van die wolk lees (die vrou wat in die lug sweef/swem) het ek geweet ek moet hierdie een deel: pareidolia = The tendency to see a specific pattern or meaningful images in random stimulus. Ek sien uit om te hoor hoe julle herfs gaan wees.

    Liked by 1 person

  2. Ek glo jou gemoed sal stelselmatig lig soos wat die dae verbygaan en dit kouer raak. Ek is een van daardie mense wat amper nodig het om aan en deur die omstandighede wat moontlik gaan aanbreek, te dink, en daarna voel ek beter.

    Like

  3. Vasbyt..dink net daaraan dat dit nie ‘n permanente leefwyse gaan wees nie. Een van die dae is julle terug en dan kry mens weer net warm, want hier was nog niks winter nie!!!

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.