Hierdie skryfstuk vorm deel van die Towerinne se Rebusfontein avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur. Die ander hoofstukke kan hier gelees word.
***
Ons nuwe vervolgverhaal is iets in ‘n klas van sy eie, ons herdoop ons huisies in Rebusfontein. Want sien. Die straat het te lank geword en ons huisies staan eintlik glad nie soos soldaatjies in ‘n ry nie. Inteendeel.
Dit is towerhuisies het in ‘n tipe van sirkel beweeg in een van die vorige hoofstukke, om ‘n cul de sac te vorm. Met twee bome in die pad, wat net oopskuif as jy die wagwoord ken. Om die dorpie so klein bietjie misterieus te maak.
Ek het verlede jaar ongeveer hierdie tyd vinnig ingetrek. Nommer 17 is aan my toegeken. En dit is steeds my nommer, ek hou daarvan. My verjaarsdagdatum. ‘n Leë erf waarop ek my eie huisie moes bou. My huisie se beskrywing ‘n jaar gelede. So twee weke gelede was daar skuiwe in Rebusfontein en ek het so bietjie gesukkel om n die huisie te gaan.
Ek dink ek het haar nie na my smaak gebou nie. Min beskryf, een slaapkamer, rekenaar om my werk by my te hou. Ek ‘n poniestertvrou. Om sommer vinnig en maklik by ‘n nuwe avontuur in te spring. Nou weet ek waarom die poniestert.
Mens. Dit is droog in Qazaqstan hierdie tyd van die jaar, ook in Almaty. My hare staan in alle windrigtings en ek het sowaar nou begin om my hare soos in my kinderdae op te doen. Poniestert, draai krulle met die vingers en steek vas, in ‘n soort van bolla. Hou nogal daarvan, wonder waarom ek dit nie lankal probeer het nie? Ek hou nie so baie van vassteek met versierde knippies, daardie soort wat soos knypers werk … al kan ek hulle glad nie weerstaan nie. Ek koop gereeld …
Iedergeval, ek het besluit om die huisie wat ek aanvanklik gebou het, in ‘n gastehuis te omskep. Om my nuwe huisie effens agtertoe te plaas, op ‘n hoogtetjie in die bos en oor die rivier wat in die dam inloop. Sodat ek bo-oor die gastehuisie kan kyk. Op die binneplein van die dorp wat Woordnoot begin beplan het (sien vorige hoofstukke). Maar ook om ‘n uitsig oor die wêreld om my te hê.
Vir baksteenbou het ek nie weer kans gesien nie, want ek het die wonderlikste soort huisies in Qazaqstan ontdek. Yurts.
Die materiaal vir my yurt (groot foto), het ek per lugvrag na Kaapstad gestuur, waarvandaan dit per bakkie na Rebusfontein gevat is. Ek en die materiaal het so saam-saam in Rebus aangekom. Toortsie het die materiaal (groot foto onder) so staan en bekyk en toe die vraag gevra wat op almal se lippe is. Wat is dit?
Waarvoor is die skip se stuurwiel? wil Virgo weet.

Dit is die materiaal vir ‘n yurt, Toortsie, het ek geantwoord. En dit is nie ‘n stuurwiel nie, dit is die boonste opening van die yurt. Ek dra sommer die wikipedia beskrywing voor:
A traditional yurt or ger is a portable, round tent covered with skins or felt and used as a dwelling by several distinct nomadic groups in the steppes of Central Asia. The structure consists of an angled assembly or latticework of wood or bamboo for walls, a door frame, ribs, and a wheel possibly steam-bent. Wikipedia
Ja, vertel ek verder, yurts is kenmerkend aan Sentraal-Asië se nomades wat die Steppe bewoon het. Ek kry nie ‘n Afrikaanse woord nie, neem aan dit is in Afrikaans ook ‘n yurt. Yurts is ‘n tradisionele vorm van behuising in Qazaqstan. Hierdie tenthuise kan opvou in klein eenhede wat maklik getrek kan word. Vir die nomades wat so van plek tot plek trek. Om iewers anders weer vinnig opgeslaan te word.
Wil jy dan vinnig kan weggaan, Christa? Toortsie lyk bekommerd, en ek sien dit is die ander se vraag ook. Nee, ek gaan nêrens heen nie, ek bly het hier.
Die towerinne wil nie wag tot dit opgeslaan is nie, hulle wil eers weet hoe een lyk. Dus stuur ek sommer my foon om met ‘n paar foto’s van voorbeelde van yurts om.

Oe, vra Positief, watter prentjie het jy gekies?
Nee, wat, verduidelik ek. Ek het maar so neutraal as moontlik gebly. Groen mure om by die omgewing aan te pas en wit dak (hooffoto). Ek kon nie ‘n mooi houtdeur weerstaan nie.
Almal wil help om die yurt op te slaan, dus sit ons sommer op Seegogga se stoep na die so-maak-mens video en kyk.
Hier is ‘n korter video’tjie …
Ek dog dit gaan ure vat, maar nee.
En toe begin ons werk. Die mans wat die yurt kom aflaai het, het die vloergedeelte (hooffoto) oor die sloot wat as garage vir die boot dien reg neergesit en vasgekap. Toe is hulle daar weg. Dus was ons net vir die opslaan gedeelte verantwoordelik. En dit was pret.
Ek het soms so bietjie gejippo, dan het ek van ver af gekyk hoe almal dit geniet. Dit is ander as karavaanopslaan, tentopslaan en kampplek opslaan. Dit is vet pret.

Ek het gesorg dat die deur op die regte plek is. Virgo se stuurwiel het ons so saam saam die lug ingestoot. Ons het die pale op die houtmuur gerus en dan in die gaatjies in die stuurwielopening ingedruk, eers twee wat teenoor mekaar staan en dan nog twee en so aan tot almal ingesteek was. Ons het die ring op twee lere laat rus toe hy in die lug gestoot kon word om die dakopening te vorm.

Ook hier het ons sirkusdae gehelp, die pale is netjies ingedruk. Woordnoot het hare die maklikste reggekry.
En toe vat die towerinne net oor en ek moet seker maak dat alles op die regte plekke is.
Appeltjie en Aalsie het die opslaan van die mure die meeste geniet. Ek vermoed dit is omdat hulle musiek so baie geniet. Die uitrek van die gaas en strek om die rondtes van die vloer van die yurt het groot pret verskaf.
Perdebytjie en Una het soos wafferse sammajore die muurgedeelte van die yurt se een sy aan die deur vasgemaak en toe al giggelend om die raam van die muur gehardloop om die ander sy aan die ander kant van die deur vas te maak. Ons sirkus avonture het toe gehelp.
Daarna het Sonell op die leer gestaan en Bondels het die dak se verskillende lae aangegee sodat Sonell dit deur die opening kon gooi om soos ‘n tafeldoek oor die dak se pale te vou.
Ek het omgedartel en seker gemaak dat die dak se flapgedeelte oor die mure vou om goggas en water buite te hou. Vanaand gaan ek die slaap van ‘n moeë, maar gelukkige vrou slaap.
Ek het omgestap en die seile by die vensters oopgemaak dat lig instroom, sagte lig wat deur die bome om die yurt omring se blare syfer. Hemel op aarde. So in ‘n ronde tenthuisie.
Toortsie en Seegogga het binne seker gemaak dat alles op hulle plekke bly.
Ek het lemonade met lemoen, gemmer en mint gemaak en ons het laggend op die dek se rand gaan sit, met ons bene oor die rand gevou, skoppend terwyl ons oor die pret met die opslaan van die huisie van my gesels.
Virgo wou net sien hoe die sauna opgeslaan word, dus het sy vir Positief opgekommandeer om te help opslaan. Virgo het gesê sy gaan nie sauna nie, sy kry genoeg stoombad as sy in Aby Dhabi buite rondstap. En ek neem haar so wraggies nie kwalik nie, ek sou ook nie nog stoom wou kry nie.
Woordnoot het my gehelp om die buitestort op te slaan. Sy sou dit eerste kom toets, maar al towerinne het besluit om almal die aand te kom toets. Virgo moes ook maar net inval.
Ek het by die tafeltjie gesit, lemonade gedrink en die sterrehemel bewonder. Dit is salig om so klomp jolige vriendinne te hê. Ek sauna nie self nie, maar myne staan oop vir almal wat van stoom hou. Ek haat dit …. Toe ek weer sien, sit ‘n paar van die huisies se feëtjies saam met my en lemonade drink. Hulle kon die aarbeie, gemmer en mint net nie weerstaan nie.

Aan die agterkant van my huisie is die rivier lekker breed, die ski-boot staan gereed om ons vinnig oor die rivier te neem as ons kos wil gaan koop. Hy staan gewoonlik onder die dek …
En daar is ‘n berg aan die anderkant van die rivier.
Môre kom die inhoud van die huisie, vanaand slaap ek in die gastehuisie wat dei erf met Welgevonden deel.

En ek kan nie help om te wonder of die towerinne ooit kon droom dat ek soveel in die huisie kan pak nie. My studeerkamer is bo, die bed is onder dat ek na die sterre kan kyk voor ek aan die slaap raak … met ‘n byna 360 grade uitsig op Rebusfontein.
***
Na die sauna gesels ek en die towerinne oor die naam van my huisie. Die aankmgewery was nogal so ewe op die uwe se aandrang. Om so seker te maak dat oud-inwoners kan terugkeer na hulle genommerde huisies, sonder dat nuwe inwoners wonder waar hulle huisies nou eintlik mag staan. Ons huisies kan vorentoe en agtertoe skuif, die op die rand het feëtjies in wat die huisies vir die oud-inwoners oppas.
Ek het dae aaneen geloop met idees vir my huisie se naam. Wat kan dit wees? Vryheid? O nee gaats, daardie naam is reeds gekies.
Yurt? Almal weet nou wat ‘n yurt is, dus sal dit ook nie werk nie. Christa se yurt sal wel soos Toortsie se plek kanwerk, maar dit is dan na-apery.
Ons huisie op die wal van die Vaalrivier se naam is Vaal-de-Vrede. Vrede langs die Vaal. En ons beleef dit al soveel jare lank daar. Ek hou daarvan. Die naam kan ek egter nie kies nie, dan gaan ‘n hele paar mense dink ek praat van die huisie by die rivier.
Rus & Vrede? Dit klink so wonderlik, maar terselfdertyd so voorspelbaar. Voorspelbaar omdat ek dan gaan dink dat daar nie rus en vrede is nie as die onvoorspelbare towerinne weer ‘n ding in die dorp aanvang. Soos om arme Una aan die sirkus te verkwansel. Of het ons haar net geleen?
Welgedacht? Sjoe, daardie ene klink lekker. Nee, nou weet ek. Ek gaan dit na oupa Fourie se plaas vernoem.
Welgevonden. Dit gaan my huisie se naam wees.
Dit herinner my aan die plaas, bloekombome in ‘n laning waarlangs mens moes ry tot by die opstal. Bome waaronder ons tussen al die plaasgereedskap deur gespeel het. Ons vyf dogtertjies en baie, baie niggies.
In ons familie aan my pa se kant was daar vier ander niggies wat saam my ouderdom was: Rika van oom Hennie Fourie van Bethal, Ansie van oom Piet Fourie van Meyerton, Anita van tannie Sannie Malan, my pa se sus, Santie van oom Daan Fourie en ek, dogter van Jan Fourie, eers van Modderfontein en daarna van Ermelo. Ons was groot maatjies, ons vyf niggies. Ek voel eintlik sleg dat ek nie kan onthou of my sussies saamgespeel het nie. Ek neem aan almal het niggie maatjies gehad.
Ons niggies was op soek na insinkgaatjies wat soos tregters lyk. Om die toktokkies met stokkies uit hulle gaatjies te lok. Sodat ons die volgende een kan gaan soek. Ons het niks aan hulle gedoen nie, maar hulle wel soms op ‘n handpalm getel. Om te kyk hoe lank ons kon stilstaan met ‘n goggatjie wat met spookasem sagte pootjies oor ons hande loop. As hy egter probeer om ‘n gaatjie te maak, is hy gou teruggesit.
Ons het daar manna opgetel. Ek wonder altyd of dit proe soos die manna in die Bybel. Seker maar? Dit was sag en soet en lekker. Soms bietjie harder. En net soms het voëltjies ons vir ‘n pop gevat. Dan het jy dogtertjies vinnig sien spoeg.
Die naam is ook gekies omdat ek die dag toe ek ‘n blogverhaal van die towerinne raakgelees het en besluit het om kommentaar te lewer, ‘n goeie vonds gemaak het.
Goed, my huisie het ‘n naam: Welgevonden.
Ek het ‘n groeiende groepie blogvriendinne raakgelees wat in hierdie dorpie saamwoon en wonderlike avonture beleef, gereeld aan hulle huisies timmer om dit mooi te maak en my uitdaag om buite my gemaksone te beweeg om dieselfde te doen.
Dit was inderdaad Welgevonden …
Ek bring manlief nie saam nie, sy verbeelding werk nie so lekker nie …
Fotokrediet: Al die foto’s is geleen op Google, die videos is van Youtube gedeel.
Welgevonden?Welgedaan!
LikeLike
Dankie Letty-Ann.
LikeLike
Wat ń wonderlike yurt-huisie, Christa. Dis lieflik mooi, en ek het die opslaan terdeë geniet! Kyk, om ń uitsig van 360% op Rebus te hê, is ń blink idee. Nou kan jy sommer dophou en vinnig sien as een van ons jou … uhm… nodig het vir bietjie pret, of baie droogmaak.
LikeLike
Hmmm, dit is interessant, ek sal sommer maklik kan sien as ek deel van die pret moet word.
LikeLike
Netso.
LikeLike
‘n Mens kon ons myle ver hoor soos ons gelag, gebabbel en geraas het. Almal het gelyk gepraat. Ag, dit was nou regtig vet pret! Ek is mal oor jou huisie.
LikeLike
Baie dankie, Toortsie, ek dink mens kan daar pret hê in die toekoms.
LikeLiked by 1 person
Ek het nou die week al te lekker op jou blog rondgekuier. Wonderlike Yurt. Wonderlike vroue. Wonderlike fantasieë.
LikeLike
Baie dankie, ek waardeer dit baie. Kan ek jou nooi om saam met ons te kom fantaseer? Ons het altyd plek vir nog iemand. Jy kry die erf pasella, moet die huisie self bou. En ons help graag bou, soos jy sien …
LikeLike
Christa, jou huisie lyk so mooi, ons leer ook altyd iets nuut, yurt!
LikeLike
Dankie Positief, ek was self verras dat ek so iets gaan. kies.
LikeLiked by 1 person
Dis nou regtig uit die boonste rakke! Die idee dat mens alle kante kan uitkyk maak dit ideaal om te sien Wat om jou aangaan.
LikeLike
Dit is Scrapy, ek hou van die idee om so te kan lê en kyk na alles buite as ek wil gan slaap.
LikeLike
My een plaas wat ek oppas het n hoë huis. Lê ek op die bed kan ek uitkyk na waar skape teen die bult wei en dan in die sitkamer sien ek weer die tuin en ander dele van die heuwels en bosse. Kyk tot onder in die vallei.
LikeLike
Ek kan net dink dat dit hemels is. en Scrapy, hoe wens ek mens kon dit in suid-Afrika ook doen. Plaas net so geniet.
LikeLike
Ja, als is ek ver van my grootword land is ek elke dag dankbaar dat ek hier kan wees en onbevange, spanningvrye omgewing geniet. Elke oggend en middag as ek loop is dit net onbeskryflik hoe lekker dit is.
LikeLike
Ek verstaan dit. Wens ek kon my kinders na so ‘n land neem.
LikeLike
My meetsnoere het in mooi plekke geval. Dit kon heel anders gewees het.
LikeLike
Dit is waar.
LikeLiked by 1 person
Ek is beiindruk en verwonderd oor jou pragtige yurt huisie! Ons gaan mos lekker kuier hier.
LikeLike
Dankie Seegogga, ek hou van die huisie van my
LikeLike