Ek blaai so deur my foto’s en kyk in hierdie ene vas, wat my eers laat dink dat elke dag by die see ‘n slegte haardag is. Want, daar is baie soortgelykes … my hare krul ontembaar by die see.
Hierdie foto bring baie herinneringe terug … Die foto is in Februarie 2017 op Amanzimtoti se strand geneem.

Ek het by kongres in Durban gepraat en toe loop ons twee op ons spore terug na die strand waar ons twee ons eerste vakansie as pasgetroudes gehou het. Wittebrood in Amanzimtoti.
***
Staaltjie oor die naam. Een van my blogvriendinne het iewers die afgelope twee jaar met die naam gespot. Nie A-man-zim-toti nie. Maar Ander-man-se-… En dit het my teruggegooi na ons wittebrood en beplanning daarvan. Want ek het ewe verleë vertel dat my skoonma ons so gespot het toe ons vertel het waar ons ons dae na die troue gaan verwyl.
Sy was ‘n verpleegster, alles gewoond en het die ding by die naam genoem met vier seuns wat sy grootgemaak het.
Ek was preuts, het baie preuts grootgeword, ons het ‘n naam vir die vroulike weergawe gehad wat niemand sou herken as ons dit in die openbaar sou gebruik nie. Van seuns en hulle geslagsdele het ons nie geweet nie en beslis nie in ‘n huis met vyf dogters daaroor gepraat nie.
My ma was skaam, en het haar dogters grootgemaak om haar nie in die skande te steek nie. En ek is doodeerlik as ek skryf dat ek dankbaar daarvoor is. Ek verstaan nie waarom kinders vandag so vroeg oor die dinge moet leer nie. Ek stem heelhartig saam met my ma se opvoeding – vroeg ryp, vroeg vrot! En so het ek my twee grootgemaak.
Iedergeval, ek het gedink dat dit is baie, baie lelik van my skoonma is. Dink nog steeds so en ons is al bykans 40 jaar getroud. Om nie alleen in ‘n geselskap die woord te gebruik nie, maar ook om ander mans s’n in die prentjie te bring as ek pas getroud is. Snaaks was dit nie.
***
Terug by hare en Amanzimtoti.
Ons het oor die strand gestap, na die woonstel gekyk waar ons gebly het. En waarvan ons soveel mooi foto’s in ons albums het. En ons harte was eintlik so bietjie seer. Dit lyk anders, is nie meer veilig nie en dit is vervalle. Tog was dit lekker om daar rond te stap.
En ons het gelag …
Daar is ‘n staaltjie oor ons eerste vakansie op Amanzimtoti te vertelle. Ek het nie bikini’s gedra nie, eers later jare oorgeskakel. My vollyf baaibroek het ‘n halterbandjie gehad. Manlief is eerste by die SuperTube af en toe ekke. En toe ek opstaan, druk hy my kop onder die water! Ek was mooi kwaad, want ek moes uit die pad kom van die mense agter my, wat my in die rug sou tref. Toe sis hy vir my, trek jou baaibroek reg. En toe ek afkyk, sit die bandjies tussen my kaal borste. Ek wou doodgaan van skaamte. Die man wat die kaartjies verkoop, het toe vir ons nog ‘n stel verniet gegee. Maar ek wou nie weer afgaan nie … nie eens met ‘n T-hemp bo-oor nie. Ek wou net wegkom …
Wat die foto betref, die vog in die seelug trek so in my hare in dat ek niks anders kan doen as om maar die krulle te geniet nie …
Geen sjampoe help nie.
En my GSD kan dit maar gelyk stryk,. as ek buite kom lyk my hare so. Tog is dit lekker ook, al kry ek dit nie so as ons weer terug by die huis is nie.
Maar dit lyk mooi so krullerig
LikeLiked by 1 person
Ek dink ook dit lyk mooi so. Die A in daar die naam klink my meer soos “haar”. Dan klink die naam effens beter. Ek stem saam oor geslagsopvoeding. Miskien kan jy die onderwysdept beînvloed…
LikeLiked by 1 person
Dankie, msar glo my, dit voel nie so lekker sag nie.
LikeLike
Ek is mal oor jou hare so!!!! 🌻
LikeLiked by 1 person
Dankie …
LikeLike
Ai, wat ‘n supertubestorie! Omdat ek by die see woon, is my hare daarvolgens geknip. Kom ek in die Transvaal, wil my hare weer nie reglê nie. Die krulle pas jou perfek.
LikeLiked by 1 person
Dankie, Toortsie, dit wss vir my een vreeslike verleentheid.
LikeLiked by 1 person
Ek kan net dink! 🙈
LikeLiked by 1 person
My hare krul net so! Ek knip myne kort en geniet dit so!
LikeLiked by 1 person
As ek by die see woon, sal myne ook kort moet wees. Anders lyk ek vreeslik.
LikeLike
Jy moes myne gister gesien het! Die wind het woes gewaai en my hare was net so woes. 😂
LikeLiked by 1 person
Jy kan gerus wys, sal lekker wees om te sien hoe ander se hare in die seelug baljaar.
LikeLike
🧓🏻
LikeLiked by 1 person
Ai toggie, wat ‘n verleentheid met (sonder) die swembedekking. Jou hare lyk mooi by die see!
LikeLiked by 1 person
Letty-Ann, dankie, ek het my doodgeskaam. Die hare raak ek aan gewoond by die see, moet dalk net uitvind waarmee kan mens dit goed laat lyk.
LikeLike
Gel!😃
LikeLiked by 1 person
Regtig? Sal dit nie dan stokstyf wees nie? Watter soort?
LikeLike
Ek raai maar.Dis dalk die moeite werd om daarmee te eksperimenteer maar ek hou regtig van jou seehare.Dis vol en sag om jou vrolike gesiggie.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, Letty-Ann, ek waardeer. Voel regtig vreeslik onversorgd as die hare so staan.
LikeLiked by 1 person
Die liewe hare en die see! Noudat ek ook meer in n klammer/see lug bly wil my hare wat eintlik nie veel krul het nie ook na alle rigtings staan.
LikeLiked by 1 person
En dit is waarom ek dalk nie te na aan die see sal gaan bly nie.
LikeLike
Stem saam. AS mens weet hoe dit is kan mens dit darem verhoed op n manier.
LikeLiked by 1 person
Of daarvan begin hou?
LikeLiked by 1 person
Ai Christa…ek het nie eers n supertube nodig gehad nie….net ‘n brander en ‘n boob tube baaibroek…en ‘n paar bene teen wie ek bostukloos vasgespoel het. Om alles te kroon het die bene behoort aan ‘n klient van die bank by wie ek gewerk het……
LikeLiked by 1 person
Oe nee, Woordnoot, dit is beslis erger as myne. As die water terugtrek, staan mens werklik kaal daar. Ek kon darem onder die water in om te bedek.
LikeLike
Nope..nie ekke. Hy was gelukkig gentlemanly en het weggedraai. Maar ek het vir lank hom gedodge as hy kom bank.
LikeLiked by 1 person
Ek sou beslis ook, dit is beslis iets wat mens nie maklik sou vergeet nie.
LikeLike